Foto's: Patrick en Marie Gurney

Ons het gerugte gehoor dat die grens tussen Egipte en Soedan gesluit is weens betogings in Khartoem, maar ons het in elk geval van Abu Simbel in Egipte af vertrek in die hoop dat alles mooi sal uitwerk. In Abu Simbel het ons ’n tussenganger gewerf om ons te help om deur die doeane te kom.

’n Veerboot het ons van Egipte af oor die Aswandam na Soedan vervoer. Dit het twee uur geneem, maar dit was lekker om op die water te wees en terug te kyk oor die woestyn. Aan die ander kant het ons aan land gegaan en met ons Toyota Hilux-dubbelkajuit 35 km woestyn-in gery totdat ons ’n grenspos in die middel van nêrens opgespoor het.

Alles het sonder haakplek verloop. Die doeanebeamptes het gesoek na alkohol (Soedan is ’n Moslemland), maar ons het stelselmatig reeds al ons mini-bottels weggeslaan. Die beamptes was meer bekommerd oor die 1200 Soedannese beeste in 60 lorries wat op pad was na Egipte! Ons is sonder voorval deur albei punte en binne ses uur was ons in Soedan.

Die wilde noorde

 Aswandam
Veerboot oor Aswandam

Ons eerste stop was ’n grensdorpie genaamd Wadi Halfa, die tuiste van ’n groot versameling ouer reeks III Land Rovers. Eerste moes ons plaaslike SIM-kaarte kry, middagete geniet en ons visums by die plaaslike polisie registreer.

Die nasionale gereg is foul (’n boontjiegereg), wat heerlik was die eerste keer dat ons dit geëet het, maar later effe vervelig begin word het. Kruideniersware in Soedan is nie goedkoop nie, maar jy kan op uie, tamaties, komkommers en soet groenspanspek oorleef. Geblikte items soos tuna is aan die duur kant; ’n klein blikkie tuna kos ongeveer R40.

Ons wou ’n kampplek vind aan die oewer van die Nubiëmeer (dis wat die Aswandam in Soedan genoem word). Ons het diep in die sand vasgesit, maar toevallig ook die Hilux – en die daktent – waterpas geposisioneer en sommer daar gekamp vir die dag. Eetgoed is uitgehaal en die bakkieprobleme is vir die volgende dag gelaat.

Google Maps het ons mooi op ons reis gestuur, maar in Soedan werk dié app nie en ons het Maps.me met groot sukses gebruik. Dit kan ook aflyn gebruik word; dus kan jy dit sonder sein gebruik as jy reeds die landkaart afgelaai het.

Wadi Halfa
Ou Landies in Wadi Halfa

Net soos in Egipte is die Soedannese grootliks afhanklik van die Nylrivier vir ’n bestaan. Dan is daar die onwettige goudsoekery: In die Noordelike Staat van Soedan is dié soort mynaktiwiteit algemeen en mense is bereid om in haglike omstandighede te bly om goud te ontgin. In ’n stadium was ons diesel byna gedaan en ons het ten duurste vir brandstof betaal by ’n semi-permanente mynkamp. Ons het natuurlik nie veel van ’n keuse gehad nie.

Daar is geen tradisionele kampplekke vir toeriste in Soedan nie; dus het ons gekamp net waar ons kon, sommer in die veld of langs die rivier. Ons verkies gelukkig dié manier van kamp. Mense het na ons kom kyk, maar die Soedannese is eerbiedig en hou hulle afstand.

In Mei vanjaar het die kwik die meeste dae by 45 °C gaan draai en ons moes ons dag daarby aanpas, soos om byvoorbeeld voor tien in die oggend aktiwiteite soos om te gaan stap af te handel. Daarna moes ons maar rus tot 5.30 nm. Selfs die wind wat normaalweg lafenis bring, was warm! Dit het gevoel soos wanneer jy die oond se deur oopmaak...

In Mei vanjaar het die kwik die meeste dae by 45 °C gaan draai en ons moes ons dag daarby aanpas

KAMPPLEK LANGS DIE NYLRIVIER

Dit was moeilik om gebottelde water te kry, maar die Soedannese is slim: Elke paar kilometer langs die hoofteerpad is by stowwerige dorpe groot erdewarepotte met natuurlik verkoelde water onder bome of by afdakke te kry. Dié plan maak water beskikbaar vir die gemeenskap en die reisigers soos ons.

Ons het dikwels ons watertenk volgemaak, en ’n paar suiweringsdruppels bygegooi vir die wis en die onwis.

Die Koninkryk van Kush

SAÏ-EILAND
Saï-eiland

Ná ’n nag in Wadi Halfa mik ons 20 km suid na die dorpie Farka, aan die oostelike oewer van die Nylrivier. Die eenvoud van die Nubiese argitektuur wat ons langs die pad gesien het, is treffend. Dis songedroogde strukture wat gepleister is met modder en strooi. Dié huise hou die inwoners koel in die versengende hitte van dié streek.

