Foto’s Marzahn Botha

Wanneer ’n mens op hierdie spesifieke reis vertrek, vertel Herman Kielblock, mede-eienaar van Unbounded Namibia en een van Bhejane 4x4 Adventures se gidse, brand jy behoorlik van opgewondenheid.

“Ek het gereeld stokkies gedraai en dan eerder op my bed gelê en lees aan The Skeleton Coast deur John Henry Marsh. Ek was absoluut meegevoer met daardie soort avontuur, en dís hoekom ek vandag doen wat ek doen.”

Dit is Herman se nuuskierigheid wat hom tot hier gebring het, gereed om ’n konvooi avontuursoekers te lei na die noordelike deel van die Namibiese kuslyn. Dis ’n plek wat die Portuguese seevaarders “Die poorte van die hel” gedoop het, en die Boesmans verwys daarna as die plek wat God verlaat het.

In die Skedelkus tel jóú planne en skedules nie veel nie. Hier het die natuur die laaste sê.

Dag 1 | Kopbeenhekke maak oop Swakopmund tot Möwebaaikamp (450 km)

Die mis lê dik oor Swakopmund, en Bhejane se bakkies kreun onder die swaar vrag.

Herman en Phil van Wyk is die toerleiers – Herman is van Kaapstad en Phil van Goghas. “Die mense wat saam met ons op die reis kom, moet elkeen ongeveer 220 l diesel en 260 l petrol saambring, en dit moet hulle tot op Sesfontein hou,” sê Phil. Elke bakkie kry ook 60 l water én dan moet die swaar tente op.

Uiteindelik vertrek ons uit Alte Brücke: ligte aan, radio’s geïnstalleer, wiele gepomp teen 2,1 bar. As jy ’n kranige visserman is, kan jy eers na Wlotzkasbaken en Jakkalsputz in die Dorob- nasionale park mik om kabeljou, steenbras en sandhaai aan die hoek te probeer kry.

Van daar af vertrek jy na Hentiesbaai vir rantsoene en brandstof, want jy gaan eers weer by Terracebaai in die Skedelkus- nasionale park kan tenk volmaak. Sowat 40 km verder is die Cape Cross-reservaat-en-soutmyn.

Hier word pienk soutblokke op kliptafels uitgestal, en as jy een wil hê, kan jy dit vir R30 – hulle noem dit ’n eerlikheidsfooitjie – koop. 

Die hek van die Skedelkus- nasionale park met sy kopbeenbord sê alles. Jy weet jy betree ’n wêreld waar mens én dier oorgelaat is aan hulle eie genade.

Die uitsig strek wyd aan die rugkant van die duin oor die see. Dis ’n magiese gevoel as jy soos ’n traan teen die ‘gesig’ van die duine afbiggel.

Die groot borde naby die Ugabrivier waarsku jou jy het ’n permit nodig, en as jy die epiese reis in die omgewing tussen Möwebaai en die Kuneneriviermonding wil aandurf, moet jy dit saam met ’n toeroperateur doen wat ’n konsessie van die departement van omgewingsake en toerisme bekom het.

Wanneer ons deur die hekke gaan om op die C34 te ry is die wiele 1,8 bar voor en 2,5 bar agter. Die dorre Skedelkus is oortrek met kleurryke korsmosse. Oorblyfsels van die Toscaninimyn, wat deur die broers Jasper, Koos, en Fanie van der Westhuizen begin is, lê oor die wêreld verstrooi.

By Torrabaai op die D2302 kom Jot Awob uit sy huisie. “Hier is nóú niemand nie. Die mense kom oor Desember en Januarie,” vertel hy.

Ná Torrabaai praat Himba Kavisina Kasaona, of sommer net Kai, die stil een, agter in die bakkie. Hy het saamgekom om sy bekende wêreld vir ons oop te maak. “Kom, laat ons die spoor van die leeu kry,” sê hy naby die monding van die Uniabrivier in die see, maar ongelukkig loop die woestynleeus elders vandag.

Naby Möwebaai met sy seehuisies is ’n kolonie van 70 000 Kaapse pelsrobbe en die wind waai die reuk reg in jou neus in. Dit is die hoofkwatier van die reservaat. Die tyd raak min en ons stoot in laestrek aan om die skeepswrak van die Southern Cross op die rotse te sien. Ons kamp vanaand 2 km hiervandaan teen die see.

Hansie Ruben grawe in die sand om Phil uit die sagte strandsand te kry.

