Foto's (tensy anders vermeld): Evan Naudé

Sodra ’n mens die Wildekus binnery, verdwyn teerpaaie, vulstasies met Wimpy’s, Woolies Food en hipsters. En die landskap is ewe wild: Groen heuwels strek sover die oog kan sien. Bruin riviere stoot met alle mag seewaarts. En in die valleie tussenin staan oeroue bome in kolle digte inheemse woud.

Dít alles forseer die N2 met ’n draai van Oos-Londen af binneland toe voordat dit uiteindelik sowat 530 km later weer kus toe swenk by Port Shepstone. Dit beteken jy kan nie kuslangs reis nie, mits jy ’n 4x4 het, en selfs dít is ’n gedoente en ’n half.

In enige streek is natuurreservate ongerep. Stel jou dus voor hoe afgeleë ’n natuurreservaat aan die Wildekus is!

En ek wil amper nie dié geheim verklap nie: Dis asof inflasie en BTW-goed nog nie die Wildekus bereik het nie. Blyplek in dié natuurreservate is spotgoedkoop – dit wissel tussen R165 p.p.p.n. en R240 p.p.p.n. vir netjiese selfsorghuisies.

Het jy ’n sin vir avontuur en ’n dun beursie? Mik vir die Dwesa-Cwebe-, Hluleka- en Silaka-natuurreservaat langs die Wildekus. Glo my, dié aarde is nóg mooier as op die eerste bladsye van jou Kinderbybel.

Hoe kom ek daar?

Kyk, die locals ry natuurlik met enige karretjie hier rond.

In die droë seisoen (winter) behoort jy reg te kom met ’n gewone sedan as jy versigtig ry. Maar ’n voertuig met goeie grondvryhoogte is aan te beveel.

Ry in die reënseisoen (somer) met ’n 4x4 of 4x2 met goeie grondvryhoogte – slaggate is volop en van die steil grondpaaie is dan goed glad.

Laai Tracks4Africa op jou  GPS of sorg dat jy Peter Slingsby se Wildekuskaart (R190 by themaps.co.za) in die mossienes het.  

Die grootste een

DWESA-CWEBE-NATUURRESERVAAT

Die Dwesa-Cwebe (39 km²) is die grootste van die drie kusreservate en ook die meeste afgesonder. Dis net sowat 80 km van die N2 af, maar dit neem tussen drie en vier uur oor berge en deur dale (regtig) om hier uit te kom. En moenie dat die naam jou mislei nie – die Mbasherivier deel die reservaat in twee en dis ’n storie om tussen Dwesa en Cwebe te reis (die naaste brug oor die Mbasherivier is met ’n 65 km-ompad binneland toe).

Dwesa aan die suidoewer is groter en het ’n kampterrein en selfsorgchalets.

In Cwebe kan jy net in die private Haven Hotel bly. By hierdie netjiese gesinshotel kan jy rustig agteroor sit – tot jou bed word vir jou opgemaak. Dít maak egter dat Dwesa aan die ander kant van die rivier meer wild en ongerep voel.

Die strande hier is dikwels spoorloos. Net die plek om een van daai klassieke foto’s te neem van die ngunibees op die strand.

“Hier’s hope aktiwiteite in die park,” vertel Vuyani Jamce, een van Dwesa se behulpsame gidse, toe ek kort ná middagete aanmeld.

“Gaan stap op die strand of in die woud, ry bergfiets, vang vis, roei in ’n kano of kyk voëls. Jy kan ook dinge kombineer en van hier af oor die rivier Cwebe toe gaan. Praat net met my, dan reël ek!” beloof hy.

“Hier’s elande, rooikatte, bosvarke, sebras, blouape, samango’s en ’n luiperd of twee,” sê hy wanneer ek hom oor die wildlewe uitvra. “Ons het ook ’n paar buffels, maar hulle is ’n bietjie kwaai,” waarsku hy. “Dis beter om saam met ’n gids te stap.”

