Foto’s: Cyril Klopper
4x4-bestemming
4x4-bestemming

Suid-Afrika se langste rivier het vele name – natuurlik omdat hy deur soveel streke en verby soveel bevolkingsgroepe vloei. By sy bron in Lesotho heet hy die Senqu, dan word hy in die Oos-Kaap die IGqili, waarna hy in die Noord-Kaap die Oranje word.

En hier in die Richtersveld waar sy groot waters in die Atlantiese Oseaan uitmond, praat die Namas van die Gariep. Aangesien jy in Rome soos ’n Romein moet optree, gaan ons in hierdie storie volstaan met die Nama-naam.

Die Garieprivier vorm die noordelike grenslyn van die Richtersveld, wes lê die see, oos die N7-snelweg, en die streek se suidelike grens is die R382-streekspad tussen Port Nolloth en Steinkopf. Dit neem uit die Kaap een dag om met die N7 hierheen te reis, en van Gauteng af met die N14-snelweg ’n volle twee dae.

Maar ongeag waarvandaan jy kom, jy gaan eers ’n draai moet maak op Springbok in die noorde van Namakwaland. Stop hier vir vars brood en ander voorraad – Namakwaland is bekend vir sy skaapvleis – en maak vol met brandstof voordat jy die laaste stuk noordwaarts aandurf. 

Brons, silwer dan goud

Hoe nader jy aan Steinkopf kom, hoe yler raak die bossies. Dit is duidelik dié dorp se verfraaiingskomitee het in ’n stadium ’n poging aangewend om die plek op te knap, maar hulle het blykbaar die stryd teen die rommelstrooiers verloor, en nou hang daar plastieksakke aan hakiesdraad en leë koeldrankblikkies verswelg die omliggende veld se gousblomme.

Hou eerder verby en ry weswaarts met die R382 in die rigting van Port Nolloth. Draai kort ná die Anenouspas regs (S29.26103 E17.43196) en mik noord na Eksteenfontein. Dis ’n lieflike breë grondpad waar kuithoogte bossies verby flits.

Die aarde lê plát om jou, berge drom in die verte saam en veerwolke gooi sagte skadukolle oor die uitgestrekte landskap.

Eksteenfontein is kleiner as Steinkopf, maar dis ’n skoon en trotse dorpie. Trek hier af vir ’n koeldrank en lekkergoed. Dis ook nou die tyd om jou wiele se banddruk te verlaag tot sowat 1,8 bar, want die grondpad weswaarts uit die dorp is voos gery.

Die sinkplaatoppervlak word gereeld geskraap, maar die daaglikse verkeer tussen Eksteenfontein en sy buurdorp Kuboes, asook die toeristeverkeer na die Richtersveld- nasionale park sit die padskrapers ore aan. Gelukkig draai jy ná 19 km af by ’n padpredikant wat sê “Richtersveld Community Conservancy” (S28.72674 E17.12899).

Dié tweespoorpaadjie loop in ’n wye kloof in. As jy Tracks4Africa se kaarte op jou GPS het, gaan dié jou in die loop van die Gaigas- en Orabrivier stuur. Die plaaslike gemeenskap het egter ’n beter pad hoër op teen die vallei se rand gemaak waar dit nie deur vloede weggespoel kan word nie.

Die nuwe roete word aangedui deur pyltjiekaarte en klipstapels, en is hopelik goed uitgetrap teen die tyd dat bobbejane die rigtingwysers verwoes. Ná sowat 23 km vind jy jou slaapplek vir die nag: Die Tierhoek-kampterrein (S28.63407 E17.01184).

Tierhoek is in die mik van ’n smal klofie aan die voet van die Ploegberg. ’n Reusekrans troon bo jou uit en as jy mooi kyk, sal jy arendsnesse in die klip gewaar. Onder die krans is ’n grot waarin jy kan kamp en hier is ablusiegeriewe, hoewel dit ongelukkig vervalle en stukkend is. Op pad Tierhoek toe loop ons die Nama-veeboer Piet Joseph raak.

