Hoeveel mense ken jy wat al in die Soedan was, en dit op vakansie? Ná 88 dae op die pad verlaat die Boshoffs Ethiopië. Ons sluit by hulle aan op die grens van dié ongewone bestemming.

DAG 89

Op 19 September 2017 ry ons die Soedan van Ethiopië af binne. Die plante raak ál minder, en kort voor lank lyk dit soos die Kalahari rondom ons, kompleet met doringbome. Maar die hitte is iets vreesliks. Temperature bo 50 °C is nie ongewoon nie. Water smaak soos moedersmelk.

Die Soedan is ’n ander wêreld in vergelyking met Ethiopië. Die paaie is netjies. Jy sien gereeld luukse busse, en daar is geen diere op die pad nie. Ons bly in die Imperial Hotel in die stad Wad Madani aan die oewer van die Nyl.

Die plante raak ál minder, en kort voor lank lyk dit soos die Kalahari rondom ons, kompleet met doringbome

Die hotelkamer het ’n spoeltoilet, waaier, lugversorging en stort met warm water. Die water is kokend, want die pype brand heeldag in die woestynson.

DAG 90 en 91

Khartoem, waar die Blou- en Witnyl saamvloei, is ’n moderne stad met luukse hotelle, winkelsentrums en bekende handelsname: McDonalds, Coca-Cola, MTN, Toyota...

Ons GPS vrek van die hitte. ’n Samaritaan beduie ons na die seiljagklub waar ons op die parkeerterrein tent opslaan. Ek spring met klere en al in die stort. Vyf minute later is ek droog.

Die volgende oggend is die GPS afgekoel en werk weer. So ver ons ry, flits mense hulle motors se ligte, blaas toeter en waai vir ons. Hulle skud blad, al verstaan ons mekaar nie. (Terloops, ons het geen ander toeriste in die Soedan raakgeloop nie.)

Teen eenuur hou ons by die Meroë-piramides, sowat 200 km noordoos van Khartoem, stil. Dis 47 °C. Ons besluit om later die middag terug te kom. Ons kry sowaar weer ’n motel met geriewe by ’n oase sowat 25 km van die piramides af. Die laag woestynstof oor alles in die kamer skeel ons min. Ons skakel die lugversorging én waaier aan, en slaap vir twee uur vas.

Terug by die piramides kry elkeen ’n kameel. Die opklim is ’n proses en ’n half en die ryery een hengse geskud! Die mooiste reliëfwerke pryk op die mure in die piramides, gebou in 400 v.C.

As jy gedink het dit is gemakliker om die Meroë-piramides met ’n kameel te bekyk as per voet, dink maar weer.

DAG 92

Ons deurkruis die woestyn vir sowat 260 km van oos na wes. Tot my teleurstelling is dit heelpad teerpad. Tog bly die woestyn bekoorlik: Sandvlaktes so ver soos die oog kan sien met hier en daar ’n swart rotsknoets of ’n oase met ’n tikkie groenigheid. Met ons aankoms by die hotel op die dorp Karima kry ons ’n welkome drie liter yskoue water. Dit les net-net jou dors.

DAG 93

Ons ry nóg 300 km deur die verskroeide stuk aarde. Op die dorpies verkyk jy jou aan die mans in hulle wit gewade en tulbande.

Ons slaap oor op die dorpie Dongola. Terwyl ons in die straat af stap, kom skud mense blad, iemand druk ’n glas gemmerkoffie in my hand.

Die Soedan is spotgoedkoop. Toe ons daar was, was R1 = 2,4 Soedannese pond. ’n Hotelkamer kos maar 200 Soedannese pond per nag (R83) en ’n heerlike maaltyd vir twee persone is sowat 70 Soedannese pond (R29). ’n Tenk diesel kos 800 Soedannese pond (R330). Sedertdien het die pond met meer as 40% gedaal.

DAG 94

Ons ry nog 360 km deur die woestyn – en kom net 26 ander voertuie teë. Verder is daar nie mens, dier of voël te sien nie.

Piet slaap ’n ruk en ek bestuur. Ek ry verby twee konvooie weermagvoertuie (óf rebelle). Hulle is tot die tande toe gewapen, met mortiere en masjiengewere op hulle voertuie gemonteer. Hulle staan sowat 50 m van die pad af in die woestyn. Ek sit maar eerder voet in die hoek.

