Foto's: Willem van der Berg

Die nag lê donker oor Botswana. Net die aswit Melkweg glim bo in die swart lugruim. Onder ’n muskietnet slaap twee pasgetroudes in die Kalahariveld iewers tussen die dorpies Ghanzi en Kang in die weste van die land.

Dit is nie hulle wittebroodsreis nie. Willie en Annatjie de Graaff trek saam met ’n span Boesmans ’n paar honderd beeste van die Ghanzi-distrik se boere na die slagpale op die dorp, Lobatse, teen die grens met Suid-Afrika. ’n Trek van 700 km. Dis 1976 en dié trekpad is net twee sandspore. Vragmotors kan nie hier ry nie.

Die stil aandlug raak skielik omgekrap. Uit die beeste se takkraal kom ’n gebulk en gesteun. Voete kom oor die sand aangehardloop tot by die muskietnet.

“Leeus! Willie, die leeus is by die kraal!” gil Xhim, Willie se voorman op die beestrekke.

Willie spring op en in die bakkie en Annatjie sien hoe die ligte rukkerig in die veld rondswaai en hoor hoe die enjin se gedreun en die stemme al hoe dowwer raak. Om haar druk die nag en onsigbare maanhare teen die muskietnet. Sy word al banger. Willie keer drie uur later terug. Annatjie is in trane.

“En nou my ou Vroutjie, wat is fout?”

“Jy jaag weg en los my net so, alleen, terwyl die leeus hier rondloop! Wat dink jy is fout?” Willie buk onder die muskietnet in en gaan sit langs Annatjie.

“My vrou, hierdie net se gaatjies is só klein nie eens ’n muskiet kan deurkom nie. Hoe dink jy gaan ’n leeu dit regkry?”

Dis ’n ware verhaal, sê Annatjie waar sy langs Willie op ’n leerbank sit in die lapa by hulle Grassland Bushman Lodge, 90 km noordoos van Ghanzi.

Annatjie en Willie het albei in die omgewing grootgeword. Annatjie se ouers het sending- en plaaswerk gedoen van die Gereformeerde Kerk se plaas D’kar af, sowat 30 km noord van Ghanzi.

“Die kinders in die Ghanzi-omgewing het skoolgegaan op Gobabis in Namibië,” vertel sy. “Dit was ’n rowwe sandpad soontoe en ons het agterop lorries gery. Willie is vyf jaar ouer as ek. Op hoërskool het hy met sy ma se lorrie Gobabis toe gery en dan met die terugkomslag brandstof en voorraad vir haar winkel gebring. Die lorrie het deur die week by die koshuis gestaan. Ek was nuut by die skool en het vir Willie gaan vra: “Oom, ry ek saam met oom huis toe?” Ek het later uitgevind hulle boer op die plaas langs D’kar. Jong, en so het ons gekuier en later getrou op ’n pan op die plaas. Ek was bitterjonk, 20. Willie was wíld voordat ons getrou het. En hy het gedink hy kan net so aangaan ná die troue. Kyk, hy het my soms so moedeloos gehad dat ek gevoel het ek wil die pad vat. Maar dan wonder ek: Waarheen sal ek gaan?”

Agter hulle hang kameelboompeule aan toutjies. Sowat 200 m van ons af drink ’n klompie wildebeeste by ’n watergat. Die Sentraal-Kalahari-wildreservaat se grens lê 50 km verder oos.

Die De Graaffs se wild-en-gasteplaas is een van die laaste omheinde stukke grond langs die enorme park van 52 800 km². Leeus en wildehonde vang dus dikwels beeste op Grassland. Vanoggend was daar ’n halfgevrete vers agterop Willie se Land Cruiser. Luiperds is volop in hierdie geweste en vroeër vanmiddag het ’n geelslang deur die lapa geseil.

Dis ’n mooi en wilde stuk Kalahari tussen Ghanzi en die Sentraal-Kalahari-wildreservaat. Willie se voorsate het in die 1890’s van Suid-Afrika af hierheen getrek toe die destydse eerste minister, Cecil John Rhodes, plase aan boere uitgedeel het. Sy pa, Braam, en ma, Nelie, het hier grootgeword en later geboer en ’n winkel en slaghuis op die dorp bedryf.

Dit was op die plaas Dakota, 30 km noord van Ghanzi, waar Willie leer praat en loop het.

'Van kleins af was die Boesmans my maters. Ek het saam met hulle grootgeword, in die veld geloop en gejag. Ek kan twee van die tale praat. In die aand droom ek in Boesman.'

