Ons vier dié geliefde park deur die – soms dramatiese! – stories en foto’s van Weg-lesers.

ELLY VERTEL: Ek en Jan woon op ’n dorpie buite Rotterdam. Ons eerste besoek aan die Kgalagadi was in Januarie 2017.

Sedert ek afgetree het, het ons meer tyd om langer in die park te bly – ons laaste besoek was 24 dae.

Die minder mense is Kgalagadi se groot trekpleister. Buiten die grondpaaie en ruskampe is hier nie geboue, advertensieborde of ander mensgemaakte strukture wat die landskap ontsier nie. Jy sien die natuur soos dit al eeue lank lyk. Mense wat die park al langer as 40 jaar besoek, sal seker nie met my saamstem nie; maar vir my is dit ’n oeroue, onaangeraakte plek. In die Kgalagadi voel dit asof al die kreature, groot en klein, in harmonie saamleef.

Ek hou van die gevoel van afwagting wanneer jy vroegdag uit die kamp ry. Dalk sien jy ’n paar tortelduiwe by ’n watergat, ’n pronkende springbok of ’n manjifieke gemsbok op die horison... maar dalk ook ’n opwindende jagluiperdvangs, of leeus wat iewers lê en smul!

Wag jy geduldig by die watergat en die tortelduiwe, is daar altyd die kans dat ’n edelvalk een probeer vang en dan merk jy dalk ook die bleeksingvalk of roofarend, wat in die kantlyn rondhang om die edelvalk se prooi te steel!

Maar... as jy heel dag dáár sit, mis jy dalk die leeu wat sy dors kom les by die volgende watergat! Of sekretarisvoëls wat hulle paringsdans in die rivierloop uitvoer!

Die ryk wildlewe is ’n groot plus vir fotograwe, maar ook die unieke landskap, en die gehalte van die lig. Omdat hier geen teerpaaie is nie, het jy ook ’n meer natuurlike agtergrond vir foto’s. Hier is minder mense omdat blyplek in die park nie volop is nie en daarom kan jy soms alleen sit by ’n fantastiese sighting en jy kan jou voertuig rondskuif sonder om in ander se pad te wees.

Hierdie luiperdwelpie is op 21 Januarie 2020 afgeneem naby die Batulama-watergat. Dié welpie is een van twee van die bekende Kgalagadi-luiperd Miera. Haar gebied strek van Auchterlonie tot by Veertiende Boorgat, al langs die Auobrivier.

Sy het al verskeie werpsels grootgemaak, maar hierdie was die eerste oggend toe nuwe welpies gesien is. Ons was die tweede voertuig op die toneel, dus kon ek lekker foto’s kry. Vir ’n uur en ’n half het ons gekyk hoe Miera haar nuwe babas vertroetel. Hierdie was duidelik die stouterd van die twee, want Miera het omtrent gesukkel om hom in die wegkruipplek te hou.

Sluit aan by die Facebook-groep van die Kgalagadi Leopard Project – soek vir “KgalagadiLeopards”. Daar is ’n PDF-gids wat jy kan aflaai met ál die bekende luiperds (en jagluiperds) sodat jy hulle maklik kan uitken. Volg Elly op Instagram: @ellylindhout

Elly Lindhout en Jan Post, Nederland

Aantal besoeke aan die park: 6

Gunstelingkampe: Urikaruus, Grootkolk, Nossob en Mata Mata


BOMBER VERTEL: Ons was in Desember 2019 drie weke lank in die Kgalagadi. Hierdie foto is geneem toe ons van Kieliekrankie na die Kalahari Tented Camp met die Auobrivierpad gery het.

Ons het eers stilgehou om ’n swaelstert-byvreter af te neem. Dié het ’n nessie langs die pad gehad en het skoenlappers en ander insekte gevang en nes toe gevlieg daarmee.

’n Ent verder, by die Urikaruus-watergat, kom ons ’n voertuig teë. Dit het gelyk asof dié mense kyk na ’n ontstigte groepie grondeekhorings, oftewel waaiersterte. Toe ons naderkom, sien Debbie ’n geelslang tussen die eekhorings!

Die ander voertuig het wraggies weggery en ons was die volgende 15 minute die enigste ooggetuies van hierdie toneel.

