Foto’s Leon Botha

Vir infrastruktuur en goedgeboude paaie is ’n mens alte dankbaar. Ons is vinnig om te kla oor die slaggate in paaie, selfs al sit jy agter die stuur van jou veldryer. Maar as jy die rotsbesaaide passe sien wat ’n klompie 4x4-geesdriftiges van die Kaap aandurf, sal ’n mens dink hulle is die kluts kwyt.

“Twee ewenaarslotte – een voor en een agter – en ’n wenas is die minimumvereistes vir dié avontuur,” verduidelik Louis Smit, toerleier van die groep wat die paar uitmergelende roetes oor die volgende week aandurf.

’n Mens sou dink Louis verwys na spesiaal omgeboude pypkarre of Monster Truck-agtige gevaartes, maar dis allermins die geval. Behalwe vir die groter bande, durf die bestuurders saam met hulle medebestuurders die Kaapse berge in sewe bykans gewone veldryers aan.

Daar’s enigiets van ’n Jeep Rubicon tot ’n 15 jaar oue Hilux en ’n Jeep Wagoneer van net oor die 50 jaar wat lyk soos ’n tenk uit die Tweede Wêreldoorlog.

Die voorloper

Die toer begin op Worcester, met ’n toetslopie net buite die dorp. Dan is dit vort na die volgende twee roetes naby Wupperthal in die Sederberg, terug na die De Doorns-omgewing vir die volgende twee, en uiteindelik wag die laaste twee duskant Laingsburg.

Skaars ’n kilometer buite Worcester trek Louis van die pad af. Hier is geen 4x4-roete in sig nie. Ongeveer 500 m die veld in is ’n twee verdieping hoë hoop grond met klippe wat aan die een kant gepak is. Louis noem dit die “Wall of Death” – die steilste deel moet ’n goeie 45° wees. Maar dié hoop is net litte losmaak vir wat voorlê.

Dis nie lank nie of elkeen van die sesmanskap klouter op en af teen die hoop (Doep Fourie-hulle met sy Land Cruiser 4.5-V8-dubbelkajuitbakkie sluit hulle eers môre by die groep aan). Die stof en klippe spat en die ewenaarslotte begin werk.

Buiten die ses roetes wat voorlê, lê die eintlike eerste uitdaging net ’n paar kilometer verder. Tierkloof se 4x4-baan is nie onmoontlik nie, maar saam met sy uitdagings kry die ryers ’n ekstra hindernis: ’n nagrit.

Kort ná die aand se braaivleis, terwyl hy pette en T-hemde uitdeel, verduidelik Louis wat voorlê.

“Ouens, skakel al wat lig is aan vir die rit. Knak net jou spieëls na binne sodat jy nie van agter verblind word nie. Kom ons bly kalm en hou die voertuie heel. Niemand jaag nie. Kyk hier, ek het nie ’n horlosie aan nie. Onthou, as jou voertuig begin spring, haal jou voet van die pedaal af. Dis net hier waar die dryfasse breek.”

Ongeveer 500 m die veld in is ’n twee verdieping hoë hoop grond met klippe wat aan die een kant gepak is. Louis noem dit die ‘Wall of Death’...

Dis ekstradonker, en terwyl die voertuie die lelike grondpad teen die berg uit baasraak, blink die liggies van Worcester in die verte. Buiten die geleentheid om ’n 4x4-roete in die donker te ry is die idee om te kyk of die voertuie gereed is vir die volgende paar dae se ontbering. As dinge vanaand skeef loop, is Worcester naby genoeg om dit reg te stel.

Die Wagoneer is ook nie heeltemal ’n Wagoneer nie. Onder sy ou staallyf het André Taljaard ’n fris Lexus 4.3-V8-enjin ingebou. Hy is egter die eerste een wat skade kry: So deur en oor die groot klippe haak die Wagoneer se ewenaar op ’n rotsbank vas.

Soos die wiele vastrap, plaas dit soveel spanning op die onderstel dat een van die leerraam se dwarsbalke skeur. Daar staan die konvooi en twee of drie ouens kruip saam met André onder die Jeep in. “Ja wat, dis nie te ernstig nie; ons maak dit môreoggend vroeg reg op Worcester.”

