Hierdie avontuur is moontlik gemaak deur CanonTrappersRehidratHi-TecAtlasware en caminoways.com.

Statistiek van die Suunto-GPS-horlosie: Dag 1

Van waar tot waar: Ponte-A-Rigo tot Aquapendente

Afstand geloop: “It’s complicated…”

Tyd: 2: 47’38 (4,2 km gemiddeld)

Hoogte geklim: 128 meter

Hoogste punt op die roete: 378 meter

Hoogte afgedaal: 63 meter

Laagste punt: 251 meter

Ek is lank voor my wekker wakker, en lê in my kamer in die Albergo del Torre en kyk hoe die son oor die vallei opkom.

Die hotel het ’n pragtige uitsig oor die vallei. Of altans, ek kyk en hóóp dat die son opkom, maar al wat ek sien is ’n wolkbank wat saam met my onrus groei.

Ek onthou hoe druipnat Gerhard eergister op Radicofani aangekom het.

Die uitsig uit my kamer.
My kamer.

Toe ek om 7:55 in die eetsaal kom, is die ontbyt reeds vir my uitgepak. Dis die buiteseisoen en ek is die enigste gas in die hotel. Die tafel is gelaai met minstens tien verskillende soorte soetgoed. Koeke. Terte. Croissants.

Konfyte en sjokoladesmeer. Heuning. Stroop. Ek is so gespanne oor my eerste dag se stappery dat ek voor my siel weet ek gaan nie nou iets soets afgesluk kan kry nie, maar ek pak ’n sny brood op my bord en neem ’n bakkie jogurt.

Ek kies tee toe die hotelbestuurder drinkgoed aanbied en is dankbaar toe hy ’n pot vol kookwater na my tafel bring – die res van die kookwater verdwyn in my Atlasware-flessie vir later vandag se teetyd.

Ek het ook gister laatmiddag ’n paar ryskoekies en kaaswiggies in die winkel gekoop vir middagete. Dis in die klein sakkie in my Terra-firma-rugsak gepak.

Sonde met die selfoon

Ek was verniet bekommerd oor die begin van my pelgrimstog. Ek het eintlik vir Caminoways.com gevra of ek my staptog op Ponto A Rigo kon begin, maar daar was geen verblyf nie.

Dit klink my die plekkie is selfs kleiner as Radicofani. Caminoways het toe gereël dat ek op Radicofani slaap, maar dat ’n taxibestuurder my tot by my amptelike beginpunt by Ponto neem.

Ek moet net bel om te bevestig. Klein probleempie. Ek swerf (“roam”) nie met my selfoon nie. Ek kan dus nie bel om die taxibestuurder te laat weet nie. 

Ek het die vorige dag hieroor kopgekrap en toe op die ou end my dilemma op google translate uitgetik, geklik op “translate to Italian”, en my foon onder die hotelbestuurder se neus gedruk.

Die hotelbestuurder het geduldig die nommer van die taxi-diens begin skakel, maar telkens ’n nare skreegeluid gekry met ’n boodskap dat die nommer nie bestaan nie. Of altans, dis wat ek kon aflei.

Ek het my lyf begin vetsmeer dat ek op Dag 1 vanaf Radicofani tot op Aquapendente sou moes stap – 32 km volgens die gidsboek.

Ek het al daardie afstand gestap, maar uit my ondervinding op die Spaanse Camino weet ek dis ’n geval van “te vinnig te ver”.

Ek het my lyf begin vetsmeer dat ek op Dag 1 vanaf Radicofani tot op Aquapendente sou moes stap – 32 km volgens die gidsboek.

Ek gaan myself in my kas in stap en die res van die tog sukkel om te herstel. As die taxi my in Ponto kan aflaai, sny ek die eerste 11 km uit, wat beteken ek begin met ’n meer hanteerbare 21 km op Dag 1.

In die kamer het ek weer planne gemaak. Ek het weer die boodskap bekyk, en besef dat die internasionale kode by die nommer aangelas is. Die hotel het uiteraard ’n landlyn en het nie nodig om die internasionale kode te skakel nie.

Met ’n bietjie soek het ek my foon se verstelling vir “wi-fi calling” gekry, dit geaktiveer, en weer die nommer geskakel. Weer ’n besettoon. Toe ek dink ek, ag kom ons probeer een laaste keer, weer met die internasionale kode vooraan, en … goud!

Die foon het hierdie keer gelui, en ’n engel het in perfekte Engels afgespreek om my die Saterdagoggend te kom optel. 

So begin my Via Francigena.

Laaste bietjie luuksheid

Ek het pas die krummels van my konfytbrood van my mond gevee toe staan die einste taxi-man in die eetsaal: swartpak en das, donkerbril.

