Hierdie avontuur is moontlik gemaak deur CanonTrappersRehidratHi-TecAtlasware en caminoways.com.

Statistiek op my Suunto-GPS-horlosie

Van waar tot waar: Vetralla tot by Sutri

Afstand geloop: 25,2 km (4,7 km/h gemiddeld)

Tyd: 5:23

Hoogte geklim: 356 meter

Hoogste punt op die roete: 499 m

Afstand gedaal: 402 m

Laagste punt op die roete: 272 m

Afstand tot in Rome aan die begin van die dag: 92 km

Na twee dae van stormreën en toe twee dae waarin die wind my rondgepluk het, word ek die oggend by die Antica Locanda net buite Vetralla wakker met die geluid van voëlssang. Perfekte weer!

Ek het die vorige aand die woonstel se houthortjies oopgemaak sodat ek die son kan sien opkom, en die oggend lyk vars. Ek het egter weer ’n effense spanning op my maag en verwens my weer dat ek nie ’n foon by my het wat kan bel nie.

Volgens die instruksie van caminoways.com moet ek vandag tot by die antieke amfiteater in Sutri loop, en van daar af ’n nommer skakel dat ek opgetel kan word na my verblyf net buite die dorp. Maar hoe? 

Aanvanklik is my plan om tot by Sutri te stap en dan ’n belplek te soek. Vandag is daar ook ’n tussenindorp op die roete – Capranica – waar ek iemand kan vra om my te help. Maar toe ek vanoggend my vriendelike hoteleienaar by die ontbyttafel sien, besluit ek om sommer hier al te probeer bel.

Die eienaar praat geen Engels nie, ons tik dus weer oor-en-weer-boodskappe vir mekaar op Google Translate. Die hoteleienaar begin geduldig skakel en kry iemand aan die ander kant. Hy draai na my en vra: “Hore, hore...?”

Ek verstaan nie dadelik nie, wat hom aanspoor om dit harder te vra: “HORE? HORE?” Want – hier is ’n wenk as jy ooit oorsee reis – as iemand jou nie dadelik verstaan nie, vra eenvoudig dieselfde ding in ’n harder stemtoon.

Ek raai gelukkig dat “hore” iets met ’n “HOR-losie” te make het, en wys “drie” met my vingers. Hy wys met sy duim op. Ek bid dat dit beteken dat iemand vanmiddag om drie vir my op die afgespreekte plek gaan staan en wag om my na my verblyf te neem. 

Vetralla vee die slaap uit sy oë uit.
Straatkuns.

Sutri is 24 km van Vetralla af, maar ek is nog minstens 2 km buite Vetralla. Daar wag dus ’n stewige stappie op my. Maar daar is geen teken van wind of reën nie. Dis ’n lieflike dag vir ’n pelgrim.

Vetralla is ook ’n oulike dorp, en teen die tyd dat ek daar kom, is die dorp besig met sy oggendroetine.

Vetralla vryf die slaap uit sy oë uit

Mense drink espresso’s by kroegies, mans lig hul hoede vir my op pad werk toe, en by ’n voetoorgang staan ek geduldig en wag dat die skolierpatrollie die kinders die pad kan help oorsteek. (Moenie jou oë rol nie, selfs hier is daar besige spitstydverkeer.) 

Ek maak sommer al vroeg Rehidrat aan.
Volg die blou lyn.

Ek is ’n oggendmens en ek geniet dit om te sien hoe ’n dorp die slaap uit sy oë vryf.

Paul Theroux skryf in The Pillars of Hercules: “A painful part of travel, the most emotional for me in many respects, is the sight of people leading ordinary lives, especially people at work or with their families; or ones in uniform, or laden with equipment, or shopping for food, or paying bills.”

Ek voel presies die teenoorgestelde. Vroegoggend, wanneer mense nog hul “ordinary lives” lewe en met die roetinetake van die dag besig is, sien jy die wáre dorp.

Vroegoggend, wanneer mense nog hul “ordinary lives” lewe en met die roetinetake van die dag besig is, sien jy die wáre dorp.

Die dorp wat nog in haar kamerjas rondloop en nog nie tyd gehad het om haar lipstiffie aan te sit nie en opgedollie is vir die toeriste nie. Dan probeer ek myself sien op die dorp. Waar sou ek wou woon? Waar sou ek vanoggend my oggendkoffie gedrink het?

'n Pragtige bergfietsroete.

Die borde vir die Via Francigena is nie oral duidelik nie, maar die blou streep op my Suunto neem my baie vinnig uit die dorp uit en op die mooiste bergfietspad.

By die ingang na die paadjie is ’n helder fontein waar ek my Rehidrat aanmaak, en ’n bord wat met trots verklaar dat een van Italië se Olimpiese bergfietskampioene op dié pad oefen.

Iemand is op my hakke

Ek loop weer omkyk-omkyk, want dit voel die hele tyd vir my of daar iemand kort op my hakke is. 

Gerhard gee die pas aan.

