Hoe verduidelik jy die Karoo aan mense wat dit nie ken nie? Die Karoo lê wýd. Die streek trek net anderkant die see weg en loop tot teenaan die Kalahari se duine, die Vrystaat se rooigras en ampertjies tot by die Drakensberg. Sal hulle glo daar is netjiese agterpaaie, berge en riviere as dit reën soos dit moet? Sal hulle verstaan dat die droë bossieveld gesond is vir skaap en mens? En dat jy in die Karooskemer kan hoor hoe die aarde, diere en planete gesels oor die dag wat verby is?

Hoe verduidelik jy die Karoo aan mense wat dit nie ken nie?

Die ses motorfietsryers wat vanmiddag op Carnarvon bymekaargekom het vir ’n vyf dae lange toer saam met my, ken nie een die Karoo nie. Alwyn van den Heever (van Nigel), Arie Lubbe (van Kathu), William Turner (van Bellville), Pieter Steinmann (van Centurion), Jacques Jacobs en Nic Grobler (van Krugersdorp) ry saam. Justus Visagie, en Jacques se vrou, Villene, volg met ’n bakkie en sleepwa.

Ons vertrek môre op ’n grondpadtoer oor ses bergpasse deur die Bo-Karoo. Ons ry ook op tweespoorpaaie wat dowwe lyne deur stil ooptes sny. Die toer begin en eindig op Carnarvon. Tussenin lê Loxton, Beaufort-Wes, Merweville, Sutherland, die Tankwa-Karoo, Middelpos en Williston.

Merweville is ’n netjiese dorpie met stil strate en geen straatligte nie.
In Merweville se winkel is die lekkergoed in die houttoonbank agter glas, en Simba, die Jack Russell, jaag??skelms en weerkaatsings

Iewers op een van dié paaie gaan die Karoo ’n lêplek in hulle harte kry. Dís vir seker.

Ons trek vroegoggend weg uit Carnarvon. Steenbokkies en springbokke draf op die vlaktes om ons. Die kronkels van die Sakrivierpoort vat ons Loxton toe, waar ons ontbyt eet by Die Rooi Granaat. Van daar af mik ons oos, deur Bokpoort, en toe suidwaarts, oor De Jagerspas, Beaufort-Wes se kant toe.

Die aand sit ons aan op die stoep by die Olive Grove-gasteplaas, net suid van Beaufort-Wes. Motorfietsryers word vinnig goeie vriende en daar word lank gesels oor elkeen se belewenis van die dag: woorde soos “ooptes,” “uitsigte,” “blou lug,” “rustigheid” en ’n “nuwe wêreld” duik telkens op. Jy kan hoor hoe die Karoo ’n vatplek aan elkeen begin kry.

Dit terwyl die algehele raakvatter, kosmaker en geselsmaker op die plaas, Yvette Robertson, sorg dat ons aan die lag bly. Sy góói die stories en kwinkslae.

“Die een ding wat ek nog die graagste wil sien, is daai lint wat hulle so op die eindstrepe span,” verklap sy.

“Ek was op skool maar die fris enetjie en teen die tyd dat ek aangekom het, is daai lint al opgerol en gebêre.”

Dan moet ons onmiddellik vir haar ’n lint span sodat sy deur hom kan hardloop, stel ek voor.

“Hoe ver gaan ek moet hol vir daai lint?”

Wat van sowat 50 m?

“Nog nooit nie! Nee, los die lint. Ek wil nou wragtag nie dood vir ’n lint nie.”

Die volgende dag ry ons deur leeuwêreld. Die Moltenopas, net noord van Beaufort-Wes, hou al langs die oostelike heining van die Karoo- nasionale park en klim teen die Nuweveldberg uit. Aan die bokant swaai ons wes, Fraserburg se koers in. Op hierdie stil plato ry ons waarskynlik naby ’n jong maanhaar verby. (Een van die park se leeumannetjies het in Maart vanjaar ontsnap en was al meer as twee weke op vrye pote op plase in die omgewing. – Red.)

Hier bo beleef jy die Karoo op sy beste: ’n Uitgestrekte stuk aarde en ’n blou hemel – en tussen die twee hang die lug vol bossiereuke en waai korhane en kraaie van die een windpomp na die ander.

Hier bo beleef jy die Karoo op sy beste: ’n Uitgestrekte stuk aarde en ’n blou hemel

En daar ry jy – piepklein – met net ’n wolkie stof agter jou. Dis die ding van ’n motorfiets: Hy neem nie baie ruimte op nie. Die vlaktes bly wyd. En die hemel hoog. Jy voel nie groter as die korhaan, kraai, bakoorjakkals of steenbokkie langs die pad nie.