Die wiele begin weer rol, maar die Wagoneer se skete is nog nie iets van die verlede nie. Nou wil die alternator nie saamwerk nie en hy moet sonder ligte verder gaan.

André en sy passasier, Danie Swanepoel, maak plan en skyn met kolligte by die ruite uit om te sien waar hulle ry. “As my Jeep breek, voel ek sommer siek,” prewel André.

Die res van die karre gedra hulle goed en die aand se kronkelpad draai halfpad die berg op weer terug na die beginpunt. Die veldryer met van die grootste bande op die toer – 35 duim – laat ’n kort rukkie later vir Marcel Loubser in die steek. Die band van sy Jeep Cherokee XJ 4.0 se regtervoorwiel klim van die velling af.

Iemand noem ’n mens moet deodorant in die afgeklimde band spuit en dan ’n vuurhoutjie trek. Genadiglik kry Marcel-hulle nie die vlammetjie in die sterk bries aangesteek nie.

Terug na die konvensionele manier. Trek die band met die hande so na as moontlik teenaan die rand van die velling terwyl jy met ’n fris kompressor lug inblaas. Dis nie lank nie of die Jeep se voorvoet is gesond.

Net soos vir die Wagoneer kom probleme in sarsies. Nog van die Cherokee se bande klim twee keer af, en eers kort ná middernag is die eerste dag se ry agter die rug.

Johnny het die eerste (en laaste) sê

Op die tweede skof wag een van die strafste roetes, amper soos Polly Shortts in die Comrades-marathon en Suikerbossie op die Kaapstadse fietstoer.

STILLE WATERS, DIEPE GROND... en onder draai die duiwel behoorlik rond. Johnny se Poort los ’n hele paar veldryers met oorlogswonde, en nie almal kom die mas op nie.

Terwyl die ouens dinge reguit buig en pleisters plak ná die nagryery, ontmoet die sewetal mekaar kort duskant Wupperthal. Die Sederberg is ongenaakbare wêreld en groot rotse lê soos reusagtige bruinsuikerkorrels oor die dorre berge gestrooi.

Die Tra-Tra-pasroete loop in ’n sirkel oor die Vaalheuningberg terug na Wupperthal, met ’n deel wat as Johnny se Poort bekend staan. (Terloops, die pad oor Johnny se Poort is toe vir die publiek, want dit is glo te gevaarlik. Louis het wel vir die toer sake met Wupperthal se owerhede uitgeklaar.)

Terwyl ons die kerkklok uit Wupperthal hoor lui – dit is Sondagoggend – roep Louis die manne agter die stuur nader om seker te maak almal weet presies wat aangaan. Vir Johnny is hier selfs ’n rangorde van wie waar ry en die sewe stuks word omtrent soos treinwaens gerangeer.

“Moses, is julle reg?” vra Louis vir Deon Vizagie in sy Land Cruiser V8 80-reeks wat met ’n staf in sy hand net soos Moses kan lyk. “Manne, blaas af die bande tot komma ses en dan komma saam.”

Ian Human ry die Jeep Rubicon 3.6 en maak saggies ’n opmerking wat waarskynlik die groep se gemoed opsom: “Skielik kom hier ’n bewe oor my...”

Die pas slinger teen die skuinstes uit tot by Johnny, waar die groep wag om dié uitdaging een-een die stryd aan te sê. Dis net voor die kruin, maar ’n goeie 70 m van die pad bestaan uit groot los klippe en hoë rotsbanke, om van die steilte nie te praat nie. Luister ’n mens na Louis, het nie veel 4x4-ryers Johnny op hulle CV nie.

Die pas slinger teen die skuinstes uit tot by Johnny, waar die groep wag om dié uitdaging een-een die stryd aan te sê...

Laasjaar kon net 4 van 12 voertuie hier oor kom, sê Louis. ’n Prado het glo ’n keer die pad byster geraak en die berg afgerol. Soos dit ’n leier betaam, kyk Louis vir Johnny eerste in die oë. Moenie Louis se Toyota Stallion (met die bynaam Tolla) vlak kyk nie, want onder sy Tolla-gewaad het hy die legendariese Toyota 4y-enjin op ’n Hilux 4x4-onderstel vasgebout.