Ons is blitsvinnig deur die Soedan se Argeen-grenspos, min wetend wat in Egipte wag – ons sou uiteindelik 27 uur by die grens deurbring.

Ons is blitsvinnig deur die Soedan se Argeen-grenspos, min wetend wat in Egipte wag...

Hulle konfiskeer die satellietfoon en pak die Land Rover twee uur lank uit. Waarvoor gebruik julle die foon? Dis onwettig in Egipte.

Ons fixer, Ahamed, hardloop van een kantoor na die ander met ons dokumente terwyl ons in ’n restaurant wag. Ure gaan verby. Dis later skemer.

Uiteindelik kom hy vir Piet haal. Ek moet bly. Na nóg twee uur gaan soek ek vir Piet, beangs. Ek kry hom by die Land Rover; hy moet daar wag. Blykbaar aanvaar hulle nie die Carnet de Passage en Douane nie. (Dis ’n paspoort vir jou voertuig. Ons moes dubbel die markwaarde van die voertuig betaal om dit in Egipte in te bring.) Hulle sê die Land Rover moet bly en ons moet die 1 000 km na Kaïro reis om die regte dokumente te kry! Ons weier.

Teen 9.30 nm. slaan ons die daktent op en klim in. Twee keer maak hulle Piet wakker om kantoor toe te gaan. Ek bly stil en bid, bang ek beland in die tronk van te veel raas. Later stry 11 amptenare rondom die Land Rover oor ons lot.

Hulle moet maar stry, môre bel ons die ambassadeur om ons saak te stel.

DAG 95

Die warm Afrika-son braai ons wakker. Teen 10 vm. kom ’n man aangery waar ons onder ’n afdak wag. Hy praat vlot Engels. Piet wys vir hom die Carnet waarop Egipte aangedui word. Ons dokumente is in orde.

Eers teen 4 nm. daai middag kry ons ons dokumente terug plus ’n handgeskrewe dokument met die nodige toestemming. Ons wag by die hek en teen 5.30 nm. bring hulle die Egiptiese nommerplate en kan ons verder ry.

Egiptiese nommerplaat
Die Landie se Egiptiese nommerplaat.

DAG 96

Die eerste plek waar ons stilhou, is die dorpie Abu Simbel. Ramses II, ’n farao, het in die 13e eeu v.C. twee tempels hier gebou, een vir homself en een vir sy gunsteling-vrou, koningin Nefertari. Sowat 50 jaar gelede toe die Aswan High Dam gebou is, is die twee tempels in honderde stukke van ongeveer 15 ton elk opgesaag, genommer en weer hoër op teen die wal aanmekaar gesit. Dis ’n meesterstuk.

Die aand neem ons gids ons na ’n Numbi-hotel vir drankies. Die Numbi is ’n etniese groep met ’n eie taal. Die taal word van geslag tot geslag oorgedra en nie neergeskryf nie. Daar heers ’n wonderlik ouwêreldse atmosfeer in die sandsteenhotel.

foto
Ramses III se tempel is oortrek met gravures.

DAG 97

Ná ’n goeie nagrus ry ons oor ’n lang brug oor die Nylrivier na die dorp Aswan. Teen skemer smul ons aan roomyse op die rivieroewer en verkyk ons aan die fellucas (houtseilbootjies) en luukse hotelle op die wal van die rivier.

Dié dorpie verdwyn amper teen die agtergrond van die woestyn.

DAG 98

Ons vertrek vroeg saam met ’n gids na die Vallei van die Konings. Ons besoek drie farao’s se grafkelders in sandsteengange wat in die berg gebou is. Op die mure pryk tekens en simbole in verskeie kleure.

Die konings en gode word uitgebeeld, byvoorbeeld Ra, die songod, asook slange vir beskerming en torre vir vrugbaarheid. Dit is alles geskep tussen die 16de en 11de eeu v.C.

’n Tipiese dorpie op pad na Luxor.