Piet sê Tierhoek is spesiaal, maar besoekers bemors die kampplek en die gemeenskap onderhou nie meer die storte en toilette nie. Hy sê ons kan eerder hier by hom, langs sy kookskerm, kamp opslaan. Maar ons wil nie inbreuk maak op sy skoongeveede kampie nie en aanvaar eerder sy volgende voorstel: dat ons in ’n vlak klofie langs Tierhoek moet kamp (S28.63232 E17.02183).

Volgens Piet is dit ámper so mooi soos Tierhoek, maar sonder die spore van slordige besoekers. Vanaand kamp jy onder ’n skouspelagtige hemelruim, die Melkweg brand ’n helder baan bo jou tent en mensgemaakte satelliete jaag van horison tot horison. Sit tjoepstil langs jou vuurtjie en luister hoe ’n jakkals iewers in die verte tjank.

Die lewe langs die Gariep

Piet kom die volgende oggend oor die vlakte aangestap terwyl ons kamp afslaan. Hy’t sy boerbokke in die berg gaan haal en demonstreer vir ons hoe hard sy sweep kan klap. As jy, soos ons, jou koffie en vrugte met Piet deel, vertel hy jou dalk van sy mense op Eksteenfontein en van sy halsstarrige bokke.

Sodra die oggendmis verdamp, is dit tyd om in die pad te val. Vandag het ons nie baie rywerk nie, maar daar is heelwat besienswaardighede wat wag. Skaars 5 km ná Tierhoek sluit jy weer by die hoofpad aan en volg hom noord na Sendelingsdrift.

Sowat 28 km later moet jy op die uitkyk wees vir ’n padteken wat jou nooi om Cornellskop se wondergat te besoek (S28.41966 E16.88842). Dié gat is 30 m diep en gevorm deur grondwater wat die dolomietkalksteen oor honderde jare weggekalwe het. Volgens ’n Namalegende woon die voorvadergees Heitsi Eibib op die bodem van die gat.

Die Richtersveld- nasionale park se hoofhek is 18 km noord van die wondergat. Veldwagters gaan jou toegangspermit hier na of reik een uit as jy dit nie vooraf deur hulle webwerf aangeskaf het nie.

Die veldwagters gaan ook jou ryding bekyk, en as jy in iets soos ’n Volkswagen Kewer opgedaag het, gaan hulle jou ten sterkste afraai om die park binne te gaan. Ons glo egter jy sal die mas opkom met ’n agterwielaangedrewe bakkie of sportnutsvoertuig met gewone allewielaandrywing – mits jy ervaring het met diep sand en skerp klippe.

Van hier af ry jy sowat 20 minute tot op Sendelingsdrift waar jy jou permit by die parkkantoor laat stempel. Jy kan ook ’n nuttige reisgids (R65) met ’n kaart van die park se paaie en besienswaardighede hier koop. By Sendelingsdrift is ’n pont wat jou oor die Gariep na Namibië neem.

Hier is ook ’n vulstasie met petrol én diesel (wat gemiddeld R1/l duurder is as in die res van die land), ’n kafee (oop van 9 vm. tot 12 nm. en weer van 4 nm. tot 6 nm.) en ’n kampplek en selfsorghuisies. Sendelingsdrift lê teenaan ’n diamantmyn en dis nie werklik die soort plek waar jy wil oornag nie. Wat wel in Sendelingsdrift se guns tel, is dat dit die enigste kampplek in die park is met elektrisiteit, maar daar is mooier plekke dieper die park in.

Potjiespram is een só ’n plek. Dit is ’n kampterrein teenaan die rivier met 18 staanplekke en netjiese ablusiegeriewe. Die ablusiegeriewe het was-bakke en storte met sonverhitte water asook spoeltoilette. Ondeunde blouapies hou jou uit die boomtakke dop – knip dus jou koskrat styf toe.

