Ons het nog ’n paar plekke oor. Kom saam!

Statistiek vanaf Arzua tot Amenal

Afstand afgelê: 24,4 km

Hoogte geklim: 110 vloere

Tree afgelê: 37 349

Ek slaap soos ’n droom – die beste in weke, en volgens my oefenhorlosie is my rustende hartspoed die laagste sedert ek dit begin meet het. Ek het dus fikser geword in die afgelope maand.

Ek is weer kort ná 5 uit die bed, maar ek word sonder die hulp van my wekker wakker. Caminoways.com het vir my ’n kamer in Pension Begona bespreek, maar die pension het nie sy eie eetsaal nie. Ek het ’n geskenkbewys gekry vir ’n ontbytplek “100 meter in die pad af”, maar toe ek die plek nie dadelik kry nie, soek ek liewer vir die geel pyle.

Op die plein waar ek gistermiddag paella geëet het, staan ’n groep van omtrent 12 pelgrims en opwarm. Dis maklik om die pyle op die dorp te volg, maar weer eens lei dit jou in ’n swart gapende gat op die rand van die dorp in. 

Franse Camino
Vroegoggend buite Arzua
Franse Camino
Die deksels op die mangate het ook die Camino-embleem

Uit pas uit

Vanoggend is ek vir byna die eerste halfuur op my eie voordat die groep van 12 pelgrims my van agter af inhaal. Hulle loop soos ’n skoolgroep in rye van drie en maak die pas dik aan. “Buen camino ... buen camino .... buen camino” groet hulle die een ná die ander as hulle verbystap. Ek probeer ’n rukkie lank om by hulle te hou sodat ek nie alleen in die donker hoef te stap nie, maar ek besef gou dit is ’n resep vir ’n disaster.

Al hoe ek die katedraal in Santiago kan haal, is as ek teen my eie pas stap. En in hierdie stadium sal ’n skilpad “joehieee” skree en my in sy stof agterlaat. 

’n Man groet met ’n vrolike “hola” hier van agter af, maar al wat ek in die donker kan uitmaak, is sy netjiese kuite wat soos erdekruike onder sy kortbroek uitsteek. ’n Kortbroek! Ek dra nog ’n pofbaadjie en mus.

Voor die reis het ek getwyfel of ek die baadjie moet saamneem (“wie kry nou koud in Spanje?” het my berese vriende langs die gloeiende kole van die braaivleisvuur gesê), maar sonder daardie baadjie sou ek in ’n blou bondeltjie anderkant Rabanal bly lê het. 

In hierdie stadium sal ’n skilpad “joehieee” skree en my in sy stof agterlaat

Dis weer Saterdag en die eerste dorp, Taberna Velha, toon geen tekens van lewe nie. By die volgende gehuggie, A Calzada, sit daar reeds ’n stuk of tien pelgrims en koffie drink. En vandag is daar vla-danish vir ontbyt. Dis verrassend vars. (Niks werk voor 10 in Spanje nie. Blykbaar ook nie oonde nie.)

Franse Camino
Dis mos nou 'n pelgrimontbyt!

Die res van die dag tik die kilometers reëlmatig af, en jy sien weer min pelgrims langs die pad. Kort voor middagete ontmoet ek vir Jo-Jo van Maryland. Jo-Jo het vyf weke gelede in St. Jean Pied de Port weggespring, maar het die afgelope twee weke ’n voetbesering. Haar voet is in ’n moon boot en sy gebruik haar stapstokke omtrent soos krukke.

Sy loop in hierdie stadium net 8 km per dag en hoop om teen Dinsdag, twee dae ná my, in Santiago aan te kom. Jo-Jo is die eerste mens op die Camino wat geen probleem met my naam het nie. “Names are important,” sê sy terwyl sy my naam ’n paar keer herhaal. “But if I see you in Santiago, I will call you ‘Cape Town’!” 

Tyd om die aflosstok oor te gee

Jo-Jo vertel haar man het reeds afgetree, maar sy bestuur nog haar eie bemarkingsmaatskappy. Sy loop die Camino om te besluit of sy moet halt roep met haar loopbaan. “Het jy al ’n antwoord gekry?” vra ek. “Wel, op ’n baie praktiese manier moes ek die onderneming aan ander mense oorgee vir die vyf weke wat ek hier in Spanje is. As ek terugkom by die huis en ek sien alles het goed gegaan, kan ek maar die leisels permanent aan die personeel oorgee.”

Franse Camino
Dis nog 'n dag op bospaadjies
Franse Camino
'n Antieke fontein op pad na Amenal

By Al Pino groet ons, dit is hoe ver Jo-Jo vir die dag loop, en ek is nogals spyt. Ek het haar geselskap geniet. 

Die laaste paar kilometer van die dag is altyd die moeilikste, en kort voor O Pedrouzo verskyn Claire uit die niet. Claire is ’n verpleegster van Australië. Ek het haar op my heel eerste dag raakgeloop en van daar af feitlik daagliks. Sy het die Camino kom stap om haar kop skoon te maak, en beplan om van daar af Londen toe te vlieg en onaangekondig op haar broer se drumpel op te daag om ’n familietwis van meer as 20 jaar te probeer oplos.

“Gaan jy die stappery mis?” vra ek haar. Sy dink ’n rukkie na. “As jy my vanoggend 07:00 gevra het, sou ek nee geantwoord het. Ek is moeg en seer. Maar by die vorige rusplek was daar ’n man met ’n hond wat daarop aangedring het om my ’n drukkie te gee. Toe besef ek wat die Camino vir my beteken het. Ek het soveel betekenisvolle kontak met mense langs die pad gehad.”

Franse Camino
Foto: Gerda Engelbrecht

Claire gaan op O Pedrouzo oorslaap, maar Caminoways.com het vir my ’n kamer 3 km verder bespreek, by Amenal. Ek is dankbaar daaroor. Dit maak die laaste dag se stap ’n bietjie ligter. Van daar af is dit net 16 km tot by die katedraal. By O Pedrouzo verloor ek egter in ’n stadium die geel pyle, en twee keer wys van die “locals” vir my Amenal is dáái kant toe. Maar die rigting wat hulle wys, is die snelweg wat net ’n effense skouer het.

Ek loop dus koes-koes vir die laaste 3 km van die dag. Amenal is streng gesproke nie meer ’n dorp nie, dis al deel van die buitewyke van Santiago! ’n Groot advertensiebord langs die pad adverteer dat die Santiago Carrefour (’n yslike supermark) “net tien minute” van daar af is. Dit is uiteraard 10 minute per motor. (Genugtig, ek verlang skielik na my motor.) Volgens Google maps is die Santiago-katedraal 19 minute weg ... as jy per motor reis!

Vir iemand wat ’n toon klap, is dit egter nog ’n paar uur se stap. 

Die boek wat die ding begin het

Ek is al teen 13:00 op Amenal – so vroeg dat my kamer nog nie gereed is nie. Ek eet ’n Spaanse omelet in die kafeteria en drink ’n koeldrank, en sien dat MasterChef (in Engels!) op die TV uitgesaai word.

Later verskuif ek na die hotel se sitkamer, waar vorige pelgrims boeke agtergelaat het om hul sakke so lig as moontlik te maak vir die laaste dag. Ek kom op Paulo Coelho se The Pilgrimage af – ’n boek wat ek omtrent ’n dekade gelede gelees het en wat baie gedoen het om die kooltjies van my Camino-passie aan te blaas. In sy voorwoord tot ’n latere uitgawe skryf Coelho:

“But what Petrus [die hoofkarakter in sy boek, wat op ’n geestelike reis gaan] tells me is exactly the opposite: there are no chosen ones. We are all chosen, if, instead of wondering, What am I doing here? we decide to do something that fills our hearts with enthusiasm.

It is that enthusiasm that connects us to the Holy Spirit, not the hundreds and thousands of readings of the classical texts. It’s wanting to believe that life is a miracle that enables other miracles to happen, not the so-called ‘secret rituals’ or initiatory orders’. In short, it’s a man’s decision to fulfill his destiny that really makes him a man.”

We are all chosen, if, instead of wondering, What am I doing here? we decide to do something that fills our hearts with enthusiasm

Dis ’n Saterdagnamiddag en ek lê op ’n bed opgekrul met ’n boek – my gunstelingnaweektydverdryf. Later besluit ek ek kan nie my laaste Camino-dag “mors” nie. Ek verskuif na die restaurant se buitetafels, waar ek my boek sit en lees. Toe die restaurant oopmaak, verskuif ek en my boek na ’n tafel vir een. Vanaand eet ek weer die pelgrimspyskaart.

Ek was tot nou toe elke aand lus om een van die tradisionele Galisiese geregte – seekat – te bestel, maar ek was skrikkerig vir vreemde kos en het by die voorspelbare hoenderborsies en paella gehou. ’n Omgekrapte maag is ’n groot probleem vir ’n pelgrim. Maar vanaand vier ek twee weke van seëning, en ek gaan nie terughou nie.

Ontbyt vir nagereg

Die Engels bly steeds lastig. En selfs al druk ek met my vinger op die geregte wat ek kies, kom daar  “prawns” aan toe ek “octopus” as voorgereg bestel, en later beesstert toe ek vir hoender as hoofgereg vra. Toe die kelner daarna met groot selfvertroue vir my vra of hy vir my die spyskaart vir “breakfast and coffee” kan bring, wys ek dit maar van die hand. Ek is nie seker of ek nagereg of ontbytvlokkies gaan kry nie.

Ek lê die aand in die bad. Wat ’n luukse vir ’n Kapenaar! Gaan ék die Camino mis? In hierdie stadium fokus my hele gestel nog net op die fisieke uitdaging van die reis: die spierpyn, die blase. Die lang ure op die pad. Op ’n dag het ek ’n deel van ’n gesprek tussen die Aussie Claire en ’n ander pelgrim gehoor.

“I don’t want backpain to be my only memory of the Camino...” het die pelgrim gesê.

“Oh no, Kate, I think the Camino is like child birth. Afterwards you will only remember the good parts ...” Ek vermoed die seer lyf gaan ook gou vergete wees. Ek sal ook net die goeie dele van die Camino onthou. Ek kan nie glo ek is 16 km van my eindbestemming af nie.


Gerda het in September 2017 die Franse roete vanaf Léon gestap danksy borgskappe van caminoways.com, Cape Union Mart, Rehidrat en Jeep. Jy kan die blogs oor die stappery vanaf Léon hier onder lees. Weg neem in April ’n groep van 16 stappers op hierdie roete.

Stuur e-pos na weg@flightsite.co.za as jy wil saamstap. Dit kos sowat R29 000 per persoon wat deel.