Mahindra is gevul met hernude vertroue in sy Pik Up nadat die betroubaarheid van ’n nuwe outomatiese ratkas ’n jaar lank by die Gerotek-toetssentrum buite Pretoria op die proef gestel is.

“Suid-Afrika is die eerste land ter wêreld wat die nuwe outomatiese ratkas kry omdat dit hier getoets is. Die aanvraag na dié ratkas was enorm en ons glo ons het die antwoord met die S11 en S11 Karoo,” sê Rajesh Gupta, uitvoerende hoof van Mahindra Suid-Afrika.

Die ratkas is nie deur Mahindra self ontwikkel nie, maar word verskaf deur Aisin Seiki (voorheen Aisin-Warner), wat ratkaste lewer aan vervaardigers soos Toyota en Suzuki.

“Ons marknavorsing het getoon Suid-Afrikaners verkies ’n outomatiese ratkas in hulle dubbelkajuitbakkie, en daarom gebruik ons dit nou in ons luukse bakkies.”

Hoe ry hy?

As jy normaal versnel, wissel die outomatiese ratkas seepglad – soms kan jy amper glad nie agterkom hy het die volgende rat gevat nie. Maar as jy voet in die hoek sit, is die wisselings opvallender.

Mahindra se 2.2-mHawk-turbodiesel bly onveranderd, maar hy pas goed by die nuwe ratkas. Ons kan beswaarlik aan ’n rede dink waarom enigiemand ’n handrat bo dié outomatiese ratkas sou kies, buiten die prysverskil van R47 500, natuurlik. Die Pik Up voel egter steeds soos ’n bakkie en probeer nie die ritgehalte van ’n sedanmotor ewenaar soos in die geval van Volkswagen se Amarok nie.

Die bakwerk wieg liggies deur die draaie en die stywe vering steek nie té veel van ’n padoppervlak se gebreke vir jou weg nie – soos dit hoort met ’n bakkie.

By die bekendstelling in Gauteng is ons die geleentheid gegee om matige 4x4-hindernisse aan te durf, maar niks wat ’n gewone bakkie met tweewielaandrywing nie óók sou kon baasraak nie.

Ons het dit soms doelbewus vir onsself moeiliker gemaak deur ’n verkeerde lyn deur ’n hindernis te neem – in tweewielaandrywing – en dan kon ons voel hoe die meganiese ewenaarslot inskop. Die ewenaarslot is Mahindra se eie onderdeel, maar dis ontwikkel in samewerking met Eaton, ’n Amerikaanse maatskappy wat sedert 1911 asse en ewenaarslotte bou.

Hoe lyk hy?

Die eerste Pik Up Karoo (tóé met handratte) is in 2018 al bekend gestel, ter viering van die opening van Mahindra se aanleg in Durban. Die naam is juis gekies om Mahindra se toewyding tot Suid-Afrika te weerspieël. Die Karoo-weergawe het al die weeldes van die gewone S11 Pik Up, maar hy het ook ’n sluitbare laaibakdeksel wat oop- en toerol, en die laaibak is met ’n duursame rubberlaag bedek. Ook die allooiwielvellings met spoggerige silwer en swart speke is uniek aan die Karoo.

Die sierrooster, voorste buffer en hoofligte is vernuwe, terwyl die rol- en stampstaaf metaalplate het met die naam Karoo daarop ingeëts. Daar is selfs plakkers op die deure wat die silhoeët van ’n Karoolandskap uitbeeld – kompleet met koppies en soetdoring! Binnelangs kry die S11 Karoo ’n 7”-raakskerm met ’n multimediaspeler, satellietnavigasie, Bluetooth-koppeling en die beeld van die trukamera in die laaibak se klap. Die lugreëling is opgeknap met ’n termometer wat die binnetemperatuur handhaaf nes jy dit wil hê – ’n verbetering op die vorige weergawe wat jy met die hand moes stel.

Op die stuurwiel is daar nou knoppies vir die mediaspeler, jou foon en die kruisspoedbeheer. Wat veiligheid betref, is Mahindra egter steeds ’n Derdewêreldse produk, want sy bakkies het slegs twee lugsakke (teenoor byvoorbeeld die Ford Ranger se vyf) en geringe elektroniese veiligheidshulpmiddels. Waar die Ranger, Toyota Hilux en Isuzu D-Max met kenmerke soos vastrapbeheer spog, het die Pik Up slegs doodgewone sluitweerremme en remkragverdeling – vandaar die driestergradering deur die Australiese NCAP-botstoets.

Die outomatiese Pik Up lyk nietemin na uitstekende waarde vir geld, en ondanks ons kort kuiertjie met hom sal ons jou beslis nie afraai om een te koop nie.

SPESIFIKASIES

Model getoets: Mahindra Pik Up S11 4x4 Karoo (outo)

Enjin: 2 179 cc, viersilinder-turbodiesel

Krag: 103 kW @ 3 750 r.p.m.

Wringkrag: 320 Nm @ 1 500 r.p.m.

Ratkas: 6 spoed-outomaties

Tenk: 80 l

Brandstofverbruik: 7,9 l/100 km

Vraggewig: 995 kg

Sleepgewig: 2 500 kg

Nader- en vertrekhoek: 34° en 15°

Grondvryhoogte: 210 mm

BVM: 3 150 kg

Veiligheidsgradering: * * * (ANCAP, 2012)

Diensplan: 5 jaar/100 000 km

Waarborg: 4 jaar/120 000 km

Diensperiodes: 20 000 km (eerste diens 10 000 km)

Prys: R429 999

Nuwe rygoed
Nuwe rygoed