Maputaland in die Noordoos- KwaZulu-Natal is ’n plat, sanderige en moerasagtige streek wat grens aan Mosambiek in die noorde, die Tugelarivier in die suide en die Lebomboberge in die weste. Geoloë sê dié wye kusvlakte was 100 miljoen jaar gelede onder water, en deesdae word Maputaland gekenmerk deur tientalle mere, strandmere, moerasse en grasvlaktes, asook reusagtige duine van meer as 150 m hoog wat oorgebly het nadat die see teruggetrek het.

As jy op teerpaaie bly, kan jy die lengte van Maputaland binne vyf uur kafdraf, maar hier is ’n agterpad wat jou eers deur olifantwêreld neem en van daar af kuslangs tot op die Mosambiekse grens. As jy jou paspoort onthou het – en die pandemie-inperking dit toelaat – kan jy boonop Ponta do Ouro besoek vir garnale, peri-peri-hoender en ’n yskoue 2M-bier.

Jou reis begin by Kaap Vidal, ’n gewilde kampplek 30 km noord van die KwaZulu- Natalse kusdorp St. Lucia. Die Kaap Vidal-oord lê teen ’n baai wat deur ’n rif beskut word teen inkomende branders. Hier is 50 staanplekke, elk met water en elektrisiteit, en netjiese ablusiegeriewe. Dis ’n gewilde bestemming oor die groot dae en jy moet dus lank vooruit bespreek.

HARD OF SAG? Die pad tussen Kaap Vidal en St. Lucia is geteer, maar hier is ook lekker grondpaaie wat parallel met die teerpad loop – dis boonop op hierdie paaie waar jy die meeste wild sien.

Die geheimsinnige skip die Dorothea het op 31 Januarie 1898 hier by Kaap Vidal op die rotse geloop. Volgens oorlewering het die destydse president van die Transvaalse Republiek, Paul Kruger, ’n vrag goudstawe uit die Witwatersrand na Delagoabaai (vandag Maputobaai) gestuur.

Die goudstawe is in die Dorothea gelaai om na ’n onbekende bestemming geneem te word en ’n laag beton is oor die skat gegiet sodat die bemanning dit nie kon vaslê nie. Ongelukkig was die goud en beton só swaar dat die skip in ’n storm water begin inneem het. Die Dorothea het na die kus geseil waar hy by Kaap Vidal op die rotse geloop het. Wrakstukke word steeds by Kaap Vidal ontdek, maar die goud onder die beton is tot vandag toe soek.

Terwyl jy tussen Kaap Vidal en Levenpunt spiesvisvang, moet jy dus jou oë oophou vir iets wat blink op die seebodem.

Ná ’n paar dae by Kaap Vidal ry jy suid deur die iSimangaliso-vleilandpark. Volgens ’n onlangse sensus is hier minstens 700 seekoeie en jou kans om een te sien is dus goed. Hier is ook nagenoeg 1 000 krokodille en 350 voëlsoorte, waaronder pelikane, flaminke en visarende.

Jy verlaat die park by die suidelike hek (naby die krokodilsentrum) en ry St. Lucia binne. Dié vakansiedorp het alles wat jy nodig het, ook brandstof en die jongste uitgawe van Ry & Sleep op die winkelrakke.

St. Lucia is in 1885 gestig en het in ’n stadium byna ’n spookdorp geword toe die beplande hawe na Richardsbaai verskuif is en die strandmeer boonop toegeslik het. Die dorp is gelukkig later jare deur die bedrywige sporthengel- en toerismebedryf gered.

As Kaap Vidal vol is, kan jy afsaal by die Futululu-woonwapark, sowat 15 km buite St. Lucia. Die Edenpark- en Sugarloaf- kamp op die dorp laat ongelukkig veel te wens oor wat netheid betref en weens sporadiese misdaad moet jy twee keer dink vóór jy hier wil oornag.

Nadat jou inkopies afgehandel is, volg jy die R618 tot op Matubatuba. As jy haastig is, kan jy met die N2 noord kortpad vat tot op Hluhluwe, maar ons raai jou aan om eerder ’n draai deur die Hluhluwe-Imfolozi-wildreservaat te ry. Dié reservaat, wat in 1895 gestig is, is die oudste bewaringsgebied in Afrika, en die naam is ontleen aan die riviere wat deur die reservaat vloei.