By ’n stilhouplek staan Pieter lank stil. Ek wonder of daar fout is. Nee, sê hy, hy het lanklaas so goed gevoel.

“Die pad en die veld praat met my. Dis ’n wonderlike belewenis. Ek wil nie hê dit moet ophou nie.”

’n Ent voor Fraserburg draai ons suid om met die Oukloofpas weer teen die Nuweveldberg af te daal. Die smallerige poort gooi baie draaie tussen ysterklipkranse. Ons gewaar ribbokke, klipspringers en koedoes. ’n Mens voel goed weggesteek. G’n wonder die vorige ontsnapte leeu, Sylvester, het sy toer hier rond begin en klaargemaak nie.

Sy spore is in een van Oukloof se droë rivierlope gesien. Hy het teenaan die plaasskooltjie, Layton Primêr, se koshuis verbygeloop (gelukkig terwyl die kinders veilig in hulle beddens was) en verder op Eltrus Mocke se plaas 14 dorpers platgeduik. Hy het ’n sirkelroete voltooi en is uiteindelik weer hier naby Oukloof, hoog bo-op die Nuweveldberg, gevang.

Pieter Steinmann, een van die motorfietsryers, rus in een van Oukloof se rivierlope.

Ons ry oor die R353-teerpad tussen Fraserburg en Leeu-Gamka, en hou grondpad langs Merweville toe. Dis ’n Sondagmiddag en die dorpie is grafstil. Ons fietse dreun soos donderstorms deur die strate. Ons parkeer en verken die dorp te voet om die heilige rustigheid te bewaar.

Amper elke huis het ’n stoep en ’n windpomp op die erf. Van die koppie teen die NG kerk af hou ons die sakkende son dop. Dit verdwyn agter die Nuweveldberg waaroor ons môre weer ’n keer ry.

Ons parkeer en verken die dorp te voet om die heilige rustigheid te bewaar

By die Springbok Lodge het Mary-Ann en Johan van Heerden ons braaipakke met Karootjops, braaibroodjies en slaaie reggesit. Mary-Ann het in hierdie wêreld grootgeword, maar hulle was baie jare elders in die land waar Johan gehelp het om kraglyne op te rig.

“Ek het hoeveel jaar gevaarlike werk hoog bo die grond gedoen en nooit iets oorgekom nie. Nou die dag maak ek ’n lig in die huis reg, val en breek my heup,” vertel Johan.

Deesdae bestuur dié twee afgetredenes die lodge. “Ons geniet dit baie op Merweville,” vertel Mary-Ann. “Die enigste ding wat pla en waaraan ons niks aan kan doen nie, is die droogte. Dit is rof en die boorgate sukkel om voor te bly.”

Die volgende oggend by Victor se Garage, half motorhawe, half koöperasie, word daar verder droogte gesels. Want Hugh Lawrence wat saam met Dawid Snyman planke laai, is ’n asmalyer. Hy het juis Merweville toe getrek omdat hy droogte soek.

Sononder op Merweville se koppie

“Die droë, skoon lug is goed vir my. Ek het nog nêrens anders so gesond gevoel nie.”

Dawid skud sy kop. “Hier is plase met nie meer ’n enkele skaap nie. Hoe maak dit sin dat droogte, wat soveel boere se einde is, ’n ander man se begin kan wees?”

Dawid Snyman (links) en Hugh Lawrence vroegdag by Victor se Garage op Merweville.

Nie een van ons weet nie.

Reguit paaie is vervelig. Dus ry ons ’n wye draai na die Nuweveldberg toe. Deur die Juk- en dan die Dwykarivier. Hulle lope lê vol warmgebakte gruis en stowwerige dierespore.

Dit lyk asof hier nooit weer water sal wees nie, maar die strepe doringbome herinner jou om moed te hou.

Die steil paadjie teen die berg uit het heelwat klipperige dele. Sy naam is mooi: Rammelkoppas. As jy weer sien, ry jy hoog in die blou lug en lê die Karoo oop voor jou tot waar die aarde haar ombuig na groener weivelde. Hier bo kry jy klofies vol populiere en riete, en elke nou en dan ’n korbeelhuisie – igloeagtige huisies wat jare gelede veldwagters en trekboere se tuistes was in die Karoo.

As jy weer sien, ry jy hoog in die blou lug en lê die Karoo oop voor jou tot waar die aarde haar ombuig na groener weivelde

Ons kom gans te gou op Sutherland aan.

Laatmiddag ry ons uit na oom Tjol toe. Hy bly langs die pad, Matjiesfontein se kant toe, in een van die Verlatenkloofpas se draaie. ’n Wit geboutjie en twee woonwaens staan langs die pad met ’n bordjie: Tjol se gat. Oom Tjol Herbst en sy vrou, Jackie, bly hier. Hulle het ’n paar jaar gelede van die Paarl af getrek en besluit dié geboutjie, wat eens op ’n tyd ’n tolhuis was, sal voortaan ’n watergat wees. En hier is water. Dié skink oom Tjol, wat selde ’n hemp dra en ook lanklaas lus was vir skeer, graag.

