Ons lang reis het in die middel van 2018 op Marie se tuisdorp, Valence in Frankryk, begin en eers deur Europa gekronkel voordat ons teen Mei 2019 Afrika binnegery het.

Nou is dit Oktober 2019 en dit voel vreemd dat ons binne twee maande by die huis in Johannesburg gaan wees. Die afgelope paar maande het ons byna ’n sirkel gery van Kenia na Tanzanië na Rwanda en toe na Uganda, waar ons basies ’n U-draai gemaak het en nou weer Kenia binnery. Ons kom die land binne by die klein Malaba-grenspos – voor ons lê meer as 7 000 km se harde pad Suid-Afrika toe.

Ons wil tuis wees vir Kersfees, maar hoewel ons reeds die gerookte ham en mince pies kon ruik, wou ons nie jaag nie, want daar’s nog plekke in Kenia, Tanzanië, Malawi, Zambië en Zim wat ons graag wil besoek.

Patrick en Marie kyk uit oor die Shetani-lawaveld

Rooi olifante en mensvreterleeus

Die Tsavo- nasionale park is eerste in ons visier. Ons is nou in die weste van Kenia en Tsavo lê 800 km oos – ons sal op twee plekke moet oornag op pad soontoe, by die Baringo- en Naivasha-meer.

Tussen Malaba en Baringo ry ons deur Iten, ’n klein dorpie op die eskarp van die Groot-Skeurvallei. Kenia is bekend vir sy langafstandatlete en baie van hulle kom van Iten af. Die hoogte bo seespieël – sowat 2 400 m – maak dit ’n puik oefenplek vir langasems, en Keniane verwys met trots na Iten as hulle “Home of Champions.” Ons het oral langs die pad drawwers gesien.

In dieselfde streek stop ons by die dramatiese Cheploch-ravyn in die Keriorivier om te kyk hoe dapper jong manne van die nabygeleë dorpie duik tussen die 20 m hoë kranse na die smal gleuf water onder. Hulle tart omtrent die dood, en jy hou jou asem op wanneer hulle duik, die water met ’n harde knal tref en dan weer soos ’n kurkprop bo die oppervlak uitskiet.

Op pad na die Naivasha-meer kruis ons weer die ewenaar (vir die derde keer op ons reis) en ry dan voort na Tsavo.

Die Tsavo- nasionale park is rofweg dieselfde grootte as die Krugerwildtuin en word in twee – Tsavo-Oos en Tsavo-Wes – verdeel deur die spoorlyn wat van Mombasa af teen die kus na die hoofstad, Nairobi, loop.

Tsavo se rooi olifante

Die park is berug vir gebeure wat in 1898 hier afgespeel het toe die oorspronklike spoorlyn gebou is. Oor ’n tydperk van 10 maande het twee Tsavo-leeus minstens 30 konstruksiewerkers en ander mense doodgemaak voordat hulle deur kol. John Patterson geskiet is.

Toegang vir albei dele van die park is U$52 (R748) p.p., plus 300 Keniaanse sjielings (R42) vir die voertuig. Om te kamp was nie te duur nie – net US$20 (R288) p.p. Ons is eers by Tsavo-Wes in, deur die Chyulu-hek.

Tsavo-Oos- nasionale park
’n Leeuwyfie in die Tsavo-Oos- nasionale park

Die dramatiese landskappe het ons verras. Buiten riviere, digte bosse en berge is hier ook lawa-uitvloeiings – die grootste hiervan is die Shetani-lawaveld wat oor sowat 50 km² strek. Ons besluit ook om die Chaimu-krater uit te klim, wat op die ou einde meer van ’n geklouter is vanweë die los vulkaangruis– ons moes soms selfs handeviervoet sukkel! Die uitsig oor die omliggende lawavelde en Chyulu-heuwels het dit egter die moeite werd gemaak.

Hier kamp ons twee aande en gaan tussendeur op wildritte. Die swaar reën het van die roetes onbegaanbaar gemaak, maar op een rit kom ons wel Tsavo se beroemde “rooi olifante” teë – só genoem omdat die grootvoete hier in die rooi vulkaniese stof bad.

Buiten riviere, digte bosse en berge is hier ook lawa-uitvloeiings – die grootste hiervan is die Shetani-lawaveld wat oor sowat 50 km² strek

Tsavo-Oos het ’n groter samedromming van wild, maar vir ons was die landskap minder dramaties as in Tsavo-Wes. Oop savannevlaktes word afgewissel deur digte kolle doringbome langs die riviere, waar raffiapalms ook voorkom. Ons ry dié deel van Tsavo binne by die Manyani-hek en kamp die eerste aand by Lugard’s Falls langs ’n mooi deel van die Galanarivier.

