BUSH ’N BUCK- PRIVATE WILDSPLAAS

Vrede vir almal

Bush ’n Buck is ’n pynlik netjiese kampplek net buite Brits. Die staanplekke van hierdie lieflike stukkie bosveld is op ’n groen grastapyt weerskante van twee reguit paaie uitgelê.

Elke staanplek het ’n eie kraan – van hulle is gemerk vir drinkwater en ander vir tuinwater. Die staanplekke is duidelik genommer langs ’n lig op ’n hoë paal, en word met kniehoog stompe afgebaken. Elkeen het ’n los staalbraai en vullisdrom, en die gras is netjies gesny.

Die bome is nie te groot nie, maar staanplek nr. 11 het ’n ordentlike koelteboom. Hier is vier badkamers reg oor die kampplek versprei – dit maak nie saak waar jy kamp nie, jy is altyd stapafstand van die badkamer. (Hier is nie simbole vir mans en vroue nie; al vier badkamergeboue bestaan uit ’n klompie private gesinsbadkamers – vier van hulle het baddens en die res storte.) Elke badkamer het sy eie donkie wat sorg vir warm water en daar is ook ’n opwasplek langs elkeen.

Die 9 private staanplekke met hulle eie badkamergeriewe is splinternuut en op die verste punt van die kampplek.

Hier is ’n algehele ryverbod in die oord. Jy mag wel met jou kar tot by jou kampplek ry, maar niks verder nie – ook nie om te gaan wild kyk nie. Langs die ontvangsgebou is ’n lang gebou vol gholfkarretjies. As jy wil gaan rondrits, moet jy een van dié karretjies huur. Dit kos R125 per uur vir die tweesitplekmodel en R225 vir een met vier sitplekke – bespreek by die ontvangsgebou.

Hier loop ’n hele klompie wildsbokke op die plaas van 120 ha rond, en jy mag tussen seweuur soggens en seweuur saans wildkyk. Dalk sien jy koedoes, rooihartbeeste en sebras, of dalk blouwildebeeste of rooibokke... en, wie weet, dalk selfs ’n Mosambiekse spoegkobra.

Hier is ook ’n dam met ’n voëlskuiling langsaan waar jy kan kyk of jy een van drie soorte vis – swartbaars, karp en baber – kan uittrek. Geniet dit wanneer jy die vis aan die hoek kry, maar onthou, hy moet weer terug water toe.

Die swembaddens – twee koud en een wat verhit en onder dak is – is seker so 150 treë van die kampplek af. So ook die minigholfbaan en tennisbaan. Hierdie is ’n behoorlike pretpark vir die jong klomp, met enigiets van klouterplek, swaaie en trampoliens tot ’n opelugskaakbord en twee glybane.

Die kiosk is oop van 08:00 tot 17:30 en buiten snoepgoed soos lekkergoed, koeldrank en roomys, kan jy ook wegneemetes bestel vir daardie honger kol vóór vanaand se braai.

Kortliks | Bush 'n Buck

Vis: Swartbaars, karp en baber.

Kampplek: 62 gelyk staanplekke op gras met krag waarvan 9 luukse staanplekke is met hulle eie badkamergeriewe.

Ablusiegeriewe: 17 private badkamers vir die gemeenskaplike staanplekke en 9 badkamergeboue by die private staanplekke.

Prys: Afhangend van die seisoen R450-R530 p.n. per staanplek vir die gewone staanplekke en R490-R600 vir die private staanplekke. Dié tariewe is vir 5 mense – ’n sesde gas betaal R35 p.n. ekstra.

Aankoms- en vertrektyd: 12:00 en 11:00.

Kontak: 082 772 4747; bushnbuck.com; info@bushnbuck.co.za

Naaste dorp: Brits 37 km. Hoe lyk die pad? Teerpad tot by die oord en netjiese grondpad binne die oord.

GPS: S25.374499 E27.587810

Ry & Sleep sê: Die oord is net oop oor naweke en langnaweke en in vakansietye. Jy mag vir ’n spesifieke staanplek vra.