Tjol Herbst sê al het hy matriek geskryf met dié bynaam is hy eintlik as Christiaan gedoop

“Die water kom net so, hier uit my boorgat, uit die aarde. Proe, en sê vir my of jy al lekkerder gehad het.”

Die water smaak soos die koel, gesonde binnekant van die Karoo. Oom Tjol sê hy gaan dit binnekort bottel. Jy sal dit hier by hom en op Sutherland kan koop. Tjol se water. Maar by Tjol se gat drink mense gewoonlik goete met meer skop.

“Mense kom hiernatoe, want hulle wil nie op die dorp of voor die hotel gesien word nie. Hier is g’n selfsoonsein nie en die poeliesvên vang ook nie op nie. My eie radio vang net-net ’n paar stasies op. RSG, KFM en Radio Pofadder.”

Radio Pofadder?

“Ja,” sê oom Tjol, “As jy die radio aansit, dan maak hy net so ‘pffffft’.”

Dis swaar om van oom Tjol af weg te ry. Die stories loop en die rustigheid kruip uit die Roggeveldberg se ribbes en kom klou aan jou lyf vas.

Maar ons moet by Jurg Wagener se Sterland, net buite Sutherland, aanmeld sodat hy ons weer kan laat besef watse klein spikkels ons is. En hoe gróót die blink spikkels in die naglug eintlik is.

Die son kom die volgende oggend in ons truspieëltjies op, want ons mik al vroeg wes, Oubergpas toe. Dis ’n boerepas met lang, steil afdraandes wat jou so vinnig as moontlik onder in die Tankwa wil kry. Waar die uitgestrekte rooibruin kaaltes se droë, warm asem jou groet.

“Ek wil al lank deur die Tankwa ry,” sê Jacques. “Dit het nog altyd soos ’n heel anderste soort landskap gelyk. En dit is. Pure woestyn. Wat ’n voorreg.”

Ons verruil die gewone grondpaaie na die Tankwa-padstal toe vir twee spore deur die veld. Los klippe, sand, ’n stadige spoed en ’n bitsige son maak dat die sweet ernstig loop.

Ons skep asem by ’n huisie in die veld. Salmon Orris en Betjie Wessels bly hier en Salmon se susterskind, Dominique, kuier by hulle. Salmon pas die plaas se skape op.

“Dis maar ’n stil lewe hierlangs. Sien net nou en dan ’n ander mens,” vertel Salmon. Hulle was juis die naweek in “Sitterland” vir hulle maandelikse inkopies.

“Toe’t ek maar die draadlosie gekoop,” Salmon beduie na ’n wynrooi radio’tjie.

Salmon Orris, Betjie Wessels en klein Dominique het nou ’n wynrooi draadlosie waarmee hulle die stilte van die Tankwa aandurf

“Laat hier darem net ander stemme ook in die huis is.”

Ons koop ’n paar van Betjie se gebakte aartappels wat op die houtstoof warm gehou word voor ons weer in die pad val.

Op ’n klipperige hoogte kyk ek om. Die wit huisie wil-wil oplos in die vaal veld. Maar Salmon, Betjie en Dominique staan nog en waai.

Dit is só warm wanneer ons by die Tankwa-padstal stilhou dat almal onmiddellik in die dammetjie met yskoue water spring. Ons drink gemmerbier en maak moed bymekaar vir die laaste skof na die Gannaga Lodge.

Dis dadelik warm as ons op ons fietse klim – 39 °C, sê die skerm. Die lang, reguit R355 tussen Ceres en Calvinia wat teen die padstal verbyloop, is darem net te saai. Daarom draai ons regs af op die Rondawelpad wat kinkels maak deur droë rivierlope, klipperige rante en buiteruimtelike ooptes.

Dan ry ons verby springbokke, volstruise en gemsbokke in die Tankwa-Karoo- nasionale park tot aan die voet van Gannagapas. Om van hier af teen die Roggeveldberg op te kyk en te sien waar die smal paadjie aan die steil hange vasklou, maak my elke keer opgewonde.

Die Gannagapas se kronkels, wye uitsigte en vars lug sal jou menigmaal laat terugkeer vir meer

En om later van bo af in ’n koeler windjie te staan en weer terug te kyk na die stowwerige Tankwa maak jou dankbaar vir die uiterstes wat ’n mens in ons land kan beleef.

By die Gannaga Lodge koel ons af in die swembad en tuur oor die landskap. Die skaduwees sluip oor die plato en trek uiteindelik die oranje berge toe.

