Strandloper, Langebaan

Strandloper. Foto: Sam Reinders

Kom vroeg en kry ’n sitplek onder die skadunette met ’n uitsig oor die brosjureblou water van die Langebaanstrandmeer. Die tien gange word voor jou op groot, oop vure berei en dan een vir een voorgesit. Wat kan lekkerder wees as om op ’n houtbankie te sit met ’n glas wyn in die hand met die reuk van vars vis wat op die kole braai en seemeeue wat bo jou kop gesels? En jy hoef nie agterna skottelgoed te was nie.

Dié buitelugrestaurant is net sowat ’n uur en ’n half van Kaapstad af; dus kan jy maklik vir die dag hierheen kom. Beplan jou dinge só dat jy voor of ná die Groot Eet by die Weskus- nasionale park en die padstalle langs die R27 kan inloer (’n mens wil mos nou nie leëhand teruggaan huis toe nie).

Wat is op die spyskaart? Groot swartpotte vol vars mossels prut langs groot braairoosters met verskillende soorte vis. Vuurwarm roosterkoek word saam met die seekos voorgesit. Ná ete word moerkoffie in ketels oor die vuur gestook en saam met koeksisters geniet.

Prys R310 p.p. vir ’n tiengang-seekosbuffet. Jy kan kontant betaal of ’n elektroniese oorplasing (EFT) doen, onthou net om die bewys van betaling te epos na strandlopers@mweb.co.. Besprekings is noodsaaklik. Hier is ’n kontantkroeg (aan die duur kant), maar jy kan ook jou eie drank bring.

Waar? 10 km noord van Langebaan.

Oop Dis oop op Woensdae en van Vrydae tot Sondae. Middagete: 12 nm. Bel vooraf om seker te maak die restaurant is oop en of aandetes bedien gaan word.

Kontak 022 77 22 490; strandloper.com 


Walskipper, Jeffreysbaai

Walskipper. Foto: Rieghard Van Rensburg

Die atmosfeer by Walskipper-buitelugrestaurant op Jeffreysbaai is gesellig: Hier sit jy met jou tone ín die seesand. As jy buite by die tafels onder ’n sambreel kuier, het jy ’n uitsig oor die strandjie waar die kinders tussen die hoofgereg en die poeding kan baljaar. En op ’n triestige dag kan jy binne om die Esse-stoof kuier.

Die plek is onopgesmuk, drankies word in blikbekers bedien en heelwat van die geregte word sommer net so in die pan voor jou neergesit (jy kry darem eetgerei).Hier word dinge op die tradisionele manier gedoen: Die kos word op ’n vuur of op outydse gasstowe gaargemaak. En om dinge regtig Suid-Afrikaans te hou is hier biltong, droëwors, melktert en koeksisters.

Maak ’n dag daarvan en gaan ry die oggend perd op Oesterbaai se strand en loer in by van die surf shops in Jeffreysbaai.

Wat is op die spyskaart? Hier is ’n omvattende à la carte spyskaart. Die Walskipper Special bestaan uit ’n stewige porsie garnale, calamari, mossels en kammossels. Hier is ook lynvis van die dag en ander staatmakers soos tongvis, koningklip en kreef (prys op aanvraag).

Alle hoofgeregte word voorgesit met tuisgebakte brood, patee en konfyt. Hier is ook ’n kinderspyskaart.

As jou oom van Carnarvon gril vir garnale of calamari, kan hy aansit vir lekker dinge soos beesstert, tradisionele afval, volstruisfilet, krokodilsosaties of selfs murgbene. ’n Kontantkroeg is beskikaar.

Prys ’n Bord seekos gaan enigiets tussen R130 en R195 kos, terwyl ’n springboksteak jou R185 uit die sak jaag. Nageregte kos om en by R50.

Waar? By die Claptonstrand langs die Marina Martinique op Jeffreysbaai.

Oop Dinsdae tot Saterdae van 12 nm. tot 8 nm. Sondae van 12 nm. tot 3 nm. Besprekings is noodsaaklik.

Kontak 042 292 0005 of 082 800 9478; walskipper.co.za 


Muisbosskerm, Elandsbaai

Dié buitelugrestaurant het min bekendstelling nodig. Dit het reeds in 1986 deure oopgemaak vir die publiek nadat dit eers net gebruik is om familie en vriende van die Turner-familie te trakteer.

Muisbosskerm

Baie paartjies het sedertdien al hier onder die blou lug, met voete in die sand en die gedruis van die branders in die agtergrond, trou aan mekaar beloof.

Moenie haastig iewers heen op pad wees as jy hier kom eet nie want langs die oop vure en geurige kosstafels, kan ’n uitstappie hierheen maklik twee tot drie ure duur.

Wat is op die spyskaart? Hier word viskosdisse vars uit die see gerook, gebak en gebraai. Daar is ook tradisionele geregte soos waterblommetjiebredie, varsbrood met botter en hanepootkonfyt en natuurlik kreef en nagereg.

Prys: Hier word buffet-etes bedien en dit kos R280 p.p. Jy kan hier met enige bankkaart betaal of kontant. Deposito’s moet wel vooraf gemaak word. Muisbosskerm het ook ’n dranlisesnie.

Waar? Muisbosskerm is 5 km suid van Lambertsbaai. GPS S32.08021 E1818345

Oop: Bespreek vooraf want Muisbosskerm maak net kos as daar ten minste 20 volwassenes op ’n gegewe dag gaan wees. Funksies vir groepe van 20 en meer kan ook bespreek word. Stuur eerder epos in plaas van om te bel en maak so seker wanneer die restaurant oop is.

Kontak: info@muisbosskerm.co.za, www.muisbosskerm.co.za


Rafia Prawn Shak

Die Rafia Prawn Shak, voorheen bekend as The Prawn Shack, het in Mei 2018 geskuif na ’n nuwe ligging in Mtunzini se Rafia-palmboomwoud. Die vorige restaurant was in die Amatikulu-natuurreservaat, sowat 25 kilometer suid van Mtunzini geleë.

Dié kos is eersteklas maar moet egter nie ’n groot eetsessie verwag nie. Hier gaan dit meer oor smaak en geur as grootte.

Die garnaal-bunny chow is ’n treffer en die Zoeloe-sushi – halfrou filet met sojasous en wasabi-en-tiemiebotter – smaak vorentoe.

Rafia Prawn Shak

Wat is op die spyskaart? ’n Ligte capreseslaai, garnaalroomsop, garnaal-bunny chow en Mosambiekse garnale, lynvis van die dag, Zoeloe-sushi en ’n skyf gebakte camembert.

Prys: R230 p.p. Betaal kontant, met jou bankkaart of deur die Zapper-toepassing.

Waar? Natures Way 1, Mtunzini. Die laaste 300 meter tot by die restaurant is grondpad.

GPS: S28.960427 E31.758331

Oop: Oor naweke en op weeksdae vir groepe wat bespreek. Middagete: 12 nm.-5 nm. of tot die partytjie ophou – fooitjies sal die kroeg oophou lank nadat die son gesak het. Belangrik: Jy moet dus vooraf bespreek om hier te eet.

Kontak: 084 737 6493 (stuur sms as daar nie antwoord is nie);  bookings@shak.co.za ; shak.co.za