Hierdie avontuur is moontlik gemaak deur CanonTrappersRehidratHi-TecAtlasware en caminoways.com.

Dag 7 (Vrydag)

Statistiek op my Suunto-GPS-horlosie

Van waar tot waar: Sutri tot by Campagnano di Roma

Afstand geloop: 23,5 km (4,6 km/h gemiddeld)

Tyd: 5:07

Hoogte geklim: 258 meter

Hoogste punt op die roete: 312 m

Afstand gedaal: 296 m

Laagste punt op die roete: 164 m

Afstand tot in Rome aan die begin van die dag: 70 km

Dag 7 se kaart

’n Mens slaap verbasend goed onder die wakende oog van ’n naakfiguur, vind ek die nag uit in die Montefosco net buite die dorp Sutri.

Dit is dag 7 van my staptog op die Via Francigena, waar ek die laaste 200 km aanpak om my Testimonium in Rome te kry.

Ek het ná vandag nog 2 dae oor tot by die Vatikaan in Rome. Ek het op dag 2 in gietende reën uit Aquapendente gestap, en die volgende dag strome op pad na Montefiascone getrotseer.

Maar hier is ek, met sowat 70 km oor van my reis, en die eerste ding wat ek in die vroeë oggendlig opmerk, is dat die eerste bloeisels van die jaar oornag aan die bome voor die buitekamers verskyn het. 

Ek is stiptelik om 07:00 in die eetsaal, waar Angela al soetgoed in ’n duisend gedaantes uitgepak het. Dit lyk soos ’n kinderpartytjie. My maag protesteer.

Die Italianers is verrassend lief vir sjokoladekoek vir ontbyt. Ek draai ’n sny marmerkoek in ’n servet toe om later saam met my koffie te eet en skep post-toasties in ’n bakkie. Maar dié eet die Italianers nie met melk nie, maar met ongegeurde jogurt. Die post-toasties bly kliphard.

Die Via Francigena loop tussen plase deur.
Die waterplasse is nog bevrore.

Teen 7:30 val ek in die pad. Ek moet omtrent 2 km loop om weer by die Via Francigena aan te sluit, maar dis mooi plaaspaaie. Al skyn die son, is dit yskoud. ’n Vullislorrie is reeds besig om die plaaspaaie se vullis op te pik, en by een plaashek staan drie fietse en wag om opgetel te word. 

Die kersie op die (gesteelde) koek

My Suunto-horlosie tel vinnig die pad op en hou my vanoggend op die alternatiewe roete van die Via Francigena, wat tussen die plase deurvleg. Dis pragtig!

Ek kan sien ek het my nie gisteraand se snerpende luggie verbeel nie. Oral loop ek met my Hi-Tec-stewels verby bevore plasse water. 

Teen 09:00 is ek reeds yskoud en maak ek my op ’n bankie langs ’n plaashek tuis vir my oggendkoffie. Ek onthou van die gesteelde sny koek in my baadjiesak!

Koffie en koek.

Dis ’n oggend waarin ek die netjiese teerpad met skaaptroppe deel wat deur veldwagters in bakkies aangejaag word. Die boere toet vriendelik en lig die hoed vir my. Daar is ook ’n ekstra lekkerte vandag: Daar is ’n tussenindorp (Monterosi) op pad na Campagnano di Roma.

Die heel eerste kroeg wys met ’n groot Via Francigena-bord dat pelgrims welkom is, en ek val in vir tee en ’n badkamer.  

Monterosi.

Daarna loop ek amper my afdraai mis, maar my Suunto help my gelukkig binne 100 treë reg.

Die luies hou links 

Op omtrent 12 km kom ’n versoeking oor my pad.

’n Bord langs die besige Via Cassia wys jy kan óf langs die hoofweg stap tot by Campagnano (’n verdere 10 km), óf die roete langs die plaaspaaie volg, wat 14 km ver is. Vir my beteken die ekstra 4 km ’n ekstra uur op die pad. Ek besluit om veilig te speel en die 14 km te pak. Tien kilometer kan bleddie ver wees as jy koes-koes langs ’n hoofweg moet stap.  

