Skets Fred Mouton

Ek het ’n breukdeel van ’n sekonde om te kies: Óf ek val teen ’n rots af óf ek tuimel by die afgrond af. Oomblikke later is dit net bloed waar jy kyk...

Ons Visrivier-avontuur is skaars 20 minute oud en daar staan reeds mense om my met Savlon en pleisters, terwyl ander skarrel om al my bagasie tussen hulle te verdeel. “Is jy reg om aan te gaan?” vra hulle bekommerd. Hardegat, maar met ’n stewige dosis pieperigheid sê ek: “Ja, kom ons doen dit. Ons ís nou hier.”

Laat ek begin met ’n bekentenis. Ek is nie sportief nie, daar is twee of drie rolletjies om my midderif, ek hyg teen opdraandes, ek is nie bekend vir my fantastiese balans nie, en ek sou my voete en enkels op hulle beste as lamsakkig beskryf. Maar ek is mál oor die buitelug én ek het die uithouvermoë van ’n Kevin Anderson in ’n Wimbledon-halfeindstryd.

Toe my vriende ’n jaar of wat gelede vra of ek die Visriviercanyon saam met hulle wil gaan stap, het ek dadelik ja gesê en op die daad verlof ingesit. Daar was nie ’n manier dat dié Bosveldpop Namibië se groot woestynloop sou misloop nie.

Teen die tyd dat ek my by Kaapstad se stapperskringe ingewriemel het, het ek al amper ’n dekade lank gedagdroom oor Die Vis. Terloops, jy gooi dié bynaam eers los en vas rond wanneer jy hom self al aangedurf het. En dan met ontsag.

Jy moet mooi trap, want dis heilige grond. Te oordeel na die foto’s, my steeds beteuterde tone, minstens vier verlore toonnaels en al die stories van val en seerkry sal ’n mens dink Die Vis was een groot fiasko. As jy my nou vra om die hel te beskryf is dit maklik: ’n rotsbedding.

Terloops, jy gooi dié bynaam eers los en vas rond wanneer jy hom self al aangedurf het. En dan met ontsag.

Maar hoe lyk die hemel? Die hemel is die yswater van Die Vis. Dis om op die naat van jou rug te lê in ’n donsslaapsak, op ’n sandbedding, met sterre teen die dak. Ek besef nou jou fiksheid is nie die probleem nie. Jy moet sterk wees, liggaamlik én geestelik. Jou lyf moet stewig staan en jou kop moet jou lyf dra.

As jy droom oor Die Vis, doen dit. Gaan saam met ervare stappers wat jy vertrou en wat weet hoe kaarte en kompasse werk. Ek het baie foute begaan, maar die goeie nuus is jy kan daaruit leer. En ontspan... dis ’n skrikwekkend wonderlike ervaring.

Ek was deel van die groepie wat met ’n 9 vm.-bussie van Ai-Ais af na Hobas vertrek het. Die res van ons groep was al op die sesuurbus; dus kon hulle treetjie vir treetjie versigtig vorder en eers gewoond raak aan die gewig van die rugsakke teen die steilte.

Omdat ons later opgedaag het, was ek op ’n beduidende afdraande senuagtig, haastig en boonop onseker. Met ’n geleende topswaar rugsak en iemand anders se stapstok wat nie heeltemal gemaklik in my hand wou raak nie. Dit was onafwendbaar dat ek sou val.

Ek moet bieg, hierdie majestueuse canyon sou minder vreesaanjaend gelyk het as ek meer geoefen het. In my kop het ek ’n woeste oefenregime beplan, maar aan die einde van Desember het ’n noodblindedermoperasie al my lugkastele in die hek laat duik. Ek het seker drie of vier keer maklike stappies teen die hange van Tafelberg aangedurf, en dít boonop net een keer met ’n rugsak vol 5 l-waterbottels wat ek vir Dag Zero opgegaar het.

