In Kusweg op Port Nolloth vang die blou-en-wit gebou van die restaurant Vespetti jou oog. Tussen die wit houttafels en skeepstoue wat die restaurant versier, hang ’n seekosreuk wat jou maag laat grom.

Mik vir ’n tafel buite; jy wil immers die see sien, die bries op jou vel voel en die gekrys van die seemeeue hoor. Pasop, een probeer dalk ’n slaptjip van jou bord af gaps.

Die naam is Italiaans (dit was voorheen ’n Italiaanse restaurant – pizza en pasta is wel op die spyskaart), maar deesdae is hier ’n ryke verskeidenheid seekos, met die klem op rýk!

Gewone maaltye soos roereier en roosterbrood (R26), calamari-burgers (R60), pitabroodjies met tzatzikisous (R85), snoek (R100) en garnale (vanaf R160) is beskikbaar, maar dan is hier ook disse wat jou cholesterolvlak in ’n ander kwadrant in gaan laat skiet: ’n Mixed Grill wat bestaan uit steak, twee eiers, boerewors, spek én ’n skaaptjoppie (R140), ’n seekos-omelet (R65), calamari gestop met mossels, knoffel en kaas (R130) en ’n kruisbiefstuk gestop met mossels (die Carpetbagger, R135)!

En vir die ouens met die suikertand is hier wafels en roomys of ’n melkskommel – 18 geure! Wat van karamel-cappuccino, aarbei-kaaskoek of grondboontjiebotter-en-kondensmelk... Moet dus nie te ver van Vespetti af parkeer nie, jou gesin gaan jou dalk ná ete terug kar toe moet rol.

Waar? In Kusweg, langs die Scotia Inn Hotel.

Oop Elke dag 10 vm.- 9 nm.

Kontak 027 851 7843 of @vespetti op Facebook