Louis jaag Tolla se toere omhoog en laat hom sing terwyl hy wegspring. Met sy sagte bande lyk dit of Tolla op ballonne oor die rotse bons. Dit voel amper of Louis skelmpies op Johnny kom oefen het, want hy weet net waar om te vat en los.

’n Pak toiletpapier agterop Tolla asook ’n weermagslaapsak hop van die bak af soos Louis met die rotse teëpraat. Dis duidelik Tolla het geen keer nie, en kort voor lank blaas Louis sy toeter as oorwinningskreet. Die res van die ryers sak soos miere toe op Johnny en probeer van die groot los rotse ’n bietjie skuif vir ’n beter pad.

Ian is volgende en haak ná so 30 m vas by ’n groot rotsbank. Japie Bothma ry saam met Ian en sê nog “hou links... links... links,” maar Johnny speel sy troefkaart. “Hierdie Jeep is te kort,” sê Louis, “hy kan nie net uitkruip nie. Kry die wenasse gereed.”

Tolla staan nou omgedraai aan die bopunt en albei voertuie se wenaskabels word uitgerol. Louis-hulle las nog ’n kabel en ’n strop in die middel om by te kom. Moses staan derde en sit lekker terug. Dit lyk of hy nie eens ’n oog knip nie soos hy Johnny se tjank met sy Cruiser aftrap.

“Moses, jou gemors!” skree iemand van onder wat nog wag vir sy beurt terwyl van die ouens langs die pad applous gee. Oom Doep kom skaars oor die eerste hekkie met sy Cruiser toe die wiele begin tol. “Moenie alles omkrap nie... ek moet ook hier oor,” skree Willem Viljoen wat volgende staan met sy ou groen Hilux.

Oom Doep kry ook ’n bandprobleem en maak plek vir Willem terwyl Louis raad gee: “Gebruik laestrek in eerste rat en hou die enjin by 3 000 r.p.m.” Groenie, soos almal na Willem se Hilux verwys, stormloop Johnny en met so ’n derde agter die rug draai Willem skerp teen ’n klip en die regtervoorband klim van die velling af.

Nog voor Louis behoorlik “wenas” oor sy lippe kry, protesteer Willem en sê daar is nie ’n manier nie. Hy sal self hier uitry. Alex van Eeden is die tweede hand in Groenie en vinnig trek hulle die band weer oor die velling. Willem kry momentum en maak Johnny sonder ’n verdere gesukkel syne.

Nog voor Louis behoorlik “wenas” oor sy lippe kry, protesteer Willem en sê daar is nie ’n manier nie...

Nóg teëspoed wink vir Marcel. Sy Cherokee gee ’n bokspring digby die begin. Ian staan nader en trek ’n ronde pyp onder die kar uit. Die Cherokee staan nou minus ’n agterdryfas en moet die aftog blaas.

André en sy tenk het al genoeg strooi agter die rug en ry soos ’n ou 4x4-hand vir Johnny skoon plat tot bo.

Van alles wat al gery is – én ook die roetes wat nog voorlê – het net Johnny ná die tyd ’n prysuitdeling. Die aand trek almal by Barry en Mariëtte Lubbe van die Mertenhoff-gasteplaas saam terwyl die geur van boerekos dik in die eetkamer hang. Louis stop Willem ’n bottel KWV in die hand en kroon hom as die dag se koning van Johnny.

skurf met ’n gladde kant. Die Sederberg is ongenaakbaar, maar dis ’n natuurskoon met sy eie bekoring.

Klipmense

Min dinge stel sake reg soos ’n ordentlike aandete, ’n goeie nagrus en die oggendvars lug van die natuur. Douvoordag drom die ouens met hernude energie saam. Die geselsies vlieg en dis ’n ligte luim voordat die erns van die dag aanbreek.

