Ons was so opgewonde soos vyf skoolmeisies toe die vliegtuig op 14 Desember verlede jaar by Uganda se Entebbe- internasionale lughawe land.

Dié opwinding word egter effens gedemp deur die lughawe se Wi-Fi wat nie werk nie en ons hotel se bussie wat nêrens te sien is nie... Uiteindelik by die hotel hoor ons ons moet laat weet wanneer ons wil stort, want die geiser moet ’n uur voor die tyd aangeskakel word.

Almal was egter vriendelik en die volgende oggend smul ons aan vars vrugte, effe soet brood en lekker plaaslike tee. (Laasgenoemde word gou ’n gunsteling – en ons familielede sou dié Kersfees almal ’n boksie Ugandese tee onder die boom kry!)

Ons besluit om openbare vervoer te vermy (die busdiens se webwerf is in 2009 laas bygewerk en ons wou nie die kans waag met ’n bus wat dalk nie op tyd vertrek nie). Ons bespreek private vervoer na ons bestemming, die Rwenzoriberg in die weste van die land.

Die 409 km van Entebbe na die dorpie Kilembe duur tien uur. Die tien uur is só vol stampe dat ons slimhorlosies elkeen 10 000 “treë” opneem (jammer, Discovery Vitality.)

Sonia Kotzé
Die pad tussen Entebbe en Kilembe loop deur woelige dorpies waar boda-bodas die algemeenste voertuig is. Foto: Sonia Kotzé

Ons ry deur woelige dorpies waar jy langs die pad enigiets van ’n bed en ’n (lewendige) hoender tot koffiebone, loodgieter-toebehore of ’n horlosie kan koop. Oral vleg boda-bodas (motorfietstaxi’s) deur die verkeer, soms met tot vyf passasiers agterop!

Op Fort Portal, die laaste groot dorp voor die berg, sit ons aan vir middagete by die Gardens Restaurant. Ons betaal elk R80 (20 000 Uganda-sjielings) vir elkeen: Borde vol chapati-platbrood, piesangblaar-pikantesous, “fried Irish” (aartappel), kassawe (dit lyk soos patat, maar is nie soet nie), meelpiesang (’n smaaklose piesang wat fyngemaak en amper soos kapokaartappels geëet word) en ’n verskeidenheid vleiserige bredies. Als kort ’n bietjie sout, maar ons skep meer as een keer!

Ná middagete neem grondpaaie ons geleidelik al hoe dieper die voetheuwels van die Rwenzoriberg in, en tot by die beginpunt van ’n onvergeetlike staproete tot by Weismann se Piek, 4 620 m bo seevlak.

Ons slaap by die Rwenzori Backpackers op Kilembe en op die agenda is ’n kort inligtingsessie oor wat vir ons voorlê, waterstewels aanpas, ons laaste warm stort vir ’n wyle, en hopelik ’n laaste goeie nagrus.

Die volgende oggend vertrek ons effens later as beplan, want daar’s nog ’n laaste gesukkel om reënsambrele, ’n geskenk van die toeroperateurs, en middagetepakkies in ons dagsakke te prop.

Maar nou ja, begin álle staptogte nie maar ’n bietjie holderstebolder nie?

Ons stapgroep bestaan uit 20 mense: Ons is 5, dan 3 gidse, 5 rugsakportiere en nog 7 portiere wat ekstra kos en gereedskap dra. Dis omtrent ’n parade toe ons in Kilembe se hoofstraatjie afstap. Die gidse en portiere koop vir oulaas versnaperinge by winkels, asook lugtyd vir selfone, groet hulle geliefdes en vertaal vir ons grappies en groetwoorde van omstanders wanneer ons “verward” lyk. Dan stap ons die nasionale park binne.

Bugata
Die Bugata Camp bied ’n vredige uitsig oor ’n ysige meer. Foto: Sonia Kotzé

Eensklaps vou ’n groen tonnel om ons toe. Die humiditeit is hoog – jy voel dit in jou longe wanneer jy inasem, en op jou vel. Die eerste druppels val binne ’n paar honderd meter – ons stap immers in ’n reënwoud!

Ons stop gou om waterwerende klere aan te trek en is dankbaar vir die sambrele. Al plonsend stap ons verder tot by ’n lieflike – dog klam – middageteplekkie wat uitkyk oor die valleie waardeur ons die oggend gestap het. Ná middagete klim ons ’n steilte uit, en word beloon met ’n mooi waterval. Dis net enkele meter van ons oornaghut, Sine Camp (2 596 m), af, waar ’n pot warm Ugandese tee wag.

Later verorber ons borde met bredie en groente en rys, en skerts saam met ons gidse, Rasto, Hunnington en Joy.

Ná ’n warm ontbyt van tee en hawermoutpap begin dag twee se stap. Ons mikpunt: Mutinda Camp (3 688 m). Skielik val die reënwoud weg en ons stap deur ’n bamboeswoud, en dan deur ’n spookagtige landskap waar enorme heidebome (Erica arborea) met oumansbaard aan hulle takke die mis in strek.

Dis tyd om waterstewels aan te trek. Ons is nou al hoër as 3 000 m seespieël en stap oor verskeie strome en verby watervalle waaronder mosbedekte rotse lê tot by die oornaghut. Van die portiere stap vooruit. Warm tee en sop staan gereed wanneer ons daar aankom, gevolg deur – weer eens – stéwige borde kos. Ons en die gidse sing vir mekaar liedjies (en ons onderskeie volksliedere). Teen slaaptyd verras hulle ons met warmwaterbottels – dis ons eerste koue nag.

