Chané-kaasplaas, Mtubatuba

Foto's: Ian McNaught Davis

Die kinders kan hulle bene rek in die speelplek en op die minigholfbaan terwyl jy die uitsig van die boombesaaide heuwels van die restaurantdek af inneem. Vind jou weg proe-proe deur onder meer roquefort, feta en chevin – ’n kaasbord vir vier mense kos R135.

Hier is ook burgers op die spyskaart – die dubbelkaas-en-spekburger (R95) is ’n wenner – én pizzas (’n grote is R130). Jy kan ook ’n kaastoer doen (R60 per volwassene; R30 per kind), waar jy ’n bok kan melk en leer hoe die kaasmaakproses werk.

Trouens, hier is so baie om te doen, oorweeg om oor te slaap. Gaan ry perd (’n begeleide rit kos R350 per uur; ’n ponierit vir die kinders R50) of mik vir die omliggende plantasies op een van die stap- of bergfietspaadjies. Selfsorgverblyf kos R1 000 vir ’n gesinseenheid met slaapplek vir vier; R500 vir ’n chalet met slaapplek vir twee. Aandete op aanvraag.

Waar presies is Mtubatuba nou weer, wonder jy dalk. Mtubatuba lê rofweg tussen die N2 en St. Lucia. Die kaasplaas is dus ook ’n lekker uitstappie as julle genoeg seekoeie vir een dag gesien het.

Hoe ook al, kom maak ’n draai en onthou om organiese kase, konfyte en rissiepastas vir die res van jou vakansie of vir die mense by die huis aan te skaf.

Waar? Nkosi Mtuba-weg, van die R618 tussen Mtubatuba en St. Lucia af. (Hier’s 4 km grondpad voor jy by die plaas uitkom; dis gangbaar vir tweewielaangedrewe voertuie.

Oop Elke dag 8 vm.-4 nm.

Kontak 082 321 5000; cheesefarm.co.za

/
/