Een van die grondeekhorings – ’n wyfie wat volgens haar tepels kleintjies iewers moet hê – het herhaaldelik die geelslang aangeval. Die slang het die eekhoring probeer pik, maar dit het nie gelyk asof hy haar ooit raakgepik het nie.

Ons het seker ’n uur gebly. Die slang het later in ’n gat verdwyn en die eekhoring is agterna, maar is kort daarna weer uit en het laat spaander. Die slang het nooit weer verskyn nie – miskien was daar klein grondeekhorings in die gat.

Die Kgalagadi is ons gunstelingpark. Ons verkies dit om in die kleiner wilderniskampe te bly, want dan het jy die gebied naby die kamp amper vir jouself teen laatmiddag wanneer toeriste wat in die groter ruskampe oornag, huis toe moet ry. Dieselfde geld die goue uur ná sonsopkoms: die groot ruskampe se mense is nog nie daar nie, en jy kan die vrede geniet.

Die paaie in die park is nie altyd van die beste nie, en die sinkplaat kan jou tande nogal losskud! Dis altyd ’n welkome gesig wanneer ons die trekker sien wat die buitebande sleep – dit maak die pad meer rybaar.

Hoewel ons al baie spesiale goed gesien het, is dit ook lekker om op ’n stil dag naby ’n kameeldoringboom met ’n versamelvoëlnes te parkeer en dié hardwerkende voëltjies af te neem.

Volg Bomber op Instagram: @bomber0707 

Bomber Kent en Debbie Lowe, Makhanda

Aantal besoeke aan die park: 5

Gunstelingkampe: Grootkolk, Gharagab, Urikaruus en Rooiputs


MARIETHA SKRYF: Sedert 2009 is ’n besoek aan die Kgalagadi ons jaarlikse gesinsvakansie – ons seuns kom altyd saam. Om by Bitterpan te oornag – hieroor stem die hele gesin saam! – is altyd ’n hoogtepunt. Jy kan Bitterpan net per 4x4 bereik; dis in die duine tussen Nossob en Mata Mata. Ons het al heelwat bruinhiënas, leeus en selfs luiperds daar gesien. 

Nossob is ons gunstelingruskamp. Dis ’n groot avontuur om saans die blafgeitjies in Nossob te soek en af te neem. Dit is my oudste, Hans-Willem, se gunstelingtydverdryf. Nossob is sentraal, en dus kan ’n mens meer paaie ry; jy kan kies of jy vir die dag noord of suid wil ry.

By Mata Mata is dit die stokstertmeerkatte en die uile – witkol- en witwanguile bly in die kamp en jy sien ook gevlekte ooruile, reuse-ooruile en nonnetjiesuile. 

Ons was een oggend in Desember 2016 nog voor sonsopkoms op pad van Nossob af noord na Polentswa. Ons het by die Kwang-watergat stilgehou. Daar was twee roofarende en toe kom dié jakkals aangedraf (foto onder).

Die een arend het die jakkals begin jaag – en dit het in ’n speletjie ontpop! Wanneer die arend op die grond sit, het die jakkals ’n entjie daarvandaan gerus. Dan vlieg die arend op en peil op die jakkals af... en dan hardloop die jakkals weer! Dit het ’n hele rukkie aangehou totdat die jakkals naderhand in die bosse verdwyn en die arend weggevlieg het.

Ons gunstelingwatergat is Cubitje Quap net noord van Nossob. In die middel van die dag is die berghane gewoonlik daar. Dan drink hulle, of lê in die warm stof op hulle pense.

Die water is soet; dus is die kelkiewyne lief om hier te drink en dít lok roofvoëls. Voëls, veral roofvoëls, is my jongste, Manus, se groot liefde. Hy is al ’n voëlkyker vandat hy ses jaar oud is. In 2016 het hy ’n skaars witborsjakkalsvoël by Rooikop gesien wat nog nooit in die park aangeteken is nie.

Die kleurpalet van die Kalahari sorg vir besonderse foto’s: die rooi sand, die vaal-geel boesmangras, die stofgroen kameeldoringbome. Veral vir amateurfotograwe is dit ’n lekker plek om te oefen, want die wild is volop en jy weet nóóit wat volgende gaan gebeur nie...