Ons het ’n mooi staanplekkie in die omtrek gekry, kamp opgeslaan en drie nagte hier deurgebring. Uit ons hangmatte het ons die wild dopgehou: Daar was meestal voëls, maar ook krokodille (ons het nie een in Egipte gesien nie), en selfs ’n slang.

Ek het by ’n dorpsmark ’n swaard met ’n Nubiese lem verpak in ’n leerskede gekoop vir ons kantoormuur by die huis in Johannesburg. Ons het by verskillende gesinne in Farka geëet en gedrink en ook ’n vinnige kursus gedoen in Nubiese broodbak en koffiebone rooster.

Ná die kort blaaskans is ons suid na die dorp Abri waar ons die Hilux weer op ’n veerboot gelaai en oor die Nyl gevaar het om ’n nag op die Saï-eiland deur te bring. Dis die tuiste van duisende graftombes en ’n groot vestingstad wat tussen 1500-1000 v.C. deur Egiptenare gebou is (in daardie tyd was Egipte en Soedan onder die bewind van dieselfde Farao).

NUBIESE ARGITEKTUUR

Die volgende oggend is ons weer terug na die oostekant van die Nyl en ry toe ’n paar kilometer verder suid na die Tempel van Soleb. Dié sandsteentempel is gebou gedurende die heerskappy van koning Amenhotep III, tóé heerser van Nubië. Soleb is aan die westelike oewer van die Nylrivier, en eers ná ’n effense gekibbel het ’n local ons oor die rivier geneem. Ons moes eers ’n lang staptog deur veld en plantasies aflê voordat ons die tempel gevind het.

Nog 120 km verder het ons aangekom by die dorpie Kerma en die koninkryk van Kush verken. Dit was ’n belangrike handelsentrum gedurende Egipte se Middelkoninkryk.

Mense bly al glo 9 000 jaar hier, en die twee tempels wat met modderstene gebou is, is indrukwekkend. Dit staan bekend as deffufa en is van die oudste en grootste moddersteengeboue in Afrika. Ons het ook die Swart Farao-standbeelde in die museum by Kerma gesien. Farao’s van Nubiese oorsprong is só genoem.

TEMPEL VAN SOLEB

Piramides en ’n versteende woud

Daar is meer as 200 antieke Nubiese piramides in Soedan se Oostelike Woestyn. Hulle is kleiner as hulle Egiptiese neefs met smaller basisse en steiler kante. Ons het oorgebly in die dorpie Karima (ongeveer 240 km suidoos van Kerma). Dis langs Berg Jebek Barkal waar ons vyf piramides gesien het. Die Tempel van Mut is op dieselfde perseel, en ons het die graftombes besoek vir ’n geringe bedrag. In die algemeen is toegangstariewe in Soedan goedkoper as in Egipte.

’n Paar kilometer suid van Karima het ons GPS ’n versteende woud aangedui. Daar was geen aanwysingsbordjie nie; net ’n dowwe sandspoor. Ons het dit sowat 10 km woestyn-in gevolg.

Meroë
Meroë

Stadigaan het die versteende houtstamme uit die woestynvloer verrys! Marie het net daar gemediteer (sy het op verskeie spesiale plekke op ons roete gemediteer).

Die El-Kurru- Nubiese koninklike begraafplaas was ons volgende stilhouplek. Hier is ’n versameling interessante graftombes wat jy kan besoek – dis nou as jy die ou met die sleutels kan opspoor. Marie was glad nie beïndruk om vir ’n uur in ’n klein stukkie skaduwee te wag totdat ek die man in ’n nabygeleë dorpie opgespoor het nie.

Uiteindelik was dit tyd vir Meroë – Soedan se bekendste geskiedkundige terrein. Ons het ’n paadjie gevolg na wat soos ’n toegangskantoor gelyk het. Daar was een man op ’n kameel en ’n vrou wat kaartjies verkoop. En geen ander toeriste nie!

El-Kurru
El-Kurru- Nubiese koninklike begraafplaas
Binne-in ’n graftombe by El-Kurru
Meroë
Kamp naby Meroë

Dit was al laat in die dag en ons het besluit om die terrein eerder vroeg die volgende oggend te besoek. Ons het solank die toegangsgeld betaal en kamp opgeslaan een duin van die piramides af. Die volgende dag het ons tussen die meer as 30 skouspelagtige piramides deurgebring. Sommige is al gedeeltelik gerestoureer, maar ander is besig om in die woestyn te verdwyn.

Meroë
Verwelkomingskomitee, Meroë

Tyd vir Khartoem

Khartoem is die hoofstad van Soedan en lê by die samevloeiing van die Blou en Wit Nyl. Dus is dit eintlik twee stede: Die deel wes van die Nyl staan bekend as Omdurman, met die stad Khartoem wat tussen die twee riviere lê.

In Khartoem het dit selfs warmer as in die res van Soedan gevoel. Ons doen altyd ons tuiswerk met die weer en het vooraf ’n Airbnb-woonstel met lugreëling bespreek. Dit was aan die Khartoem-kant van die Nylrivier en ons het hier vier dae lank van die ergste hitte ontsnap.

KHARTOEM

Polities was dinge ook warm. Oral was lede van die weermag en betogers, maar die atmosfeer was opgewonde en vreedsaam. (Patrick en Marie is uit Soedan net voordat die weermag die protes-betogers gewelddadig vasgevat het. – Red.)

Khartoem se verkeer laat Kaïro s’n soos ’n skoolvoetoorgang lyk. Hier is net ’n paar brûe oor die vele riviere wat oral tot verkeersknope lei. Ons wou baie graag die grootste kameelmark in Afrika sien; dis in Omdurman. Blykbaar word kamele hier by die honderde gekoop en verkoop, maar helaas, ons het naby die mark in ’n opeenhoping gesit en het nooit daar uitgekom nie. Ons het 2½ uur gery aan 1½ km!

BUITE KHARTOEM

Later die middag het ons terug in Omdurman die Sufi-plegtigheid bygewoon wat elke Vrydag teen skemer by die Hamid El-Nil-moskee gehou word. Die meeste van die Sufi’s dra kleurryke lappiesklede en dans met die seremonie begeesterd op die maat van tromme todat hulle in ’n beswyming gaan.

Dit was die begin van Ramadaan en ’n plaaslike gesin het ons genooi vir “eerste ontbyt” – dit word om 6.30 vm. geniet om die eerste dag van vas te vier. Ons het ’n heerlike tradisionele sop geëet en karkade gedrink, ’n drankie wat van hibiskusblomme gemaak word.

Ons het ook die samevloeiing van die Wit en Blou Nyl besoek, waar ons in koffiewinkels baie lekker Soedannese koejawelsap gedrink het. Daarna het ons proviand gekoop en die stof en vuilheid van 2000 km tussen Aswan en Khartoem van die Hilux laat afwas.

Ozone-koffiewinkel, Khartoem
Ozone-koffiewinkel, Khartoem

In die algemeen was Soedan ’n lekker plek om deur te reis. Ons het nie die kwynende oorlogsone wat die media uitbeeld, ervaar nie, en boonop het ons gawe mense langs die pad ontmoet. Jy kan letterlik net in die rigting van iemand kyk wat eet en hulle nooi jou om saam aan te sit!

Maar dit was tyd om uit die hitte te kom en uit te span in die koel hoogland van Ethiopië. Naby die grens wou ons die Dinder- nasionale park besoek, maar ons kon nie die ingang kry nie!

Sowat 20 km van die grens met Ethiopië af het ons kamp opgeslaan by Matema. Toe ons daai aand in ons hangmatte lê, het ’n sandstorm ons kom groet op die laaste aand in Soedan.

WAT ONS GELEER HET

VEERBOOT OOR DIE ASWANDAM

  • Soedan is baie, baie warm. Ons het altyd veilig gevoel en almal was vriendelik.
  • Kamp langs die Nylrivier – verder weg is sandvlieë ’n probleem.
  • Jou kredietkaart gaan nie werk nie; neem kontant. Verkieslik Amerikaanse dollar.
  • Dra fatsoenlike klere.

WAARVAN ONS GEHOU HET

KAMP LANGS DIE NYLRIVIER

  • Mense het geglimlag óral waar ons was.
  • Ons is heeltyd na mense se huise genooi.
  • Die Soedannese kultuur is eerbiedig.
  • Varsgebakte pitabrood en soet spanspek is op byna elke dorpie beskikbaar.


Lees Deel 1 oor Patrick en Marie se reis deur Egipte. 

Kyk in volgende maand se Weg vir DEEL 3: Patrick en Marie verken Ethiopië!

Ontmoet vir Patrick en Marie Gurney

Die Gurneys het op 3 Junie 2018 uit Marie se geboortedorp, Valence, Frankryk, weggetrek met die doel om binne 18 maande tot by hulle huis in Johannesburg te ry. Teen die tyd dat hulle Soedan bereik het, was hulle reeds 11 maande op pad. Hulle het deur Frankryk, Switserland, Italië, Kroasië, Slovenië, Hongarye, Roemenië, Bulgarye, Turkye, Israel, Palestina, Jordanië en Egipte gereis. 

Hulle het dié reis onderneem om hul denke oor kultuur te vernuwe, en om inspirasie te put uit die mensdom sodat hulle beter besluite kan neem, in hulle eie lewe en beroep. 

* Marie is ’n volhoubaarheidskonsultant wat in biodiversiteitsbeheer spesialiseer en Patrick is ’n bemarker.

NOG INLIGTING:

Stuur e-pos na info@skultcha.com as jy vrae het oor die Gurneys se reis, of gaan na skultcha.com Soek hulle op Facebook deur “skultcha” in te tik, en @skulcha op Instagram.