“Julle weet, daar is net een ding wat my Cruiser stop,” sê Moses, “en dit is ’n petrolpomp.” Intussen soek Bok (die bynaam van Louis Coetzee wat saam met die toerleier ry) vir ’n bietjie voetpoeier. “Dis nie die einde van die wêreld nie. Ons moet net by die eerste plaaswinkel aftrek. ’n Blikkie snuif werk net so goed.”

Hier van Bennie se plaas af loop die dag se roete met ’n slap draai links oor die Sederberg terug in die rigting van die Tankwa-Karoo. Die eerste ent is deel van Bennie se Biedouw-4x4-roete van waar ’n mens die berge uitklim. Bo in die Boesmanskloof wys Bennie die groep aardige kolkgate wat in die berg uitgevreet is.

’n Mens voel verdwerg deur die reusagtige ronde sale wat die water oor die jare heen weggekalwe het en waarin ’n huis sal pas. Bennie verduidelik die naam Biedouw kom oorspronklik van die Melkhoutpas. “Bi” in Nama beteken melk en “douw” pas. Bennie wys ook die hoogste pieke van die Sederberg wat jy van hier af kan sien, met Tafelkop die hoogste.

Die groep se pad kruis vir ’n kort rukkie met die Poskoetsroete van waar Louis-hulle op die Kliphuiskloof-4x4-roete afdraai. Die klipperige paadjie neem ’n mens weer af in die vallei in die Tankwa se rigting tot teen die Doringrivier. Die roete behoort aan Coetzee en Karen Roux, en digby die rivier wys hy Louis-hulle moet regs van die spore afwyk.

Die paadjie wat deur die doringbome en sanderige rivierbank loop, het nog nie veel verkeer gesien nie. Oorkant die rivier lyk dit omtrent of ’n 40 m hoë krans uit die rivier opstaan. Bo-op die krans staan meer as 30 figure wat met klippe uitgepak is en elk omtrent ’n verdieping hoog is.

Coetzee sê hulle het die figure ses maande gelede ontdek, en sover hulle kan vasstel, is nog niks hiervan iewers opgeteken nie. Die figure is enigiets van skaapagtige lywe tot stokmannetjies en kamele. Dis voorwaar iets om te aanskou, en as ’n mens deur ’n verkyker loer, lyk dit of die klippe doodeenvoudig gestapel is.

Aardig genoeg sien ’n mens nie die figure soos jy aangery kom nie. Naderhand lyk dit of die berg groeisels soos aalwyne kry... tot jy regoor hulle kom en die vorms kan herken.

Die Karmedo-Elandsrivier-grondpad lê nie te ver voor nie. By Touwsrivier gooi Louis-hulle brandstof in en skiet deur Leeuwenboschfontein toe, die rusplek vir die volgende twee roetes.

Tot by die paviljoen

Groenie kry vroegoggend ’n nuwe dieselfilter, al is dit blykbaar nie nodig nie: “Dis maar net om iets te verander,” spot Willem, “sê maar dis voorkomend, vóór ons vandag moet hulp vra.”

Die Hexrivier-4x4-roete is 26 km van Leeuwenboschfontein af in De Doorns se rigting en op Vrederus, die plaas van Theuns Hugo. Dié naam is effens misleidend, want daar lê ’n “klein Johnny” op die roete voor. Oom Theuns hou sy hande besig met skaap, pruime, appelkose en kersies, en sê hy laat nie minder as vyf voertuie op die roete toe nie.

Bo-op die krans staan meer as 30 figure wat met klippe uitgepak is en elk omtrent ’n verdieping hoog is.

As jy alleen in die berge vasval, ontaard dit in ’n nagmerrie, want jy is ver van alles en almal af. “Die ouens moet versigtig wees, want hier het al ’n Colt- én ’n Hilux- bakkie gerol.” Die tweespoorpad loop vir eers deur die fynbos en is ’n bedeesde inleiding vir wat voorlê.

Soos die voertuie die bosse op die middelmannetjie platstoot, ruik dit soos ’n sterk wilde krui. Die berg begin sy ware kleure wys en die maklike paadjie van netnou word ’n pad wat besaai is met ronde klippe. Ouder gewoonte ry Louis voor. Hy hou stil, want die moeilikheid begin.

