Ek het die afgelope jare by ’n paar geleenthede met die skrywer Elsa Joubert gesels. Elke keer was dit ’n voorreg.

Ons eerste ontmoeting was reeds in 2004. Ek het toe by die webwerf LitNet gewerk en het haar by Berghof, die aftreeoord in Tuine, Kaapstad, gaan besoek. LitNet het aanlynveilings gehad van handgeskrewe tekste deur groot skrywers soos André P. Brink, Hennie Aucamp, Chris Barnard en natuurlik Elsa Joubert. 

Ek het by haar in haar studeerkamer gesit terwyl sy geduldig en sorgsaam ’n uittreksel uit haar veelbekroonde roman Die Swerfjare van Poppie Nongena neergepen het. Elsa was toe 82 jaar oud. Sy het my van meet af aan beïndruk met haar hartlikheid, ’n afwesigheid van ego en ’n ouwêreldse waardigheid. 

In die jare daarna het ek haar ’n paar keer besoek, meestal werksverwant, soos toe haar briljante outobiografiese boek Reisiger (2009) verskyn het. Ek het selfs een aand saam met haar ’n heerlike Bell’s whiskey gedrink.

Sy het my van meet af aan beïndruk met haar hartlikheid, ’n afwesigheid van ego en ’n ouwêreldse waardigheid.

Sy bly nog altyd vir my ’n groot inspirasie. Dit moes soveel moed en durf geverg het om soos sy, vroualleen, op die ouderdom van 25 op ’n vragskip in die Kaap te klim om Afrika te gaan verken. Dit was in 1948. 

Elsa het 1957 haar eerste reisboek, Water en woestyn, gepubliseer. Dit het juis gegaan oor daardie eerste Afrika-reis ’n paar jaar tevore. Ek het die boek gelees en ’n aanhaling daaruit gebruik voor in my eie reisboek oor die Camino, Elders: “Veral wou ek alleen gaan, omdat mens soveel meer afhanklik en dus soveel meer ontvanklik is as jy alleen gaan.”

Toe ek einde verlede jaar hoor Elsa het op die ouderdom van 95 ’n nuwe boek, Spertyd, gepubliseer, wou ek bitter graag met haar ’n onderhoud voer. Veral nadat ek dié wonderlike nuwe boek gelees het – ’n boeiende, eerlike verkenning van die ouderdom. 

Sy het gelukkig ingestem en ons het op ’n Vrydagmiddag in November ontmoet en byna twee uur lank gesels. 

Haar geheue is vlymskerp, selfs oor gebeure wat in die jare vyftig van die vorige eeu plaasgevind het. En op 95 probeer sy steeds op hoogte bly van die nuus en die sake van die dag.  
In Desember verlede jaar het ek met ’n uitgedrukte weergawe van my profielartikel in Microsoft Word-formaat weer by Berghof opgedaag. Elsa het gevra dat sy graag die artikel wil lees voor ons dit in Weg se Februarie publiseer. 

Ek het nie vooraf met haar ’n afspraak gemaak hiervoor nie en het sommer by die aftreeoord opgedaag, kort na 5 nm. Groot was my verbasing om Elsa by haar tafel aan te tref waar sy besig om ’n eerste deel van ’n Engelse vertaling van Spertyd met ’n pen te fynkam. 

Haar geheue is vlymskerp, selfs oor gebeure wat in die jare vyftig van die vorige eeu plaasgevind het.

Ons het lekker gesels, die artikel bespreek en op die ou end ook ’n whiskey gedrink.

Toe ek groet, het sy vir my gesê: “Het ons darem nie ’n wonderlike werk nie?”

Sy het voortgegaan om vir my te vertel hoe bly sy is dat sy ’n skrywer kan wees, aangesien dit een van die min beroepe is wat ’n mens nog steeds op ’n hoë ouderdom kan beoefen, indien liggaam en verstand dit toelaat.  

Dit het my laat besef dat Elsa Joubert nog nie klaar gereis is nie. Mag sy nog vir lank, in haar seun Nico se woorde, “die kontinent van die ouderdom” verken.


Klik hier om Erns se profiel van Elsa Joubert, "Immer ’n reisiger", te lees.