En ... Daar is! Maar dis weer my stapmaat uit Nederland, Gerhard, wat ek op die heel eerste aand in Radicofani ontmoet het. Gerhard maak vandag die pas dik aan, maar ons albei geniet die stap.

Die bloeisels aan die okkerneutbome gaan binne ’n dag of twee oopbars en ons stap lang ente tussen olyfboorde. In ’n stadium moet ons geduldig wag vir ’n begrafnisstoet.

Die ruïne van die Oralndo-klooster.
Ons stap op plaaspaaie.

By die ruïnes van die Oralndo-toring, ’n ou klooster, is ons vir ’n oomblik onseker in watter rigting om te stap, maar die Suunto help ons vinnig weer op die pad.

Kilometers voor Capranica het ons reeds besluit dat ons gaan koffie drink op die dorp en gaan asem skep, maar ons moet vir oulaas ’n steil bult uitstap om Capranica te bereik.

Hoe ver is dit nog?

Ons soek ’n koffiewinkel. Ons het reeds 18 km agter die blad. Gerhard bestel ’n cappuccino en sommer twee croissants, en later drink ons nog ’n tweede cappuccino. 

Capranica.

Ons is onseker presies hoe ver Sutri nog is. My gidsboek sê 4 km, Gerhard s’n 6 km, en ’n man in die winkel beweer dis 7 km. Daar is ’n tamaai verskil tussen 4 en 7 km as jy om 15:00 op ’n spesifieke plek moet wees om opgetel te word.

Die rede is natuurlik omdat daar meer as een pad na Sutri is. Gerhard wys my boonop dat sy boek ’n alternatiewe roete aangee, een wat jou langs die SP96 laat stap en waarmee jy ’n kilo of twee uitsny.

Na die koffie en croissants is ons styfgesit en sukkel ons weer teen die skerp heuwel van Capranica af – om sekondes later weer by ’n ander, steil heuwel uit te klim.

Ons maak groot oë vir mekaar. By die plek waar Gerhard se boek die begin van die alternatiewe roete aandui, huiwer ons vir ’n rukkie, maar besluit dan om deur te druk. Ons albei is taamlik lyfseer na die bulte en sal dit waardeer as ons 2 km kan uitsny.

Die SP96 is ’n netjiese teerpad wat nie te veel verkeer dra nie – dit was dus ’n goeie besluit. (Die amptelike roete loop oor plaaspaaie.) 

Sutri sit op 'n heuwel.
Sutri
Straatkuns.

Ons kan al Sutri sien wanneer my hart weer in my skoene sak – Sutri is voor ons, maar tussen ons en die dorp is daar ’n diep kloof. Ons sal dus eers weer moet áf voordat ons aan die ander kant kan óp.

Gerhard lag vir my. “Jy weet mos nou al dat dit ’n kenmerk van die Via Francigena is ... elke dag eindig met ’n steil opdraand.”

Sutri is tjoepstil toe ons daar kom

Sutri is klein, maar pragtig. Die dorp is tjoepstil toe ons daar kom. Ek en Gerhard groet op die stadsplein, sy verblyf is in een van die systrate, maar ek moet nog tot by die amfiteater aan die ander kant van die dorp kom. 

Ek loer by 'n katedraal in.

Ek loer by een van die katedrale in op pad na die amfiteater. Dis 13:50 toe ek my sak neersit – ek is meer as ’n uur te vroeg! Ongelukkig neem die amfiteater sy laaste groep besoekers om 13:00 deur, en kan ek net deur die tralies kyk.

Ek is oneindig verlig dat ek al vanoggend gebel het. Hier is nie ’n restaurant of winkel in sig nie en van wifi is daar uiteraard geen sprake nie. Ek sou tot middernag hier gesit en wag het.

Dis boonop weer goed koud, en ek is dankbaar dat ek nog nie vandag by die koffie in my Atlasware-fles uitgekom het nie. Ek sit en boek lees en merk hoe vuil my Hi-Tec-stewels na die dag se stap is. 

Die ingang na die amfiteater.
Ek maak my tuis en drink koffie.
En toe tel ek tone vir langer as 'n uur.

Dis al 15:15 toe ’n stasiewa op die parkeerterrein van die amfiteater intrek. ’n Gryskoptannie van minstens 70 beduie ek moet inklim.

“Angela,” sê sy, en druk op haar bors. Geen woord Engels nie. Angela is egter geen stereotipiese bejaarde nie.

Sy bestuur soos ’n Italiaanse renjaer en vleg behendig tussen die verkeer deur. Haar radio is kliphard gedraai en ’n rasperstem sing ’n raserige rockweergawe van “Million Miles Away”.

Die Montefosco.
Ons kort dalk 'n ouderdoms-beperking.

Die Montefosco, die agritoerisme-instansie waar caminoways.com vir my bespreek het, is ’n reeks buitekamers op ’n plaas sowat 4 km buite Sutri.