VIS-EN-GROENTESOSATIES

’n Ánder stokvis

Die vis- en groentesmake werk goed saam. Ryg die vis en groente op aparte stokkies, want só kan jy die vis van die rooster afhaal sodra dit gaar maar nog sappig is.

Jy benodig (genoeg vir 8)

VIR DIE SOSATIES

  • 800 g ferm witvisfilette
  • 8 murgpampoentjies
  • 1 rooiui, in dik wiggies gesny

VIR DIE MARINADE

  • 8 eetlepels suurlemoentiemieblare
  • ½ koppie suurlemoensap
  • 4 knoffelhuisies, fyngedruk
  • 4 eetlepels heuning
  • ½ koppie olyfolie
  • ½ teelepel gemaalde swartpeper
  • ½ teelepel sout

Só maak jy

1. Verwyder die vel van die vis en sny die vleis en murgpampoentjies in blokkies van 3-4 cm (kleiner blokkies kan verbrokkel en van die stokkies afval wanneer dit gaar word).

2. Ryg die vis op 8 sosatiestokkies, en die ui- en murgpampoentjiestukke om die beurt op nog 8 stokkies. Pak die sosaties almal in ’n foeliebak (of ’n ander bak wat op die rooster kan gaan).

3. Meng die bestanddele vir die marinade goed saam en giet dit oor die sosaties.

4. Sorg dat jou rooster goed skoon is en verhit dit oor matige kole. Pak die sosaties op die warm rooster en laat staan die foeliebak met die res van die marinade op die kant van die rooster sodat dit louwarm (maar nie kokend nie!) kan word.

5. Braai die vissosaties vir 2 minute aan ’n kant en tel dit uit in die lou foeliebak. Los die bak op die kant van die rooster sodat die vissosaties verder kan gaar word. Moenie dat die bak té warm word en die vis oorgaar en droog braai nie! Die groentesosaties behoort ná 10-15 minute gaar te wees.

Ry & Sleep sê

Hier gebruik ons suurlemoentiemie in die marinade, maar enige ander kruie van jou keuse – soos origanum of basilie – sal lekker wees. Jy sal sien op die foto het ons die vis en groente op sitroengrasstokkies geryg.

Dit sorg vir ’n ekstra sitrusgeur, maar jy kan ook gewone bamboesstokkies gebruik wat in water en suurlemoensap geweek is.


Hengeltoerusting

’n Happie kreef?

Dis nie aldag dat ’n mens die kans kry om met ’n wenner-kunsaas in jou vistrommel te sit nie.

LiveTarget se Hollow Body Craw-kunsaas was in 2018 die wenner-kunsaas vir varswatervis by die Icast-skou in Amerika. (Icast roem hom daarop dat hy die grootste sporthengelskou ter wêreld is.)

Die ontwerp van dié kunsaas is ’n kombinasie van tradisionele baarskunsaas: Daar’s die aas waarmee jy die baars ’n ent onder die water probeer lok, en een wat ’n mens oor die oppervlak inkatrol om die vis se aandag te trek.

Dit is ’n nabootsing van ’n varswaterkreef. Die oog van die hoek sit by die kreef se stert en krul dan om sy lyf waar die weerhaak tussen die knypers sit. Soos jy die aas inkatrol, lyk dit dus of die kreef vlug om van die gevaar weg te kom – net soos ’n regte kreef.

Die knypers is hol, wat beteken wanneer die kunsaas stil op die bodem lê, dryf die knypers boontoe, presies soos ’n kreef wat wys moenie naby my kom nie.

Soos jy inkatrol, trek die knypers nader aan die kreef se lyf – en dis dan wanneer ’n baars dit net nie kan weerstaan nie. Die aas is só ontwerp dat dit nie sommer aan iets onder die water sal vashaak nie. Die Hollow Body Craw is beskikbaar in drie groottes en agt kleure.

Prys: Vanaf R179 elk (spaarknyper ingesluit).

Kontak: Adrenalin Importers & Distributors (invoerders) 021 982 1510; catches@4adrenalin.co.za; adrenalinfishing.co.za