Hy rol ’n klip of twee tot waar hy dit wil hê, maar soos wat ’n mens nou al gewoond is, ry hierdie 4x4-konvooi bo-oor alles. “Wie bou nou pad?” skree ’n agterryer. “Padwerke!” las André by. Dis meet en pas en stadig oor die rotsbank.

Soos elke kar sy beurt oor die hindernis kry, drom die res rondom die skouspel saam terwyl die raad heen en weer vlieg. Louis kyk in die rigting van Doep se Cruiser. Hy sê die Cruiser is so lank soos ’n worshond en moet eerder óm die klip ry.

Oom Doep is nie dwars nie, maar doen tog sake op sy manier. Hy kry applous wanneer hy die “jong manne” wys hoe dit gedoen word. “Nee wat, dié hindernis lyk al weer soos die N1,” skerts Louis terwyl die laaste paar manne op hulle beurt wag.

Die verdwaalde bloekomboom voor teen die rant staan aan die voet van “klein Johnny”. ’n Steil rotspaadjie van 40-50 m lank beur boontoe verby die boom. Selfs as jy die paadjie uitklim, jaag jou asem. Die res van die groep klouter tot op ’n groot rots en maak ’n informele paviljoen van waar hulle die 4x4-manewales kan dophou.

Groenie se gees is lank nie gedemp nie, en met die ware Johnny in die agterkop is dit weer Willem en ’n genadelose klomp klippe. “Daai koppelaar brand!” skree iemand van die paviljoen se kant af. “Los die koppelaar en stadig met die toere,” laat weet die slimjanne. ’n Mens kan sien die vorige dag of drie se ervaring maak ’n verskil en nog ’n moeilike hindernis word oorgesteek.

Die groep rond die avontuur vir die dag af met braaivleis op die kruin en die Kaap kan nie méér Hollands wees nie.

Teken hier, asseblief...

Wagon Wheels se 4x4-roetes is meer in Montagu se rigting van Leeuwenboschfontein en ook die eerste plek waar die ouens pen op papier moet sit: Louis deel vrywaringsvorms uit. Oor een van die tweerigtingradio’s hoor ons Tolla se brandstof is effens laag. Oomblikke later kraak Ian se stem oor die lug: “Moses, maak gereed; hier kom ’n bloedoortapping.”

Louis staan nog nie, maar min weet hy van Tolla se nukke wat voorlê. Louis druk Tolla se neus af tot in ’n groot erosiesloot. Digby waar hy weer moet uit, is ’n donga wat kleingeld van jou voertuig gaan maak as jy nie versigtig is nie. Tolla moet omtrent sy asse rek om oral vastrapplek te kry. “Ek gaan nie my kar hier kom staan en breek nie,” laat weet een van die ander ryers.

Louis staan nog nie, maar min weet hy van Tolla se nukke wat voorlê.

Louis aarsel, en onmiddellik skree iemand om ’n wenas gereed te kry.

“Kan julle nie sien ek is nog besig nie,” raas Louis en wikkel homself oor die rand van die donga. “Kom, manne, ons kan nie net opdraandes ry nie,” daag Louis die res uit. “As jy benoude stuiptrekkings het, kry dit nou agter die rug,” sê Louis, want die moeilike deel lê voor.

“Hier het al karre afgerol,” sê hy terwyl die pad teen ’n skuins rotsbank regs en ’n sloot aan die linkerkant skuur. Groenie kom laaste oor die skuinste en die Hilux staan só skuins dat dit lyk of die voorste linkerband van die velling gaan afkom.

Marcel kry sy staan op die ander kant van die bakkie om die gewig oor te trek. “Kom, is daar nie nog ’n dik ou wat wil opklim nie?” vra hy. Tolla se petroltoevoer pla en hy stotter tot stilstand. Nou is dit petrol direk in die enjin se keel afgooi, en Tolla kry lewe.

Twee in een

die gogga byt. Hierdie soort 4x4-aptyt word nie sommer bevredig nie. Teen die laaste dag praat die ouens klaar van die volgende toer wat voorlê.

Die toer staan einde se kant toe en die laaste oornagplek is ’n paar kilometer duskant Laingsburg in die Witteberg. Louis het Koos van der Merwe se Zuurberg-4x4-roete in die oog, maar draai gou eers af by Albert en Estelle Murphy.

