Toe my selfoon se GPS met selfvertroue aankondig “your destination is to your right”, kyk ek met verstomming om my. Iewers het iets verkeerd gegaan, want regs van my is ’n paar verdwaalde hoenders agter ogiesdraad, en links net ’n paar leë erwe.

Weg se Duster het omtrent twee strate van Calitzdorp se hoofstraat af tot stilstand gekom, en ons is baie beslis ver van die Gamkaberg-natuurreservaat af.

Die vrou by ’n kafee beduie my en my gryskop ouers, wat gretig was om hierdie juweel van CapeNature self te beleef, na Calitzdorp se toerismeburo langs die Caltex-vulstasie op die R62. Daar pluk ’n vriendelike toerismebeampte ’n kaart van die rak af, en druk met haar wysvinger in die regterkantste onderste hoek van die kaart.

Gamkaberg is nog so 30 km buite die dorp, verduidelik sy, en ons sal moet aanstoot, want dis winter en al digby vieruur die namiddag. Daai hek gaan nie tot ounag oopbly nie.

Gamkaberg se ontvangs
Die hek
Ry en parkeer versigtig

Gebore en getoë op Gamkaberg

Dis darem nie moeilik om te kry nie. Jy draai van die R62 in Calitzdorp af in Riebeekstraat (by die supermark), wat dan Queenstraat word. En dan hou jy vir 25 km met die sementpad aan tot by die Vleirivierafdraai. Van hier af ry jy die laaste sowat 6 km op ’n goeie grondpad tot by Gamkaberg se hek. 

Dis al stillerig teen die tyd dat ons by die ontvangskantoor kom, en ’n nota sê ons kan die diensbeampte, Adriaan Horn, skakel om ons te kom inteken. Adriaan is ’n gebore en getoë Gamkaberger, wat 37 jaar gelede hier gebore is en in die natuurreservaat grootgeword het.

Hy vertel hy het as tjokker elke dag die 6 km tot by die grootpad gestap om skool toe te gaan. Sy pa het destyds vir CapeNature op Gamkaberg gewerk, en nou sit hy dié werk voort.

Adriaan ry in sy 4x4-bakkie vooruit na ons verblyf. Ek is jaloers op die bakkie. Die 4x2 kom goed genoeg reg, maar ’n 4x4 sal hier ’n lekker luukse wees.

Sweet Thorn
Die eko-badkamer
Ouma en Oupa sit op die stoep.
Hier kan jy lekker braai. Agter is die goed ingerigte kombuistent.
In die middel is die kuiertent met hangmatte en rusbanke.
Die plonspoel by Sweet Thorn.

Sweet Thorn, jou ou doring

Adriaan hou eerste by Sweet Thorn stil, waar my ouers gaan oornag. Sweet Thorn is ’n eko-tentkamp wat altesame ses mense kan huisves.

Die kamp bestaan uit drie tente met twee beddens elk (een tent het ’n dubbelbed, en twee tente het elkeen twee enkelbeddens), ’n badkamer met ’n warmwaterstort (wat met ’n gasgeiser werk) en ’n eko-toilet (nie ’n long drop nie).

Daar is ’n sitkamerarea met buitemeubels en twee hangmatte, ’n plonspoel met dekstoele waartoe nét die mense in Sweet Thorn toegang het, en ’n braailapa wat heerlik ingerig is met ’n kostent en ’n buite-braai. 

Die tente het luukse beddegoed op die beddens en handdoeke (vir bad en swem), en ’n kis met bêreplek. Daar is lanterns in die tente, sowel as sonkraglanterns op die voetpaaie van die kamp. Dis idillies!

Die leeu se lêplek

Ek bly egter sowat 600 meter verder aan met die tweespoorpad in die nuwe eenheid, Xami. Xami het net slaapplek vir twee mense. Ons terg dat dit die “honeymoon suite” is. 

Die naam kom van die ou Khoi-woord vir “leeu”, wat ook donkiejare gelede aan Gamkaberg sy naam gegee het. Die laaste leeu is egter in 1850 laas hier gesien, vertel Tom Barry, Gamkaberg se bewaringsbestuurder, my die volgende dag. 