Ek loop op pragtige plaaspaaie.

Ek is nooit spyt nie. Die pad neem jou nie net deur plaasboorde nie, maar ook deur twee kleinerige nasionale parke.

Daar is steeds geen pelgrims in sig nie, maar skape, beeste en  nuuskierige perde hou my geselskap. Ek drink my Rehidrat soos ’n koning.

Nog twee keer gee Via Francigena-borde jou die opsie om korter roetes te kies, maar omdat albei die opsies veilig en mooi is, kies ek telkens die korter roetes. By die een kan jy regs draai en 12 km stap, of links vir 9 km.

En later kan jy weer kies tussen 15 km en weer 9 km. (Die borde op die Via Francigena maak nie altyd sin nie. Die rigtingwysers op die Suunto was op hierdie dag regtig ’n redding.)

Ek het maar links gedraai.
Jip, weer links ...!

Eie aan die Via Francigena moet jy vir oulaas ’n heuwel uitklim om by Campagnano di Roma te kom, maar die uitsig van bo af en die dorpie is lieflik.

En my hotel, Da Righetto Campagnano di Roma, is 200 meter van die stadsplein af in die ou deel van die stad (dankie, caminoways.com).

Dis lekker om weer in die hartjie van die dorp te woon. Die hoteleienaar laaf my eers met ’n  drinkdingetjie voordat ek die trappe na my kamer uitklim, en die eienaar help my galant deur my Terra Firma-rugsak te dra.

Die stadspoort van Campagnano di Roma

Luilekker Vrydag

Laatmiddag stap ek tot by die stadspoort en dwaal ek in die straatjies rond. Langs die stadspoort kry ek ’n vrugtestalletjie waar ek piesangs kan koop. Ek draf ook in by ’n pizzaplekkie en koop ’n pizzablok met murgpampoentjie op vir 2 euro. Ek besef ek is nou naby aan Rome, want twee nagte gelede het die einste pizzablok nog 1 euro gekos. Dis nog steeds ’n bargain, besluit ek.

My hotel
Die kroeg onder in die hotel.

In die winkel langs die hotel moet die assistent ’n bottel water in die stoor gaan haal. Sy vertel ingenome dat ek die eerste Suid-Afrikaner is wat sy ontmoet! Sy groet my vriendelik met “buon Camino!” toe ek uitstap. 

In die kroeg onder in my hotel drink ek ’n cappuccino. Dis laat op ’n Vrydagmiddag en ’n groep tieners kuier luidrugtig om die koms van die naweek te vier. Die een groep speel kaart by ’n tafel, en ’n ander speel biljart in die hoek. Ek besef skielik dat my avontuur op die Via Francigena verby sal wees teen die tyd dat hulle Maandag teruggaan skool toe.

Dis laat op ’n Vrydagmiddag en ’n groep tieners kuier luidrugtig om die koms van die naweek te vier...

Campagnano di Roma is nog ’n dorp om op verlief te raak! Al het ek Gerhard sedert Sutri nie gesien nie, het ons afgespreek dat as ons lus het vir geselskap, ons mekaar om 19:30 op die stadsplein sou ontmoet.

Om 19:30 stap ek dus die 200 meter na die plein toe, maar ek sien geen teken van Gerhard nie. Meer nog: Ek loop op en af in die dorp, en sien ook geen eetplek nie, behalwe die gat-in-die-muur-pizzaplekkie waar ek laatmiddag was.

Die geheime deur

Ek vra raad by my kroegman, wat skraps Engels praat. Ek vra “ristoranti”? en maak eetbewegings met my regterhand. (Jy kom gewoonlik verbasend goed reg daarmee.) “Ristoranti?” vra hy, en maak ’n soortgelyke beweging.

Ek wonder of ek ook op my maag moet vryf soos ’n kind om te wys hoe verskriklik honger ek is?

“You want to eat?” vra hy met geligte wenkbroue, asof dit die domste vraag op aarde is.

Ek knik ywerig “ja”.