Daarna mik ons vir Ramses III se paleis. Die paleis met massiewe pilare en strukture lyk asof dit vir reuse gebou is. Beelde is teen die mure uitgegraveer. Dit moet jare se handearbeid geverg het om dit op te rig. ’n Mens kan nie glo jy kon destyds so iets regkry nie. Ons slaap dié aand in Luxor.

Ramses
Die tempel van Ramses II by Abu Simbel. Let op die figuurtjies tussen die voete wat van sy kinders voorstel.

DAG 99 en 100

Ons ry deur mooi bergpasse tot op die dorp Hurghada. Ná ’n gesoek kry ons ’n spoggerige hotel langs die Rooisee met ’n private strandjie en ’n groot swembad.

Die volgende oggend snorkelduik ek in die Rooisee en skrik my byna dood vir ’n ellelange paling. Skielik sien ek ’n piepklein wit seeperdjie. ’n Paar meter verder is ek omring deur mooi seelewe: skole veelkleurige rifvisse, vlindervisse, engelvisse, seeanemone…

DAG 101

Ons ry al langs die Rooisee na die dorpie Zafarana op ’n goeie teerpad. Jy sien plek-plek Saoedi-Arabië aan die oorkantste wal.

Olieraffinaderye, oliepypleidings en oliebore staan wydsbeen in die see, en honderde windturbines staan langs die pad. Die wind wáái.

’n Stofwolk hang oor die woestyn. Oral sien jy vakansieoorde in aanbou langs vervalle hotelle. Ons kry ’n netjiese hotel op Zafarana wat bestaan uit woonstelblokke met ’n swembad wat tussen die woonstelle vleg met bruggies daaroor.

DAG 102-104

Ná ’n paar ure se ry dop Maps.me ons uit in Kaïro. Terloops, ons Tracks4Africa het nie daar gewerk nie. Kaïro is die naasgrootste stad in Afrika (dis glo vyf keer groter as Johannesburg). Dit klink asof almal gelyk op hulle toeters blaas!

Ons pak af by die Pharaoh Egypt Hotel. Ná welverdiende rus gaan soek ons die Nyl te voet. Ons vleg deur die verkeer en kry die rivier en ’n drywende restaurant. Verligte bootjies vaar langs ons verby. Oud en jonk rook gegeurde tabak uit hookah-pype, ’n soort waterpyp, wat jy van die spyskaart af bestel.

’n Taxi neem ons deur die toetende verkeer na ’n winkeltjie. Iemand bring vir ons glasies tee. Hoe wil julle na die Giza-piramides toe gaan; per kameel, perd of perdekar?

Ons kies laasgenoemde. Dit hop en stamp iets vreesliks tot by die piramides. Ons staan verstom oor die grootte van die klipblokke en hoe hoog dit is. Hoe het die mense die reuse-blokke beweeg?

Ons staan verstom oor die grootte van die klipblokke en hoe hoog dit is

In die ou Egiptiese Museum in Kaïro is meer as 120 000 artefakte, 50 sarkofage en 1 000 doodskiste wat uit die grafkelders kom.

Ook groter beelde en kleiner items soos ringe en krale. Dit is hartseer om te dink dit is in ’n museum en nie meer in hulle regmatige plek in die piramides en grafkelders nie. Natuurlik weens plundery...

Later stel ons taxibestuurder ’n bootvaart voor op die Nyl, wat ’n buffetete, danse en musiek insluit. Dis ’n drieverdiepingboot met die naam Andrea Memphis. Ons eet die aand heerlik terwyl ’n buikdanser en ’n sanger ons vermaak.

Fellucas in die skemer op die Nyl by Abu Simbel.

DAG 105-119

Ná twee dae in Kaïro neem ons die snelweg na die hawestad Alexandrië teen die Middellandse See – ons reis staan einde se kant toe. Die plan is om die Land Rover binne drie dae op ’n skip te laai en terug te vlieg huis toe.

Op die ou einde duur dit twee weke voordat ons die nodige papierwerk reg het. Ons laai uiteindelik die Land Rover en vlieg op 19 Oktober terug. Die Land Rover kom eers 80 dae later in Suid-Afrika aan.

Was dit ’n vakansie? Nie eintlik nie. ’n Droom wat waar geword het. Ja! ’n Avontuur? Beslis!

Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet? Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie.

Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s. As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusie-foto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling.

Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za. Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik.

Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za