Villiers Steyn beantwoord die vraag hier:

“As jy ’n luiperd wil sien, moet jy op ’n nagrit gaan!” vertel my buurman in die Skukuza-ruskamp nou die dag. “Dís wanneer jy hulle in die pad sien loop of selfs sien jag!” 

Hy was nie verkeerd nie: Luiperds is meer aktief snags as in die middel van die dag en stap dikwels met die pad, wildpaadjies of rivierbeddings langs terwyl hulle hulle gebied merk. Maar soos baie ander mense glo die buurman blykbaar dat luiperds bedags slaap en dat dit onmoontlik is om hulle voor donker te siene te kry. En dit is definitief nie die geval nie.

’n Luiperd vreet vroegoggend aan ’n rooibokkarkas in die Hoedspruit Wildlife Estate.
Op die warmste tyd van die dag skuil luiperds gewoonlik in die koelte van groot bome.

Wanneer is luiperds dus op hulle aktiefste?

’n Deel van my vier jaar lange luiperdbewegingnavorsing in Botswana het hieroor gegaan. Drie spesifieke luiperds het hoë tegnologie-halsbande gedra wat elke keer wanneer ’n GPS-lesing geneem is, bepaal het of hulle besig was om te beweeg of te rus.

Ek het hierdie data gebruik om die aktiwiteitsgrafiek hier onder op te stel. Soos julle kan sien, was al twee die wyfies en die mannetjie se aktiwiteitspatrone dieselfde. Daar het nie veel gebeur in die middel van die dag wanneer dit warm was nie, maar hulle aktiwiteit het skerp toegeneem rondom sonsopkoms en -ondergang, en hulle was redelik aktief snags.

'n Grafiek wat daaglikse aktiwiteitspatrone wys vir drie luiperds in Botswana se Tuli-blok.

’n Mens kan dus sê luiperds is skemerdiere, eerder as nagdiere. Met ander woorde: Hulle is meer aktief gedurende die skemerure as wanneer dit heeltemal donker is. Jou kanse om baie vroeg in die oggend of net voor die Krugerhek toemaak ’n luiperd te sien, is dus waarskynlik beter as tydens ’n nagrit – veral as dié rit eers op 8 nm. begin.

Ek het al soortgelyke gedrag by die luiperds van die Hoedspruit Wildlife Estate gesien waar luiperds rondom sonsondergang baie aktief was en dikwels tussen 4.30 nm. en 7 nm. voor my strikkameras verbygeloop het.

Ek kry natuurlik ook foto’s van hulle in die middel van die nag, maar wanneer ek op wildritte gaan, weet ek dis nie nodig om op een of ander belaglike tyd na hulle te soek nie. Inteendeel: Ek en my vrou gaan ‘jag’ gewoonlik net ná die son agter die horison verdwyn vir luiperds.

Dit gebeur nie gereeld nie, maar party luiperdfoto’s en –video’s word ook soggens net ná sonsopkoms geneem – dit gebeur gewoonlik op koeler, bewolkte dae. Luiperdaktiwiteit is dikwels baie hoog die oggend ná ’n nagtelike donderstorm, omdat die dire dan weer al hulle patrollieroetes moet merk waar die reuk van vorige merk-ekspedisies weggewas is. Hou jou ore op sulke nat oggende gespits vir hulle kenmerkende skor steungeluide, want hulle maak dikwels territorial roepgeluide wanneer hulle besig is om hulle gebied te merk.

As dit snags reën, is die luiperds genieg om hulle gebiede die volgende oggend weer te merk.
 
Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook