Kom stap saam! Ons het nog plek!

Statistiek vanaf Amenal tot Santiago

Afstand: 27,2 km (dit sluit my stappery op die dorp in)

Hoogte geklim: 131 vloere

Treë: 41 601

Ek word in Hotel Amenal wakker, maar vanoggend is dit maklik om op te staan. Toe my wekker om 05:00 afgaan, is ek lankal wakker van opgewondenheid. Al is dit ’n kort dag – ek het net 16 km oor tot by die katedraal in Santiago, is die tradisie dat jy om 12:00 die pelgrimsnagmaal bywoon.

Dis boonop Sondag vandag, wat beteken dat die katedraal sy tradisionele botafumeiro-seremonie uitvoer. Ek mik dus om 11:00 op Santiago te wees sodat ek om 12:00 in die kerk kan wees. Hemel, sal dit nie lekker wees as daar tyd is om te stort en ’n skoon stel klere aan te trek nie? Ek het net vir ingeval ’n skoon hemp en broek uitgehou.

Franse Camino
Vroegoggend net buite Santiago

Die  hotel sit op die Camino-roete. As ek dus by die hotel se voordeur links draai kan ek dadelik wegval. Daar is een of twee pelgrims wat ook vroeg weggespring het, maar die getalle groei baie vinnig aan. Al loop jy op ’n bospaadjie in die donker, hoor jy nou vliegtuie om jou dreun. Dis die Santiago-lughawe wat op die rand van die stad sit.

Ek is verras dat dit weer nie ’n maklike skof is nie, daar is ’n hele paar lastige bulte. Ek het al vergeet dat koningin Lupa grond op ’n koppie vir Jakobus se volgelinge gegee het om sy oorskot te begrawe. Dis daai einste koppie wat vanoggend op die laaste 16 km ’n lastigheid bring.

Franse Camino
Nog 'n vierpotige pelgrim
Franse Camino
Daar is trosse en trosse mense op die pad

Die raserige pelgrims

Net toe die kilometers te stadig na my sin begin aftik, vang ’n “bus” vrolike studente my. Dis ’n groep van sowat 20 wat in rye van twee langs mekaar stap. Elke keer wanneer ons verby ’n baken met ’n geel pyl gaan, sit die grootbek van die groep in met ’n lied wat begin met ’n uitgerekte “Sa-a-a-a-antiago...! Sa-a-a-a-a-antiago!”

Dis amper soos ’n klomp rugbyondersteuners wat wegtrek met “Shosholoza”. Almal ken die eerste twee woorde, maar daarna verloor die lied stoom tot net ’n paar binnensmonds mompel. Niemand ken die res van die lied nie. Dan, 100 meter verder, trek die grootbek weer los met ’n lang “Sa-a-a-a-a-antiago!” en begin die ritueel weer van voor af.

Ek kry ’n lekker krieweling. Selfs in die Bybelse tye het die pelgrims sing-sing in Jerusalem aangekom (die pelgrimspsalms was almal liedere wat gesing is op pad na Jerusalem) en ek voel reeds bewoë. 

Die stroom raak al hoe dikker namate ons nader aan die kern van die stad kom. Op die soom van die stad is daar nog ’n klomp herberge en baie jongmense sluit van daar af by ons aan. Dit is nie meer ’n pelgrimsreis nie, dis ’n optog na ’n katedraal in die hartjie van ’n antieke stad, dis ’n viering van alles wat goed en mooi is.

Franse Camino
Op die buitewyke van Santiago

‘Nóóit weer nie, baie dankie’

Een van die laaste “bakens” op die roete is die Berg Gozo, van waar jy ’n pragtige uitsig oor Santiago het. In vorige eeue kon jy die katedraal van hier af sien, en is die pelgrim wat dit eerste gesien het, gekroon tot “koning van die dag”, maar nou sien jy net die stadsbuurte van Santiago in die verte.

Almal staan vir ’n minuut of twee die uitsig en bewonder, maar niemand wil talm nie. Ons mik om 12:00 in die katedraal te sit vir die pelgrimsdiens. 

