Die koffiewinkel op die Rosemary Hill-plaas het so ’n kuierstoep, en in die wintermaande is die kaggel ook ’n lekker wegkruipplek. Rosemary Hill is ’n organiese plaas en die mense is baie gesteld op die omgewing. Soveel as moontlik word herwin en herbruik en waar beskikbaar, word vars produkte vir die spyskaart op die plaas gekweek.

Behalwe vir die koffiewinkel, is hier 33 km se fietsry-, hardloop- en stappaadjies. Vandaar die The Original BBB oftewel Bikers Breakfast Bun (R36). Dis ’n sesam-broodrolletjie met cheddar, spek, tamatie en ’n gebakte eier. Die Plaas Brêkfis (R100) is ook aan te beveel – jy kry eiers, spek en ’n 150 g-beeslendestuk afgerond met chakalakasous en kluitjies. Heerlik.

Die spyskaart het ’n paar Banting-vriendelike opsies en glutenvrye brood. Jy kan verder ’n verskeidenheid ligte etes bestel en op die spyskaart is ’n hele paar opsies vir kinders. Hier is ook speelplek vir die jongspan, en ouers kan van die stoep af ’n oog hou.


Die pryse is billik en die gehalte goed. Tuisgemaakte burgers of ’n bak vars slaai kos tussen R70 en R85. Dors? Hier is tuisgemaakte limonade, vars vrugtesap, melkskommels, en erg lekker koffie vir R20. En ja, natuurlik iets soets! Probeer gerus ’n sny wortelkoek.

Die plaas het nie ’n permanente dranklisensie nie (planne word gemaak), maar hier is wel drinkgoed as fietsrybyeenkomste en troues gehou word.

Die plaaswinkel verkoop onder meer beskuit, skurwejantjies en gemmer- en choc chip-koekies, asook roosmaryn- en laventel- vlugtige olie wat op die plaas gemaak word.

Naweke is dit net fietse, fietsryers en drawwers waar jy kyk. Kom eerder in die week as jy ’n stil plaasatmosfeer soek.

Waar? Ry oos op die N4 en neem die afrit na Boschkop/Donkerhoek. Betaal R12 tolgeld, draai regs, ry oor die brug en hou aan op die R964-grondpad vir net meer as 1 km. Rosemary Hill is aan jou regterkant – wees op die uitkyk vir die groot groen bord.

Oop: Maandae tot Vrydae: 8 vm.-5 nm.; Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae: 7 vm.-4 nm.

Kontak: 012 802 0052; rosemaryhill.co.za