Dag 2 | Sien Danny, die woestynolifant, trompetter Möwe- tot Sarusas Springs-kamp (177 km)

Teen dagbreek lê die rooijakkalsspore om die tente. “Moenie met die sand veg nie; vlieg met die engele,” grynslag Phil toe ons konvooi met die sagte strandsand worstel.

Hier moet ’n mens egter nie té gemaklik raak agter die stuur nie. Die sand is dik, en as jy nie in laestrek ry nie, gaan jy vasval.

Sowat 22 km van waar ons gekamp het, lê die oorblyfsels van ou trekkers en stootskrapers wat glo die landingsdeel van ’n mynkonsessie was. Jy kan ook by die Lockheed Ventura (1942) stilhou waar beendere en die oorblyfsels van’n vliegtuig se afgebreekte enjin gestrooi lê.

Die vliegtuig is gebruik om die skeepswrak die Dunedin Star te red, maar ’n sekere kapt. Immins Naude het voorrade hier uitgegooi toe sy enjin afgebreek en hy in die see geval het. Hy het darem die voorval oorleef.

Oorblyfsels van die afgebreekte enjin van die Lockheed Ventura (1942) wat deur kapt. Immins Naude gevlieg is

Nou kry jy die inleidingsduine in ’n oostelike rigting. Sit die kar in laestrekrat. “Jy ry in tweede op, sit hom vinnig in derde en ‘gooi’ hom.” Kai se vingers klap ’n piets wanneer hy “gooi” sê.

As jy in ’n konvooi ry, is dit goed om die sterkste bakkie vooruit te stuur. Phil se Hilux 4.0 moet hard werk om bo te kom. Een vir een klim die bakkies teen die duin uit. Wanneer jy bo kom, is die pens hard met sagte kolle.

Die uitsig strek wyd aan die rugkant van die duin oor die see. Dis ’n magiese gevoel as jy soos ’n traan teen die “gesig” van die duine afbiggel – heelpad in eerste rat. Dit is die mooiste gesig as jy deur die Hoarusib is en die groen van die beskermde vallei tussen die rooi en swart kranse sien.

Dis ’n opvallende teken van lewe in ’n dorre woestynwêreld. “Dít is waarvoor ek gekom het,” sê Cathy Yates van Oxfordshire in Brittanje. Sy is liewer vir groen landskappe soos die Drakensberg.

In die verte staan die jong olifantbul wat Danny gedoop is. Soos ons nader kom, lyk hy nie ingenome met die bakkies wat kom pla nie. Danny stap teen die agtergrond van ’n duin, en die toneel word mooi geraam deur die rooi en swart rotslae. 

Danny, die olifant, vol bravade.

Ons is nou in die Skedelkus se agtertuin en vulkaniese neerslag lê oral gestrooi. Dit is nog ongeveer 40 km tot by die kamp. By die Khumibrivier draai ons weer links, see se kant toe. Hou jou oë hier gespits vir skugter gemsbokke wat by die Sarusas Springs wei.

Ons slaan kamp op in die Khumibriviermonding en word gewaarsku oor die woestynhiënas wat laataand kom inloer.

Dag 3 | Kus van minerale Khumibrivier tot verby Angra Fria (136 km) – ongeveer 386 km van Terracebaai af

’n Ontbyt bestaande uit Matabellapap en roosterbrood staal ons vir ’n lang dag van ry en die aanslag van die wind. In die winter kan dit hier snerpend koud raak – die somer is ’n beter tyd om hier te reis.

Ons kom by ’n ultraviolet ametissteenuitspansel waar hulle tussen 1950 en 1960 vir dié pers edelstene gemyn het. ’n Mens kan sien waarom die Duitse kundige wat uitgebring is vir die taak, glo weens eensaamheid sy kop verloor het.

Ongeveer 60 km van die vorige aand se kamp af kry jy sirkelvormige klipaltare wat honderde jare gelede deur die Strandlopers, afstammelinge van die Boesmans, gebou is. Soos jy verder ry, swem die rooi, swart, oker en bruin woenstynkleure inmekaar.

Ons ry in 4x4 tot by berg Agate. Dié gloeiende spitskop skyn roesrooi in die son en ons eet couscous vir middagete. “Dis hoekom ek teruggekom het. Vir hierdie uitsig,” sê Callie Muller van Pretoria, wat die Skedelkus die tweede keer besoek. Hy is ook ’n fotograaf wat al ’n paar kamerakaarte vol gekiek het.