Dwesa-kampterrein

DWESA-KANT

Staproetes

In Dwesa kan jy strandlangs of in die woud stap. Volg die paadjie van die kampterrein strand toe en mik 4 km noord tot by die Dwesa-punt, ’n graskoppie, waar jy ’n 180°-uitsig oor die kuslyn het. Sowat 500 m verder is oorblyfsels van die O’Bell-skeepswrak wat in 1916 hier gestrand het – deesdae is nog net die enjin hier. Jy kan aanhou stap tot by die mond van die Mbasherivier, maar hou in gedagte dat dit sowat 10 km tot daar is en jy weer terug moet stap! En onthou jou swembroek, want teen hoogwater moet jy halflyf deur die Ngoma-, Mendu- en Mendwanarivier waad.

Die woudpaadjies is nie gemerk nie, en onthou van die buffels... bespreek liefs ’n gids as jy hier wil stap. Hier is drie opsies: ’n kort sirkelroete van twee tot drie uur lank, ’n langer halfdagsirkelroete of ’n voldagstap deur die woud na die Mbasherivier en terug langs die strand.

Koste R45 p.p. en R20 per kind vir die begeleide roetes in die woud.

Dwesa-houthuisies

Wat nog?

  • Jy mag hengel tussen die Koloberiviermond en die suidelike grens van die park. Hoe lyk dit met ’n kabeljou, kolstert of mosselkraker?Die reservaat se kuslyn is ’n mariene bewarea; dus word net een vis per persoon per dag toegelaat. Kry ’n permit by die poskantoor op Willowvale.
  • Roei op die Mbasherivier in ’n kano en verken die manglietwoude by die riviermond. Jy moet ’n dag vooruit met Vuyani reël; koste hang af van hoeveel julle in die groep is.
  • Verken die reservaat met jou 4x4 op ’n netwerk van paadjies deur die woud (jy kan ook tot by die Dwesa- en Mendu-punt ry), of bring jou bergfiets saam en ry dieselfde paadjies met twee wiele.
  • Die staproetes, 4x4-paadjies en kanoritte is uitstekende geleenthede vir voëls soek. Hier is sowat 290 spesies – hou jou oë oop vir die skugter bosloerie in die woude en die kleurryke manglietvisvanger by die rivier.
  • Reël ’n daguitstappie na Cwebe (R60 p.p., met ’n gids in jou eie 4x4-voertuig) en maak ’n draai by die Mbanyana-waterval en die Banshee-vuurtoring voor jy middagete by die Haven Hotel geniet.

Bly hier

Kamp op een van 40 staanplekke (tot 6 mense elk). Die kampterrein (sonder elektrisiteit) is basies; in die stil seisoen sal jy dalk moet tent opslaan in die lang gras, en al is die ablusies skoon, kan dit doen met ’n opknap. Of slaap in ’n selfsorghouthuisie met ’n toegeruste kombuis met ’n gasstoof en ’n yskas – hier is sonkrag.

Koste Kamp: Vanaf R244 per staanplek. Selfsorghuis: Vanaf R339 p.n. vir 2 mense en R656 p.n. vir 4 mense.

CWEBE-KANT

Staproetes

Hier is verskeie roetes wat wissel van ’n maklike 3 km-stappie strandlangs suid na die Mbashe-riviermond tot ’n 18 km lange dagstap (heen en weer) na die Xhora-riviermond anderkant die noordelike grens van die park. Kry ’n kaart en aanwysings by die hotel. Hulle kan ook vir jou ’n gids reël.

Dié plaaslike gidse werk onafhanklik van die hotel en jy onderhandel self ’n prys. In die park kan jy na die Mbanyana-waterval (8 km, 4 uur) of Breezy-punt (9 km, 5 uur) en terug stap. Of huur ’n kano en roei oor die Mbasherivier en stap na Mendu-punt aan die Dwesa-kant (8 km, 5 uur).

Wat nog?

In Cwebe reël die hotel aktiwiteite. Die hotel het ’n tennisbaan en mashie-gholfbaan (rakette en stokke is beskikbaar). Roei met ’n kano op die Mpenzu-strandmeer (vanaf R45 per kano vir 2) of op die Mbashe- en Mbanyanarivier (vanaf R80 per kano vir 2 mense).