Ons het een laatmiddag by Marie se Gat – suid van Nossob – leeus sit en dophou wat onder die bome gelê het. ’n Kaalgevrete karkas het ’n ent weg gelê en twee jakkalse was besig om aan die ribbebene te knaag. Dit was ’n vreedsame toneel. Die volgende oomblik is daar ’n stofwolk en ons hoor ’n jakkals tjank. Uit die stofwolk kom ’n leeuwyfie gestap met ’n dooie jakkals in haar kake!

Sy het die jakkals na die trop gebring en neergesit. Hulle het toe almal aan die jakkals gaan ruik.

In die Kgalagadi is daar nie ’n toestroming van mense nie. Jy kan die geluide – en stilte – van die natuur geniet. Ons drink alles in en stop wanneer ons ’n bleeksingvalk saam met ’n geelslang sien jag, ons stop vir ’n fluitrot, vir ’n skerpioen, vir élke voëltjie – selfs vir die rooi fluweelmyte. Ons stop en hou dop, want dis een ding wat jy in die Kalahari het: tyd.  Hans-Willem som dit mooi op: Jy gaan nie Kgalagadi toe oor spesiale sightings nie – dis ’n bonus. Jy gaan soontoe om die Kalahariwoestyn te belééf.

Volg Marietha op Instagram: @marietham

‘Ons stop vir ’n fluitrot, vir ’n skerpioen, vir élke klein voëltjie – selfs vir die rooi fluweelmyte. Ons stop en hou dop, want dis een ding wat jy in die Kalahari het: tyd.’

Gevlekte ooruil
Marietha, Johan, Hans-Willem (19) en Manus (17) Moolman, Beaufort-Wes

Aantal besoeke aan die park: 10

Gunstelingkampe: Nossob, Mata Mata en Bitterpan


WILLEM VERTEL: Hoewel ek nog net twee keer in die Kgalagadi was, wéét ek: Ek sal soontoe gaan totdat ek oud en grys is! Woestyne en halfwoestyne het my nog altyd bekoor.

In November 2017 klim ek en my vriend Charli de Vos in Charli se Toyota Rav en vat die pad uit Kaapstad; ons het pas ons meestersgrade verwerf. Die roete van die Kaap na Kgalagadi is beslis een van die mooiste roetes in die land. Ons het een aand in Augrabies geslaap om die waterval te sien en toe is dit Kgalagadi! Die eerste diere wat ons in die park sien – omtrent 3 km van die Twee-Rivieren-hek af – is jagluiperdmannetjies, dikgevreet aan ’n springbok!

Ons bring twee aande by Twee-Rivieren deur en daarna twee aande by Mata Mata. Ons sien ’n hele paar leeus, maar ook kleiner roofdiere soos silwervos, vaalboskat en rooikat.

Natuurlik ook baie van die park se spesiale voëls, soos dwergvalk, gompou, rooiborslaksman, berghaan en kelkiewyn. Maar ek het nog nie ’n bruinhiëna gesien nie.

Ons toer sluit af met twee aande in Nossob, waar ons langs ’n aangename fotograaf kamp. Ons gesels lekker en besluit om dié middag saam uit te ry tot by Marie se Draai om die sonsondergang te sien.

Terwyl die son lang skaduwees begin maak, sien ons iets om die draai van die rivierloop kom: dis ’n “wolf”, ’n bruinhiëna! Hierdie eienaardige dier is sterk op pad watergat toe vir sy eie skemerkelkie. Sowat 20 minute later is hy klaar gedrink en draai om na die duine waar hy vandaan gekom het. Net voordat hy verdwyn, stop hy en kyk terug na ons asof hy wil sê: “Welkom in die Kgalagadi!”

Volg Willem op Instagram: @willemd_bl

Willem Briers-Louw, Strand

Aantal besoeke aan die park: 2

Gunstelingkamp: Nossob


MELANIE VERTEL: My en Nick se eerste besoek was in 2006, en sedertdien is ons omtrent elke jaar terug. Fotografie is my passie en die park is die perfekte plek daarvoor. Elke besoek is anders, en oor die jare heen het ons die park ervaar van dor met dae teen 40° C tot tye van oorvloed wanneer die veld blom ná goeie reën.

Polentswa, ’n wilderniskampplek net noord van Nossob, maar aan die Botswanakant, is ons gunsteling. Die watergat hier is besonders. Sit geduldig en iets sál jou verras. Dis hoekom ons kom: Ons wil die natuur onverdund ervaar.