My kamer het ’n tamaai dubbelbed en ’n enkelbed, en die grootste stort wat ek nog ooit gesien het. Maar dis skielik weer yskoud. My oog vang ook ’n stuitige skildery op die muur. Ek stort en lê daarna onder die duvet terwyl ek in my dagboek skryf. 

My oog vang ook ’n stuitige skildery op die muur...

Teen 19:00 stap ek na die restaurant, wat sommer die eetkamer in Angela se huis is. Daar is nog twee naakstudies teen die mure. Twee tafels is gedek, en ek word by een van die tafels tuisgemaak. ’n Man in sy dertigs gaan sit by die ander tafel.

Ook hy praat geen Engels nie. Angela het geen spyskaarte nie. Jy eet wat voor jou neergesit word. Jou enigste keuse is vat dit of los dit. Maar elke gereg word met groot trots uit die kombuis gedra, en telkens nadat Angela die kos op die tafel sit, staan sy ’n tree terug soos een wat sy gereg op MasterChef aan die beoordelaars voorgesit het.

Die kos is eg Italiaans en heerlik. Trouens, dit voel of jy by iemand aan huis eet. Primi piatti (eerste gereg) is ’n eenvoudige pasta met neute en pestosous, en vir prima secondi sit Angela ’n yslike bord met skoon vleis voor my neer.  

Net vleis op die bord.

Ek is nie ’n groot vleiseter nie en weet nie lekker wat om te doen nie, maar ’n vriendin betig my via Whatsapp dat ek nie dag ná dag lang ente kan stap en net pasta kan eet nie. Ek sal iewers weer proteïene moet inkry. Ek val dapper weg aan die vleis.

Ek is aangenaam verras. Dit ruik na naeltjies en proe soos die boudvleis wat ons as kinders geëet het, murgsag gebak. Of gestowe?

Ek is nie seker wat dit is of hoe dit gaargemaak is nie, maar daar is niemand wat Engels praat nie en geen spyskaart wat ek met Google Translate kan vertaal nie. Ek vorder verbasend ver met die bord vir iemand wat gewoonlik nie vleis eet nie.

Dit ruik na naeltjies en proe soos die boudvleis wat ons as kinders geëet het, murgsag gebak

Die man het ’n passievolle gesprek met Angela in Italiaans, maar die kos kan nie die bron van sy ontsteltenis wees nie – dié verdwyn in yslike mondevol in sy keel af. Die ete word met die lekkerste gebakte vla afgerond.

Ek het voor aandete die kamer se temperatuur opgeskuif na sy hoogste verstelling en raak knus aan die slaap.Ek was aanvanklik afgehaal omdat ek vanaand weer buite die dorp slaap.

Dis vir my heerlik om in die laatmiddag deur die dorp te drentel, en Sutri is pragtig. Maar Angela se Motefosco is so eg-plattelands en so opreg Italiaans dat ek dankbaar is dat ek dit kon beleef. Van hier af is dit nog sowat 70 km tot in Rome.

Vandag se wenk

Die storie van die Sutri-amfiteater

Die amfiteater in Rome is wêreldbekend en iets om te beleef, maar jy gaan omring wees deur derduisende toeriste. Die amfiteater in Sutri is wel kleiner, maar die kans is goed dat jy die hele plek vir jouself gaan hê.  

Dis onseker presies wanneer die amfiteater gebou is, maar toe die Romeine in 394 die dorp van die Etruriërs afgeneem het, was die amfiteater reeds daar. Die styl van die bouwerk is glo kenmerklik van die eerste eeu voor Christus. 

Aangrensend aan die amfiteater is daar ook ’n interessante reeks grotte en ondergrondse grafkamers. 

Daar loop 14 treine per dag tussen Rome en die stasie Capranica-Sutri, en die treinrit duur sowat ’n 1:20 minute.

Kaartjiepryse begin by 4 euro per rit. Onthou: Jy sal ’n taxi vanaf die stasie moet kan ontbied.

As jy nie ’n selfoon het nie, gebruik die koste-doeltreffende Engelbrecht-metode: Vra ’n vriendelike omstander om te bel, en bied ’n euro-munt aan. Slaan vooraf die nommer van die taxi-diens in Capranica na.

As dit te veel moeite is, kan jy ook ’n dagtoer in Rome na Sutri bespreek.

Sutri het verskeie oulike eetplekke en katedrale. Dit sal ’n lekker manier wees om iets van die Italiaanse platteland te ervaar.  


Weg se Via Francigena-reis word moontlik gemaak deur Canon SA,  RehidratHi-Tec,  Trappers en Atlasware. Alle foto’s en video’s is met die Canon M100 geneem. 

Caminoways.com reël stap- en fietstoere op verskeie roetes van die Camino de Santiago-roetes. ’n Sesdagreis op die bekende Camino Frances vanaf Sarria na Santiago begin by 420 euro (sowat R7 000) per persoon wat deel. (Vir besonderhede en ’n gratis kwotasie, kontak info@caminoways.com of besoek caminoways.com.)