Jy kan hengel tussen die hotel en die Mbanyana-riviermond en by die Breezy-punt mag jy visvang. Hier is ’n netwerk van paadjies vir bergfietse (bring jou eie fiets) en jy kan perdry (vanaf R250 p.p.) op verskillende begeleide roetes deur die woud, rivierlangs en op die strand.

Bly hier

The Haven Hotel het 7 kothuise met ’n seeuitsig, tussen 30 m en 80 m van die hotel se hoofgebou af (6 met twee kamers, 4 mense). Agter hulle is 6 kothuise (2 kamers elk, 4 mense) en 5 rondawels (2 mense) en heel agter is daar 4 rondawels (2 mense) en ’n aaneenlopende kothuis met 5 afsonderlike kamers (2 mense elk). Die hotel het ’n restaurant, kroeg en swembad.

Koste Vanaf R625 p.p. (ontbyt en aandete ingesluit).

Weet voor jy waai

Koste Parktariewe is R11 p.p. en R6 per kind per dag.

Hoe kom ek daar? Ry oor Willowvale, Elliotdale of Koffiebaai. Gaan na havenhotel.co.za/directions vir aanwysings na Cwebe.

Wat pla? Hier is nie baie wilde diere nie. Die grensdrade word nie onderhou nie en stroping bly ’n probleem.

Kontak Dwesa: 043 492 0883; 063 941 6162 (Vuyani); visiteasterncape.co.za  Cwebe: 047 576 8904; havenhotel.co.za 

Vir die beste uitsigte

Hluleka-natuurreservaat

“Het jy alleen gery al die pad van die Kaap af?” sêvra Nikelwa Tom, die reservaatbestuurder, toe ek opdaag. Ek weet wat sy eintlik bedoel: Sy wil weet waar my meisie is.

Nikelwa is trots op haar reservaat en jy sien gou hoekom. Die dubbelverdiepingchalets is verbasend luuks vir so ’n afgeleë plek. Die chalets is op ’n koppie bo ’n  mooi strand – jy voel soos een of ander filmster wat in ’n private oord bly.

 Die reservaat het net ’n handjie vol wild soos duikers, blouape, dassies en bosbokke, maar jy is gewaarborg van ’n trop sebras tussen die chalets of op die graskoppe langs die strand. Nikelwa druk ’n kleurryke, handgetekende kaart van die reservaat se staproetes en 4x4-paadjies in my hand. “Jy sal baie voëls sien, en die woude is vreeslik mooi,” sê sy.

En as ek klaar is, kan ek my skoene uitskop op die chalet se houtdek en soek na dolfyne en walvisse wat speel in die wye oseaan voor my. Nikelwa had gelyk, Hluleka is beslis die soort plek wat jy vir ’n geliefde wil wys.

Staproetes

Jy kan maklik die hele dag net op en af langs die kuslyn stap. Hier is vyf kort staproetes – eintlik wandelpaadjies (tussen 1,5 km en 2 km elk) – deur die woud. Kry ’n kaart en aanwysings by die ontvangskantoor, want die roetes is nie duidelik gemerk nie.

Vra ook vir die personeel oor die toestand van die paadjies, want as dit baie gereën het, kan dit ’n modderspul word!

Die Hluleka-roete is die naaste aan die chalets. Volg die pad agter die boonste chalet en wees op die uitkyk vir die roete se beginpunt aan jou linkerkant net verby die ou chalets. Die paadjie sluit aan by ’n grondpad (deel van ’n 4x4-roete) waar jy kan omdraai, of as jy die grondpad na links volg, kom jy ná sowat 1 km weer by die hoofgrondpad uit wat terug na die chalets lei.

Die meeste van die ander roetes is afdraaipaadjies van dié grondpad af.

Wat nog?

Hier is twee kort 4x4-roetes. Volg die pad aan die bokant van die chalets vir ’n uitsig oor die kuslyn noord van die hoofstrand. Wees ook op die uitkyk vir ’n trop sebras wat daarvan hou om op dié grasbedekte koppe te wei. Ná sowat 1,5 km bereik jy ’n grenshek, waar jy moet omdraai.