Die park is ongeveer 1 000 km2 groot, maar omdat jy die park in die middel by die Nyalazihek binnegaan, gaan jy met hierdie besoek slegs die noordelike helfte van die reservaat sien. Plantegroei hier bestaan hoofsaaklik uit Zoeloelandse doringveld, en wat diere betref, kan jy verwag om leeus, olifante, ’n verskeidenheid bokke en renosters te sien.

WAT KYK JY? Seekoeie, renosters, waterbokke, koedoes, hoep-hoepe en vele meer is op jou te wagte in die iSimangaliso-vleilandpark. Hier naby in die Hluhluwe-Imfolosi-wildreservaat is daar ook olifante.

Trouens, die park is juis geskep om die witrenoster van uitwissing te red, en die veldwagters is paraat om dié bedreigde diere teen stropers te verdedig. Verlaat die park deur die Memorialhek en volg die D856-teerpad tot op die dorp Hluhluwe.

Vanaf Hluhluwe ry jy verder noord met die R22 oor die Mzinenerivier, tussendeur honderde bestaansboerderye tot by die Mkuzerivier. Sowat 5 km anderkant die Mkuze is die Muziwoud-voëlkykroete. Die roete se suidelike ingang – wat jy eerste raakloop – is moeilik om van die hoofpad af te sien, want dit is ’n onbeduidende grondpaadjie wat die bosse inglip.

Gebruik die koördinate S27.61497 E32.43525 om die afdraai te vind of hou aan tot by die noordelike ingang (S27.57929 E32.47267) wat aansienlik makliker is om van die R22 af te sien. Jy betaal nie om die Muziwoud-voëlkykroete te ry nie en die tweespoorpaadjie lei jou vir 17 km deur digte bosse wat plek-plek oopmaak op wye grasvlaktes en vleie.

Viertrek is ’n moet en daar is ’n kans dat jou trokkie se bakwerk gaan krap in die digte bosse. Wees veral op die uitkyk vir troupante wat van boom tot boom fladder oor die grasveld.

Jou volgende bestemming is die dorp Mbazwana waar jy ’n vulstasie, kitsbanke, ’n Spar (met ’n Tops) en verskeie snuisterywinkels aantref. Nadat jy volgemaak en voorraad gekoop het, volg jy die padaanwysers en die A1108-teerpad tot op Sodwana. As jy rigtingbedinges is, hoef jy bloot langs die pad te wag totdat die volgende bakkie met ’n hengelboot op ’n sleepwa verbyry – volg hom dan see toe.

...die tweespoorpaadjie lei jou vir 17 km deur digte bosse wat plek-plek oopmaak op wye grasvlaktes en vleie.

Die Sodwanabaai- nasionale park lê binne die iSimangaliso-vleilandpark, met die St. Luciameer in die suide en die Sibayameer in die noorde, en ondanks die “nasionale park” agter die naam word dit deur Ezemvelo KZN Wildlife bestuur eerder as Sanparke. Die naam Sodwana is ’n vervorming van die Zoeloewoord sedwano wat “kleintjie op sy eie” beteken – dit verwys na die kleinerige Sodwanameer wat op sy eie, apart van die meer indrukwekkende strandmere aan Maputaland se kuslyn lê. Sodwanabaai is óók jare gelede oorweeg as hawe vir die Natalse Noordkus, maar nes met St. Lucia moes Sodwana se inwoners vir lief neem met die besluit dat Richardsbaai die massavraghawe sou kry.

As jy gedink het Kaap Vidal is oorlopens toe vol met vakansiegangers, moet jy jou staal vir Sodwana se massas. Hier is altesame 413 staanplekke (sommige sonder kragpunte), wat insluit die 33 staanplekke in die Gwalagwala-kamp (almal met krag). In die spitsseisoen word minstens twee derdes van die staanplekke bewoon. Bly ’n paar dae om te skubaduik, want die koraalrif hier word beskou as een van die vyf beste duikplekke ter wêreld. Dit is ook hier waar ’n kolonie selakante (Latimeria chalumnae) in die jaar 2000 ontdek is nadat gedink is hulle het uitgesterf. Selfs al sien jy nie hierdie skaars vissoort nie, is hier verskillende haaisoorte, dolfyne, walvisse en diepseevisse.

VIR DIE VOËLS. Die Muziwoud-voëlkykroete lei jou deur ’n digte bos wat nou en dan oopmaak op ’n wye grasvlakte.
GESTRAND. Mabibi se strand is lekker breed en omdat hy betreklik afgeleë is, word hy boonop nie vertrap deur toeriste nie.
Die tweespoorpaadjie wat hierheen lei is sanderig en jy sal viertrek moet inhaak.