“Van kleins af was die Boesmans my maters. Ek het saam met hulle grootgeword, in die veld geloop en gejag. Ek kan twee van die tale praat. In die aand droom ek in Boesman.

"My groot leermeester was ’n man met die naam, Qhaikhao. Vandag is Qhaikhao se familie steeds op die plaas en sy kleinseun, ook Qhaikhao, is soos my broer.”

Willie het altyd ’n begeerte om in die veld te wees.“Vroeër jare het hy vir tye net verdwyn,” vertel Annatjie. “Dan kom hy ná drie weke huis toe met ’n vrag biltong.”

Dit is dan ook die rede waarom Willie 20 jaar beestrekke van Ghanzi na Lobatse gedoen het. So ’n trek was 40 dae en 40 nagte in die veld. Annatjie het dikwels saamgegaan, en later hulle dogters ook.

“Dis asof die Here die wilde man wou tem deur vir hom vier dogters te gee. Maar dit het hom nie teruggehou nie (die jongste is na Willie genoem – Willietjie is ’n haarkapper op Ghanzi). Hulle was saam met ons op trekke gewees vandat hulle in doeke was. Dit was nie weggooidoeke nie. Alles moes in die veld gewas word. In die aande het ons langs mekaar op matrasse bo-op ’n seil geslaap. Net so oop.

“Teen die tyd dat ons op Lobatse aangekom het, was almal taamlik vuil. Ons het in die spruit voor die dorp gewas. Die Boesmans het hulle beste klere aangetrek en dan is ons en die beeste deur die strate na die slagpale toe.

“Dit was omtrent ’n parade en die dorpenaars het altyd kom kyk. Dit was meestal sowat 800 beeste, maar daar was al kere dat Willie met tot 4 000 beeste op trek was. Die aand ná die trek het ons altyd in die Cumberland Hotel geslaap. Oe, dan was ’n bad en ’n bed ’n groot lekkerte!”

En al was die trekke lank en rof, is dit van die beste herinneringe wat hulle as gesin het, vertel Annatjie.

“As ek op ’n trek verjaar het, het Willie iets snaaks in die veld gaan skiet, ’n springhaas of vlakvark. En dan het hy dit die aand gaargemaak. As ’n lorrie met winkelvoorraad op die pad verbygekom het, het ons sjokolade gekoop. Dit was gesmelt en ons moes die papiere aflek. Die water wat ons saamgery het, was nooit koud nie. Ek kan vandag nog nie koue goed drink nie.”

Langs die trekpad, wat deesdae die geteerde A2 is, was daar heelwat ontmoetings met leeus en luiperds. Ook op Willie se plase in die Ghanzi-omgewing waar hy met bees en wild boer.

“Ons is ’n slag agter ’n luiperd aan wat by ons gevang het, ek en seker sowat ses Boesmans. Een man bestuur, van die ouens sny spoor voor die Cruiser, en die res is by my agterop die bak. Jong, die volgende oomblik spring die luiperd bo-op my en stamp die geweer uit my hande uit. Ek stoei met daai luiperd en kry nie kans om die geweer wat op die bak lê op te tel nie. As ek hom diékant van die bakkie af gooi, spring hy dadelik weer op. As ek hom anderkant afgooi, maak hy weer so. Ek skreeu vir die manne om die geweer aan te gee, maar niks gebeur nie. Uiteindelik kry ek ’n kans en ek skiet die luiperd.

“Toe sien ek van al die manne is daar nog net een op die bak en dié lê soos ’n dooie. Later die aand roep ek almal bymekaar om te hoor waar hulle was toe die luiperd my wou opvreet.

"Nee, sê Tshere wat op die spoor was, hy wou nader kom om te help, maar as hy diékant van die bakkie wil omgaan, dan is daar ’n luiperd en as hy anderkant wil omgaan, is daar ook een.

"Ek vra Qhaikhao wat op die bak gelê het hoekom hy nie die geweer aangegee het nie. Hy sê: ‘Willie, toe daai luiperd jou aan jou skouer byt, loer hy so oor na my toe en sê: Boesman, as jy roer, is jy dood.’”

Hy is al baie gebyt, sê Willie. Aan sy skouers, sy arms en een keer aan sy kop. Hy wys met sy vingers hoe die luiperd se tande deur sy hare en oor sy skedel geskuur het.

“Dit was amper ’n lelike storie,” sê Willie en Annatjie skud haar kop.

“Weet jy hoeveel keer het die man al bebloed uit die veld teruggekom?"

“Weet jy hoeveel keer het die man al bebloed uit die veld teruggekom?"