Die naam kom van die ou Khoi-woord vir “leeu”, wat ook donkiejare gelede aan Gamkaberg sy naam gegee het.

Hier is wel nog luiperds in Gamkaberg, en met strikkameras is daar die laaste paar jaar minstens 43 verskillende luiperds in die gebied opgemerk. Tom sê egter die luiperds is maar skugter. In die 25 jaar wat hy al hier bewaringsbestuurder is, het hy nog net drie keer ’n luiperd hier met die blote oog gewaar.

Welkom by Xami.
Xami van voor af.
Xami se sonpaneel.
Adriaan Horn sluit vir ons oop.
Agter die flap is die badkamer.
Dis mos nou 'n rusplek!
Twee dekstoele by jou eie plonspoel.
Handdoeke en goeie beddegoed
'n Warm stort en spoeltoilet in die hoek.
Die kombuis is goed toegerus.
Die plonspoel.

Toe ons by Xami aankom, is die son besig om in goue strale oor die horison te verdwyn. Ek voel hoe die rustigheid soos ’n kombers oor my getrek word. Ek is Xami se eerste gas! 

Die eenheid is groot, met ’n lekker koningingrootte bed wat luuks oorgetrek is, ’n leersitbank, en ’n kombuisarea met ’n yskas-vrieskas, gasstoof en alles wat jy in ’n kombuis nodig het. Daar is ook ’n eetkamertafel.

Ek voel hoe die rustigheid soos ’n kombers oor my getrek word. Ek is Xami se eerste gas!

Die grootste luukse is egter Xami se en suite-badkamer, met ’n spoeltoilet en stort (ook met ’n gasgeiser). Die yskas en kragprop werk met ’n sonpaneel. 

Buite op die dek het Xami ook sy eie plonspoel, eksklusief vir sy inwoners se gebruik, en dekstoele as jy met jou voete in die lug wil lê. Die een ding wat Xami (en trouens, dit geld ook vir ander CapeNature-verblyf) nié het nie, is sy grootste pluspunt: Hier is geen TV of radio nie. Die enigste musiek in jou ore is die rustige naggeluide.

Ons braai onder die sterrehemel.
Hmmm.
Braaibroodjies.

My pa steek die vuur aan en ons kuier die aand op die dek met ’n ietsie in die hand. Al is dit winter, is dit nie snerpend koud nie. Ek slaap soos ’n klip, want hier is geen stadsgeluide of -liggies om jou uit die slaap te hou nie. 

Ek word die volgende oggend wakker en kan minstens agt verskillende voëls se sang uitmaak. Ek sit kort voor sewe op die dek met my oggendkoffie en kyk na die pienk oggendlug. Ek kry selfs ’n klein bietjie werk ingepas (ons werk ook soms!) voordat my ouers later die oggend kom aanklop vir ontbyt.

Ek sit kort voor sewe op die dek met my oggendkoffie en kyk na die pienk oggendlug.

Hier is ’n flouerige selfoonsein – net sterk genoeg dat jy die heel belangrikste goed kan wegstuur kantoor toe.

“As ek moeg word vir die lewe in die stad . . .”

Ons bring die dag op Gamkaberg se wandelpaaie deur, en loer uit nuuskierigheid by die tentdorp Fossil Ridge in. (Hier is slaapplek vir 4 mense.) 

Fossil Ridge het 2 slaaptente.
Fossil Ridge se kombuis-en-braaiarea
Fossil Ridge se plonspoel.
Kyk die lekker sitplek.
Tuur vir 'n uur.

Gamkaberg is by uitstek ’n bestemming vir stappers. Die langasems kan na die Oorhangrots en terug stap (14,4 km – sowat 6 uur se maklik stap), of die tweedagroete na Tierkloof aanpak.

