CRAZY CRAYFISH DINER, KLEINZEE

Jy kom met ’n rede Kleinzee toe. En ’n goeie rede is ’n kuiertjie by die Crazy Crayfish Diner.

Dis ’n plek met hope karakter. Soos jy na die sinkdakgeboutjie aangery kom, begroet walviswerwels, visnette en roeispane jou – pure seedorp. En wanneer jou skoensole met die uitklimslag oor die skulpgruis knars, kyk die mense binne reeds op, want ’n nuwe vriend het pas arriveer.

Dis nou maar een ding van die Weskus – hier is g’n ’n styfheid nie. En of jy nou ’n inkommer is wat onlangs hierheen verhuis het, of net vir die middag vertoef, moenie dink jy gaan stil-stil eenkant by ’n tafeltjie sit en jou tjippies eet nie. Die Kleinzee-mense kom gesels en kort voor lank lag jy saam oor stories uit die ou diamantdae.

Die Crazy Crayfish Diner kan nagenoeg dertig mense op ’n slag akkommodeer en is so informeel soos kan kom, ewe met ’n outydse speletjieskamer met ’n veerpyltjiebord, snoekertafel en foosball.

Die meubels is ’n mengelmoes (jy skuif dalk net in op een van daardie ou Spur-koeivelbanke!), die mengelslaai lyk nes joune by die huis en dinge gebeur met hartlikheid en op die voornaam.

Die spyskaart bied nie ’n groot verskeidenheid nie, maar jy sal wel iets vind wat jou mond laat water.

Die pizzas is gewild – probeer gerus die Short and Sweet (ham en pynappel) vir R70 of die Stink Vygie (biltong, vye en bloukaas) vir R90. Ek het ’n porsie diepgebraaide stokvis met slaptjips bestel (’n winskopie teen R70) en die vis was vars en die degie lig en bros.

Die Crazy Crayfish is dié plek waar die locals saans na werk kom ontspan – dís waar die gees heers. Soveel so dat die mense soms spontaan begin skoffel!

Goeie ou Weskus.

Oop Dinsdag tot Saterdag van 6 nm. tot laat (bespreek vooraf ’n tafel). In skoolvakansies is die restaurant bedags oop en dan is besprekings nie nodig nie.

Waar? Aan die eindpunt van Clarkestraat. Vra vir die eerste mens wat jy teëkom (die straatname kan verwarrend raak).

GPS S29.680622 E17.06416

Kontak 073 5474 948 (Natalie Weyers); nats.weyers@gmail.com