Sowat 16 km oos van Potjiespram is Die Hand van God (S28.12189 E17.00948). Dit is ’n klip wat oor die eeue verweer is en nou lyk asof ’n reus sy handafdruk daarin gelaat het.

Die Akkedis- en Domoroghpas volg 5 km ná die klip. Hou reguitaan met die Akkedispas, gevolg deur die Penkoppas tot op die Koeroegabvlakte. Hier is ’n smal poortjie waar fonteinwater vrolik uit die klip borrel (S28.17472 E17.15919).

Al ses van die park se amptelike bergpasse is klipperig, en hoewel dit weinig, indien ooit, nodig is om viertrek in te haak, gaan jou voertuig se grondvryhoogte op die proef gestel word.

Jy kan beslis nie ’n boswoonwa deur die passe sleep nie, want die draaie is knap. ’n Korter boswa sal pas, maar omdat dit ’n enkelspoorpad is, moet jy duim vashou dat jy nie koppe stamp met aankomende verkeer nie.

ROOIKRANS
ROOIKRANS. Tierhoek is ’n indrukwekkende kampplek, maar die geriewe het ongelukkig oor die jare in onbruik geraak. Piet Joseph (inlas) vertel dat dit ’n harde wêreld is, en daarom is gasvryheid en behulpsaamheid so belangrik om hier te kan oorleef.

De Hoop is ’n gewilde kampplek wat in die koeler wintermaande omtrént gepak is met besoekers. Selfs gedurende somervakansies staan die tente soos hare op ’n hond se rug langs die oewer van die Garieprivier. Hier is wasbakke en storte in die ablusiegeriewe, en ’n ooraanbod toilethokkies.

Die Gariep se water is taamlik diep hier en die stroom vloei stadig sodat Ma luilekker op ’n lilo kan dryf terwyl ousus lengtes oefen. Ons het slaapplek bespreek by die Tatasberg-wilderniskamp en moes rivierlangs deurdruk. Vroeër jare was die roete teenaan die rivier ’n uitdagende sandput wat heelparty voertuie se voorbuffer afgeruk het.

Sanparke het egter bo die rivier ’n nuwe pad tussen die spoelklippe deur gebou en dit is deesdae nie meer nodig om met die diep sand te stoei nie. Dis ook maar goed so, want die pad tussen die Maerpoort-bergpas en die Richtersberg-kampplek wat voorheen ’n alternatiewe roete na Tatasberg was, is tans gesluit en dis nie duidelik wanneer dit weer oop sal wees vir verkeer nie.

Die Richtersberg-kampplek is ’n kleiner, stiller weergawe van De Hoop, en hier is selfs lappies grasperk waarop jy ’n strandhanddoek kan oopgooi. Nes al die park se kampplekke is hier ablusiegeriewe met spoeltoilette en sonverhitte water. Nou is dit egter tyd vir ’n bietjie bederf.

Die Tatasberg-wilderniskamp mag dalk die duurste blyplek in die park wees, maar dit is ook die gemaklikste. Elkeen van die drie huisies (daar is ’n vierde een waarin ’n veldwagter permanent woon) het ’n volledige kombuis met ’n ys-vrieskas, gasstoof, opwasbak, vullisdrom, borde, messe- en kookgoed. Op die houtdek is ’n tafel met stoele en ’n braaiplek met ’n hoogteverstelbare oop rooster.

Die slaapkamer het twee beddens met skoon beddegoed, bedkassies en ’n klerekas. Die badkamer het ’n toonbank met ’n wasbak, handdoeke, ’n spieël en ’n snippermandjie. Die toilet grens aan ’n stort met warm en koue krane. Jy kan al jou kampgoed net so in jou voertuig los en slegs jou kos en klere by die huisie indra. Hier is ook ligte wat met sonkrag werk, maar geen kragsokke om jou skootrekenaar of kamerabattery te herlaai nie.