Tierkloof het ’n stappershut waar jy kan oornag. Op dag 1 stap jy 13,2 k

m (8 uur) en op dag twee 11,6 km (7 uur). Vir die oueres en onfikses is daar ook vier korter opsies: die Guarrie-roete (0,7 km – sowat 20 minute), die Spekboomroete (1,3 km – 30 minute), die Muisvoëlroete (2,5 km – 1,5 uur), en die bonthoutkapperroete (4,1 km – 2,5 uur). 

Die labirint.
Die staanplekke.
Slaapplek vir stappers.
Slaapplek vir stappers.

Ons stap ook deur die labirint en verken die kampgeriewe. 

Die 4x4-eienaars het ’n ekstra verblyf-opsie, hulle kan die steil pad na Ou Kraal aandurf en daar oornag, maar ons moet ongelukkig by die afdraai omdraai.

Die pad na Oukraal begin makkerig
Jy's gewaarsku!

Die Here se vuurwerke

Laatmiddag ontvang ek weer my ouers vir koffie, wat in ’n gekuier op die dek ontaard. Ons besluit om weer by “my plek” aandete te eet, maar ek steek my pa aan die werk binne Xami. 

Namiddagsiesta by Xami.
Koffie op Xami se dek.
Tjorts! Op 'n lekker dag!
Op Gamkaberg het jy nie kamerafilters nodig nie.

Ek wil die houtdek so donker as moontlik hou vir my nagfotografie.

En terwyl hy ’n lekker potjie binne op die gasstoof aanmekaarslaan, benut ek die stokdonkerte om my kamera buite staan te maak en die sterre af te neem. Die Here skiet behoorlik vuurwerke af vanaand!

Die skouspel in die lug.

In ’n wêreld wat bedot geraak het met die koninklikes en Kardashians, is die sterre in die lug bo Gamkaberg die enigstes wat jy nodig het. Ek sal beslis weer kom. 

Ek wil ook gaan!

Hoe kom ek daar? Ry met die pragtige R62 (“Route 62”) tot op Calitzdorp, en draai af in Riebeekstraat. Ry vir 25 km op die sementpad.

Hou fyn dop vir die afdraai op die Vleirivierpad, die CapeNature-bord is effens versteek. Van daar af hou jy reguit aan op die grondpad tot by die hek.

Die pad na Gamkaberg.
Kyk uit vir hiérdie bord.
Hoeveel kos dit?

My verblyf in Xami was ’n geskenk van CapeNature, maar gewoonlik kos dit R1 330 in die piekseisoen; R950 buite seisoen. Xami slaap twee mense. 

Vir my ouers se verblyf in Sweet Thorn het ons CapeNature se 40%-winterafslag benut (wat tot einde Augustus geld). Ons het R1 560 vir die twee nagte betaal. (Sowat R650 per nag vir twee mense, en dan ’n verdere R325 per persoon tot by maksimum ses mense.) In seisoentyd kos dit R1 950 per nag vir ses mense. 

Fossil Ridge het slaapplek vir 4 mense, en kos R1 300 per nag in seisoentyd, en R650 per nag in die wintermaande (vir die eerste 2 mense – daarna R325 p.p.). Daar is twee tente, met plek vir twee mense in elk.

Tierkloof het slaapplek vir 8 mense en kos R2 600 per nag in seisoentyd, en R650 vir twee mense tydens die afslagtydperk. (Bykomende mense betaal R325 per nag.) 

Oukraal kos heeljaar R160 p.p.p.n, en staanplekke R140 per nag (vir twee mense, bykomende mense betaal R70 per nag). 

As jy nie ’n Wild Card het nie, betaal jy ook die daaglikse bewaringstarief: R40 per volwassene, en R20 per kind.

Al die verblyf kan oor die internet bespreek word, behalwe Xami. Dié is nog so spiksplinternuut dat dit nog nie op die webwerf is nie. Stuur e-pos na reservation.alert@capenature.co.za of skakel +27 21 483 0190. Vra spesifiek vir Xami.

Het ek ’n 4x4 nodig? Ons was daar met ’n 4x2, maar ’n deel van die reservaat kan baie beslis net met ’n 4x4 bereik word. 


Bespreek by www.capenature.co.za