Die suidelike deel van Tsavo-Oos is woelig, maar nie naastenby so bedrywig soos byvoorbeeld die Serengeti nie – en daarom is die paaie ook in ’n beter toestand en ’n plesier om te ry. Ons slaap twee nagte by die Ndololo- openbare kampplek waar die geriewe eenvoudig is, maar die skadubome groot.

Hoogtepunte op wildritte hier sluit in ’n leeuwyfie wat vir ons poseer en ons sien wraggies ook hoe ’n jagluiperd ’n rooiboklam vang. Een oomblik drink die jagluiperd nog water en die volgende het hy skielik die lam aan die keel beet. Die spoed waarteen dié roofdier beweeg, is verstommend. Hierna verlaat ons Tsavo by die Voi-hek en ry na die kusdorp Mombasa.

Wit-en-blou geboue van Mombasa

Vaarwel Kenia; hallo malaria

Mense vra ons dikwels of ons malariapille gedrink het op ons toer. Ons is deur nege lande waar die malaria-risiko as hoog geklassifiseer word, maar om só lank (dit sou 10 maande aaneen moes wees) die medikasie te neem is nie goed vir jou gestel nie. Ons het eerder muskietbyte probeer voorkom deur Tabard aan te smeer en langmouklere te dra.

Nadat ons uit Tsavo weg is, het ek malariasimptome – hoofpyn en koors – begin toon. Die selftoets was negatief en ek reken toe dis seker maar net ontwatering. Teen die tyd dat ons ’n paar dae later in Mombasa aankom, was ek egter steeds siek. By die Aga Khan-hospitaal vertel ’n dokter my dat die selftoets soms negatief is wanneer dit nog vroeg in die siklus van malaria-infeksie gedoen word. Hy gee medikasie en beveel aan dat ek baie water drink en vrugte eet – en ’n paar dae rus.

Fort Jesus, Mombasa
Mombasa-mark

Drie dae in Mombasa se Regency Park-hotel gee ons ook die geleentheid om ons Zanzibar-vakansie te beplan, en om ’n nuwe battery vir die Hilux op te spoor. Ons besoek ook Fort Jesus, ’n Portugese fort wat in 1595 gebou is. Baie van die geboue in die middedorp van Mombasa is om een of ander rede wit-en-blou geverf, wat aan Griekeland herinner. Niemand kon ons regtig vertel hoekom juis wit en blou gebruik word nie. “Iemand het dit begin doen, en toe doen almal dit,” was die antwoord – op sigself nogal ’n tipies Griekse antwoord...

Toe die malariasimptome begin wyk, was ons weer reg om te ry. Van Mombasa af ry ons suid teen die kus af – die grens met Tanzanië is sowat 120 km ver. Eers oornag ons op Diani Beach waar ons ook ’n bokresies bywoon – reg gelees! Dié jaarlikse makietie word ten bate van liefdadigheid gehou en gereël deur die East African Women’s League. Toeskouers verwed geld op hulle gunstelingbok en die resies behels 40-50 bokeienaars wat hulle bok om ’n baan aanjaag in die hoop dat hy of sy teen die eindstreep die voorbok sal wees – pret!

Bokderby, Diani Beach

Die Lunga-Lunga-grenspos met Tanzanië is pynloos en ons is deur binne skaars ’n uur. Hiervandaan is dit nog agt uur se ry (420 km) na Dar es Salaam waar ons die Hilux gaan los terwyl ons Zanzibar toe gaan. By Mikadi Beach Lodge betaal ons US$10 (R144) p.d. vir veilige parkeerplek, en die volgende oggend vat ons die vinnige veerboot van Azam Marine oor na Zanzibar.

Die eilandlewe en ’n bakkie vol muf

Zanzibar is ’n uitstekende plek vir ’n vakansie. Ons het 10 aande op die eiland bespreek en ons tyd verdeel tussen drie plekke om ’n gevoel van die hele eiland te kry. Ons was op Pwani Mchangani in die ooskus, Nungwi in die noorde en natuurlik Stone Town.

’n Dau op Nungwi se hoofstrand

Dae is verdeel tussen piña coladas drink en stap langs die wit strande. Die getyverskille het ons nogal verras, veral by Pwani Mchangani waar ons die oggend wakker word net om glad nie meer die see te sien nie! Die gety trek teen laagwater baie ver terug en die vlak strande vergroot die verskil tussen hoog- en laagwater.