Gebruik Tatasberg as ’n basis om die res van die park te verken. Twee moetsienplekke is die Kokerboomkloof-kamp en die Springbokvlakte. Eersgenoemde is ’n pragtige kampplek wat knus tussen massiewe rotse en drie tipes kokerbome uitgelê is. Die nabye Springbokvlakte, daarenteen, is ’n dorre Marslandskap wat jou nietig laat voel. Direk suid van Tatasberg is die sogenaamde Geheime Vallei waar jy ’n skemerkelkie kan geniet.

Die geografie hier is verstommend: Sommige koppies lyk soos hope albasters terwyl die berge se lae herinner aan skywe Neapolitaanse roomys.

VAN BO AF. Die uitkykpunt (bo) op pad na Kokerboomkloof bied ’n blik op die Springbokvlakte. By Kokerboomkloof (onder) kamp jy tussen kokerbome en by Tatasberg (links onder) het jy ’n onverbeterlike uitsig op die Garieprivier. Die park het talle poortjies (links) wat net breed genoeg is vir een voertuig.

Klippe kou in die suide

Nadat jy ’n klompie dae in die park vertoef het, kan jy op pad uit die Gannakourieprivier volg. Hierdie roete neem jou verby die Hakkiesdoring-stappershut en die Gannakouriep-wilderniskamp. Albei blyplekke het netjiese geboue met beddens, kombuise en stortkamers.

Op die effens uitdagende Helskloofpas gaan jy Pearson se rooiaalwyne sien. Dit is die enigste plek op aarde waar hulle so dig opmekaar groei. Terug by die park se hoofhek moet jy besluit of jy vlugtig wil terugkeer na Sendelingsdrift om weer brandstof in te gooi (ons Suzuki Jimny het petrol nodig gehad) en of jy die roete terstond suidooswaarts wil volg omdat jou bostrokkie ’n langafstandtenk het.

Die dorp Kuboes het tot betreklik onlangs selfsorghuisies en oulike Namariethutte gehad, maar dié is intussen tot niet. Die dorp lyk afgeleef, maar die kafees verkoop darem lekkergoed en koue koeldrank. Hou stil by die toerismekantoor om ’n permit te kry vir die eerste werklike 4x4-uitdaging: die Kuboes-4x4-gemeenskapsroete. Dié roete is té taai vir ’n gewone sportnuts – hy gáán jou Volkswagen Tiguan en Honda CRV aan flarde ruk.

Hier het jy ’n opregte viertrekryding met groot bande (33” en meer is wenslik) en ’n lekker sterk enjin (’n V6, asseblief) nodig. Laestrekratte is broodnodig en ’n ewenaarslot sal ook help. By nabetragting moet ons erken ons het té veel afgebyt met die Jimny. Dié piepklein 4x4 kon die roete oorwin, maar hy’t skade gely, selfs met die hulp van sandplanke wat as kliplere ingespan is.

Gelukkig is die skade kosmeties eerder as meganies – die Jimny is duidelik rateltaai. Sommer met die eerste bult sien jy klipterrasse met gesmelte rubberspore wat gelaat is deur avonturiers wat voorheen hier uitgesukkel het.

Dis op en af deur die Cornelisberg – in en uit droë rivierlope – tot jy by ’n smal klippaadjie, bergop tussendeur rotse, aankom (S28.49592 E17.12552). Jy sien op ’n afstand al dat ’n dikkedensie op jou wag. Stap die pad eers te voet uit en beplan jou lyn. Jy gaan moet klippe pak en sandplanke neerlê (as jy dit saamgebring het), want die gate tussen die klippe is díép. Vat dit rustig, want jy wil nie hier ’n oliepan kraak of ’n dwarsas breek nie – daar is geen in- sleepdiens wat jou hier kan kom haal nie, en ook nie ’n ambulans nie...