Die tweede roete begin net nadat jy die laagwaterbrug oor die Hluleka-rivier oorsteek.

Hou jou oë oop vir die bord wat sê Management Road en volg dit woud-in. Hierdie paadjie is plek-plek toegegroei met takke wat alkante van jou bakkie sleep, maar as jy stadig genoeg ry, behoort dit nie krapmerke te los nie.

Hier kry jy ’n gevoel van hoe dig die woude in hierdie geweste werklik is. Ná sowat 2 km bereik jy weer ’n hek waar jy moet omdraai.

Foto: Lambert de Wet
Weet voor jy waai

Waar slaap ek? Die sewe dubbelverdiepingchalets het  twee en suite-dubbelkamers. Die hoofslaapkamer het ’n dubbelbed en die ander een het twee driekwartbeddens. Die kombuis is ten volle toegerus (met yskas en gasstoof) en hier is ’n braaiplek.

Koste Vanaf R476 p.n. vir 2 mense, R185 per ekstra persoon. Parktariewe is R22 p.p. en R11 per kind per dag.

Hoe kom ek daar? Hluleka is 85 km (sowat 2 uur) van Mthatha af. Ry met die R61  in die rigting van Port St. Johns en ná 37 km sal jy ’n bordjie aantref wat Hluleka se grondpad aandui. Van hier af  volg jy die grondpad tot by die reservaat.

GPS S31.826527 E29.299624

Wat pla? Die piekniekdeel by die strand kan doen met ’n opknap en ’n toilet, maar andersins is die geriewe puik.

Kontak 043 492 0883; visiteasterncape.co.za

Wat sê die lesers?

Die lesers Lambert en Ans-Mari de Wet van Stellenbosch het in April vanjaar vakansie gehou by Hluleka.

Die lesers Lambert en Ans-Mari de Wet van Stellenbosch het in April vanjaar vakansie gehou by Hluleka.

Die huisies is besonders. Elke slaapkamer het ’n badkamer met ’n enorme bad en instapstort. Die boonste slaapkamer is in in ’n klas van sy eie – dêps dit vroegtydig as julle saam met vriende reis.

Die sitkamer het ’n skuifdeur wat na ’n dek oopmaak. Hier is ’n TV met DStv, maar skaam jou as jy in so ’n mooi plek sepies wil kyk!

Die huisies word elke dag ongeveer 10 vm. deur die vriendelike personeel gediens; dus hoef jy jou nie eens oor die skottelgoed te bekommer nie.

Hier is ’n klein winkel net buite die reservaat met ’n paar koeldranke en lekkers.

Ongeveer 5 km van die hek af is ’n groter winkel met ’n wyer verskeidenheid produkte, maar steeds veel minder as wat jy sal verwag van jou naaste BP-vulstasie. Bring dus alles saam – ook drinkwater.

Stap dié roetes

Die Wildekus is besaai met een- en tweespoorpaadjies én beespaadjies. ’n Mens kan basies van Port Shepstone tot by Koffiebaai stap!

Hier’s twee langer roetes wat ons van Hluleka af kon gestap het.

Roete 1 

Stap noord tot by die 4x4-hek – dis gemerk op die kaart. Anderkant die hek kronkel ’n tweespoorpad na regs tot by die kus.

Die pad loop dood, met ’n enkelspoorpaadjie wat strand toe loop (S31.810994 E29.320201). Die beste roete terug is oor die rotsagtige kus tot by ’n enkelspoorpad wat teen ’n heuwel uitklim.

Jy stap dan al op die koppe tot weer by Hluleka se hoofstrand. Die roete is ongeveer 7 km lank.

Foto: Lambert de Wet

Roete 2 

Stap suid met die grondpad na die staphutte toe. Dié hutte is onlangs opgeknap en het elektrisiteit en warm water. Hopelik is dit binnekort oop vir die publiek.

Stap van die hutte af strand toe. Hou strandlangs tot by ’n soort rotsvlakte in die verte. Net anderkant dié rotsvlakte is ’n tweespoorpad teen die heuwels op. Hou op die pad en stap bo-op die heuwels tot by die Mtakatyi-rivier – jy sal die Mtakatyi Umlambo Lodge in die verte sien.