Dié effek was nie so erg by Nungwi nie, en ons het gehou van die dorpie se verskeidenheid kroegies en restaurante.

Dae is verdeel tussen piña coladas drink en stap langs die wit strande

In Stone Town oornag ons in ’n boetiekhotel genaamd Kisiwa House. Stone Town se afgeleefde ou dorpsdeel lyk seker romanties, maar ’n bietjie restourasiewerk sal seker nie skade doen nie?

Forodhani Garden Square langs die see was ons aangewese aandeteplek. Tientalle braaistalletjies bied vars seekos met Arabiese, Portugese en Indiese invloede – heerlik. Dit was hemels om vir ’n paar aande nié in ons Hilux se daktent te slaap nie en vir ’n slag elke aand ’n warm stort en kraakwit hotellakens te kon geniet.

Stone Town met die strand in die agtergrond
Forodhani Garden Square
Marie koop aandete in die Forodhani Garden Square

Heel verkwik en terug in Dar es Salaam stap ons in ’n ligte krisis. ’n Mufkrisis! Met ons vertrek na Zanzibar het ons oorhaastig ’n nat tent opgevou, asook twee nat handdoeke en dit binne die kajuit van die Hilux laat lê. Nou, 10 dae later, het dinge begin muf. As daar ’n Guinness-wêreldrekord was vir muf, sou ons ’n kans gestaan het... dit het die binneruim van die bakkie, die kappie en selfs die gasbottels oorgeneem!

Ons het asyn en water gemeng en begin skrop. Marie se stelletjie vlugtige olies het handig te pas gekom, veral om van die muwwe reuk ontslae te raak. Met die mufmonster onder beheer is ons weer vort, suidwaarts van Dar af in die rigting van Kilwa Kisiwani-eiland. Die teerpad soontoe – 320 km – was goed, maar neem steeds meer as vyf uur omdat ’n mens gereeld deur klein dorpies ry.

Emerson Spice Hotel, Stone Town
’n Vervalle huis in Zanzibar

Afrika se antieke handelstad

Ons kamp by Kilwa Beach Lodge op die dorpie Kilwa Masoko op die vasteland – direk oorkant die geskiedkundige Kilwa Kisiwani-eiland. Die lodge is op die strand en ons het ons eie banda, basies ’n palmtak-afdak. Ons bespreek ons besoek aan die Kilwa Kisiwani-ruïnes deur die plaaslike Tour Guides Association. Dit kos US$50 (R718) p.p., wat die bootvaart soontoe, asook die dienste van ’n energieke en kundige gids insluit.

Die ruïne van die Grand Mosque op Kilwa Kisiwani-eiland

Toe die Portugese in 1502 aan die ooskus van Afrika aankom, was die hawestad Kilwa Kisiwani reeds eeue lank ’n florerende Swahili-handelspos. Deesdae is dit ’n piepklein vissersdorpie, en die enigste herinnering aan Kilwa se gloriedae – toe sy invloed van Malindi noord van hier (in Kenia) tot Kaap Correntes suid van hier (by Inhambane, Mosambiek) gestrek het, is die ruïnes wat nou ’n Unesco-Wêrelderfenisgebied is.

Kilwa Beach Lodge
’n Kampplek by die Kilwa Beach Lodge
’n Bootrit na Kilwa Kisiwani-eiland

Kilwa is al in die 10de eeu gestig deur sultans uit Persië. Die meerderheid van die ruïnes dateer egter uit die 14de en 15de eeu toe die sultans se invloedsfeer op sy sterkste was. Kilwa se handelaars het groot huise laat bou in daardie jare, met versteende koraalblokke wat uit die eilandbodem gesny is. Skepe het porselein uit China en speserye uit Arabië gebring om te ruil vir goud van die Groot-Zimbabwe-ryk en ivoor elders uit die binneland. Kilwa was die poort waardeur goedere gestroom het, van Asië na Afrika, en andersom.

Kilwa is al in die 10de eeu gestig deur sultans uit Persië. Die meerderheid van die ruïnes dateer egter uit die 14de en 15de eeu toe die sultans se invloedsfeer op sy sterkste was

Die Grand Mosque, Sultan se paleis en ’n paar ander geboue wat nog staan, gee ’n goeie idee van die roemryke verlede van hierdie unieke plek.

