Nadat ons by Die Punt-woonwapark op Mosselbaai gekamp het, het ons wes gery en halfpad tussen Mosselbaai en Albertinia opgeëindig. By dié munisipale kampterrein is jy sowat 500 m van die see en die getypoele af.

Hoe lyk dit by die kampterrein?

Hier is 130 afgebakende staanplekke en jy slaan jou kamp op groen gras op. Elke staanplek het sy eie vullisdrom wat drie keer per week skoongemaak word, en jy kry ’n kragpunt waarvoor jy jou blou sok moet saambring. Jy kry ook jou baksteenbraaiplek, maar jy moet jou eie rooster saambring. Die naaste kraan is nie verder as 15 m weg nie; dus is dit maklik om koffiewater te tap.

Hier is heelwat bome in die kampterrein wat vir wisselende vlakke van koelte sorg, maar van die boompies is onlangs eers geplant en dit gaan nog ’n rukkie wees voor hulle genoeg skaduwee gooi.

Hier is heelwat geveerdes wat jy met jou verkyker kan bespied en dis ook nie ’n ongewone gesig om tarentale tussen die tente te sien nie.

Heelwat te doen. Die omgewing is gewild onder hengelaars, maar hier is ook ’n klompie staproetes wat jy kan aandurf.

Was julle tevrede met die ablusiegeriewe?

Die groot ablusieblok word elke dag van die week skoongemaak en is netjies en oor die algemeen in ’n heel aanvaarbare toestand. Vir die mans is hier ses wasbakke met handseephouers, papierhanddoeke en lugdroërs. Die badkamers het nie proppe nie, en hier is vyf storte met hake vir jou klere. Twee van die storte het glasdeure. Jy moet ook jou eie witgoud saambring.

Vat ’n prop wanneer jy gaan skottelgoed was, want die wasbakke het nie proppe nie. Hier is ook ’n waskamer.

Waarmee hou ’n mens jou besig?

Dis ’n gewilde visvangplek en ’n mens sien heelwat hengelaars wat kom lyn ingooi. Hier is ’n jukskeibaan langs die woonwapark – iets wat ’n mens nie aldag sien nie.

Vir stappers is hier vier roetes in die omgewing wat wissel van 1,6 km tot 8 km. Dit word regdeur die jaar onderhou en is relatief veilig danksy die gebied se lae misdaadsyfer.

Die dorp se biblioteek is ’n lekker bederf vir boekwurms en dis sommer stapafstand van die kampterrein af. Hier is ook ’n restaurant en drankwinkel by die ingang na die woonwapark as jy lus voel vir iets te drinke of wil aansit vir ’n bord kos wat iemand anders ’n slag gaargemaak het.

KONTAK

082 713 7855; gourits@hessequa.gov.za enkampe@hessequa.gov.za

GPS S34.351697 E21.878292