Veldwagters gaan jou ryding bekyk, en as jy in iets soos ’n Volkswagen Kewer opdaag, gaan hulle jou afraai om die park binne te gaan.

Kort ná die strawwe hindernis tref jy ’n lappie riviersand in ’n kloof aan waar jy kan aftrek en uitspan (S28.51356 E17.14141) – hier is min sagte grond op die klipbesaaide roete. Hier’s ook ’n fontein 600 m verder suid met die droë rivierloop waar jy vars water by die ruïne van die verlate plaas Gelykwerf kan skep.

Ontdooi jou bevrore braaivleis op jou trokkie se louwarm enjinkap, skink ’n triomfdrankie en kyk hoe jou vuurtjie se rook teen die krans uitdwarrel.

LANDSPOEDREKORD. Net soos al Suid-Afrika se nasionale parke word jaagtogte nie hier geduld nie, maar dit is aanloklik om die versnellerpedaal weg te trap op hierdie plat stuk aarde (bo). Die Geheime Vallei (regs bo) is ’n gawe plek vir ’n skemerkelkie.

Alle goeie dinge...

Kort nadat jy al jou kampgoed terug in jou motor gelaai het, is dit tyd om verder suid te mik tot by die droë loop van die Kookrivier. Jy kan hier regs draai en terugkeer na die Tierhoekpad waarop jy ’n paar dae tevore gery het. Hy kan jou vinnig by Eksteenfontein uitbring, maar wees eerder dapper en stryk aan, want daar lê ’n besonderse bergpas voor.

Dit sou ’n onderbeklemtoning wees as iemand aanvoer die Smithspas is onbekend. Hy verskyn nie op kaarte nie en Google – wat gewoonlik álles weet – het nog nooit van hom gehoor nie.

Dis ’n smal leiklippad wat die ruggraat van ’n berg volg (S28.71220 E17.19344). Hy’s nie uitermate uitdagend nie, maar as jy aan hoogtevrees ly, moet jy liefs verby hou.

Die afgrond na links én regs is steil en jy verwonder jou aan die vernuf wat nodig was om hierdie pas te bou. ’n Uur later spoeg die bergpas jou 3 km wes van Eksteenfontein uit. As jy die roete tot dusver sonder té veel drama baasgeraak het, is daar nóg ’n lekker uitdaging wat voorlê.

Ry noordooswaarts uit Eksteenfontein, verby ’n reusepadteken wat aandui dat die roete slegs geskik is vir bakkies en sportnutsvoertuie.

Hou verby al die afdraaie, verby die Rooiberg, tot in die Helskloof-Nababiep-natuurreservaat. Dit is ’n tartende paadjie in die droë loop van die Xaminxaiprivier (Klap jou tong as jy die naam uitspreek. – Red.) Wanneer jy nie oor rotse kruip nie, worstel jy met diep sand, maar dít is nie eens die werklike uitdaging nie. 

Waar die Xaminxaip by die Gariep aansluit, verdwyn die tweespoorpad > plotseling. Hier was voorheen ’n sandspoor ooswaarts tussen rotse deur, maar dit is in 2011 deur ’n vloed weggevee. Net die rotse het oorgebly... en nou móét jy bo-oor hulle klouter (S28.72433 E17.41640).

Ons het die eerste trop klippe met die Jimny trotseer, maar onmiddellik gesien dit gaan ’n geween en ’n gekners van tande afgee. Hier het jy ’n bul van ’n bostrok nodig met gróót wiele en ’n fris enjin. Jy kan die hindernis ook nie op jou eie aandurf nie, want jy het ’n kundige helper nodig wat vooruit kan klim en beduie. Die hindernis is slegs 400 m lank, maar dit kan soos 4 000 km voel as jou voertuig nie opgewasse is teen die klippe nie. Moet liefs nie ’n boswa hier sleep nie, selfs al is jou bynaam Grensvegter. Ons moes die aftog blaas en op ons spoor terugry verby Rooiberg en eerder die matiger Helskloofpas neem. Dit was ’n bitter pil om te sluk, maar eerder Bangjan...