Fort Gereza, Kilwa Kisiwani-eiland

Selous toe

Nou draai ons weg van die kus, en ry van Kilwa na die Selous-wildreservaat. Die pad is meestal teer, maar daar is ’n 90 km-stuk wat grondpad is – en erg modderig. Die Hilux lyk asof ons aan die Camel Trophy deelgeneem het!

Die Gurneys se Hilux in die Selous-wildreservaat
Kameelperde in Selous

Selous is ’n afgeleë wildernis en word selde besoek. Ons slaan drie aande lank kamp op by die Selous River Camp naby die park se Mtemere-hek. Dis ’n private lodge, maar hier is ook kampplek vir oorlandreisigers soos ons. Die geriewe, wat ’n swembad en kroeg insluit, is goed en dit bied goeie waarde vir geld teen US$15 (R216) p.p. Om binne die park te kamp was te duur. Dit sou ons US$150 (R2 156) p.p.p.d. kos vir ’n toegangspermit en ander tariewe.

Ons ry wel een dag in die park rond – oral is mooi miombo-bosveld en langs die rivier is ’n netwerk van hoefystermere en systrome. Omdat ons op ons eie – en sonder ’n wenas – gery het, was ons versigtig, want die grond was nat en in dié turfgrond sit jy maklik tot op jou motorasse vas.

Wild was skaars, maar dit was te verwagte, want die regering is besig om ’n groot dam (vir die opwek van hidrokrag) te bou dieper in die park. Ons het seker 20 vragmotors teëgekom op die hoofroete deur die park. Die bouwerk is só ontwrigtend dat van die luukse lodges in Selous hulle deure tydelik gesluit het – die dam sal blykbaar eers oor vyf jaar voltooi wees.

’n Vlakvark trotseer Selous se modderpoele
Marie se vliegtuig na Selous

In hierdie stadium moes Marie tydelik vir werk in Suid-Afrika wees. Sy kon uit Selous vlieg, maar op ’n koue, nat oggend moes die vliegtuig twee keer probeer opstyg omdat die aanloopbaan te modderig was!

Ek sou die volgende 10 dae alleen ry tot in Lilongwe, Malawi.

Met die Hilux gepak, ry ek nou deur Selous, noordweswaarts, na die Matambwe-hek. Dit word ’n moordende skof – die sowat 80 km neem vyf uur, en daarna het ek nóg 155 km (nog vier uur) na die dorp Morogoro gery waar ek oornag het. Gietende reën maak die kleierige paaie seepglad en ek moes veral versigtig ry oor die bergpasse.

Van Morogoro af is ek terug op die hoofteerpad tussen Dar es Salaam en die binneland van Tanzanië. Ek ry weswaarts en besoek die Isimila-steentydperkterrein net anderkant Iringa. Dié erosieterrein het sandsteenpilare wat sorg vir mooi foto’s en die museumpie het voorbeelde van die 60 000-100 000 jaar oue klipgereedskap wat al hier uitgegrawe is.

Die Isimila-steentydperkterrein
’n Gids by die Die Isimila- steentydperkterrein

My laaste twee aande in Tanzanië bly ek in The Old Farm House op die Kisolanza-plaas, ’n puik oornagplek met ’n goeie restaurant, en die Mala Green-kampplek (vermy dit!) naby Kasumulu, kort duskant die grenspos tussen Tanzanië en Malawi.

My volgende bestemming is Lilongwe, waar ek Marie by die lughawe gaan haal. Maar eers het ek ’n paar dae om te verwyl langs die Malawimeer – glad nie ’n slegte plek om lui te wees nie!

Meer inligting

Kontak die Gurneys op info@skultcha.com indien jy vrae het oor hulle reis, of besoek skultcha.com

Facebook: skultcha”; Instagram: @skulcha

VOLGENDE MAAND

Die Gurneys kom huis toe, en ons plaas die slothoofstuk van hulle reisjoernaal. Vorige artikels: Egipte (Deel 1, Weg #178), Soedan (Deel 2, Weg #179), Ethiopië (Deel 3, Weg #180), Kenia (Deel 4, Weg #181), Tanzanië (Deel 5, Weg #182), Rwanda (Deel 6, Weg #183) en Uganda (Deel 7, Weg #184).


Lus vir vakansie?
Gebruik die Afrikaanse soekenjin www.wegreis.co.za om vliegkaartjiepryse vir binne- en buitelandse vlugte te vergelyk. Teken in vir die nuusbrief om koeponkodes te ontvang vir afslag op enige binnelandse- of buitelandse bespreking (geldig tot 31 Maart 2020)!