PIENAARDAM-ONTSPANNINGSOORD

Kies jou dam

Die Pienaardam-oord is skaars 10 km buite Middelburg waar die N4 deurskiet Laeveld toe. Die oord beslaan ’n hele 300 ha en die Pienaardam lê voor jou soos jy die oord binnery. Die ontvangskantoor sit regs en die staanplekke begin van hier af antikloksgewys teenaan die oewer tot op die oorkantse wal.

Die kans is goed dat jy ’n staanplek teen die oewer gaan kry, want 55 van die 80 staanplekke is by die water. Die 17 staanplekke op die oorkantse wal het wel nie kragpunte nie, maar net soos al die ander het elkeen sy eie waterkraan en geboude braaiplek (met ’n rooster). Die staanplekke is meestal op gras, en afhangend van waar jy staan, is hier ook ’n hele paar koeltebome om van te kies.

Meer as 10 ablusieblokke staan deur die oord versprei, wat beteken jy gaan nooit te ver van die badkamer af wees nie.

Hier is heelwat om die kroos besig te hou – daar is doendinge soos ’n minigholfbaan, treintjierit en begeleide ponieritte, maar die oord het ook nie minder nie as vier swembaddens. Én die eienaars bied gratis wildritte aan waarop jy jou kan regmaak om onder meer gemsbok, blesbok, sebra, springbok en volstruis te sien. Jy is ook welkom om in jou eie voertuig te gaan wild kyk.

As jy lyn natmaak, kan jy verwag om karp, swartbaars en baber te kry. Die dam is op sy breedste 700 m en die inloop is van die inrykant af so 1,2 km voor jou. As jy net baars soek, is hier nog twee kleiner damme ’n paar honderd meter regs van die groter dam.

Kortliks | Pienaardam

Kampplek 80 staanplekke waarvan net meer as 50 by die oewer is.

Ablusiegeriewe ’n Goeie 13 badkamers wat oor die oord versprei lê.

Prys R280 p.n. per staanplek met krag (hoogstens 8 mense).

Aankoms- en vertrektyd 7 vm. en 6 nm.

Kontak  013 282 7816 of 082 563 5631;  admin2@pienaardamresort.co.za;  pienaardam.co.za

Hoe lyk die pad? Teer tot by die oord.

GPS S25.835712 E29.483410

Weg Ry & Sleep Kom geniet die Sondagmiddagbuffet (vanaf 12 nm.). Dit kos net R95 p.p.

PITABROOD MET ’N TUNAVULSEL

Toeb(r)ootjies

Hierdie pitabootjies is net die antwoord in die kampplek vir die lang wag tussen etes om daai honger kol te stil.

Jy benodig

  • Olie om te smeer  
  • 4 pitabrode  
  • 2 blikkies (170 g) tuna, goed gedreineer  
  • ½ klein komkommer, in klein blokkies gesny
  • 3 ferm tamaties, ontpit en in klein blokkies gesny  
  • ½ koppie goudablokkies
  • 1 groot agurkie, fyngerasper  
  • ¼ koppie mayonnaise (of meer, indien verkies)  
  • sout na smaak

Só maak jy

1 Smeer ’n pan liggies met olie en maak dit op ’n gasstoof warm met die vlammetjie net-net oopgedraai.

2 Sit een pita op ’n slag in die pan en braai dit tot ligbruin aan die onderkant. Draai dit om en rooster die ander kant ook tot ligbruin.

3 Haal die pita uit die pan en sny dit dadelik middeldeur. Skeur die opening wat natuurlik vorm, met jou vingers verder oop. Herhaal die proses met die res van die broodjies.

4 Meng die tuna, komkommer, tamatie, kaas en agurkie saam vir die vulsel. Maak dit klam met mayonnaise en geur dit met sout. Skep dan die vulsel in die halwe pitas.

Weg Ry & Sleep sê
Jy kan ook ’n maalvleisvulsel gebruik, óf roerbraai-hoenderrepies.


Raak veelsydig met dié visstok

Hengel is goed en wel, maar dié tydverdryf het een groot nadeel: ’n visstok is lank en maak die pakwerk moeilik. Dis nie dat dit baie plek opneem nie, maar ’n visstok is ’n delikate ding, veral die punt. As iets daarteen kap of skaaf, is sy dae getel.

Ironman 4x4 het net die oplossing met sy Travel Master Multi-rod-stel met sy eie koker wat só klein opvou dat jy dit op ’n staproete kan saamdra. Die Multi-rod word van soliede koolstofvesel gemaak en bestaan uit verskeie stukke wat in mekaar pas – daar is altesame 6 los stukke om verskillende lengtes stokke te maak, 3 punte met verskillende veerkragte, en 2 soorte handvatsels.

’n Mens kan nie minder nie as 36 kombinasies maak met al die stukke van hierdie stel! Jy kan vir jou ’n 12 vt.-stok bou as jy ’n kabeljou van die strand af wil takel. Die 10 vt.-kombinasie met die strammer punt is net die antwoord vir karp, of die ligter punt vir ’n blinkvis.

Maak die stok 2 vt. korter as jy van die kaai af hengel of nóg korter tot by 4 vt. as die nabye takke pla. Die stok is op sy kortste met die 3 vt.- konfigurasie en nommerpas as jy ’n visstok saamvat om van jou kajak af te hengel. Die koker waarin dit pas, is 50 cm lank en 9 cm in deursnee.

Prys R2 600 (plus R1 095 vir die katrol).

Kontak  011 634 7770;  sales@ironman4x4.co.za;  ironman4x4.co.za/accessories/