Hier’s elke soort dier, voël en reptiel waaraan jy kan dink: van olifante en tiere tot koalabere, kangaroes en ’n okapi!

Die pad na die Pretoria-dieretuin (oftewel die nasionale soölogiese tuin van Suid-Afrika) loop verby leë woonstelblokke en vervalle winkeltjies. Maar moenie bekommerd wees nie: As jy eers by die hekke van die dieretuin inry, staan jy in ’n boomryke lushof waardeur ’n rivier met stroomversnellings (hoewel mensgemaak) vloei.

Pak ’n piekniekmandjie (die dieretuin se eetgoed is duur), sorg dat jy teen 8.30 vm. voor die hek staan en trek stapskoene aan: Dis ’n groot plek dié. Nes jy dink jy’t nou alles gesien, besef jy jy was nog nie in die voëlhuis of die akwarium nie.

Foto: Esma Marnewick.

Terloops, die voëlhuis is ’n mooi plek – dit lyk soos ’n oerwoud, maar die voëls is skugter – ons het net kleinglansspreeus en grysneushoringvoëls gesien.

Besluit vooraf wat julle die graagste wil sien (vlaktewild, plaasdiere, eksotiese voëls...) en beplan die beste roete.

Onthou, die dieretuin lê teen ’n helling, en jy kan met ’n kabelkarretjie (R35 retoer) ry van bo na onder – nogal bo-oor die seekoeipoel!

Soos enige dieretuin is dit nie aldag lekker om diere in hokke te sien nie, maar die kampe is groot en die gronde word goed onderhou.

Wat pla? Die pikkewyne se stasie was maar treurig; daar was nie eens ’n bietjie sand nie en die Apiesrivier is plek-plek besoedel.

Maak ’n knoop in jou oor. Die gorillas word elke dag gevoer – dis heel vermaaklik om te sien hoe die groot ape versigtig aan ’n appel peusel. Die tye verskil van dag tot dag – vind uit by die hek.

Slaap oor. Jy kan op Vrydag- en Saterdagaande in die dieretuin oorbly. (Maar let wel: Die kampgeriewe is slegs tot 31 Maart beskikbaar en maak dan eers weer in September oop, en jy moet vooruit bespreek.)

Waar? Jy draai van die Hekpoort-pad (die R560) af op die R465. Die lodge is 6 km verderaan. 

GPS: S25.92626 E27.54595

Kontak: 014 577 2658; askarilodge.co.za (Alle etes en aktiwiteite moet vooraf bespreek word.)