Toe draai hy na die sydeur van die kroeg en maak dit oop. Gedorie. Dit was inderdaad ’n baie dom vraag. Net langs die kroeg (en dus 20 meter van my kamer af), sit die sjarmantste trattoria. Die vertrek het klipmure en ’n gasverwarmer brand gesellig.

By twee of drie tafels sit mense by kerslig en drankies drink. Die trattoria het na die straat se kant ’n dubbeldeur en ek het nie die lig van die straat af gesien brand nie.

Die vertrek het klipmure en ’n gasverwarmer brand gesellig.

Die spyskaart het nie ’n enkele woord Engels op nie, maar met die hulp van Google Translate bestel ek fettucine met artisjokke. (Ek het die vorige aand by tannie Angela genoeg vleis geëet om my tot in die Kaap te hou.) Ek dink dis die lekkerste maal van my hele Via Francigena. Ek eet ook ’n appelnagereg en strompel die trap op bed toe. Ek slaap soos ’n klip.

Op pad uit Campagnano.

Dag 8 (Saterdag)

Statistiek op my Suunto-GPS-horlosie

Van waar tot waar: Campagnano di Roma tot by La Storta

Afstand geloop: 21,1 km (4,4 km/h gemiddeld)

Tyd: 4:50

Hoogte geklim: 292 meter

Hoogste punt op die roete: 383 m

Afstand gedaal: 492 m

Laagste punt op die roete: 40 m

Afstand tot in Rome aan die begin van die dag: 41 km

Dag 8 se kaart

Toe ek om 07:00 na die kroeg afstap, is my ontbyt reeds uitgepak – nogals met ’n tafeldoek. Maar steeds niks souts op die tafel nie. Die kroeg is besig, met verskeie locals wat hulle oggend-espresso kom wegslaan. Die slagter beduie wild met sy arms, sy voorskoot is nog silwerskoon voor sy dag se skof.

Dis kort voor Paasfees

Ek is om 07:18 by die deur uit en kan sien hoe Campagnano di Roma wakker word. By die stadspoort pak smouse hul ware uit vir die Saterdagoggend-markies, en almal groet vriendelik.

Dis my laaste “volledige dag” op die Via Francigena. Vanaand slaap ek op die rand van Rome, en môre stap ek tot by die Vatikaan om my pelgrimstog klaar te maak.

Dis lente in Europa.
Kan jy glo Rome is minder as 30 km ver?

Uhm ... Die luies draai stééds links

Die oggend begin met 'n kwaai opdraand, maar dis ’n lieflike stapdag. Dis die naweek voor Paasnaweek en talle huise het reuse-houtkruise op die sypaadjie geplant.

Ek sing dat die wasem voor my mond staan. Dit is lekker om te sien hoe die Via Francigena-bakens nou kordaat Rome in die een rigting, en Canterbury in die ander rigting wys.

Dankie tog ek is nie nou in dáárdie rigting op pad nie. (As jy nie verstaan hoekom die pyle die rigting van Canterbury wys nie, lees hier.) 

Formella

Al is ons nou feitlik op die rand van Rome, is daar steeds verstommend baie natuurskoon om ons. Rome is hierdie druk besige stad, en minder as 30 km van die Vatikaan af, sit jy in die paradys. My stap tot by Formella (’n tussenindorp) is moontlik die hoogtepunt van my hele Via Francigena.

Waar ek ’n week gelede vreesbevange was vir die stilte en vir elke kraakgeluidjie omgespring het, is die stilte nou ’n groot seëning.

Ek drink tee by ’n vuilerige kroegie. Ervaring het my al geleer dat daar nie veel opsies is op die Italiaanse platteland nie, maar ek is daarna spyt. Formella het heelwat oulike kuierplekkies en ek kon beter gekies het.

My Suunto-pyl neem my oor die dorp se plein en by die katedraal verby, en ’n jong assistent wink my nader om my pelgrimspaspoort te stempel.

“So that you can remember us,” sê hy met deernis.

Padvarke ... ek bedoel, padskape.

Die dag is ’n hoogtepunt. Buite Formella beland ek in ’n skaapverkeersknoop, maar almal (ook die skaaphonde wat hier aansienlik groter is as die kelpies in Suid-Afrika) groet vriendelik.