Uit Sodwana ry jy 6 km terug soos jy ingekom het. Dan, 700 m verby die hek van die Sodwanabaai-lodge, is ’n afdraai na regs (S27.50781 E32.65371).

Hier is ’n netwerk van paadjies wat deur die bosse kronkel, maar as jy kophou en die duidelikste spoor volg, sal dit jou tot by die Bayahek aan die suidpunt van die Sibayameer bring.

As jy bang is jy verdwaal, kan jy die agterpaadjie laat vaar en eerder die D1848 van Mbazwana af tot by die Bayahek volg, maar dié pad is nie so interessant soos die bospaadjies nie.

Met ons besoek was die hek oop en onbeman, en ons het bloot deurgery. Let egter daarop dat jy volgens iSimangaliso se webblad die volgende moet betaal vóór jy deur die park mag ry: ’n bewaringstarief van R28 p.p. (R16 vir kinders), toegangsgeld van R29 per voertuig, en ’n gemeenskapheffing van R5 p.p.

Jy ry nou deur immergroen kusbos, wat in Zoeloe dukuduku genoem word. Dit beteken “’n plek waar jy in die donker rondtas” – ’n baie goeie beskrywing van die donker lanings deur die digte bos.

’n Veldryvoertuig pas net-net en ons sou beslis nie ’n padwa hier sleep nie. ’n Groot ryhuis sal ’n moles veroorsaak en dalk die boonste takke van die bebosde laning afbreek en saamsleep. Die tweespoorpad is ook erg sanderig en jy sal viertrek met hoëstrekratte moet inhaak.

Jy bars nou en dan uit die bos en sien die Sibayameer aan jou linkerkant. Kuifkopvisvangers sit op droë boomtakke en staar stip na die water terwyl ’n hoep-hoep iewers uit die bosse koggel. Hier is heelwat aftrekplekke onder koorsbome waar jy rustig piekniek kan hou, maar wees tog versigtig vir seekoeie en krokodille. Die Zoeloewoord tsibayi (waarvan Sibaya afgelei is) beteken “ingeslote plek met geen sigbare uitgang” en dit beskryf die meer goed: Talle strome loop in die meer, maar daar’s geen uitloop see toe nie. Die watervlak word gehandhaaf deur verdamping en wegsyfering.

Kuifkopvisvangers sit op droë boomtakke en staar stip na die water terwyl ’n hoep-hoep iewers uit die bosse koggel.

Sowat 10 km nadat jy deur die Baya-hek is, draai die D1849 na links uit die D1848 en neem jou tot teen die hoë duine by Mabibi. Mabibi het ’n klein kampplek met agt staanplekke vir tente, en om by die strand uit te kom moet jy met plankiesbrûe en ’n hoë stel trappe teen die seekant van die duine afklim. Dis nie rolstoelvriendelik nie, en as jy ’n strandtent, koelbokse en kampstoele tot op die strand wil dra, moet jy fiks en gesond wees.

Ná ’n kort besoek aan Mabibi ry jy 1 km terug soos jy gekom het en vat dan weer die D1848 noord vir 8 km tot by die Manzengwenyahek. Hier het ’n veldwagter ons vriendelik gevra wat die doel van ons besoek was – nadat ons verduidelik het ons is onderweg na Kosibaai, is ons deurgewuif. Geen permit en geen betaling nie.

Ná 6 km deur die dukuduku is daar ’n veldwagterpos en nóg ’n onbemande hek. Draai hier af na Lalanek se strand. Lalanek is soortgelyk aan Mabibi, maar hier is geen kampplek nie. Die toilette was tydens ons besoek gehawend – as jy dus nie by Mabibi ’n draai geloop het nie, sal jy moet knyp tot op Kosibaai óf die bosse moet trotseer.

Ná Lalanek volg Rocktailbaai, Black Rock en Bhanganek. Ons het egter by Rocktailbaai besluit om binneland toe te swenk en langs die Kuwzndinimeer (so gespel op Tracks4Africa) se grasvlaktes te ry en kortpad oor die Malangenirivier te sny tot op die dorp Manguzi op die R22-streekpad.

