Foto's: Jac Kritzinger

"Laat ek jou vertel hoe dit hier werk,” gesels Marelize Swart, bestuurder van die Botrivier Hotel, waar ons in die dameskroeg met ’n koppie koffie sit. “Dis ’n piepklein plekkie, mense dink hier gaan boggherol aan as hulle hier deurry. Dan sien hulle hier’s lewe op die hotel se stoep. Dan ontmoet hulle die locals. En dan,” knipoog sy, “koop hulle grond hier.”

Daar’s inderdaad niks bot aan dié dorpie nie. Botrivier kry sy naam van die oorspronklike Botterrivier wat hierlangs loop, so gedoop in toeka se dae deur Hollandse setlaars wat botter geruil het by die Khoiveeboere.

Vandag lê die dorpie en sluimer tussen die laslappies canola-landerye en wingerde wat so eie aan die Overberg is. En hy’s ryk aan hartlike karakters. Ryk en lekker.

Marelize se ouers het die geskiedkundige hotel, wat uit die laat 1800’s dateer, in 1971 gekoop; en die afgelope ses jaar staan sy aan die stuur.

Botrivier Hotel

“Die mense maak die dorp spesiaal. En die hotel is die plek waar almal saam kuier,” sê sy. “Ou locals, inkommers, besoekers, die lot.”

So word daar gereeld bring-en-braais gereël as groot rugby gespeel word, en Vrydagmiddae word pasella eetgoed op die hotelstoep uitgepak vir klante.

“My ma-hulle het die Vrydagding begin sodat die distrik se boere aan die einde van die week kon saam kuier,” vertel Marelize. “Dis tradisie.”

Die hotel is die kern van die dorp. As jy Botrivier inry op die R43 (dit word Botrivier se Hoofweg), kry jy die ou dorpsplein aan jou linkerkant. Die plein lê ingewig tussen die stasie en die hoofstraat en is deesdae ’n parkeerterrein. Die hotel beslaan die ganse linkerflank van die plein, met slegs ’n slaghuis, kafee, eetplek en koöperasie aan die bokant, en ’n klein vulstasie regs. En dis dit. Vir alles anders moet ’n mens ry.

“Ons is skaars ’n halfuur weg van al die groot dorpe in die omgewing,” gesels Thea Swanepoel in haar huis in die hoofstraat. “Baie mense dink Botrivier is in die middel van nêrens, maar ons is naby aan alles. Hermanus, Caledon én Grabouw sit skaars dertig kilo’s ver.” Thea en haar man, Johnny, het sewe jaar gelede uit Randburg hier aangeland. Sy bestuur ’n paar oornagplekke op die dorp, en is ook ’n lid van die Botrivier Belles, ’n plaaslike vroueklub wat hulle beywer met onder meer die opheffing van die armer gemeenskap. En hulle kuier gereeld.

“Ek sal nou nie sê ons skinder nie, maar ons drink lekker saam tee,” vertel sy vroom.

Botrivier se klein NG kerkie is reeds byna ’n eeu oud en??is deur die jare netjies en getrou aan die oorspronklike ontwerp in stand gehou.

Botrivier se stasie het al beter dae geken; ek vra uit oor die trein wat ek douvoordag deur die dorp hoor rammel het. “Dis die goederetrein wat gars uit die distrik na die Kaap se brouerye vervoer,” vertel Thea. “Dis nog net hy wat hier loop.” Daar was etlike jare gelede wél ’n ou stoomlokomotief wat plesierritte hierlangs aangebied het. Die yslike watertenk wat die lokomotief se pens moes volmaak, is egter in 2011 gesteel, en toe is dit gestaak.

“Maar ag, ons kla nie. Jy het die rustigheid van ’n klein gemeenskap, sonder om afgesny te voel. En die omgewing het baie om te bied.”

Sela.

Kyk, jy kan heeldag met ’n pot tee of iets sterkers vashaak op die hotel stoep, maar verken die kontrei. Botrivier het immers ’n veel meer verfynde voggie wat deur sy are vloei: dis stokou, spoggerige wynwêreld die, met die eerste wingerdstokke wat reeds in die 1700’s aangeplant is. Hierlangs ken die manne van toor met die druif, en hulle doen dinge ’n bietjie anders.

“Hier’s net ’n paar wynplase met kelders in die distrik,” gesels Donovan Ackermann, die wynmaker van Gabriëlskloof net buite die dorp. “Die fokus is eerder op kwaliteit as kwantiteit. Anders as in groot wynstreke wedywer die ouens ook nie met mekaar nie, almal is pêlle en werk saam om Botrivier se puik wyne as ’n brand te vestig.”