Gelukkig stel die Helskloofpas nie teleur nie (ja, daar is twee Helskloofpasse in die Richtersveld; die ander een is in die park). Dit is ’n prentjiemooi pas en aan sy voet is honderde klipstapeltjies wat oor die jare deur reisigers gebou is (S28.76264 E17.46904).

Die Namas se ouer garde vertel dis tradisie om klippe op hierdie manier te pak vóór jy die Richtersveld van Vioolsdrift se kant af binnegaan, kwansuis om vir Grootslang tevrede te stel. Grootslang was ’n dier ouer as die wêreld, en toe die antieke Khoekhoen-nasie se gode sien dat Grootslang ’n bedreiging inhou vir die Khoekoen se Nama-nasate, het die gode hom in stukkies opgebreek en al die diere op aarde uit sy vlees geskape.

Een van Grootslang se kinders (óók Grootslang) het egter ontsnap, en dis vir hóm dat jy klippe moet pak. Anders verrys hy uit die Gariep en vreet jou sowaar op! Vanaand slaap jy ’n laaste keer op die oewer van die Gariep. Hier is ’n hele paar gasteplase en rivieroorde om uit te kies soos The Growcery, Fiddlers Creek, Oewerbos en die luukse Vioolsdrift-lodge.

Waar jy ook al besluit om jou kussing uit te pluis, gaan mense aan jou lippe hang wanneer jy hulle vertel waarlangs jy gery het en wat jy alles beleef het.

Tierhoek

Daar is talle verblyfopsies binne die park en naby die Vioolsdrift-grenspos. As jy blyplek in die Richterveld- nasionale park bespreek, is jou permit en bewaringstarief by die prys ingesluit.

Ekstra permitte is nodig vir die Kuboes-4x4-gemeenskapsroete tussen Kuboes en Eksteenfontein en die Namakwa-4x4-ekoroete wat die res van die paaie dek.

/
/
KLIPHARDEKWAS.
EK WIL OOK GAAN!

Waar? Die Richtersveld lê in die noordwestelikste knoets op ons land se profiel. Die naaste groot dorp is Springbok.

Voorraad: Daar is nie baie winkels in die Richtersveld nie en jy moet jou spyskaart noukeurig beplan. Dra soveel water saam as wat jy kan, en as jy alleen reis, is dit wenslik om ’n ekstra noodwiel en voertuigonderdele saam te karwei.

Noodnommers: Springbok-polisiediens Voortrekkerstraat 25  027 718 9100 Sanparke, Sendelingsdrift  027 831 1506 Kuboes-toerisme, Hoofstraat  071 792 2412 Eksteenfontein-toerisme, Hoofstraat  074 500 4593

/
AALMOES
/
/
HIERMEE HET ONS GERY

Suzuki Suid-Afrika het vir ons ’n nuwe Jimny geleen met standaardbande en -vering. Omdat ons drie insittendes was en vir ’n week selfonderhoudend moes wees, het Front Runner die Jimny toegerus met ’n dakrak en afdak, ammunisiekiste, stroppe, ’n tafel met stoeltjies, ’n 20 l-waterkan en brandstof- graaf- en noodwielmonteerstukke.

Ons het ter elfder ure besluit om ook sandplanke saam te neem, en hoewel Front Runner ook hiervoor monteerstukke het, het ons dit op die noodwiel vasgestrop.

Hoewel die Jimny ’n dapper ryding is, sou hy nie alles kon dra wat ons nodig gehad het as dit nie vir Front Runner se toebehore was nie. Ons ry-indruk van die Jimny verskyn op bl. 32.

Kontak:  frontrunneroutfitters.comsuzuki.co.za