Van dié pad af kan jy afdraai na links na ’n  ongerepte strandjie (S31.849151 E29.281131) toe. Net anderkant die afdraai na dié strandjie kom jy by ’n kruising – hou hier links om tot by die rivier te kom. Jy sal jou swembroek moet aantrek of hoop hier is ’n plaaslike entrepreneur om jou oor te roei. Dit kos R20 p.p. Ons moes ongelukkig omdraai, maar van hier af kan jy aanhou stap tot by Presleybaai en verder.

Lambert-hulle het ook in die Dwesa-natuurreservaat gebly. Besoek hulle blog by anavahi.com vir nog foto’s en inligting.             

Weet voor jy waai

Koste Parktariewe is R11 p.p. en R6 per kind per dag.

Hoe kom ek daar? Ry oor Willowvale, Elliotdale of Koffiebaai. Gaan na havenhotel.co.za/directions vir aanwysings na Cwebe.

Wat pla? Hier is nie baie wilde diere nie. Die grensdrade word nie onderhou nie en stroping bly ’n probleem.

Kontak Dwesa: 043 492 0883; 063 941 6162 (Vuyani); visiteasterncape.co.za  Cwebe: 047 576 8904; havenhotel.co.za 

Die kleinste een

SILAKA-NATUURRESERVAAT

Port St. Johns is byna elke dag van die jaar ’n miernes, maar in vakansietyd lyk dit soos ’n miernes wat oopgeskop is! As jy rus en vrede soek, hou verby... maar nie te ver nie. In die piepklein Silaka-natuurreservaat (4 km²), sowat 6 km suid van die dorp, is dit tjoepstil.

Die grasdakchalets sit knus tussen die inheemse woude in die vallei van die Gwaxleni-rivier wat in die see uitmond op ’n ongerepte strand voor die reservaat.

Buiten blouapies gaan jy ongelukkig nie veel wild gewaar nie. Stropery bly ’n kopseer al word die grensdrade gedurig versterk. Hier’s wel volop voëls: Wees op die uitkyk vir die Knysnaloerie, die blouvisvanger en die bloukatakoeroe langs die rivier en witborsduikers wat nesmaak op Bird Rock, ’n rots in die see aan die westekant van die reservaat se strand.

Staproetes

Die staproete hier is eintlik net ’n 2 km-paadjie wat die kuslyn van die reservaat volg. Begin by die mond van die Gxwaleni-rivier onder die ruskamp en kyk uit vir die bord wat sê “Jongelwandle” op die westelike oewer.

Die roete loop deur ’n stukkie inheemse woud en al langs ’n kranswand bo Silaka se strand voor dit klim oor die grasveldkoppe na Sugarloaf Rock, ’n driehoekige klip in die see. Jy kan ook die paadjie deur die woud aan die oostelike kant van die riviermond volg en tot by Tweede Strand – sowat 1,5 km ver – stap.

Weet voor jy waai

Waar bly ek? Hier is twee selfsorgchalets met slaapplek vir twee mense. En 15 selfsorggrasdakchalets met slaapplek vir 4 mense elk in twee slaapkamers met twee enkelbeddens elk.

Die chalets het elektrisiteit, ’n sitkamer, toegeruste kombuis en ’n buitebraai.

Koste Selfsorg: Vanaf R529 p.n. vir 2 mense; vanaf R957 p.n. vir 4 mense. Parktariewe is R22 p.p. en R11 per kind per dag.

Hoe kom ek daar? Vat die Tweede Strand-pad uit Port St. Johns. Steek ná sowat 5 km die Bulolo-rivier oor – die pad klim berg-op vir 1,5 km tot by die reservaathek. Jy het ’n voertuig met ’n goeie grondvryhoogte nodig vir die pad tussen die brug en die reservaat.

Wat pla? Silaka het nie haainette nie, en daar was al aanvalle by Tweede Strand. Bly liefs in die vlak water!

Kontak 043 492 0883; visiteasterncape.co.za