Umgeni Steam Railway 

Die Umgeni Steam Railway het in 1982 begin om ou stoomlokomotiewe te restoureer. 

Elke laaste Sondag van die maand trek hulle dié ou grotes uit die skuur en kan jy saam ry op ’n gedeelte van die ou treinspoor tussen Durban en Pietermaritzburg.

Die roete begin by Kloofstasie en kronkel vir omtrent ’n uur langs die Vallei van ’n Duisend Heuwels tot by Inchanga-stasie, waar die trein ’n uur lank oorstaan. By Inchanga is daar piekniekplekke, ’n teetuin en ’n spoorwegmuseum. 

Bespreek vooraf, dié uitstappie is gewild.

Foto Pierre Retief
Foto Pierre Retief

Wanneer? Elke laaste Sondag van die maand en in die wintervakansie is hier ook treinritte op Saterdae. Besoek die webwerf vir tye en beskikbaarheid van sitplekke vir elke rit. 

Waar? Sowat 24 km noordwes van Durban langs die M13; By die Stoker’s Arms restaurant.

Koste R240 p.p. R170 per kind (2-12 jaar).

Kontak 082 353 6003; umgenisteamrailway.co.za

Durban- botaniese tuin 

Hierdie tuin dateer uit 1849 en lyk kompleet nes ’n toneel uit Pride and Prejudice. As die kinders nie soos Elizabeth Bennet met ’n boek onder een van die 100 jaar oue bome wil uitspan nie, kan hulle krummels vir die eende gooi of op die groot grasperke rondhardloop. Die tuin is bekend vir sy orgideeglashuis en die skaars Wood-se-broodboom (een van die skaarsste plante ter wêreld) wat hier groei. 

Bring ’n piekniekmandjie of eet by die Charles James-teetuin (031 201 2766).

Waar? In John Zikhali-weg in Berea

Prys ’n Skenking, asseblief

Kontak 031 322 4021; durbanbotanicgardens.org.za

Flag-plaaswerf 

Op hierdie plaaswerf is alles wat ’n kinderhart begeer. Kinders kan koeie melk, kalfies en bababokkies voer, op ’n ponie ry, hasies vryf... 

Hier is meer as ’n duisend diere, reptiele, voëls, alpakkas en selfs wolwe. 

En as ma eers ’n koffie-versterking nodig het, is daar veilige binnenshuise klimrame reg langs die koffiewinkel. 

Hier is braaiplekke en jy kan jou eie kos saambring. Stootwaentjies kan oral ry en jy kan selfs die kleinspan op ’n trekkerrit laat gaan. 

Waar? Sowat 50 km noordoos van Durban langs die N2.

Koste R48 p.p. Gratis vir kinders jonger as 18 maande; R12 vir ’n ponierit; R12 vir dierevoer.

Kontak 032 947 2018; flaganimalfarm.co.za