Botswana se nasionale parke is nie omhein nie. Roofdiere soos leeus, luiperds en wildehonde kom dus gereeld op plase. Boere mag by die regering aansoek doen om probleemdiere te skiet. Daar moet bewyse wees van die skade en die dier moet, onmiddellik nadat hy geskiet is, oorhandig word aan die department van natuurlewe en nasionale parke.

Willie het baie leeus geskiet. Luiperds en wildehonde ook. Mense vra hom soms hoeveel, maar hy wil nie sê nie.

“Enigiemand kan ’n leeu skiet. Dis nie ’n prestasie nie. Ons moes baie diere skiet omdat hulle vee gevang het,” sê Willie.

“Roofdiere maak steeds skade. Maar ek het besef dié diere se getalle neem dramaties af. En ek vrek oor ’n leeu. Ek wil hulle hoor brul in die Kalahari-nag. Dus skiet ons nie meer diere wat op my grond kom nie. Ons vang hulle en soek vir hulle ’n nuwe heenkome.”

Van die ander boere in die omgewing het ook hulle siening verander en kontak vir Willie as hulle ’n probleemdier het. Tien leeus is na die Kgalagadi-oorgrenspark verskuif en ’n paar luiperds in die Sentraal-Kalahari-wildreservaat vrygelaat. Op die oomblik is hier 3 leeus, 2 luiperds en 40 wildehonde in groot kampe op Grassland. ’n Klompie van die wildehonde gaan eersdaags Krugerwildtuin toe.

Aan die begin van die jaar 2000 is die pad na Lobatse geteer en kon die beeste dus met vragmotors vervoer word. Willie moes noodgedwonge ’n ander manier soek om dae in die veld deur te bring. Hy en sy span skraap die afgelope 25 jaar Botswana se brandpaaie, iets waaromkontrakteurs elke jaar aansoek moet doen. (Lees Annatjie se storie hieroor in Weg #116.)

“Toe Willie se aansoek een jaar onsuksesvol was, was hy basies die hele jaar siek,” sê Annatjie.

“Ons sien Botswana se mees afgeleë dele. Ongerepte bos langs die Sentraal-Kalahari, teen die Namibië-grens en doer teen die Caprivi. Dis fantasties om daar te kom, want bittermin ander mense was al daar,” beaam Willie.

Die skrapery gebeur gewoonlik in Oktober, Botswana se warmste en droogste maand. As iets aan die nege ou Wabco-skrapers breek, moet dit in die veld reggemaak word. Pap bande kry hulle baie. En as hulle voorraad op is, durf Annatjie kilometers se dik sand aan tot by die skraapspan.

“Ek kuier ook sommer so ’n paar dae by hulle. En dan verstaan ek waarom Willie dit doen. Dis wonderlik om Tsota, Xhuma, Nxubi, Abel en Oscar se verhale om die vuur te hoor. Die nagte is kosbaar, die sterre, die stilte.”

Al is Annatjie lief vir hulle wêreld, hou sy daarvan om ander plekke te sien.

“Willie het eers die see gesien toe hy 21 was. Botswana was al wat vir hom bestaan het. Al waar hy wou wees. Ek het hom darem al gekry om Thailand, Mauritius en Holland toe te gaan. Maar hy vergelyk elke plek met die Kalahari. Dit maak nie saak waar hy kom nie, die Kalahari is altyd beter.”

Maar hoe dan anders, want in ’n Boesmanhart lê daar sand in elke kamer.

Grassland Bushman Lodge

Dis nie maklik om op dié gasteplaas uit te kom nie. Jy moet 16 hekke oopmaak en 60 km sandpad aandurf (’n 4x2 met hoë grondvryhoogte sal die ding kan doen). Maar dis ’n pragtige plek – en dis wild! Jagluiperds en luiperds kom suip gereeld by die lodge se watergat.

Hier is agt netjiese chalets en ’n mooi kampterrein onder doringbome sowat 4 km van die lodge af. Die vier staanplekke het elk ’n eie braaiplek en wasbak en hier’s twee badkamers met donkies vir warm water.

Koste Kamp: P200 p.p.p.n. (sowat R270). Chalets: vanaf P1 800 p.p.p.n. (sowat R2400), sluit alle etes en ’n aktiwiteit in. Stap in die veld saam met ’n Boesman, besoek die Rooibrakke-gemeenskap of doen ’n wildkyk- en perdrit. Dit kos sowat P250 p.p. (R340).

GPS S21.722283 E22.35857

Kontak 087 057 1284; grasslandlodge.com

Kry die gids
Lees meer oor Botswana en sy mense in Weg se 2018-’19 Botswana-gids wat tans op die rakke is teen R61 of bestel een by winkel.weg.co.za