Maar dié soort bier raak al beter en die kanse is groot dat jy ’n brouery iewers op jou reise raakry, selfs diep in die platteland.

Emerald Vale in Chintsa-Oos net buite Oos-Londen is ’n familie-onderneming en gewild onder toeriste én die plaaslike inwoners. Natuurlik is die bier smaaklik, maar die kos en die melkskommels is net so lekker!

Die brouery en die restaurant is op ’n plaas. Jy ry verby melkkoeie tot op die bult na die parkeerterrein. Die restaurant se kos is sonder fieterjasies en die porsies rojaal. Hier is ook vegetariese opsies en ’n kinderspyskaart. Die burger (R105) is sterk aan te bevole – die pattie is tuisgemaak en die skyfies met die hand gesny. Jy kan ook ’n slaai bestel. Die eisbein (R150) is legendaries en moet vooraf bestel word.

Buiten bier maak die brouery ook rooibos-ystee en boetiekjenewer; skaf ’n bottel van elk aan by die Hops Shop. Op ’n brouerytoer van 45 minute kan jy vyf soorte bier proe wat hier gemaak word. As jy daarna nog enigsins energiek voel, kan jy op die plaas ’n stap- of bergfietsroete aanpak, of lyn natmaak in een van die riviere as jy jou visgerei byderhand het.

Soms tree plaaslike musikante hier op en dan word hier behoorlik gekuier. Tjorts!

Waar? Sowat 50 km noord van Oos-Londen met die N2. Neem die Chintsa-afrit en volg die aanwysingsbordjies.

Oop: Woensdag tot Saterdag van 11 vm.-7 nm.; Sondae van 11 vm.-5 nm. Gesluit op Maandae en Dinsdae, maar oop in die vakansieseisoen. Besprekings is noodsaaklik vir die restaurant en die brouerytoer.

Kontak: 043 738 5397; emeraldvale.co.za