Franse Camino
Op die Berg van Vreugde
Franse Camino
Foto: Gerda Engelbrecht
Franse Camino
Daar voor is Santiago de Compostela

In die laaste 2 km van die dag hoor ek ’n klipharde “Helloooooo, South Africa”. Dis wrintiewaar Cath en Patty, die verpleegsters van Amerika, wat my gewaar het. Ons omhels mekaar. Dis so lekker om “bekendes” raak te loop en die laaste kilometer of wat saam met hulle te stap. Ons besef ons het nog nooit ’n foto saam geneem nie en staan vinnig nader vir ’n “onsie”.

Hulle skerts met Leslie, ’n Ier wat hulle ook al langs die pad ontmoet het. Almal vra of ons die Camino gaan mis. “Nee,” sê Cath binne ’n sekonde. “Dit was lekker, maar ek is bly dis nou klaar.” Ek beaam dit. “Nooit weer nie, baie dankie.”

Franse Camino
Cath is links van my en Patty regs

Leslie val weg met die verhaal van die twee passasiers wat met die veerbootbestuurder gesels het. Die een het gesê: “By my vorige dorp was almal naar met my en was ek die hele tyd ongelukkig. Hoe is die dorp aan die anderkant van die rivier?” En die veerbootbestuurder het geantwoord: “Die mense aan die ander kant is selfs erger. Ek is jammer, maar jy gaan baie ongelukkig wees daar.”

Later kom gesels die tweede passasier met hom en sê: “Dit was vir my so moeilik om weg te gaan van my vorige dorp. Die mense was so aangenaam, ek was so gelukkig daar.” Toe antwoord die veerbootbestuurder: “Moenie bekommerd wees nie. By die nuwe dorp is die mense selfs gawer. Jy gaan baie gelukkig wees daar.”

Cath rol teatraal haar oë. “Oukei, Leslie. Ons kry die punt. Die Camino is wat jy daarvan maak.”

Wat Cath nie sê nie – omdat sy dit nie hoef te sê nie – is dat ons almal besef dat ons deel van ’n grootse ervaring was wat ons nog jare lank sal bybly. Nou sukkel ons nog om ons rugsakke en moeë voete tot by die katedraal te kry, maar baie binnekort sal die “harde werk” van die pelgrimstog agter die rug wees, en sal ons net die goeie hiervan onthou.

Die dik stroom mense

Brierley waarsku in sy gids jy kan sukkel om die katedraal op te spoor omdat die roete jou deur die stad laat kruis-en-dwars, maar daar is soveel mense vandag op die pad dat jy nie kan verdwaal nie. Dis skoolgroepe, jongmense, gesinne met ’n kind op die heup, groepe fietsryers. Dis letterlik trosse en trosse mense.

Franse Camino
Die katedraal word gerestoureer
Franse Camino
'n Sykant van die katedraal

En dan doem die katedraal skielik omtrent 500 meter voor my op. Dis kort ná 10:00. Ek kan dit amper nie glo nie. Ek stap tot langs een van die sykante van die katedraal en kyk langs my, en sien die mooiste gebou. Dan sien ek die letters op die ingang en besef verras die pragtige gebou is die hotel waar caminoways.com my ingeteken het!

Die Hospederia San Martin Pinario is ’n hotel wat in die katedraal se ou klooster ingerig is. Ek besluit om vinnig te gaan hoor of ek my rugsak by die hotel kan los voordat ek na die plein en die katedraal gaan (jy mag nie jou rugsak by die katedraal inneem nie). Die vriendelike man by ontvangs groet my met “Buen Camino”, en sê dat my kamer al gereed is. Ek kan my sak sommer in my eie kamer gaan toesluit.