Hy groet my met die hand, stel homself as Giuliano voor, en dra my rugsak vir my na ’n taamlike nuwe Mercedes toe. Binne is die kajuit met blink houtpanele uitgevoer, en ’n vonkelwater staan in my bekerhouertjie.

Ek glimlag toe ek dink dat dit die laaste bietjie luuksheid is wat ek in ’n ruk gaan sien. Giuliano is jonk, maar sê hy’s die baas van die taxi-maatskappy.

Hoewel ’n paar ouens vir hom werk, woon hy op Ponto en dit was die vinnigste vir hom om my vanoggend te kom oppik.

Hy is gebore en getoë op Ponto en het ná skool ’n bietjie gereis voordat hy besluit het om hom hier te vestig. “Die wyn is goed,” sê hy as ’n verduideliking.

Volg net die blou lyn.
Stap Suunto!

En hier begin ek . . . in die middel van nêrens

Jy ken die storie van die ou wat uitgeswaai het vir die hoender en die dorp misgery het? Dis Ponto A Rigo. Inderdaad selfs kleiner as Radicofani.Giuliano stop die Mercedes in die middel van nêrens en beduie na die oorkant van die pad.

Ek kyk in alle rigtings. Waar? Hy beduie na ’n boom waarop ’n klein geel pyltjie vasgespyker is, en onder, op ’n stok, is ’n rooi-en-swart plakker waarop Via Francigena staan. Dít is hoe die roete gemerk is.

Genugtig, ek sou daardie tekens heeltemal misgekyk het.

Gelukkig is die Suunto nie vir ’n oomblik onseker waar hy is nie, en begin vir my met die kenmerkende blou lyn die pad aandui.

Dit gee jou nogals ’n gevoel van gerustheid.

Skoonlief, waar is die ondier?

Dit reën nie op die oomblik nie, maar die afgelope 48 uur se neerslae het die pad in ’n modderpappery verander.

Ek is dankbaar vir die Hi-Tecs, ek kan net dink hoe my tekkies op daai pad sou gelyk het.

Daai bok is doodgebyt.

In my eerste uur op die pad kry ek ’n bokkarkas.

Ek kyk versigtig of ek nie ’n skietwond sien nie, maar dit lyk of daai bok – omtrent die grootte van ’n springbok – inderdaad deur iets doodgebyt is.

Ek het die aand in die restaurant Gerhard se stories oor wolwe in die streek afgemaak as ’n Nederlander wat ook sal glo dat daar leeus in die strate van Kaapstad rondloop, maar nou wonder ek.

Is hier regtig nog roofdiere op die Toskaanse platteland? (Die kort antwoord: ja, inderdaad.) Ek kyk versigtig om my rond, maar dis doodstil.

In die verte sien ek ’n springhaas wat my uit die gras dophou, maar nie ’n dier of mens is in sig nie.

Die afstande kan nie reg wees nie.

Uhm, hoe ver is dit nog?

Dis nie ’n besondere mooi pad nie. Die roete vleg die hele dag kruis en dwars oor die Via Cassia. Die Via Cassia loop soos ’n goue draad deur die Via Francigena in Italië.

Dekades gelede was dit die hoofpad na Rome, maar deesdae is daar ook nog ’n snelweg. 

'n Kort ruskansie.
'n Gebodder met die modder.
My voete is nog droog.
Daai teken is so groot soos 'n besigheidskaartjie.

Dit is egter steeds ’n pad wat dikwels gebruik word, en ek is dankbaar dat dit ’n Saterdag-oggend is. Jy loop darem nooit op die skouer van die Via Cassia nie – daar is ’n bospad net langsaan wat oor boere se plase strek.

Iewers maak ek my op ’n bankie tuis om Rehidrat te drink. 

Ek is half verras toe ek ’n bord sien vir “Aquapendente 9 km”. Dis nog heeltemal te vroeg, maar die hele tyd verwag ek dat die pad gaan wegswenk na die dorp Procena toe. 

Die grens tussen Toskane en Lazio.
Die Paglia-rivier.
Nog net 5 km oor.

Sowat 5 km voor Aquapendente steek ek ’n brug oor die Paglia-rivier oor en ’n bord wat aankondig dat jy nou amptelik Toskane vir Lazio verruil. En dan kry ek ’n padbord: Aquapendente 5 km.

Dit voel vir my … asof Aquapendente dan nou heeltemal te vinnig naderkom?

Die laaste 5 km neem jou weer weg van die Via Cassia af, deur die sprokieswoud die Monte Rufeno.

Die woud het ’n paar watervalle wat Aquapendente sy naam gegee het. (Die naam beteken “die water wat hang”.) 