Oor die kruin ry jy tot by die Kaap Frio-reservaat, sowat 58 km verder. Hier kry jy ’n kolonie pelsrobbe wat in die sonnetjie bak. Die kolonie is kleiner as die 250 000 by Kaapkruis.

’n Mens kan sien waarom die Duitse kundige wat uitgebring is vir die taak, glo weens eensaamheid sy kop verloor het.

Elke Oktobermaand veg die mannetjies vir hulle wyfies, en aan die einde van die jaar kan ’n mens duisende jong robbe sien baljaar.

Angra Frio is ’n weerstasie sowat 111 km van ons vorige kamp af. Sowat 10 km anderkant Angra Frio is die skeepswrak van die Dunedin Star. Naby dit sien jy die metaalbordjie wat opgerig is deur ene Sydney Palmer, een van die oorlewendes, wat lui: “Ter nagedagtenis aan Mathias Koraseb en Angus McIntyre, en vir almal wat hulle lewe gewaag het om ons te red.”

In 1942 het dié Britse lynboot van 530 voet op die rotse beland. Ná ’n verwoede stryd van 26 dae om almal te red het dié twee Skotte verdrink. Ons ry nog sowat 25 km teen die strand en slaan tent op in ’n wind wat die Kaapse suidooster na ’n ligte bries laat voel.

LANGS DIE SEE Die son demp die wind se aanslae teen die tente op die derde dag se strandkamp.

Dag 4 | Swem in die Kunene Strandkamp, Kunenemonding en duinery (61 km)

Dis 400 km tussen jou en ander mense. SMS’e waai in die wind weg en Phil se vrag is ná vier dae sowat 100 kg ligter.

Jy moet wag vir laaggety voordat jy kan ry. Aan die regterkant lê die panne. ’n Dooie uitgespoede walvis lê langs die strandpad.

’n Diamantkonsessie naby die monding laat jou dink aan die gesegde tussen die myn en die duin, dis myne of joune. Hier in die Skedelkus behoort niks aan niemand nie – dis alles die natuur s’n.

Vir die volgende 12 km roep die Kuneneriviermonding. Pienk flaminke, pelikane en kormorante vlieg op. Vir ongeveer 80 m waar die Kunene se bruin rivierloop die see invloei, word die bruin met blou vermeng. Die rivier kom uit Angola, verby die Ruacanagrens. Aan die ander kant van die monding vang die vissermanne kabeljou.

Dis ook ’n goeie plek vir ’n groepfoto, want jy kan nie verder noord gaan nie. Hierna gaan ons die die banddruk na (0,9 bar voor en 1 bar agter) voor ons die duine in ’n oorstelike rigting aandurf. “As die wiel te pap is, klim hy van die wielvelling af,” sê Phil.

Jy ry terug in jou spore vir ongeveer 13 km en betree die duinebelt in ’n noordoostelike rigting naby Bosluisbaai. Herman lei die groep in sy Hilux. Die ekstra windkrag help oor die duine. Dis hier waar Kai sy staal wys. Hy hardloop kaalvoet oor die vuurwarm duine, staan op die plat pens en navigeer die bestuurder oor die gesig na die kruin en af.

Hier is nie ’n pad nie, maar Kai ken sy rigting. In die verlatenheid kom jy af op ’n duin van sowat 36 m. As jy terugkyk, lê die swartrooi ysterstrooisels op die grond. Dit is glo die roes van die see wat met lug in aanraking kom.

Dit vat nagenoeg ses uur tot by die kamp, waar jy die mooiste uitsig oor die Kunenerivier en Angola het. Skemerkelkies is darem net lekkerder langs die water in Afrika.

Nuuskierige gemsbokke wei by Sarusus Springs.
As dit fonteinwater reën, dan skep jy! Hierdie foto is geneem by die Sarusas Springs.

Dag 5 | In die maag van die Hartmans Woestynkamp na die Hartmansvallei (61 km)

Die Hartmansvallei is soos die kraai vlieg, nagenoeg 45 km van die kamp af. Hier het laasnag ’n buitjie reën uitgesak, wat help om die duine klam te maak.

Vandag draf die Land Cruiser voor. Kai en Callie is loshande voor die groep. Die Fortuner, wat nie te swaar gelaai is nie, vaar ewe goed in die duine. Dan sit ’n klomp voertuie vas.

By die gesig van duin is diep sand aan die onderkant en die bakkies is net te swaar gelaai om uit dié wip te kom wanneer hulle onder kom. Herman se bakkie word afgepak en Phil het drie sleeptoue nodig om sy vennoot uit te trek.