Louis wil sien wat hulle nuwe Watervalroete behels. Intussen het Ian vir André al die oliestofspatsels op die agterkant van sy Jeep gewys: Die ewenaar het ’n gat in en die Jeep sal net hier moet bly staan.

Die Watervalroete klim hier van die vlakte af tot bo-op die berg van waar ’n mens die blink dakke van Matjiesfontein kan sien. Hier bo is dit die een haarnaald op die volgende teen genadelose steiltes uit, en dit voel asof ’n paar Sanipasse hier aan mekaar gestik is – net heelwat erger.

Op baie van die draaie neem dit ’n driepuntdraai om verby die draai te kom. Zuurkloof is sowat ’n uur verder waar die laaste onverwagse hindernis wag: Tolla se Klip. Dié klip is ’n skuins plaat van so 25 m teen ’n helling wat lyk na meer as 40°.

Die uitdaging is om te sien wie die klip, met ’n kinkel op die einde, enduit kan verower. Voor jy oorry, moet jy skerp regs draai, en as jy nie kyk wat jy doen nie, slaan jou kar om. Louis spring weg, maar pleks van draai, ry hy oor die kruin en kom met ’n ompad terug.

... dit voel asof ’n paar Sanipasse hier aan mekaar gestik is – net heelwat erger.

Ian is volgende en skryf sy naam onder Tolla se Klip. Hy kry die draai regs gemaak en parkeer breëbors om te sien wie dit nog gaan waag. Net Willem steek sy hand op en maak dit ook tot in die draai, maar die skuinste is te veel vir Groenie.

Die agterband klim van die velling af en Louis lig die stert met ’n hoogligdomkrag tot op sy hoogste verstelling om die band weer terug te trek. Intussen hang ’n paar fris manne aan die ander kant van die bakkie sodat Groenie nie teen die bult af rol nie.

Willem kyk na sy medebestuurder, Alex. Dit lyk of hy wil bieg: “Alex, ek is nou op gery. As dit lyk of ek enigsins weer wil probeer, gee my eerder ’n klap!”

GPS-koördinate
  • Tierkloof-4x4-roete S33.70777 E19.39430
  • Johnny se Poort S32.312520 E19.255768
  • Biedouw-4x4-roete S32.17767 E19.16840
  • Kliphuiskloof-4x4-roete S32.20127 E19.46331
  • Klipfigure S32.203760 E19.490492
  • Hexrivier-4x4-roete S33.498806 E19.813185
  • Wagon Wheels-4x4-roetes S33.63705 E19.90723
  • Waterval-4x4-roete S33.263519 E20.764762
  • Zuurkloof-4x4-roete S33.313974 E20.810090
Hier het ons gebly

Tierkloof het afgebakende kampplekke onder groot bloekombome en sluit geriewe soos krag en selfoonontvangs in. 

Kontak 082 578 1853 of 076 782 3481; wilmar@tierkloof4x4.co.za; tierkloof4x4.com

Cederberg Oasis bied ’n verskeidenheid verblyfkeuses wat wissel van kamers regdeur tot permanente tente tot plek om jou eie een op te slaan. Hier is geen selfoonontvangs nie, maar dis sekerlik die groenste kol in die Sederberg.  

Kontak 027 482 2819 of 087 550 1360;  cederberg@telkomsa.netcederbergoasis.co.za

Mertenhof-gasteplaas sit weggesteek anderkant Wupperthal en hier is enigiets van selfsorghuisies tot ’n grasperk met bome waar jy ’n tent kan opslaan.

Kontak 027 482 2845

Leeuwenboschfontein het ordentlike staanplekke met puik geriewe – en selfs nuwe selfsorgeenhede vir diegene wat nie wil kamp nie. Hier is geen selfoonsein nie maar hulle verkoop data sodat jy met hulle wifi oor die weg kan kom.  

Kontak 023 004 130  lbf@cornergate.comleeuwenboschfontein.co.za

Bel Louis Smit by 082 783 7662 as jy nog inligting oor die roetes soek.