Volg die R22 vir 5 km. Sodra jy dan oor die Kunkaninirivier is, draai jy regs na Kosibaai (die afdraai is duidelik gemerk). Vanaand kamp jy op die oewer van die Kosimeer in die Kosibaai-oord en ons stel voor jy maak dít jou basis van waar jy die res van Maputaland verken. Hier is 15 staanplekke waarvan nr. 1-3 naby die water lê. Hier is ook ’n lanseerplek en vasmeerpunte vir bote, wandelpaaie deur die bos en ’n plankiesbrug wat ’n paar meter die meer in strek. Hiervandaan kan jy hengel.

MEER STRAND. Die Kuwzndinimeer se grasvlaktes strek wyd.
Die sandpaadjie neem jou na Kosibaai waar mens én voël visvang.
WARMBAD. Oud en jonk speel in die louwarm water van die Kosi-uitmonding. Dit gebeur blykbaar dat ’n seekoei soms uit die bosse te voorskyn kom en dan gee almal pad totdat die dier klaar in die branders baljaar het.

Die Kosibaai-natuurreservaat bestaan uit vier mere: Amanzimnyama, Nhlange, Mpungwini en Makhawulani.

Die Nhlangemeer word ook die Kosimeer genoem en is teen 5 x 4 km die grootste van die vier mere.

Daar is ’n paar toeroperateurs wat jy kan betaal om jou per boot die mere te wys, maar onthou, jy mag slegs op die Nhlange-, Mpungwini- en Makhawulanimeer rondrits.

Jou gids sal ook wys waar dit veilig is om te snorkelduik en watter van Kosibaai se bekende rietfuike jy van naby af mag bekyk.

Die plaaslike gemeenskap maak die afgelope 700 jaar al staat op die vis wat met die rietfuike gevang word as hoofbron vir proteïene. Hulle is dus min beïndruk as jy té na aan die fuike kom en die vis verwilder.

Die vier mere word deur kronkelende watergange met mekaar verbind en loop uit in die Kosimonding, oftewel die enKovugeni in isiZulu.

Kry Kosi dan nou ’n naamsverandering? Die naam Kosi word nie werklik deur die plaaslike mense erken nie, want dit is immers ’n landmeterfout wat in 1822 begaan is toe ene kapt. William Owen die oostelike kus van Afrika gekarteer het. Owen het in die destydse Delagoabaai (van waar die Dorothea ook geseil het) te hore gekom van die Mkuzerivier – ’n belangrike rivier vir die Zoeloes – wat in ’n groot strandmeer uitloop.

Die vier mere word deur kronkelende watergange met mekaar verbind en loop uit in die Kosimonding...

Hy het met twee seilskepe, die HMS Leven (Levenpunt by Kaap Vidal is na Owen se vlagskip genoem) en die HMS Barracouta (laasgenoemde onder beheer van kapt. Alexander Vidal...), suid gevaar en die Kosimeerstelsel verkeerdelik aangesien as die Mkuze- meerstelsel waarna hy eintlik op soek was – dié is in der waarheid die St. Luciameer waarin die Mkuze uitmond.

Owen kon boonop nie sy tong rondom Mkuze gedraai kry nie en toe word dit bloot Kosi. St. Lucia se naam moes dus eintlik Kosibaai gewees het, of Mkuzebaai, as Owen die naam reg kon uitspreek, en Kosibaai sou dalk Nhlangabaai geheet het as Owen nie so erg verdwaal het nie.

Van die Kosibaai-oord af is dit 17 km tot by die Kosimonding. As die oord volbespreek is, kan jy by die Utshwayelo Kosimonding-lodge-en-kamp aanklop. Ons het in die Oktober 2019-uitgawe van Ry & Sleep oor hierdie twee oorde geskryf en jy kan daardie insiggewende artikel gebruik om te besluit by watter een van die kampplekke jy die graagste wil bly.

Utshwayelo het 14 staanplekke en jy’s verder van die water af as in die Kosibaai-oord, maar ’n groot voordeel daarvan om hier te bly is dat jy ’n permit gewaarborg word om die Kosimonding te besoek. Daarteenoor moet jy ’n dag vooruit by die Kosibaai-oord aansoek doen om ’n permit en hoop die maksimum toelaatbare besoekers per dag is nie reeds bereik nie.

Die Kosibaai-Ponta do Ouro-grenspos na Mosambiek is slegs 1 km van die Utshwayelo-kamp en 13 km van die Kosibaai-oord af. Met ons besoek was dit maklik en vinnig om die grens oor te steek en dit het ons van die Kosibaai-oord af ’n raps meer as ’n uur geneem om tot in Ponta te kom.