Dis asof die monsterdkleur duine oor die laaste 15 km die bakkies hier wil hou. En dan spoeg hulle jou uit, hier teen laatmiddag nadat jy genoeg gesukkel het. Ewe skielik word die duineformasies minder.

Die landskap trek oop en die tekens van gemsbokke en volstruise lê op die glimmende horison. Die konsessiedeel lê agter jou en jy ry moeg en moedeloos tot op die kruin.

Jou beloning is die noordelike uitsig oor die Hartmansvallei, ’n vallei wat net helde met ’n leeuhart beskore is.

Ons ry 12 km tot by ons kampplek vir die nag. Vanaand slaap ons in die wieg van die Hartmansvallei.

Dag 6 | Groet die mensdom Hartmansvallei na Omenyakamp, Purros (220 km)

Wéér sê Cassie Mulder dis die mooiste plek op aarde.

Die groep eet laat ontbyt en val om 10 vm. in die pad. Die woestynwêreld pleit altyd om water en dit lyk of die reën op pad is. “As dit reën, kom die riviertjie af en spoel al die vuil weg. Jaar ná jaar maak die natuur skoon,” sê Phil.

Sit jou bakkie in 4x4 en vat die pad suid in Purros se rigting. Jy ry ongeveer 72 km tot by die groen drom. Dis Oupa Choppies se drom met sy bekende skootrekenaar sonder krag.

Iewers sit ’n klipmannetjie teen ’n boom of op ’n hoogte of teen ’n klip en loer – dit is die kunsvlyt van die argitek Trevor Knott, wat sy omgewing kreatief gebruik om vir jou te wys jy is nie alleen in die verlatenheid nie.

Stoot aan tot by Purros, wat “fontein” beteken. Die Himba Chips Tjambiru en sy vrou, Alvina, in haar Hererorok wag vir ons by die Omenya-kamp. Omenya beteken “plek van die spingbok”.

Die storte is ruim en die water warm. Chips en Alvina ken nie van stilsit nie – hulle vee en hou die plek skoon. In die patriagrale Afrika lyk sy soos die matriarg wat Chips op sy tone hou.

Hulle het die kampplek teen die Hoarusibrivier die afgelope vyf jaar opgebou tot ’n spogkamp. Dit voel of die taaiste deel van die roete verby is. Oplaas kan jy terugsit en die uitsig geniet.

Dag 7 | Chips soek renosters vir 40 km

Dis ’n sonderlinge gebeurtenis om saam met ’n spoorsnyer te stap en witrenosters te soek.

In hierdie omgewing is drie woestynrenosters wat teen die berge en in ’n harde terrein oorleef. Chips is ’n spoorsnyer en sy maer bene dra hom oor die berge en dale.

Michale Omenye is die polisieman met die geweer wat saam met hom gaan. Hy is elke drie maande by ’n ander konsessiegebied om renosters op te pas. ’n Mens kry opnuut respek vir die manne wat vir meer as vier uur in die bloedige son spoorsny om uiteindelik ’n groot witrenoster te kry.

“ ’n Handjie vol mense sien dit in hulle leeftyd. Dit is ’n baie moeilike terrein, en die uitvoerbaarheid hiervan is ongelooflik moeilik,” sê Phil. Terug by die kamp wag spek en eiers en varsgebakte brood op ons. Dan is dit tyd om die Himbagemeenskap sowat 7 km van hier af te besoek.

Ongeveer 50 000 Himbas bly in die Kaokoveld, die noordelike deel van Namibië, en anderkant die grens van Angola, maar nie almal van hulle voer die tradisionele bestaan nie. By die kraal is 18 vroue en kinders met velle wat met ’n mengsel van oker, bottervet en kruie gesmeer is.

Die manne sit in die Manchester-kroeg in Purros. Hierdie vroue is net so goed aangepas soos die renosters en woestynolifante om in hierdie harde omgewing te oorleef.

Dag 8 | die hoarusib is in vloed!

Die Hoarusib, een van vele riviere wat ook ondergronds loop, is in vloed. Dit is omdat dit baie gereën het by die Epupavalle. Teen 10 vm. kom die water nóg sterker af, en teen 3 nm. gee ons moed op om aan die ander kant van die rivier te probeer uitkom.

Phil wil nie kanse waag met die konvooi nie. ’n Jong kameelperd het in die rivier afgekom, benoud probeer staande bly, maar het helaas versuip.

Die Skedelkus is ’n tuin – een van sand, skelette, woestyndiere, agaat, ametis, diamant en skeepswrakke...