Die laaste deel van die dag loop deur ’n woud, en in ’n stadium wys die Via Francigena-borde weer ’n keuse van twee roetes.

Ek besluit om nie die pyl op my Suunto te volg nie, want hy loop in die vallei af waar ek weer ’n stroom moet oorsteek. Toe sien ek vir die eerste keer werklik hoe moeilik dit is om die pad te vind sonder die horlosie.

Die pad ís gemerk, maar nie naastenby so goed soos die Camino de Santiago in Spanje nie, en ’n paar keer loop ek in drade vas en moet ek weer in my spore omdraai om die Via Francigena te vind. 

Op 21 km kry ek my laaste oornagverblyf op die Via Francigena in die Hotel Tempio di Apollo, en caminoways.com het vir oulaas ’n uitstekende ligging gekies. Die hotel is in Isola Farnese (net voor La Storta) en kyk uit oor die vallei. 

Toe ek laatmiddag gaan foto’s neem van Isola, loop ek my ou vriend Gerhard raak! Hy slaap vanaand in dieselfde hotel as ek. Ek het reeds die hoteleienaar gevra of daar ’n “ristoranti” naby is, en ek en Gerhard spreek af om mekaar om 19:30 voor die hotel te kry en saam te stap. 

My hotel se uitsig - die pad links is die Via Francigena.
Die Hotel Tempio di Apollo

Van buite af lyk die restaurant soos ’n eetkamer wat sommer aan iemand se huis aangelap is, en ons verwag nie veel nie. Maar dis ons laaste aand op die Via Francigena en niemand het lus om kaas en beskuitjies in sy kamer te eet nie. 

Bietjie uit ons plek uit

Sjoe, moet ek my woorde sluk!

As jy die deur oopmaak, val jy behoorlik in die haasgat af. Die restaurant is grênd en het sitplek vir omtrent ’n 100 mense, en die kelners moet planne maak omdat ons nie bespreek het nie. Verwag hulle dat hierdie plek vol gaan raak vanaand? Inderdaad!

Die kelner dra ’n swart das en kom vou my servet op my skoot oop. Ek en Gerhard lyk ’n bietjie uit ons plek uit. Trouens, ek dink ons ruik ook al ’n bietjie.

Maar ek glo ons is darem nie die eerste pelgrims wat hierdie eetplek sien nie. Gerhard dring daarop aan om vir ons ’n goeie bottel wyn te bestel as viering van ons Via Francigena-vriendskap. Die kelner kom sit roosterbroodjies met vars tamatie en olyfolie voor ons neer.

Gerhard dring daarop aan om vir ons ’n goeie bottel wyn te bestel as viering van ons Via Francigena-vriendskap.

Dis so ’n eenvoudige voorgereg, maar verrassend lekker. Ek bestel hoenderborsies in parmaham toegedraai, en Gerhard eet ravioli. Daarmee saam bestel ons bygeregte van slaai, artisjokke en gemarineerde groenrissies. Alles uit die boonste rak uit. Ons laaste ete is ’n koningsmaal.

Ek gaan heelwat later as gewoonlik bed toe en sukkel om aan die slaap te raak. Ek het dieselfde die-aand-voor-die-skool-begin-vlinders in my maag as die aand voordat ek in Radicofani weggespring het.

Ek kan nie glo dat ’n reis wat oor soveel maande deel van my geword het, oor 19 km verby gaan wees nie. Môreaand slaap ek in Rome. 

Ek dink nie tekkies sou dit gemaak het nie.


Weg se Via Francigena-reis word moontlik gemaak deur Canon SA,  RehidratHi-Tec,  Trappers en Atlasware. Alle foto’s en video’s is met die Canon M100 geneem. 

Caminoways.com reël stap- en fietstoere op verskeie roetes van die Camino de Santiago-roetes. ’n Sesdagreis op die bekende Camino Frances vanaf Sarria na Santiago begin by 420 euro (sowat R7 000) per persoon wat deel. (Vir besonderhede en ’n gratis kwotasie, kontak info@caminoways.com of besoek caminoways.com.)