Soms is die gekef van ’n blafgeitjie in die kampterrein genoeg om jou daai spesiale gevoel te gee.

Hierdie dramatiese toneel het op die oggend van 11 November 2019 by die Kij-Kij-watergat afgespeel. Kij-Kij is langs die Nossob-rivierbedding, nie ver van Twee-Rivieren af nie. Met ons opdaag het ons ’n klomp rooi-jakkalse gesien wat aan ’n elandkarkas vreet.

’n Leeuwyfie het onder ’n boom gelê by ’n wildebeeskalf wat sy gevang het. Of sy ook die eland gevang het, kan ons nie sê nie.

Sy het dikgevreet gelyk, maar het die kalfkarkas lê en oppas.

Terwyl ek die jakkalse afneem, het ’n ouerige wildebeeskoei naderbeweeg. Nick het skielik my aandag getrek: Die leeuwyfie het opgespring! Ek het blitsvinnig my fokus op die leeu geplaas. Als het só vinnig gebeur – toe ek weer sien, is die wildebees platgetrek!

Ek het my man gevra om die Hilux te draai sodat ek ’n beter hoek van die leeuwyfie en die wildebees kan kry. Ek kon nog ’n paar foto’s neem, maar die leeu staan toe op en stap terug na waar die wildebeeskalfkarkas onder die boom lê. Sy wou dit teen die jakkalse beskerm.

Nick het ’n ogie op haar gehou terwyl ek foto’s van die toneel neem. Kij-Kij het bedrywig begin raak, want ander karre het ook intussen by die toneel stilgehou.

Dinge het net bedaar toe die “dooie” wildebees, wat pas platgetrek is, skielik haar kop oplig en opstaan! Die leeuwyfie het dadelik weer nadergehardloop en haar wéér getakel, teen die grond vasgepen, en dié slag ordentlik die doodskoot gegee.

Dis nie elke oggend dat jy dieselfde wildebees twéé keer sien “vrek” nie!

Volg Melanie op Instagram: @africanmamaske

Melanie en Nick Maske, Melkbosstrand

Aantal besoeke aan die park: 14

Gunstelingkamp: Polentswa


LOUISE VERTEL: Ek probeer minstens een keer per jaar gaan. Soms kom iemand saam, soms gaan ek alleen. Ek is op my gelukkigste in die Kgalagadi – daai rooi duine het diep in my hart geklim.

Fotografie ken geen einde daar nie. Jy moet net stadig ry en sóék. Of by ’n watergat stilhou: Daar is áltyd iets om af te neem. Leeuwdril naby Twee-Rivieren langs die Nossobpad is my gunstelingwatergat. Dis perfek vir oggendlig omdat die son van agter jou voertuig op die watergat skyn.

In die Kgalagadi gebeur altyd iets wat maak dat ek nie kan wág om weer terug te gaan nie – soos die eerste keer toe ek ’n “cheetah kill” afgeneem het in Desember 2017.

Ek is baie lief vir die wilderniskampe en het by Kieliekrankie gebly. Dié dag het ek tot by Mata Mata gery. Met die terugkom het ek baie stadig gery, want dit was nog te warm om enigiets af te neem. In die hitte van die dag lê groter diere in die koelte en voëls sit in die bome.

Voor die Montrose-watergat sien ek ’n springbokooi wat kreupel loop. Ek besef dadelik ’n beseerde bok kan tot ’n moontlike vangs lei, maar die springbok gaan lê toe onder ’n boom en ek draai weer Mata Mata se kant toe. Dis tóé dat ek ’n jagluiperdwyfie en haar welpies teëkom, sowat 3 km verder. Hulle het in die rigting van Montrose geloop en my adrenalien het begin pomp... ek wag al só lank vir ’n geleentheid om ’n vangs af te neem.

Heel middag ry ek toe op en af tussen die beseerde springbok en die jagluiperd en haar welpies. Dit was warm en die jagluiperd het kort-kort onder een van die bome gaan lê sodat die kleintjies kon rus.

Dit was al laatmiddag toe ’n trop springbokke van Montrose af begin aanstap in die rigting van die jagluiperds – en die beseerde springbok val in by die trop!