’n Bord verduidelik dat die pelgrims eeue gelede hier deur wolwe en bendes aangeval is, en dat dorpenaars die woud in heilige jare (wanneer daar baie pelgrims is) patrolleer.

Dis egter ’n stil oggend en ek sien steeds geen mens of dier nie. Daar is ’n lekker steil bultjie kort voor die dorp, maar ek is uit die veld geslaan toe ek op die dorp se soom kom … Hoe is dit moontlik? Ek het my voorberei op 21 km (omdat ek skrikkerig was vir 32 km), maar nou het ek dan skaars 11 km gestap?

11,67 km, om presies te wees, sê my Suunto.

My hotel vir die nag.
Straatkuns.

‘Weer lui?’

Caminoways.com se aanwysings is maklik om te volg en ek kry die Albergo Toscana baie maklik. Ek het nie eens tyd gehad om koffie uit my fles te drink nie!

Ek voel vir ’n rukkie amper skuldig omdat die dag so kort was, maar besluit dan dit was ’n Genade van Bo: ’n maklike dag om my aan die gang te kry.

Boonop dreig die volgende reënbui weer en ek is dankbaar om onder dak te kom. “Ek sien jy was weer lui vandag,” terg my baas toe ek my Whatsapp-groep laat weet van my “verneukdag”.

Later, toe ek vir my koffie uit my Atlasware-fles skink, trek ek my gidsboek nader om te kyk waar ek “verkeerd” geloop het. Ek het die GPX-kaart op die Suunto slaafs gevolg, maar ek sien nou die GPS-lêer was “Sigerik se roete”, en nie die amptelike (langer) roete nie.

Sigerik was dalk ’n slim kêrel. (As jy wil weet wie hy was, lees hier.) 

Perde is welkom.
Onthou, jy het 'n deadline.
Mooi, maar stil.

Die ‘bustling town’

Chinn en Ballard se Lightfoot Guide beskryf Aquapendente as ’n “bustling town”, maar ek kan hulle hoor giggel terwyl hulle dit tik.  

Aquapendente het minder as 6 000 inwoners (omtrent die grootte van Touwsrivier). Die dorp is pragtig, maar stil. Daar is beslis niks wat “bustle” op ’n Saterdag-namiddag nie.

Ek maak my in ’n pizzaplekkie met my leesboek tuis. Die pizzas word in blokke verkoop teen ’n euro per blok. Toe ek om 19:00 vir my hotel vra of ek kan aandete bestel, vra die bestuurder of ek ’n tafel bespreek het. Ek dog eers hy’s moedswillig. Daar is nie ’n siel in die restaurant nie.

“Ek sal vinnig eet sodat julle die tafel vir die bespreekte gaste kan gebruik,” sê ek vererg.

Maar lank voordat ek my spinasie-ravioli met die huiswyn afgesluk het, is elke tafel in die restaurant vol. Buite sous dit. Ek gaan kruip vroegerig in met my boek.

Vandag was nou ’n verspotmaklike dag, maar ek gaan nie môre weer so gelukkig wees nie. Boonop waarsku my weer-app daar is ’n 100% kans op reën.

Gedorie. 

So het ek vandag gestap.
Vandag se wenk:

Selfone in Europa

  • As jy weet jy gaan plaaslike oproepe moet maak, koop ’n SIM-kaart vir die land op die lughawe of die treinstasie, of ’n internasionale SIM-kaart op die vliegtuig. Ek was spyt ek het dit nie gedoen nie.
  • As jy (soos ek) nie kan bekostig om te swerf (“roam”) nie, gebruik jou foon om vanaf die gratis wifi-gebiede met ’n boodskapdiens soos whatsapp te bel. Al die hotelle wat caminoways bespreek het, het gratis wifi ingesluit.
  • Kyk of jou foon ’n funksie soos “wi-fi calling” het. Op die iPhone is dit by settings > mobile data > wifi-calling. Dan kan jy daarmee na landlyne bel.
  • Terwyl jy in die buiteland is, kyk dat jou foon by “mobile data options” op “roaming off” gestel is. ’n Vriend het ’n aardige rekening by die huis gekry omdat sy foon outomaties oorsee op duur netwerke ingeskakel het. Op iPhone is dit by settings > mobile data


Weg se Via Francigena-reis word moontlik gemaak deur Canon SA,  RehidratHi-Tec,  Trappers en Atlasware. Alle foto’s en video’s is met die Canon M100 geneem. 

Caminoways.com reël stap- en fietstoere op verskeie roetes van die Camino de Santiago-roetes. ’n Sesdagreis op die bekende Camino Frances vanaf Sarria na Santiago begin by 420 euro (sowat R7 000) per persoon wat deel. (Vir besonderhede en ’n gratis kwotasie, kontak info@caminoways.com of besoek caminoways.com.)