Op dag drie kry ons weer tee, hawermoutpap en eiers voordat ons kennis maak met ons nuwe vriend, oftewel vyand: modder! Om in die modder vas te sit is dalk pret wanneer jy ’n kind is, maar minder lekker wanneer jy teen ’n berg moet uitswoeg in lug wat met elke tree ál dunner word. Ons lyk soos ’n troppie baba-olifante wat nog leer hoe om te loop terwyl ons oor die moerasagtige terrein aanstrompel. By ’n ravyn naby ons oornaghut rus ons eers – en rol ons oë vir mekaar se lompheid. Die portiere is natuurlik gewoond hieraan en laat die “modderdans” lyk soos Mariinsky-ballerinas in ’n uitvoering van Swanemeer.

Hierna stap ons deur ’n grasvlakte en sien die eerste keer Bugata Camp (4 062 m) – maar voor ons daar kom, reën ons vir oulaas nat. Die laaste strooi ná ’n reeds uitdagende dag!

Bugata is die hoogste kamp op die roete na Weismann se Piek en die enigste kamp wat nie houthutte het nie.
Die stapgroep: Van links is Geneke du Plessis, Sonia Kotzé, Sunel Botha, Leana Spies en Marli du Plessis.

Dis maar stillerig toe ons later aan dik toebroodjies kou by die kamp, maar ons geniet tog die mooi sonsondergang oor ’n meer naby die staphut. In die verte sien ons Weismann se Piek. Die opwinding – én senuwees – is nou tasbaar...

Vandag takel ons die piek. Die majestueuse silhoeëtte van die pieke van die Rwenzori’s – ook bekend as Mountains of the Moon – troon in die vroegoggendlig rondom ons uit.

Die storie loop dat in antieke tye ’n Griekse handelaar aangevoer het hy die bron van die Nylrivier opgespoor het, glo hoog in sneeubedekte berge in Oos-Afrika. Dié legendariese bergreeks is “Mountains of the Moon” gedoop. Kenners meen die Rwenzori’s was waarskynlik die oorsprong van die legende.

Vandag vertel die Ugandese ’n ander storie. Die naam het eerder te make met die natuurlike skoonheid van die berg wat op sy beste vertoon op wolklose nagte wanneer die berge gebaai staan in die lig van die maan. Dit klink vir my na die beste verduideliking.

Ons begin klim deur ’n ravyn terwyl die son op ons skyn. Hier groei volop reuse-lobelias. Dié plant kom net voor in die berge in Oos-Afrika. Ons stap, rus, en drink water – dít word die dag se mantra, want só hoog bo seespieël is elke tree wat jy gee inspanning.

Ons stap oor ’n rotsagtige deel. Wes van ons – in die rigting van die Demokratiese Republiek van die Kongo – sien ons Margherita-piek op Berg Stanley, die hoogste punt van die Rwenzori’s teen 5 109 m.

Stap, rus, drink water. Elke slag stap ons ’n bietjie stadiger en rus ’n bietjie langer... Die gidse hou vol dat ons “amper daar” is.

Vir die laaste treë tot by die baken op Weismann se Piek voel dit asof ons in stadige aksie beweeg. Bo gekom is ons klompie skoon emosioneel – ons het dit gemaak! Die wind gaan lê 45 minute lank én die mis trek oop sodat ons die uitsig kan geniet. Dis minder romanties op pad terug deur die modder tot by die Kiharo Camp. Ons kom eers ná sonsondergang daar aan – vir die eerste keer verdeel ons groepie in twee, met ’n paar mense wat effens stadiger stap. Maar uiteindelik kan niks ons geesdrif demp nie – Weismann se Piek is die hoogste berg wat enigeen van ons nog geklim het!

Weismann
Dis tyd vir seëvier op Weismann se Piek! Margheritapiek op Berg Stanley is na links. Foto: Leana Spies

Dis ons laaste dag op die berg, en ons beweeg op ’n drafstap bergaf. Nou is daar tyd vir grappies maak in die modder en langer talm om al die ongewone plante te bewonder. Ná middagete langs ’n stroom volg ’n afdraande wat die knieë en tone kou, maar hoe nader ons aan die vooruitsig van ’n warm stort en ’n koue Lion-bier kom, hoe makliker is die stap.

By die eindpunt ontvang ons ons sertifikate en poseer met sweterige lywe vir foto’s – en groet ons wonderlike ondersteuningspan van Rwenzori Trekking Services.

Die volgende oggend ry ons om 4.30 vm. en kom betyds in Entebbe aan om die sagte ligspel van die ekwatoriale sonsondergang oor die Victoriameer te geniet – met ’n glasie Uganda Waragi, ’n plaaslike jenewer, in die hand! Tjeers!

Met bydraes deur Sonia Kotzé, Leana Spies, Marli du Plessis en Geneke du Plessis.

Hoe kom ek daar?

’n Retoervlug van Johannesburg na Entebbe kos sowat R7 000. Ons het ’n private rit bespreek deur Rwenzori Trekking Services van Entebbe na die dorpie Kilembe, waar die staptog begin.

Dit het sowat R1 000 p.p. gekos.

Vertel ons van jou avontuur!

Was jy op ’n vakansie wat jy dink ander Weg-lesers ook sal geniet?

Skryf oor die ervaring en ons publiseer dalk jou storie. Hou dit asseblief kort (maksimum 1 500 woorde) en stuur ’n paar voorbeeldfoto’s. As ons wel besluit om die storie te gebruik, gaan ons oorspronklike hoëresolusiefoto’s nodig hê; maak dus seker jou kamera is op die regte verstelling. Stuur jou storie na redakteur@weg.co.za.

Ons behou die reg voor om jou foto’s elders in die tydskrif, op ons webblad of in bemarkingsmateriaal te gebruik. Lees die bepalings en voorwaardes by weg.co.za