Ek parkeer my voertuig halfpad tussen die springbokke en die jagluiperds, en hou my gereed. Ek was skoon bewerig van opgewondenheid – hulle was nou al baie na aan mekaar!

Teen hierdie tyd was daar drie voertuie op die toneel. Die jagluiperdma het die springbokke sien aankom en agter een van die ander voertuie gaan skuil. Die volgende oomblik was daar chaos toe die jagluiperd op die beseerde springbok toesak. Ná die eerste plattrekslag het die springbok op haar pote gekom, maar daarna het die jagluiperd haar órdentlik beetgekry.

Met die springbok dood het die welpies na hulle ma gehardloop en saam aangesit vir ’n feesmaal. Dit was ses uur nadat ek die beseerde springbok die eerste keer gesien het!

Volg Louise op Instagram: @louise.victor-photography en louisevictorphotography.co.za

Louise Victor, Johannesburg

Aantal besoeke aan die park: 10

Gunstelingkampe: Urikaruus en Kieliekrankie


ROSE VERTEL: Ná ons aftrede kon ek en my man, Peter, die afgelope vyf jaar ál meer van Suid-Afrika sien en ons gaan elke jaar na die Kgalagadi. Ons gesin se verbintenis met die park strek egter al veel langer terug, want dis nou al 27 jaar dat ek elke jaar daar kom. Ek het al twee keer droogtes in die Kgalagadi ervaar, maar in Oktober 2019 was dit erg. Elandtroppe het van die Botswanakant gekom op soek na groenigheid, maar daar was niks. Die leeus het om elke hoek en draai gelê en wag.

Nossob se leeufamilie het met ons besoek om die kamp geboer. Vir drie dae hoef jy nêrens heen te gery het nie: Die leeus was die hele tyd naby. Ons het selfs besluit om een aand in die skuiling te bly wat oor die watergat uitkyk. Omdat die watergat saans verlig word, sou ons kon sien wanneer die leeus kom drink. Teen sonop het die leeus uiteindelik kom drink.

Laatmiddag, toe die meeste mense uit die kamp is, het ons weer by die kampskuiling gaan sit. Dis tóé dat ek hierdie foto geneem het van die vier leeus wat saam water drink. Daar was omtrent net ’n hand vol toeriste wat dit saam met ons ervaar het. Die leeus het 40 minute lank water gedrink en met mekaar gespeel. Dit was ’n vreedsame, byna euforiese, tydjie.

Later daai nag sou alles verander. Ons het in een van die rivierchalets gebly en ons word om eenuur die oggend wakker gebrul.

Ek kon in my flitslig sien hoe vyf wyfies en die mannetjie onder ons verbystap – enkele meters van waar ek staan.

Ek het “veilig” gevoel, want ek het net by die deur uitgeloer. Maar toe skielik stop die laaste wyfie en kyk my só diep in die oë asof sy in my siel kan sien! Asof dit nie genoeg was nie, het sy omgedraai en ’n tree in my rigting gegee! Ek het dadelik teruggedeins en die deur toegemaak. Toe ek weer sien, staan die wyfie met haar pote teen ons slaapkamervenster! Die vensterbank van die chalet is basies die kampheining aan daardie kant, en hoewel daar geëlektrifiseerde heining gespan is, het dit moontlik nie gewerk nie.

“Skakel af jou flits!” het Peter geroep en ek het so gemaak. Die leeus stap toe watergat toe. Verlig het ek weer die deur oopgeskuif om my driepoot, wat op die stoepie gestaan het, in te bring. Tot my afgryse sien ek toe wraggies wéér die wyfie! Sy het van die kant af gekom asof sy teruggedraai het net vir my...

Ek is dadelik weer na binne. Sjoe, wat ’n nag! Ons kon later hoor hoe hulle ’n gemsbok vang en hulle het heel nag rondom die karkas rumoer.Ons het ’n groot les geleer: Jy moet ten alle tye die diere respekteer. Selfs ná baie jare wys die Kgalagadi elke slag vir jou iets nuuts!

Peter Mills is in Augustus 2020 oorlede. Ons dra dié artikel op aan hom. Volg Rose op Instagram: @rm_tours

Peter en Rose Mills, Somerset-Wes

Aantal besoeke aan die park: 28

Gunstelingkampe: Nossob en Urikaruus

KONTAK

sanparks.org

012 428 9111