“Om te hike is eintlik maar ’n kombinasie van lunges en squats,” vertel een mede-Vistrapper nonchalant terwyl sy vir my wag om my tussen twee klippe op te trek. En sy is reg: Hier oefen jy jou bene en boude ordentlik. Hierdie ledemate weet nie wat hulle tref nie.

Dit sou seker ’n ander saak gewees het as ek effens meer voorbereid was. En jy het nie ’n berg nodig om voor te berei nie. Jy kan jou ewe goed gereed kry deur op die strand te stap en oor rotse te klouter. Of los die hysbak by die werk en klim eerder daardie sewe stelle trappe. Of doen net ontsettend baie squats en lunges as jy nie rotse of trappe naby jou het nie.

Soos wat die landskap verander – van sagte sand na klippe na rivier na harde sand na rotste en heuwels en terug na sagte sand – vertel ek myself deurgaans hoe plat dit gaan wees wanneer ons die einde van dié afdraande bereik. Die afdraandes is inderdaad die grusaamste dele van die tog, maar dinge sou aansienlik makliker gegaan het as ek my sak nie verkeerd gepak het nie.

As ek byvoorbeeld my slaapsak en matras bo gepak het en nié my kos nie, het ek in alle waarskynlikheid nie binne die eerste 20 minute omgetiep en my kop teen ’n rots oopgeval nie.

Hoe ligter jou sak, hoe beter. Pak wat jy dink jy gaan wil eet en verminder veral die kougoed vir tussenin met minstens die helfte, want dis warm en jou eetlus is nie waffers nie.

Jou skoene moet soos die bababeertjie se pap wees – net reg. Myne was te oud, en teen dag 3 was my voete vol blase geskaaf.

Probeer om ontbyt met min moeite te maak – want as jy vroeg uit die vere kom, skakel jy die hitte van die dag tot ’n groot mate uit. Dis ’n gesukkel om ’n groot groep opgepak te kry, veral as ’n mens nog ontbyt moet maak en potte skrop in die rivier. Hou die groot eet en koffie dalk vir die eerste teetyd wanneer jy klaar afstand gewen het.

Daar is niks soos ’n 15 kg-rugsak en ’n skadulose woestyn om jou nederig te hou nie. Ek het heeltemal te veel kos en heeltemal te min sonroom saamgebring. Gelukkig het mense my jammer gekry en hulle sonroom met my gedeel.

Moet egter nie dat ek jou só bangpraat dat jy – soos ek – net die broek aan jou lyf inpak nie. Vat darem twéé broeke. Ek het nog nooit geskrik vir vuil wees nie, maar ek het onderskat hoe broekskeur dinge gaan as jy op jou bas oor rotse rondseil. My kort seilbroekie het binne twee dae agter op die naat geskeur en almal was welbekend met my fleurige onderklere.

Pak genoeg ordentlike pleisters – soos dié wat landlopers gebruik – en antiseptiese en inflammatoriese salf en pille. Ek moes in ’n stadium my voete met ducktape takel, want ek het sulke verpiepte pleistertjies gehad wat skaars my moed bymekaar kon hou, wat nog te sê my tone op ’n terrein waar jy elke halfuur ’n rivier moet oorsteek.

Jou skoene moet soos die bababeertjie se pap wees – net reg. Myne was te oud, en teen dag 3 was my voete vol blase geskaaf en ek moes met my rivierplakkies loop. Genadiglik het ’n stapmaat ’n ekstra paar skoene gehad waarmee ek die tog kon voltooi sonder verdere skade.

’n Mens raak stelselmatig gewoond aan waar al jou besittings moet wees én aan die klippe onder jou voete. Water, waterreinigingsdruppels, kougoed en jou handdoek moet byderhand wees, anders gaan jy soos ek in jou onderklere sit en jou voete met jou hemp droogmaak. Want nat voete sorg vir bloed, angs en pyn.

En weet dán die mense wat saam met jou stap, leer jou ken soos jy jouself skaars ken. Die Vis vlek jou oop soos ’n goeie detoks.

Is ’n mens ooit gereed vir Die Vis? Ek is nóú, ja. En natuurlik sal ek dit weer doen. In ’n oogwink