Dié winkeltjie is beskut en ’n toevlugsoord vir duikers, vissermanne, strandgangers en locals.

Die spyskaart is eenvoudig: ontbyt wat in die pan gebraai word, muesli-en-jogurtbakkies, geroosterde toebroodjies, slaptjips en een of twee daaglikse spesiale aanbiedinge. Die koffie is skaflik en die koeldrank koud. Jy kan ook ’n paar basiese noodhulpgoed soos Panado en Zam-Buk hier koop, en peuselgoed soos aartappelskyfies, grondboontjies en sjokolade.

Niks op die spyskaart sal jou bankkaart laat skrik nie en alles word volgens bestelling gaargemaak en is dus vars, warm en heerlik as dit by jou uitkom. ’n Geroosterde toebroodjie kos sowat R40 en jy kry tjips by wat sal maak dat jy weer en weer dieselfde ding wil bestel.

Probeer die tunamayonnaisebroodjie – dit was net reg ná twee skubaduiksessies – of begin jou dag gesond met ’n bakkie vars vrugte, jogurt, heuning en muesli. As jy twyfel, bestel ekstra avokado: Die plaaslike soort is gróót, botteragtig en heerlik.

En saam met dít alles kry jy ’n fantastiese uitsig op Sodwanastrand.

Waar? Jesser Point, Sodwanabaai (sowat 360 km noord van Durban met die N2 en R22 langs).

GPS S27.54111 E32.67861

Oop Elke dag van 7 vm. tot rondom 4 nm. As die skubaduikbote op die strand is, is die kiosk oop.

Kontak Gebruik die kokosneuttelefoon…