Franse Camino
Dis die hotel wat caminowys vir my bespreek het - dit sit langs die katedraal. Jippie!!
Franse Camino
My hotelkamer

Die teleurstelling voor die deur

Teen die tyd dat ek dus deur die klippoort na die plein stap om my pelgrimstog te voltooi, is ek sonder my rugsak. Daar was nie tyd vir stort nie, maar dit maak nie saak nie. Almal om my is ook vuil. Op die plein kom ’n groep fietsryers aan wat ’n rolstoelryer vergesel het. Die mense op die plein klap spontaan hande.

Sommige pelgrims lê op die grond om die sig van die katedraal in te neem, ander lig hul rugsakke omhoog vir ’n foto. Ek talm nie lank nie, ek hoop om nog ’n sitplek in die erediens te kry. Maar wanneer ek om die hoek van die katedraal stap, sak my moed in my skoene. Die ry vir die pelgrimsnagmaal loop soos ’n slang om verskeie hoeke en oor pleine. Ek loop en loop om die onderpunt te kry, maar ek is later 1,5 km van die katedraal af. 

Franse Camino
Die ry na die katedraal is langer as 'n kilometer
Franse Camino
Die pelgrim hou wag bo 'n deur by die katedraal

Dis nog 45 minute voor die diens begin en die ry raak korter, maar teen 11:45 staan die ry botstil. Die katedraal is tot by sy maksimum kapasiteit gevul. Ek staan 50 meter van die ingang af. Urrgg, om so ver te kom en so naby vas te val. Ek gaan sit by die kafee langs die katedraal en bestel tee. Ek kan van hier af die ander pelgrims dophou en oor my reis nadink. Dis ’n teleurstelling, maar dit bederf nie my dag nie.

 Die katedraal self is ook feitlik toe onder nette en steierwerk, want ’n grootskaalse restourasieprojek is aan die gang. Dit herinner jou egter dat dit by die Camino, by uitstek, oor die reis – en nie die eindbestemming gaan nie.

Franse Camino
Pelgrimsimbole

Nóg ’n bekende gesig

In die Hospederia San Martin Pinario loop ek onbepland my kollega Erns Grundling raak. Hy is in Santiago om ’n kykNET-reeks oor die Camino te skiet! Ons kuier heerlik. Laatmiddag drentel ek in die dorp rond en gaan na die pelgrimskantoor om my Compostela te gaan afhaal, maar die ry is bitter lank. Die veiligheidswag sê dit gaan minstens twee uur vat voor ek by die toonbank kom. 

Franse Camino
Een van die snuisterywinkels

Om 17:00 gaan sit ek in die katedraal vir die diens wat om 18:00 begin (ek gaan nie weer uitgesluit word nie). Ek probeer my emosies peil. Dis moeilik. Is dit vreugde? Verligting? Dis baie moeilik om dit te beskryf. Dis dit ook. Maar ek voel “salig”.

Ek is diep bewus van watter voorreg dit vir my is om hier te wees, en wat dit vir ander mense geverg het om tot hier te kom. Ek wonder of Valerie met die brein-aneurisme, wat ek kort voor Astorga ontmoet het, Santiago gehaal het, en wat van Brad en Leanne van die eerste dag geword het. Hoe ver sal Jo-Jo, wat net 8 km per dag kan loop weens ’n besering, nou van die eindpunt wees? Ek besef met dankbaarheid hoeveel mense by die huis ook moes opoffer dat ek hier kan sit. 

Die diens is alles in Spaans, maar ek sit langs ’n Spanjaard wat elke nou en dan vir my ’n paar woorde na Engels vertaal. Agter die priester is die groot beeld van Jakobus, wat tradisioneel deur pelgrims “omhels” word ná die pelgrimstog. Ook nou, terwyl die diens aan die gang is, is daar ’n ry pelgrims wat wag om die beeld ’n drukkie te gee.

Dit lyk komieklik, want te midde van al die erns van die nagmaal, sien jy elke paar sekondes hoe ’n nuwe paar arms om Jakobus sluit in ’n wurggreep. Ek sukkel om nie te giggel nie. En skielik kom die woorde van ’n Sheila Cussons-gedig by my op: “Ek het meteens onthou dat ek gelukkig is.”