Dag 9 | Aanskuif tot by Palmwag (211 km)

Die rivier vloei vandag nie so sterk nie en ons kan aan die oorkant uitkom. Ons ry suidoos vir sowat 110 km tot by Sesfontein waar jy kan brandstof ingooi.

Avontuurlustiges kan terugry in die Hoanib-konsessie verby die Elephant Song-kampplek. Die plek is glo verlate, want die leeus het almal verjaag en die personeel is te bang om terug te kom.

Die Hoanibrivier en ander vertakkings het eenvoudig te sterk geloop en ons planne moet verander. Die een ding van waterry is dat jy momentum moet behou en sorg dat die voertuig nie vrek nie. Ons bakkie het in die rivierloop gevrek, maar genadiglik nie water gesluk nie.

Ons kan nie verder in die konsessiegebied op nie, en die beste opsie is om deur te skiet Palmwag toe, 101 km van Sesfontein af.

’n Himbavrou naby Purros.

Dag 10 & 11 | Die fotograaf en die uitgewer

Vandag het ons ’n keuse: Ons kan rondlê langs die swembad óf saam met Phil en Callie in die Palmwag-konsessie rondry. Dié konsessie huisves ongeveer 70% van die wêreld se vrylopende swartrenosters.

Ons kuier saam met die natuurfotograaf Heinrich van den Berg, sy vrou, Dana, en hulle twee seuntjies, Gustav en Arno, in die kamp. Hulle het ’n paar dae in Möwebaai gebly saam met dr. Philip Stander. As fotograaf is Heinrich ook die uitgewer van Philip se boek, Vanishing Kings – Lions of the Namib Desert.

Dis ’n besonderse koffietafelboek wat die verhaal vertel van hoe die woestyndiere aangepas het om die warm dae en ysige nagte te oorleef.

Die Skedelkus is ’n tuin – een van sand, skelette, woestyndiere, agaat, ametis, diamant en skeepswrakke – wat daagliks groei. Die seewoestynwêreld leer die besoeker ’n les. Wees so aanpasbaar soos Danny, die woestynolifant, en jy kan oorleef in dié doderyk. En in ’n ongenaakbare mensewêreld ook.

WAAR OM TE BLY

Die suidelike deel van die Ugab tot by Terracebaai is oop vir die publiek. Dit kos R80 p.p. en R20 per voertuig. As jy ’n dagbesoeker is, met jy voor 3 nm. inkom en teen 5 nm. weer uit die park wees.

Jy kan nie verder in die konsessiegedeelte gaan sonder ’n toeroperateur nie.  

  • Torrabaai is die enigste amptelike kamp in die park en is slegs in Desember en Januarie oop. Dit kos R230 p.p.p.n. (maksimum 8 mense per staanplek). Kontak 00 264 61 285 7200  
  • Die Terracebaai-lodge het dubbelslaapgeriewe teen R920-R1 360 p.p.p.n. wat deel. Ontbyt en aandete is ingesluit. Hier is twee selfsorgkothuise waarvan een 6 mense en die ander 10 kan huisves. Kontak 00 264 61 285 7200;  nwr.com.na.

ANDER NOMMERS

  • Alte Brücke op Swakopmund: Kampplek teen R300 p.p., R400 vir 2; en R600 vir 4mense. Staanplekke wissel tussen R720 en R795 p.n. 00 264 64 404 918 Kontak info@altebrucke.com; altebrucke.com
  • Omenya-kampplek by Purros. R100 p.p.p.n. Kontak resomenjepurros@gmail.com 
  • Palmwag-lodge se kampplek. R270 p.p.p.n. ’n Dubbelkamer kos R2 270 p.p. wat deel, ontbyt en aandete ingesluit. Kontak 00 264 81 620 6687; palmwaglodge.com

Die konvooi groet die dramatiese kranse van die Hartmansvallei.
Die Skedelkuskonsessie

Die Skedelkus- nasionale park se kuslyn strek van die Angolese grens af nagenoeg 500 km suid tot by die Swakoprivier naby Swakopmund. Omdat dit so ’n hoogs sensitiewe omgewing is, moet mense by die reëls hou wanneer hulle die roete doen.

Nie enigiemand kan dit doen nie; jy moet deur ’n toeroperateur met ’n permit werk. Otijipupa Investments besit die konsessie en beheer die permitte.

Ná ’n lang proses was dit die eerste keer dat Bhejane en Unbounded Namibia ’n permit gekry het om die volle Skedelkus te verken. Ons het sowat 1 500 km afgelê op ons reis.