Die Hottentots-Holland-natuurreservaat. Foto: David Morris.
Foto: David Morris.
Foto: David Morris.

Daar is nie veel kans om my koplig verder oor die toneel te skyn en meer te probeer sien nie. Ek het tot voor in die ry beweeg, en ons gids vir Cape Canopy se foefieslaaid (‘zipline’) beduie dat ek nader moet kom. 

Dié toere vind gewoonlik bedags plaas, en ’n mens gly vir sowat vier uur van platform tot platform (daar is altesame 13) met die foefieslaaid. Ons is egter hier vir die toere wat slegs ’n paar keer per jaar in die somer gebeur: ’n volmaan-foefieslaaid.  
Foto: David Morris.

Die gids haak my drie keer aan die staalkabel vas wat in die gapende donkerte verdwyn, en meer as 200 m voor my uitstrek tot by die volgende platform. Dáár oogknip die kopligte van my mede-foefieslaaiders: die bewys dat almal wel in een stuk aan die ander kant uitkom.

Foto: David Morris.

 Ek lys weer die moets en moenies wat die gidse genoem het in my kop: Gee die kabel ’n ligte afwaartse pluk om te rem as hulle met ligte sein dat dit nodig is, en hou jou regterhand (goed bedek in ’n handskoen) agter op die kabel (nóóit voor nie, tensy jy graag jou vingers wil groet).

“As jy nie enige seine sien nie…drop it like it’s hot,” sê my gids. Hy gee my ’n ligte stoot. 

My angs verdwyn soos ek spoed optel en die geel oog van die volmaan die kranse wat bo my uittroon skielik verlig. Dis ’n besonderse ervaring om die toneel in die nag te sien: die kopligte wat soos klein juwele op die platform voor my skitter, die yskoue naglug wat alle gedagtes van slaap wegdryf. Ek vergeet dat daar so baie meters tussen my en vaste grond lê en hou my oog op die maan, met die miswolke wat ’n wasige, anderwêreldse ligkrans skep. 

Foto: David Morris.

Op die platform lyk dit asof Kersfees vroeg gekom het – die gidse deel skielik kersliggies uit en bind dit om ons vas.

Die eenvoudige verduideliking wat ek kry: “Ons het dit nou die dag vir die eerste keer gedoen – mense hou daarvan, so nou doen ons dit weer!”. 

Die kersliggies word kleurryke rooi, blou en groen ligstrepe in die nag. Die fotograaf David Morris het die foefieslaaid met sy kamera én driepoot aangedurf. “Ek het die foto’s lank belig – van 15 tot 30 sekondes, afhangend van hoe lank die foefieslaaid was. Maar omdat daar so baie beweging op die platforms was (en die lang beligting dit als sou optel), moes ek wag tot die laaste persoon gly en hulle dan afneem.”
Kyk die kersliggies! Foto: David Morris.
Foto: David Morris.
Foto: David Morris.

Dit maak die hele affêre ekstra feestelik – veral toe een gids skielik warm sjokolade en koekies begin uitdeel. Die blaaskans hou nie lank nie: Binnekort gly ons weer na die volgende platform. Die kersliggies word kleurryke rooi, blou en groen ligstrepe in die nag soos elkeen jillend vorentoe skiet.

Na die dertiende platform kies ons koers terug na die voertuie wat ons uit die reservaat sal vat (’n ietwat steil 1 km-staptog). Al wat pla is dat ek nie juis veel van die natuurreservaat se uitsigte gesien het nie. ’n Gids deel belangrike nuus toe ek dit hardop sê. “As jy eers een keer betaal het, is dit gratis op jou verjaarsdag, kom dan weer!” 

Dit maak die hele affêre ekstra feestelik – veral toe een gids skielik warm sjokolade en koekies begin uitdeel.

My verjaarsdag is toevallig net ’n paar weke weg. Ek maak ’n nota om weer ’n draai te maak – dié keer in die dag. 

Koste R895 per persoon. Jy kan ook daarna elke jaar vir jou verjaarsdag gratis weer die toer neem, bedags of snags as ’n volmaantoer beskikbaar is (tot en met drie dae voor of ná jou verjaarsdagdatum).

Wat is ingesluit? Jy word toegerus, en na ’n stamperige 4x4-rit tot bo-op die berg (die “African massage”, skerts die gidse) sal jy die foefieslaaid na 13 punte ry. ’n Ligte maaltyd en versnaperinge word verskaf. Jy stap ook oor ’n swaaibrug – per dag kan jy blykbaar hier ’n mooi waterval en poele sien. Daarna stap jy sowat ’n kilometer terug na die voertuie, wat jou sal terugneem na die hoofkantoor, ook in die reservaat, naby die ingang. 

Die swaaibrug. Foto: David Morris.

Waar meld ek aan? By die Cape Canopy-hoofkantoor, in die Hottentots-Holland-natuurreservaat naby Grabouw. (Kyk hier vir gedetailleerde aanwysings).

Hoe lank neem dit? Tussen 4 en 5 uur. Die volmaantoer begin om 5.30 nm., wanneer jy ’n ligte ete kry voor die toer amptelik begin. Die toere vind gewoonlik tussen 8 vm. en 6 nm. plaas, en sluit ook ’n ligte maaltyd in. Jy moet vooraf bespreek, en die besonderhede van jou toer (insluitend presies hoe laat jou groep die toer gaan neem, en wanneer jy jou ete kry), word aan jou per e-pos gestuur.

Ek wil ook gaan! Die laaste volmaan-foefieslaaidtoere vir die seisoen vind 2 Desember en 3 Februarie 2018 plaas. Die datums hierna is nog nie bevestig nie.

Wie kan dit doen? Oud en jonk is welkom – die foefieslaaid is oop vir almal tussen 5 en 75. Daar is gewoonlik agt mense in ’n groep.

En as ek dit eerder bedags wil doen? Dit kos ook R895 p.p om die toer in die dag te doen. 

Wat het ek nodig? ’n Koplig, ’n ekstra warm baadjie (ja, selfs in die somer...die wind byt saans hier bo in die berge!) en gemaklike stapskoene. Neem so min as moontlik saam op die toer self. As jy wil, kan jy van jou besittings toesluit by hulle kantoor voor jy gaan, en dit na die tyd terugkry. 


Waar kan ek nog so ’n foefieslaaidtoer doen?

Daar is soortgelyke foefieslaaids in Magaliesberg, Karkloof, die Drakensberg, Tsitsikamma, Magoebaskloof en Swaziland. Die tariewe en spesiale pakette verskil egter van plek tot plek.