Franse Camino
'n Ry pelgrims staan geduldig en wag vir hul Compostelas
Franse Camino
'n Blad uit my pelgrimpaspoort
Franse Camino
Met my pelgrimsertifikaat

Dankie, Jakobus

Ek het eers die volgende oggend kans gesien om geduldig in die ry te staan vir my Compostela. In die ry het ek met ’n groep van vier van aan die gesels geraak, en die een vrou het entoesiasties vertel dat sy eintlik ’n Nieu-Seelander van geboorte is. Dis einde September en die Springbokke het pas ’n groot pakslae teen die All Blacks in Albany gekry. Maar vandag is hier geen verloorders nie. Die vrou by die toonbank blaai deur my pelgrimpaspoort en wens my geluk voor sy my sertifikaat uitreik. 

Ek was al vroegoggend, toe die katedraal nog stil was, daar om die pelgrimtradisies uit te voer. “Master Mateo” se meesterwerk, ’n groot pilaar met pelgrimsimbole, is tans toe as deel van die katedraal se restourasieprojek. Ek kan net die foto’s bewonder, maar daar is geen ry by Jakobus se beeld nie. Ek kan dus vir Jakobus ’n drukkie gee. Vir ’n oomblik bedink ek my – dis tog simpel om ’n beeld te druk – maar dan dink ag, wat de hel... Ek het nou tot hier gekom?! Die tradisie is dat jy ’n wens in Jakobus se oor fluister (jy het mos nou die reg “verdien” deur al die kilometers te stap), maar al wat ek uitkry, is: “Dankie vir alles.” En dan vra ek vir reën vir die Wes-Kaap.  

Franse Camino
Op die katedraal se dak
Franse Camino
My Camino-skulpe. Die een het my familie tuis vir my geteken

Later meld ek aan vir die katedraal se daktoer. Ek betaal die 8 euro en besef te laat dat ek nou op ’n Spaanssprekende toer is. Dis in elk geval my laaste dag in die stad, so ek kan nie wag vir die Engelse toer nie. Die uitsig van die dak is asemrowend, en omdat ek nie twee woorde van die gids verstaan nie, kan ek my met my eie gedagtes besig hou. 

Die volgende oggend is ek om kort ná 04:00 al by die hotel se deur uit. Ek moet die trein neem na Madrid, van waar ek vanaand ’n vlug huis toe haal. Die ontvangsdame het vir oulaas ’n vrolike “hola” geroep en ’n pakkie met ontbytkos in my hand gestop. (Twee muffins en twee croissants.)

Ek stap sommer stasie toe. Dis my gunstelinguur van die dag. In een van die strate is twee werkers besig om ’n banier op te hang met die woorde “Festival Internacionale”. Santiago skud sy vere reg vir sy volgende groep besoekers. In die laaste kilometer voor die stasie kom daar nog passasiers met rugsakke en stowwerige skoene uit die systrate te voorskyn. Hulle stap ook stasie toe. ’n Vullisverwyderaar roep vrolik van agter die vulliswa “Buen Camino!” en waai. Ek waai terug. Tot siens, Camino.

Tot siens, Santiago. Mag jy en jou pelgrims nog duisende jare geseën word.


Naskrif: Sedert my voorneme teenoor Cath om nóóit weer die Camino te stap nie, het ek reeds drie keer na Spanje teruggekeer om ook Camino-Finisterre en die Portugese Camino te stap. Daarna het ek na Italië gereis om die “Italiaanse Camino”, die Via Francigena, te loop, en na Peru vir die Inka-staproete wat by Machu Picchu eindig. My eerste staptog op die Camino het op baie maniere my lewe verander. My ma leef nog en is taamlik gesond vir iemand wat sterk op pad 80 toe is. 

Weg neem in April ’n groep van 16 stappers op hierdie roete. Stuur e-pos na weg@flightsite.co.za as jy wil saamstap. Dit kos sowat R29 000 per persoon wat deel.