Dis ons laaste dag van reis, maar ons gaan nie Carnarvon toe jaag nie. Ons hou stil op Middelpos, die dorpie wat eintlik ’n plaas is. En ná koue koeldranke uit die enigste winkel, Die Winkel, vat ons weer skurwe plaaspaaie aan Williston toe. Dié kol van die Karoo is kurkdroog – daar is omtrent nie ’n enkele dier in sig nie. ’n Ongenadige son bak die veld dor. Ons lywe sweet.

Die mooiste swemdam in die Karoo langs die pad tussen Middelpos en Williston

Later dobber ’n klein blou see voor ons langs die pad. Ek reken ek sien gesigte. Die palmboom word ’n windpomp en die see word ’n sementdam met water soos glas.

Teen die tyd dat my mederyers by my stilhou, lê my motorfietsklere in ’n streep oor die krie-doringbosse. Almal duik met ’n groot gejuig in. Die ouens vertel dis die eerste keer dat hulle in ’n plaasdam langs die pad spring. Of water uit ’n pyp drink wat pas deur ’n windpomp uit die aarde geskep is.

Aan die onbekende boer: baie dankie.

By Williston se Manna-restaurant drink ons yskoue melkskommels en wag in die lugreëling dat die son effens bedaar.

Die 130 km-teerpad na Carnarvon lê reguit voor jou uitgestrek – ’n goeie plek om jou reis te oordink. Om terug te dink aan die spore waarlangs ons gekom het. Ek sien my nuwe vriende langs die pad. Ek sien die Karooskemer in hulle oë.

En ek weet dat die Karoolug almal se binnekant skoon gewaai het.

TOT SIENS. Ná ’n paar dae in die Karoo sê jy moeilik koebaai. Want dit is nie meer net ’n stuk aarde nie. Dit is ’n ou vriend wat jou steeds verras. Hier staan (van links) Arie Lubbe, William Turner, die joernalis Willem van der Berg, Pieter Steinmann, Alwyn van den Heever en Jacques Jacobs.

Bly hier

Lord Carnarvon-gastehuis

Dié gastehuis het ’n lieflike atmosfeer en netjiese enkel-, dubbel- en gesinskamers. Sit aan by Lord’s Kitchen vir heerlike pizzas en Karoo- disse – hier’s baie soorte G&T’s. Koste Vanaf R350 p.p. wat deel.

Kontak: 082 780 4209; “Lord Carnarvon Guesthouse” op Facebook

Olive Grove-gasteplaas

Die Olive Grove-gasteplaas se selfsorghuisies is netjies. En hier is ’n gawe swembad
Yvette Robertson van Olive Grove is die ene glimlagte

Dié plaas met sy olyfboorde is langs die N12, sowat 20 km suid van Beaufort-Wes. Kies tussen selfsorgchalets of gastekamers. Reël vooraf vir ’n watertand Karoo-aandete.

Koste: Vanaf R790 p.n. vir ’n dubbelkamer. Selfsorg: Vanaf R970 p.n. vir 2 mense.

Kontak: 023 414 3397; olivegrove.co.za

Springbok Lodge

Mary-Ann van Heerden laat sake reg loop by die Springbok Lodge in Merweville en maak ’n baie goeie braaibroodjie

Hierdie ouwêreldse lodge op Merweville het agt kamers, ses met en suite-badkamers, en oorgenoeg plek vir vuurmaak en braai in die gemeenskaplike kuiergedeelte. Reël vooraf vir braaipakke, braaibroodjies en slaaie (R150 p.p.).

Koste: Vanaf R300 p.p. wat deel.

Kontak: 083 255 6931; springboklodgemerweville.yolasite.com

Sutherland-hotel

Dié netjiese plattelandse hotel is al meer as 100 jaar oud en reisigers van oraloor kuier steeds hier saam, veral in die Rooikat-kroeg waar die stories lekker loop. Hier is ook ’n restaurant.

Koste: Vanaf R400 p.p. wat deel (met ontbyt of ’n wegneem-ontbytpakkie)

Kontak: 082 824 8560; sutherlandhotel.co.za

Gannaga Lodge

Hier is ’n ou plaashuis met vyf en suite-dubbelkamers, ’n opgeknapte stal met ses en suite-kamers (met slaapplek vir twee of vier mense), asook ’n selfsorgkliphuisie (dubbelbed en slaapbank). Die kamers is nie selfsorg nie, maar hier is ’n restaurant met heerlike kos.

Koste: Vanaf R900 p.n. vir 2 mense, met ontbyt; Kliphuis: R1 400 p.n. vir 4 mense.

Kontak: 079 922 1688; gannagalodge.co.za