Die personeel groet vriendelik terwyl ek met die trappies opstap na die stoep van die Olive Terrace Bistro. ’n Kelnerin beduie ons na ’n tafel onder ’n tamaai kareeboom – hier’s ook ’n kaggel binne vir koue dae.

Die Bistro is in die Tulbagh Boutique Heritage Hotel. Dele van die hotel dateer uit die middel 1800’s en sommige geboue is selfs ouer, soos die Winterhoek Manor (1813) en Toll House (1809) oorkant die pad.

Dié Bolandse dorp het geen tekort aan Kaaps-Hollandse huise met gewels, grasdakke en donkergroen deure nie. Dis nie toevallig nie: Ná die verwoestende aardskudding in 1969 is baie van die geskiedkundige geboue noukeurig gerestoureer.

Ek is rasend en die à la carte-spyskaart lyk verleidelik: geroosterde varklies (R120), Kaaps-Maleise lamskerrie (R135), en tradisionele paella (R120). Ek besluit op die Mexikaanse hoender (R95), en my kollega bestel die 300 g-kruisskyf (R145). Die wynlys sluit die beste van die plase in die omgewing in en die meeste is te koop per glas (sowat R30).

Ontbyt word tot 11 vm. bedien met staatmakers soos ’n drie-eieromelet (R65), en meer luukse geregte soos Eggs Royale – geposjeerde eiers bo-op ’n pampoenkoekie met roket en gerookte forel en hollandaisesous (R95). Later in die dag is ligte etes beskikbaar, soos toebroodjies met vulsels soos avokadopeer en ertjie of gevlokte varkvleis (albei R85). (Die spyskaart verander gereeld en is seisoenaal; dus kan dit anders lyk as jy daar draai.)

Dis al skemer en die Winterhoekberg gloei pienk in die verte. Consol-glaslanterns begin flonker terwyl dit donker word; en die feetjieliggies om die kareeboom se stam begin flikker. Ons klink ’n glasie op Tulbagh en val weg.

Wat nog? As julle lus het vir iets ligs of iets wil vier, mik vir die hotel se Karee Tapas and Wine Bar vir tapas, pizza, boetiekbier of ginskemerkelkies.

Oop Elke dag van 8 vm.-9 nm. Die restaurant is baie gewild; bespreek liefs vooraf.

Waar? Van der Stelstraat 22, Tulbagh. Dis ongeveer 120 km van Kaapstad af via die N1 en die R44 – ry gerus uit vir ’n Sondagmiddagete.

Kontak 023 230 0071; tulbaghhotel.co.za