Foto's Toast Coetzer

Die Fortuner draai by Mlandizi van die teerpad af. Agter my lê vier dollerige dae op die teerpad tussen die Tunduma-grenspos tussen Zambië en Tanzanië, en hier, binne ruikafstand van die see. (Die Indiese Oseaan is soos die kraai vlieg skaars 35 km weg.)

Verder terug lê my spoor al die pad tot in Kaapstad, waar ek twee en ’n half weke gelede weggespring het.

Ek het ’n paar jaar vantevore hierdie selfde pad gery, maar nie toe by Mlandizi afgedraai nie – eerder reguit gehou met die teerpad tot in die hartjie van Dar es Salaam.

Maar ’n mens maak net een keer daardie fout, want Dar se stadsverkeer is nie iets waarmee jy moet sukkel wanneer jy Afrika met een elmboog by die venster uit en ’n rustigheid in jou hart wil verken nie.

Ruïnes lê versprei deur die ou deel van Bagamoyo. Besoekers kan meer oor die plek se geskiedenis leer by die dorpsmuseum.

Dus Bagamoyo. Bagamoyo is een van daardie name wat jou roep wanneer jy dit iewers raaklees. Ek ken dit danksy ’n fotoboek van die bekende reisfotograaf Obie Oberholzer: Beyond Bagamoyo, wat in 1998 verskyn het.

Dis egter ook ’n naam wat jou sou laat sidder wanneer jy dit op die verkeerde tyd, verkeerde plek en in die verkeerde vel sou aanhoor. Want sien, eeue lank was Bagamoyo een van die plekke waarheen slawe uit die binneland van hierdie deel van Afrika heen gebring is om verskeep te word. (Kilwa, verder suid, was die grootste slawehawe.)

Bagamoyo sou jou laaste sien wees van jou huis; jy sou hier vir oulaas die sand van jou geboortekontinent onder jou tone voel, vir oulaas bekende reuke ruik.

Ek ry dus Bagamoyo binne met ’n verdeelde gemoed. Ek is bly om hier te wees en sien uit na ’n paar rustige dae teen die see voordat my reis weer spoed vat. Maar ek weet ek betree nou grond – en ’n naam – wat skade en skande gemaak het vir Afrika.

VIS EN VLEES. Visvang is Bagamoyo se belangrikste bedryf en daus word nog hier met die hand gemaak.
BOUVALLIG MAAR MOOI. Sommige van Bagamoyo se historiese geboue kort werk, maar ander, soos die Duitse skool, Doeanehuis en Ou Teehuis is gerestou­reer. Duitse koloniale, Arabiese en Afrika-boustyle word hier vermeng.

Ek volg die GPS na my bestemming, die Firefly Lodge, teenaan die see. Soos jy die see nader, raak die geboue al ouer. Dit herinner baie aan Stone Town in Zanzibar, dalk omdat van die vroeë invloedryke handelaars wat hulle hier gevestig het, ook van Oman afkomstig was, nes in Zanzibar.

Ek ry dus Bagamoyo binne met ’n verdeelde gemoed.

Voordat Bagamoyo nog bestaan het, was die nedersetting bekend as Kaole – Bagamoyo is maar sedert die 18de eeu in gebruik. Die mense hier het geboer en visgevang met houtskuite en daus – dié aktiwiteite gaan vandag nog op byna presies dieselfde manier voort, al het van die bote nou buiteboordenjins, en ry die boer dalk met sy motorfiets land toe.

Byna alles is stapafstand, anders kan jy ’n goedkoop taxi kry om jou rond te karwei.

Sout was ’n uitvoerproduk, en die handelaars van Oman het die bedryf beheer. In die 19de eeu het ivoor, hout, kokosneutprodukte en slawe bygekom.

Die Duitsers se koloniale setel was eers in Bagamoyo (die administrasiegebou bekend as die Duitse Boma staan vandag nog) voordat hulle dit teen 1891 na Dar es Salaam geskuif het, wat beter hawemoontlikhede vir groter skepe gehad het.

Wanneer my tentjie staan by Firefly, ontspan ek eers met ’n koeldrank langs die swembadjie, en vaar dan die strate in met my kamera.

Sharon Masinga (6) poseer vir die kamera.

Jy hoef nie eens ver te stap nie: Bagamoyo is een van daardie plekke waar daar foto’s om elke hoek wag. Hier ’n rooi bromponie wat verbyflits teen die agtergrond van ’n bouval, daar die growwe houttekstuur van ’n vissersboot se spaan – en iewers tussendeur fluister Bagamoyo jou hart vol stories.

Weg het hier gebly
Firefly Lodge. Hier is kampplek teen US$10 p.p. (sowat R120), en backpackerbeddens teen US$16 p.p. (R193), wat ontbyt insluit. Private kamers kos vanaf US$45 (R544) vir 2 mense per nag, met ontbyt. Die restaurant maak lekker kos, en hier’s geriewe soos Wi-Fi en ’n swembad.

fireflybagamoyo.com