Foto’s: Cyril Klopper
Roetes
Roetes wat roep

Die Houwhoek- en Mount Hebron- natuurreservaat lê op die suidwestelike punt van die Hottentots-Hollandbergreeks en aan die bopunt van die Botrivierstrandmeer naby Hermanus.

Die luukse Arabella-gholflandgoed is ook in dié geweste, maar as jy eerder 4x4-kortkieries verkies as kortysters, moet jy aan die ander kant van die R43-streekspad gaan aanklop.

Op die plaas Honingklip word met proteas, granate en olywe geboer, maar jy is hier vir die 4x4-roete deur die plaas se eie natuurreservaat. Parkeer jou trokkie by die brouery kort nadat jy die hoofhek binnegery het. Regoor die parkeerterrein is ’n kiosk waar jy jou eie permit uitskryf, ’n vrywaringsvorm teken en kontant in ’n koevert plaas.

Verlaag ook sommer nou al jou bandlugdruk – 1,8 bar behoort genoeg te wees – want voor jou lê diep sand en skerp klippe...

Honingklip
Honingklip is ’n lekker speelplek waar jy jou veldryvaardighede in ’n veilige omgewing kan slyp, maar wees versigtig om rammetjie-uitnek te raak, want jy kan steeds jou voertuig beskadig.

Speelplek of pyntuin?

Met die plaas se pakstore aan jou regterkant ry jy tussen granaatboorde en ’n paar vlak stroompies deur. As jou ryding hier sukkel, moet jy terstond die handdoek ingooi, want vorentoe raak dinge aansienlik rowwer. Ná sowat 2 km begin die roete soos ’n slang links en regs kronkel. Hier en daar is ’n grondhoop, ’n boomstomp, ’n moddergat en ’n skuinste wat jou uitdaag.

Langs elke hindernis is ’n ontsnaproete ingeval jou voertuig sukkel om reg te kom.

Kort ná hierdie martelpad volg ’n sandput so groot soos twee rugbyvelde waar jy ’n paar esse tussen die duine kan kap en jou sandryvaardighede slyp. Bo die speelterrein is ’n besproeiingsdam waarin jy mag swem. Jy kan ook langs die waters braai, maar dis verbode om met jou veldryvoertuig op die damwal te ry.

As jy tot hier toe glad nie gesukkel het nie, is dit tyd om bergop te mik. As dit egter so hittete was, moet jy dalk eerder terugkeer na die brouery om jou ego met ’n koue bier te lawe.

Broekskeur-bergroete

Honingklip voer aan sy 4x4-roete is op die moeilikheidskaal ’n graad 2 tot 3. Hier is egter ’n paar hindernisse wat kwalifiseer as uiterse graad 3 of selfs ’n matige 4. 

Dit is die een asknoper ná die ander, opdraandes én afdraandes, en by elke vurk in die pad is ’n groen en rooi pyltjie. As jou rug- en maagspiere protesteer teen die gerondtjommel, kan jy ’n groen pyltjie volg wat ’n ontsnaproete aandui, maar selfs hier het jy ten minste allewielaandrywing nodig – ’n Volkswagen Polo gaan beslis nie die mas opkom nie.

Indien jy iewers vashaak en daar is niemand om jou te help nie, kan jy vir Richard Middelmann bel om jou voertuig te kom herwin. Hy gaan jou egter R150 vra om dit te doen.

As jy dapper is en nét die rooi pyltjies volg, gaan dit jou 2-3 uur neem om die 10 km af te lê wat jou tot bo-op die berg neem. Die groenpyltjie-roete duur sowat ’n halfuur tot bo.

Hier en daar is ’n grondhoop, ’n boomstomp, ’n moddergat en ’n skuinste wat jou uitdaag.

Noudat jy op die kruin (498 m) van die roete is, kan jy uiteindelik ontspan en die pragtige natuurskoon waardeer. Aan die een kant van die berg lê die Elginvallei en aan die ander die Caledon-distrik. Ver in die noorde lê die blougrys berge van Worcester en in die suide sprei die Atlantiese Oseaan hom lank uit.

Dit staan jou vry om jou voertuig te verlaat en deur die fynbos te stap – maar dis streng verbode om veldblomme te pluk. En kyk tog mooi waar jy trap, want hier is skaars en beskermde plantspesies.

Dalk sien jy ook ’n ribbok. Terug in jou voertuig moet jy die roete noukeurig volg en die “Geen toegang”-padpredikate gehoorsaam. As jy afdwaal, gaan jy onwettig in een van die twee reservate weerskante van Honingklip beland en dalk beboet word. Die pad af is geensins uitdagend nie en jy kan rustig agteroor sit en die natuurskoon inneem.

Honingklip
By Honingklip is daar sand, klip, grond en selfs modder. As jy jou strepe hier verdien het, is jy feitlik reg om die wêreld kaalhand te pak.

Sowat 2,5 km voor die einde van die roete is daar wel een laaste uitdaging: ’n Steil afdraande waar jy laestrek en eerste rat moet inhaak (of afdraandebeheer as jou voertuig dit het). Maar, soos met al die ander hindernisse op Honingklip, kan jy óm hom ry as jy nie kans sien nie.

Nou bly net een ding oor: Die brouery. Hier is agt soorte bier waaruit jy kan kies, en elkeen van hulle word volgens die Belgiese metode gebrou. Vir R35 kry jy vier skuimkoppe van jou keuse.

Ons het die Special, Blond, Saison en ’n IPA beproef. Die Special (9% alkohol) is ’n uitdagende outjie, net soos die rooipylroetes. As jy sukkel om hom baas te raak kan jy eerder die Saison (4%) probeer. Dit is ’n ligte ontsnaproetebier vir iemand wat nie eintlik van bier hou nie, maar wel ’n alleverskriklike dors moet les. Tjorts!

Wat jy moet weet

Maksimum getal voertuie: Onbeperk.

Kry ek ’n kaart? Ja.

Sal my voertuig krap? Nee.

Moet ek ’n kompressor saamneem? Ja.

Kan ons langs die pad braai? Ja, by die dam.

Kan ek halfpad omdraai? Nee, tensy dit nie anders kan nie.

Is daar selfoonsein? Ja.

RONDOM DIE ROETE

Beste tyd om te gaan? Heeljaar.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of die naweek? Dit is  ’n daguitstappie.

Is daar ablusiegeriewe? Nie op die roete nie, maar wel by die brouery.

Aanwysings: Uit Kaapstad ry jy 80 km ooswaarts met die N2-snelweg. Kort ná die Houwhoekpas draai jy regs op die R43-streekspad, en ná 8 km lê Honingklip regs.

GPS: S34.28479 E19.14887

Wat kos dit? R150 per voertuig.

Kontak:  083 287 5112 (Richard) of 071 136 5307 (Phillippa); phill@honingklip.comhoningklip.co.za