Sit aan by een van die tientalle seekosrestaurante in Ponta do Ouro. Die garnale by Florestinha do Indico smaak vorentoe, maar ons het intussen gehoor die Mango Tropical Cafe se kos is selfs beter. Sodra die landsgrense oopmaak, keer ons so spoedig as moontlik terug na Kosibaai vir ’n daguitstappie na Mosambiek om smaaklike peri-peri-hoender en 2M-bier in Ponta do Ouro te geniet.

KNIEDIEP. ’n Portier help ’n groep toeriste deur die strandmeer se vlak water tot op ’n skiereiland waar hulle piekniek gaan hou.
Ek wil ook gaan!

Kan ek op my eie ry? Ja, beslis. Hoe lank? Die roete sal nie langer as twee dae duur nie – jy kan dit selfs in een dag baasraak as jy die besoek aan die Hluhluwe-Imfolozi-wildreservaat uitlaat, maar waarom jaag?

Waarmee moet ek ry? Die sand is hier en daar dik. Daarom is viertrek – en veral goeie grondvryhoogte – onontbeerlik.

Hoeveel brandstof het ek nodig? Dit hoef nie ’n bekommernis te wees nie, want daar is vulstasies op pad en die roete is boonop net 350 km lank.

Watter toerusting moet ek pak? Sandplanke is altyd nuttig, maar dis nie noodsaaklik nie. Jy behoort ook ander besoekers raak te loop wat kan help as jy sukkel.

Mag ek sleep? Ja, maar sommige paadjies deur die digte bosse is smal en op sekere dele soos Lalanek is omdraai in die parkeerplek moeilik, selfs vir ’n ryding sonder ’n wa.

Bly hier

Hier is heelwat blyplek in Maputaland se kusstrook. Hier is die kampplekke waar ons self oornag het of gaan ondersoek instel het en tevrede was met die geriewe.

Kaap Vidal

Kaap Vidal het 45 staanplekke, almal met elektrisiteit, onder digte koeltebome en teenaan die see. Dit is ’n gewilde oord en jy kan jou gelukkig ag as jy op kort kennisgewing ’n staanplek kry.

Prys R280 p.d. buite seisoen en R840 in die spitsseisoen.

Kontak: 033 845 1000; isimangaliso.com; bookings@kznwildlife.com

Futululu

Die Futululu-woonwapark lê 17 km suid van St. Lucia en hier is 35 staanplekke onder reusagtige bome wat oorgenoeg skaduwee gooi. Hier is ook ’n swembad en die bestuur bedryf begeleide toere na omliggende besienswaardighede. Prys R250 p.n. vir 4 mense buite seisoen en R400 in die spitsseisoen.

Kontak: 035 550 4431; futululu.co.za; info@futululupark.co.za

Sodwana

Sodwanabaai het altesame 413 staanplekke waarvan sommige kragpunte het en ander nie. Die oord se winkel is ’n supermark met alles wat jy nodig het vir ’n heerlike seevakansie.

Prys R230 p.d. buite seisoen en R270 in die spitsseisoen.

Kontak: 033 845 1000; isimangaliso.com; bookings@kznwildlife.com

Die Mabibi-strandkamp het 8 staanplekke elk met ’n kraan en braaiplek, maar geen elektrisiteit nie. Die water is nie drinkbaar nie en is slegs geskik vir skottelgoed en ablusiegeriewe. Moenie staatmaak op warm water in die storte nie.

Prys R146 p.p.p.n. (halfprys vir kinders). Minimum R292 per staanplek.

Kontak: 035 474 1504; mabibibeachcamp.co.za; res@mabibibeachcamp.co.za

Kosibaai

Kosibaai-oord het 15 staanplekke, almal in skaduwee en stapafstand van die meer. Die smal paadjie se skerp draaie binne die oord maak dit effens moeilik om ’n boswoonwa te sleep, maar dit ís moontlik as jy kophou.

Prys: R230 p.d. buite seisoen tot R660 in die spitsseisoen.

Kontak: 033 845 1000; isimangaliso.com; bookings@kznwildlife.com

Die Utshwayelo-kamp het 14 staanplekke waarvan die meeste omhein is, elk met water en krag. Koelte is volop, maar nie al die staanplekke is ewe gelyk nie. Prys R235 p.p.p.n. (R120 vir kinders 6-12 jaar).

Kontak: 082 909 3113; kosibay.info; info@kosimouth.co.za

Word deel van die Weg-wêreld
Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook