Toe die Duster skuins ná agt die oggend oor die Potlekkertjieroete se gruisklip knars, trek die temperatuurlesing in die kajuit reeds by 32°C.

Dis Novembermaand en die Karoo- nasionale park is horingdroog. Tot dóér op die horison sidder die landskap onder ’n blinkgebakte kors van klip en bitterbos. Dié hittegolwe spoel uiteindelik teen die Nuweveldberg in die noordweste vas, met ’n soetdoring of twee wat moedig hak inslaan. Hier reg teen die linkerskouer van die pad sorg ’n ry dolerietkoppe vir ’n bietjie skaduwee.

Ek het skaars die helfte van die sirkelroete afgelê en reeds koedoes, hartbeeste en elande gesien. Ek hoop om ’n paar van die park se 23 leeus teë te kom, maar ’n mens moet nie te gulsig wees so vroeg in die oggend nie – die park is immers ’n woesteny van byna 900 km². Ek sit gelate agteroor met die Karoolug wat deur die ruite stroom en adem die ooptes om my in.

’n Paar kilo’s verder staan ’n klompie voertuie op ’n bultjie, skaars 200 m veld-in op die Afsaal-4x4-ekoroete wat van die Potlekkertjieroete af swenk.

Ek mik deur die slaggate en slote, maar halfpad teen die voosgetrapte steilte grou die wiele ’n slag en gee die stryd gewonne. Dis eers as ek papnat gesweet die handrem vastrek, dat ek die twee leeus skaars 10 m regs van my tussen die bossies sien lê. Hulle is so naby dat ek hulle asem kan ruik.

Ek staar oopmond toe die mannetjie ná ’n paar minute opstaan en breëbors om sy wyfie draai. Ek was nog nooit só naby aan leeus in die natuur nie.

“Wragtag?” vra Nico van der Walt, die park se bestuurder, wie ek later in die ruskamp raakloop. “Jy’s gelukkig, my maat. Baie mense ry dae lank rond sonder om hulle te sien.” Leeus het altyd in die Karoo voorgekom totdat grootskaalse veeboerdery hulle ’n paar eeue gelede verdryf het. Die park het in 2010 begin om hulle te hervestig.

“Ons het ’n wêreldklas natuurskat, en die idee is om terug te sit wat eens hier was,” gesels Nico. “Dis ’n lang proses, maar vandag groei die getalle mooi. Swartrenosters en leeus is die enigste van die Groot Vyf wat ons het. Hulle’s veral vir buitelandse toeriste ’n groot trekpleister, wat net goeie dinge vir die park beteken.”

“Ons het ’n wêreldklas natuurskat, en die idee is om terug te sit wat eens hier was.”

Een spesifieke vuilbaard het vir groot opskudding gesorg. Sylvester, een van die eerste mannetjies wat hier gebore is, het tussen Junie 2015 en Maart 2016 twee keer uit die park ontsnap nadat ouer mannetjies die wêreld vir hom warm gemaak het. (Sylvester se sage word uitgebeeld in die Ou Schuur Interpretive Centre in die ruskamp.) Hy is in Mei 2016 na die Addo-olifant- nasionale park verskuif, waar hy uiteindelik tevrede oor sy eie harem kon waak. Sedertdien is die meeste van die park se katte met sensorhalsbande toegerus. (Ná Jac se besoek het nog ’n mannetjie, Mufasa, op 15 Februarie ontsnap. Hy is uiteindelik op 13 Maart opgespoor. Teen druktyd was die plan om hom terug te bring na die park toe. – Red.)

“Ja kyk, die leeus sal nou seker altyd ’n groot storie wees hier,” sê Nico. “Ons probeer egter mense van die ander fasette ook bewus maak. Die diere is ’n bonus. Dis die landskap wat die plek besonders maak.

“In hierdie ooptes en stilte voel jy klein. En ’n mens dink mos maar die Karoo is plat, maar jy’s heeltyd bewus van die berge en kranse om jou, dis half onverwags.”

Die park is in 1979 amptelik geopen. ’n Plaaslike boer, William Quinton, het hom in die laat 1950’s bewyer vir die bewaring van die Nama-Karoo-bioom. Maar die erfenis van dié stuk wildernis strek terug tot prehistoriese tye. Sowat 250 miljoen jaar gelede was die landskap ’n vloedvlakte waar soogdieragtige reptiele, oftewel terapsides, voorgekom het. Daar lê duisende fossiele van dié diere, wat beskou word as die voorgangers van dinosourusse en soogdiere, vasgevang in die landskap.

Gaan kyk gerus na die skedel van die Moschops, ’n fris terapside van by die 2,5 m lank in die fossielversameling in die ruskamp. Dié plantvreter was nóg warmbloedige soogdier nóg koudbloedige reptiel, maar kon ’n relatief stabiele liggaamstemperatuur handhaaf vanweë sy stewige grootte. Die gedierte kon ook sy metabolisme volgens die seisoene aanpas.

Die landskap sélf bring ook hulde aan die rou krag van die natuur: Die aarde hierlangs bestaan uit lae sedimentêre klip soos sandsteen, modderklip en skalie, tesame met vulkaniese doleriet wat byna 240 miljoen jaar gelede deur die oppervlak boontoe gekook het. Onder die aanslag van wind, weer en watererosie is die sagter sediment op verskillende hoogtes weggevreet wyl die harder doleriet meestal behoue gebly het. Vandag is dit ’n deinende oerlandskap van skalielaagtes, rooi sandsteenkoppe en glimmende dolerietkranse.

Die beste plek om die uitkoms van dié prehistoriese aksie te sien is by die Rooivalle-uitkykpunt. Dis nou nadat jy die 3 km lange Klipspringerpas getrotseer het – ’n stéil stuk slingerpad wat net buite die ruskamp begin.

Van die Rooivalle-uitkykpunt af in die Karoo- nasionale park kyk ’n mens uit oor ’n diep ravyn

By Rooivalle tuur jy oor ’n massiewe ravyn met loodregte dolerietwande wat wyd na albei kante onder jou uitstrek. Dié uitkykpunt is een van die min plekke in die park waar ’n mens uit jou kar mag klim. Toe ek oor die draadversperring leun, gee my maag ’n draai; dis vér tot op die klipperige bodem van die ravyn. ’n Beweging trek skielik my aandag: ’n Paar witkruisarende draai in die fel blou hemel.

Voordat ek ry, kniel ek by die Duster om te kyk of daar nie ’n skilpad onder die bakwerk ingekruip het nie (hier’s oral borde wat maan dat hulle van dié skadukolle hou). In ’n oogwink is my arms en bene oortrek deur yslike Karoo-balbyters (ook bekend as Camponotus fulvopilosus).

Ek doen iets wat sekerlik lyk soos ’n kruis tussen die leeuloop en ’n soort reëndans om hulle af te skud. Toe ek uitendelik agter die stuur inskuif, hou ek aan met die pad en ry weer ’n ent op die Potlekkertjieroete. Noudat leeus én witkruisarende van my lysie afgemerk is, ontspan ek.

Dis nie lank voordat ’n paar gemsbokke, steenbokke en bergkwaggas my pad kruis nie. Al is die park tans bitterdroog, is die wild steeds volop en in goeie kondisie.

Die son begin genadiglik water trek; dit lyk selfs asof daar ’n snars onweer in die verte opsteek. Ek draai later die kar om en mik vir die Lammertjiesleegteroete oos van die ruskamp. Lammertjies is vir die grootste gedeelte geteer. Hier rys die Nuweveldberg stug aan die regterflank op, met die vlaktes wat wyd arms oopgooi na links. Noudat die wiele saggies oor die teerpad suis, word ek behóórlik bewus van die grootsheid van die swygende landskap.

Lammertjiesleegteroete

Toe ’n bul van ’n bergskilpad ná ’n paar minute langsaam die pad voor my oorsteek, besluit ek om sélf voet van die petrol af te haal en asem te skep. Ek stop op die skouer en skakel die enjin af. Dis nou skielik koel, en die son het agter ’n paar donker wolke verdwyn. Ek sluit my oë en voel hoe die verlatenheid oor my spoel.

Ná ’n minuut of wat versteur ’n geluid die vrede. Ek kyk verward rond, en sien dan ’n vet reëndruppel teen die voorruit plons. Dan nog een. En nog een.

Ná my geluk in die park voel ek skoon ek is iets aan die plek verskuldig. Dankie Karoo- nasionale park, vir jou vrygewigheid.

DOEN DIÉ SES DINGE

Ry ’n wildkykroete

Die Potlekkertjieroete (45 km) begin by Rooivalle se uitkykpunt, net ná die Klipspringerpas. Ná sowat 15 km kry jy ’n uitsig oor ’n wye vallei by Doornhoek se uitkykpunt, met die Nuweveldpieke wat reg agter jou sit.

Lammertjiesleegte is ’n hondmak 11 km lange sirkelroete wat net oos van die ruskamp se onderste hek begin.

Jy kan ook ’n vroegoggendrit saam met ’n gids in ’n Land Rover rondom Potlekkertjie aanpak. Dit kos R1 204 vir ’n minimum van 4 mense, en R300 p.p. daarna (plek vir 8).

Pak ’n mandjie

Die Doornhoek-piekniekplek tussen digte bome het nege braaiplekke (met bankies en tafels) en ablusiegeriewe vir dagbesoekers. Die Bulkraal-piekniekplek sit op die Lammertjiesleegteroete teen die parkgrens – hier’s ’n swembad, lapa, ablusieblok, genoeg sit- en dekplek en selfs ’n kragpunt vir jou woonwa.

Dié skillie het ’n blaaskans gevat by die Bulkraal-piekniekplek
Doornhoek-piekniekplek

Die ses aparte beskutte braaiplekke sit ’n goeie entjie van die swembad af (waar dit op ’n somersdag bedrywig kan raak).

Kyk fossiele

Die Fossil Walk, ’n buitelug-fossieluitstalling aan die westekant van die ruskamp, is ’n aardigheid. Hier kan jy alles van skedels tot perfek bewaarde geraamtes sien van die prehistoriese diere wat miljoene jare gelede hier rondgeloop het. Die hoogtepunt is die versteende skelet van ’n baba-Bradysaurus, en die 250 miljoen jaar oue Pareiasaurus word beskou as die voorganger van vandag se renoster.

Fossil Walk

Stap in die ruskamp

Die Bossieroete van 950 m is ’n kort sirkelroete waar jy met naamplaatjies meer van die park se geharde plantspesies kan leer. Die Sylvesterroete is ’n 2 km-roete wat langs die ruskamp se boonste grens loop (jy mag dit ook met ’n bergfiets ry).

Die Ruskamproete is ’n 1,5 km-sirkelroete wat tussen die kampterrein en die kothuise aan die westekant van die ruskamp sit. Jy kan ook die 5 km-Pointerroete saam met ’n gids aanpak. Dié roete vat jou teen die koppe buite die ruskamp uit en bied mooi uitsigte oor die Nuweveldberg in die verte. Dit kos R237 p.p., en kinders moet ouer as 12 wees.

Pointer-roete saam met ’n gids
Bossieroete

Kyk voëls

Hier’s ’n netjiese voëlskuiling aan die oostekant van die ruskamp wat uitkyk op ’n vlei en waar jy vroegoggend en laatmiddag onder meer rooivinke (foto heel regs), bleshoenders, swarteende en kleinrietsangers kan sien.

JAC KRITZINGER
Vlei by die voëlskuiling

As jy op hoë wiele ry...

Die viertrektradisie loop dik in dié bewarea: In 1992 het dit die eerste nasionale park geword wat met ’n 4x4-roete kon spog. Vandag is die ganse westelike helfte van die park net vir 4x4’s.

Die Nuweveld-4x4-ekoroete is ’n plek-plek sanderige sirkelroete van 90 km waar jy ’n goeie kans het om swartrenosters te sien, met die eenrigting-Kookfonteinroete van 7 km wat uit sy onderste punt vertak.

JAC KRITZINGER
Dié twee maanhare het op die Nuweveld4x4-ekoroete uitgespan.

Die Afsaal-ekoroete, aan die suidpunt van die 4x4-gebied, strek vir 13 km met die 7 km lange Sandrivierroete wat teen die parkgrens van hom afswenk.

Aan die oostekant van die park kry jy ook die ontsagwekkende Pienaarspas, ’n steil, smal roete van 6 km wat parallel met die Klipspringerpas die kloof uitklim en uiteindelik weer by Potlekkertjie aansluit. Dié een is slegs vir hardebaarde en jy’t ’n permit nodig (R301 per voertuig).

Klipspringerpas

WAAR SLAAP EK?

Kampterrein

Die park se netjiese kampterrein sit in die ruskamp se oostelike hoek, het volop skaduwee en is toegerus met ’n wassery, kombuis en silwerskoon ablusies. Hier is 24 groot staanplekke vir woonwaens en vyf kleineres as jy slegs wil tent opslaan – almal het kragpunte.

Koste: Vanaf R323 vir tot twee mense, en R89 per ekstra persoon en R45 per ekstra kind (maksimum ses mense per staanplek).

Selfsorghuise

Hier is drie soorte huisies met min of meer dieselfde ontwerp: oopplanleefvertrek en kombuis met ’n slaapkamer(s) en ’n slaapbank. Elkeen het ’n stoep met ’n beskutte braaiplek en ’n uitsig. Die basiese chalets (slaapplek vir 4) is skakelhuisies wat eintlik maar kothuise is wat in twee verdeel is. Dis nie privaat nie. Die agt gesinskothuise (slaapplek vir ses) is lekker ruim en sit nie te na aan mekaar nie. Die uitsig van jou stoep en braaiplek af word effens belemmer deur die ry kothuise onder jou, maar dis die beste keuse as jy meer privaatheid soek.

Die tien losstaande kothuise (slaapplek vir vier) sit redelik knap langs mekaar net onder die gesinskothuise. Jy’t egter net die ruskamp se grensdraad tussen jou stoep en die wildernis wat doer vorentoe strek. Daar is ’n kaart van die ruskamp se uitleg op Sanparke se webruimte.

Koste: Chalets: Vanaf R1 428 p.n. vir 2 mense en R404 per ekstra persoon en R202 per kind. Gesinskothuise: Vanaf R2 109 p.n. vir 4 mense, en R404 per ekstra persoon en R202 per kind.

Kothuise: Vanaf R1 559 p.n. vir 2 mense, en R404 per bykomende volwassene en R202 per ekstra kind. Al die pryse sluit ontbyt in.

Afsaal-kothuis

Hierdie basiese selfsorghuisie sit op die vlaktes langs die Afsaal-4x4-ekoroete. Dis allesbehalwe luuks (hier’s nie ontvangs nie), maar het al die basiese dinge – panele sorg vir krag en gas vir warm water. Daar’s ’n waterpunt reg voor die huisie. Die huis het ’n oopplanleefdeel en kombuis, met twee enkelbeddens in die slaapkamer. Twee ekstra veldbedjies vir kinders is beskikbaar op versoek.

Koste: Vanaf R994 p.n. vir twee mense, en R267 per ekstra persoon en R133 per ekstra kind.

Embizweni-kothuis

Dié ruim selfsorghuis (slegs sonkrag en gas) is in die boendoes langs die Nuweveld-4x4-ekoroete en is die perfekte plek as jy die woesteny om jou wil voel. Hier’s twee slaapkamers (een met ’n dubbelbed en een met twee stapelbeddens waar vier mense kan slaap), ’n yslike stoep en ’n braaiplek. Jy moet ’n minimum van twee nagte bespreek.

Koste: Vanaf R1 243 p.n. vir 4 mense en R264 per ekstra persoon en R133 per kind.

Kaart
Kaart
WEET VOOR JY WAAI

Hoe kom ek daar? Die park se ingang is teen die N1, sowat 5 km van Beaufort-Wes af in Leeu-Gamka se rigting.

Hektye: Die hoofhek is oop van 5 vm. tot 10 nm. Die ruskamp en wildkykgebied se hekke is oop April tot September 7 vm.-6 nm. en in Oktober tot Maart 6 vm.- 7 nm. Ontvangs elke dag 7 vm.-7 nm.

Kontak: 023 415 2828 / 023 415 2829 (ontvangs) 012 428 9111 (besprekings); sanparks.org

Beste tyd van die jaar? Van Februarie tot April, as die somerreëns geval het en temperature meer gematig is. Koste? Dagtarief R55 p.p., R28 vir kinders. Gratis met ’n Wild Card.

Waar doen ek inkopies? Beaufort-Wes het kettingwinkels en supermarkte. Die parkrestaurant is elke dag oop vir ontbyt 7 vm.-10 vm. (jy kan ook ’n brekfispakkie kry as jy padlangs wil eet) en aandete 6 nm.-9 nm. Van die stoep af het jy ’n uitsig oor die wildernis en ’n waterpunt waar die wild veral soggens suip.

As jy vashaak vir middagete, kan jy die Salt and Pepper-kuriowinkel probeer waar jy toebroodjies, slaaie en koeldranke kan kry. Hier’s ook bier, wyn en hout te koop.