Dié restaurant, propvol oudhede en nostalgie, is allermins ouderwets. Die Diesel & Crème-span maak moderne en uitspattige melkskommels in ’n ou woonwa waarop vuurpyle gemonteer is. Hierdie soort melkskommels – met torings van koekies en lekkernye bo-op – is deesdae op al die koskenners se lippe en bekende restaurante se spyskaarte. Maar hier in die Klein-Karoo word dié melkskommels al jare lank bedien. Maar dis nie al waaraan jy hier kan weglê nie…

Melkskommels

Die melkskommels op die spyskaart, van Belgian Choc Gelato tot Red Velvet, gaan jou verlei. Dis goeie waarde vir geld met genoeg room en versierings wat dit afrond. (Gourmet-melkskommels: R40 vir ’n kleintjie en R45 vir ’n grote; gewone melkskommels: R35 en R40). As jy iets anders op die spyskaart bestel, beter jy seker maak jy hou ’n plekkie vir een van hierdie melkskommels, want om hier weg te ry sonder om een te proe, sal ’n groot fout wees. 

Ontbyt

Ontbyt word tussen 7.30 vm. en 11 vm. bedien en die omelet met ham, kaas en tamatie is ’n wenner. Maar as jy die ou langsaan se bord plaatkoekies (eintlik plaatkoeke, want hulle is yslik groot, met room bo-oor) sien, besluit jy heel moontlik om met die terugry wéér hier stil te hou, sodat jy dit ook kan proe. 

Middagete

Lê tussen 11 vm. en 4 nm. weg aan smaaklike disse soos hamburgers, pasteie (probeer die hoender- of Karoo-plaaspastei), lamskerriebobotie, slaaie en wafels. 

Teetyd

Oukei, jy het by die huis ontbyt geëet voor julle gery het, maar drink dan minstens tee. Hier’s ’n glaskas vol soet lekkerte… 

Plaas jou bestelling en kyk dan bietjie rond – hier’s heelwat oudhede binne en buite die restaurant, soos ’n stokou koeldrankmasjien wat jare glede Pepsi uitgespoeg het waneer jy 5c ingooi. Oral om jou is advertensieborde met handelsmerke soos Lucky Strike. Probeer ’n bietjie vir jou kinders verduidelik hoe ’n mens ’n selfie met die outydse kamera wat uitgestal word sou neem. 

Die kleinspan kan hulleself speel-speel besighou tot die melkskommels kom: Hier’s ’n arcade-speletjie en ou petrolpompe vir die nuuskieriges. 

Waar? Tennantstraat 2, Barrydale

Oop 7.30 vm. – 5 nm.

Kontak: 028 572 1008; info@dieselandcreme.co.za; www.dieselandcreme.co.za