Die Bot River Winegrowers Association (BWA) vergader gereeld om planne te maak vir die bemarking van die streek – wat steeds in die skadu van die meer bekende Hermanus-wynroete staan. En so hard as wat daar saam gewerk word, so hard word daar gespeel.

Donovan vertel van die jaarlikse Barrels and Beards-fees wat net ná oestyd einde April gehou word. Die storie agter die storie loop so: In oes- en parstyd is die manne elke jaar só besig dat daar skaars tyd is vir ’n behoorlike nag se slaap, wat nog te sê skeer! ’n Paar jaar gelede het hulle besluit om van baardkweek ’n kompetisie te maak, wat dan eindig met ’n baardbeoordeling op die Saterdagaand van die fees. Die jaar se bloedjong oes word dan ook uit die vate geproe.

“Dit,” sê Donovan terwyl hy verlangend die verte in kyk, “is nou ’n moerse lekker paartie.”

Jy kan sommer van die hotel af stap na die oudste plaas in die distrik. Beaumont Family Wines se ingang is in die hoofstraat net voor die treinspoor, ’n hanetree van die hotel af. Die wynplaas was in die 18de eeu die Compagnies Drift-plaas, ’n handelspos vir die Vereenigde Oos-Indiese Kompanjie. Dit huisves die land se oudste watermeul wat nog werk.

“Ek het met ’n wynboer getrou sodat ek heeltyd goeie wyn kan drink,” skerts Nadia Beaumont, bemarkingsbestuurder van die plaas, terwyl sy my rondwys. Ons stap verby groen grasperke, lowerryke bome en ’n dam waarin die Groenlandberg weerkaats. Nét die plek vir afsaal met ’n glasie op ’n somermiddag. Ek vra uit oor die meul: Ja, sê Nadia, hy’s by die 250 jaar oud, en hulle gebruik hom nou en dan om meel te maal. Daarvan word beskuit gebak wat by die proelokaal te koop is.

“Die plaas het ’n outydse, rustic gevoel, en ons wil dit so hou. Beaumont is ’n familieplaas, en ons is trots op die familie-atmosfeer hier. En natuurlik ons wyn!”

Sy noem dat dit soms jolig kan raak by die hotel, en dat besoekers eerder die saligheid hier onder die bome verkies. “Jong, it takes all sorts. Ons het die natuur, goeie mense, goeie wyn en goeie kos. Alles ’n uur van die Kaap af.”

Teen ligdag reeds is Wildekrans se werkers reg om aan die werk te spring.

As jy anderkant die treinspoor op die Van der Stelpas afdraai, ’n mooi stuk grondpad wat tot op Villiersdorp loop, kom jy agter dat dit nie nét op die hotelstoep wild kan raak nie. Sowat 5 km buite die dorp sit Cornellskop, ’n wildplaas van 140 ha. Hier woon die eienaar, Luke Cornell, vredig saam met leeus, jagluiperds, rooikatte, sebras, elande... noem maar op.

Die uithangbord teen die pad lees vreemd: Cornell Skop. “Dis sommer woordspel,” verduidelik Luke met die intrapslag. “ ’n Skop kan ’n paartie beteken, of ek skop jou in jou glory in.” Dan lag hy, steek ’n breë, bruingebrande palm uit. “Hoezit, pêl. Welkom.”

Luke is ’n aardse siel en woon reeds 12 jaar hier. Hy is ook ’n legende in die Kaapse filmbedryf: Hy is die enigste hanteerder in die Wes-Kaap wat met wilde (oftewel gevaarlike) diere op filmstelle mag werk. Baie van sy diere het al in TV-advertensies vir onder meer Firestone, Jeep, Cadbury en Dulux verskyn.

“Ek’s bitterlief vir diere; dis my kruis,” sê hy. Luke het byna al die wild hier van jagplase en slagpale oor die jare gered, al was die plan nie om hulle vir sy werk te gebruik nie. En met die filmbedryf wat onlangs in die Kaap begin kwyn het, moes Luke hom wend tot eko-toerisme om sy viervoetvriende te onderhou. Nou staan Cornellskop se hekke oop vir besoekers sodat mense die wilde wesies van nader kan leer ken. Die groot trekpleister is die jagluiperds Zulu en Sarge. Hier is ook twee yslike leeumannetjies, Mojo en Moby, wat op ’n veilige afstand bekyk kan word.

“As daai boys brul, dan hoor jy dit tot in die dorp,” grinnik Luke waar ons op ’n hoogte staan en uitkyk oor die vallei. “Ek weet egter nie hoe lank ek nog die plek aan die gang sal kan hou nie,” sê hy dan met ’n diep keep tussen die oë. “Maar ek sal aanhou doen wat ek kan. Ek is nou hier geanker. Botrivier is ’n rustige plek; ek sal dit vir niks verruil nie.”

Cornell Skop-wildplaas

Rustig, ja, dink ek toe ek laatmiddag weer my sit op die hotelstoep kry. Die Gabriëlskloofkardoes met die drie bottels wyn klingel gerusstellend wanneer ek dit op die tafel neersit. Ek skink ’n glasie chenin en hou dit teen die son. Miskien sal ek die wingerd prys, skiet Van Wyk Louw se versreël my skielik te binne. ’n Mens kan nie anders as om ’n glasie te klink op Botrivier nie: Die wyn is lekker, die mense plat op die aarde én jy kan ’n maanhaar sien. 

DOEN DIÉ DRIE DINGE

Klink ’n glasie

Wildekrans

Cisca Abrahams, proelokaalbestuurder, Wildekrans.

Dié spogplaas sit op die R43 net buite die dorp. Behalwe vir wynproe kan jy ook perdry. Dit kos vanaf R150 p.p. vir ’n halfuur. Bespreek vooraf.
Kontak 028 284 9902; wildekrans.com

Gabriëlskloof

’n Mens ry sowat 5 km op die N2 in Caledon se rigting voor jy die bordjie op regterhand kry. Van die hoë stoepe af het jy ’n uitsig oor die dorp en vallei. En vanaf R100 per bottel is van die jonger boetiekwyne en versnitte nie te swaar op die sak nie.
Kontak 028 284 9865; gabrielskloof.co.za

Beaumont Family Wines

Hier heers ’n gemoedelike atmosfeer, en as jy gelukkig is, sien jy die watermeul loop.
Kontak 028 284 9194; beaumont.co.za

Gaan na botriverwines.com vir ’n volledige lys van al die wynplase in die omgewing.

Stap of ry bergfiets

Die Groenlandberg-bewarea net buite dorp het ’n hele rits stap- en bergfietsroetes op die omliggende plase en reservate; groenlandberg.co.za.

’n Hele paar dagstappe begin op Beaumont Family Wines: Raoulskoppie-sirkelroete (2 km), Baviaanskloof-sirkelroete (7 km) en Watchtowerroete (11 km). Laai ’n kaart af by beaumont.co.za. Meld net eers by die plaaskantoor aan voor jy in die pad val.

Die Groenbergroete is ’n vier dae lange slenterstaproete (34 km) wat op Elgin begin en by Beaumont Family Wines eindig. Jy oornag in gastehuise, eet lekker en proe wyn op pad – dit kos vanaf R10 600 p.p. 028 284 9827; greenmountaintrail.co.za

Sien ’n jagluiperd

’n Deurstaptoer op die Cornell Skop-wildplaas waar jy van nader met al die diere kennis maak, duur ongeveer twee uur (R700 p.p.). Die volle interaksietoer, waar jy ook jagluiperds kan sien hardloop en die leeumannetjies uit ’n lapa dophou, duur ’n bietjie langer (R1 500 p.p.).

Bespreking is noodsaaklik, en kinders kry afslag.

Kontak 079 065 0215 / 082 881 3870; cornellskop.co.za


EET HIER

Manny’s

By dié fieterjasielose eetplek op die dorpsplein is Portugese disse soos peri-peri-hoender, garnale, espetadas en milho frito (’n soort gebraaide pap) die spesialiteit.

As jy minder waaghalsig voel, kan jy ook aan staatmakers soos burgers, ribbetjies en ’n T-beensteak smul. Goeie diens en billike pryse.

Oop Elke dag van 9.30 vm.-9.30 nm. Gesluit op Sondae.

Waar? Hoofstraat 15

Kontak 028 284 9777; mannyskitchen.co.za

The Shuntin’ Shed

Pizza is die gewildste dis (hier is selfs ’n legendariese brekfispizza) by hierdie kuierplekkie teenaan die treinspoor.

Naweke word musiek gemaak deur plaaslike kunstenaars.

Oop Woensdae en Donderdae 11 vm.-4.30 nm., Vrydae en Saterdae van 11 vm. tot laat, en Sondae van 10 vm.-5 nm. Maandae en Dinsdae gesluit.

Waar? Botrivierstasie

Kontak 028 284 9443; 082 083 4466; shuntinshed.co.za

Fiore

Hierdie indrukwekkende kwekery en dekorwinkel het ook ’n oulike restaurant wat ’n heeldag-ontbyt en geroosterde broodjies voorsit.

’n Mens kry ook varsgebakte plaasbrood, skons en koek hier, met ’n mooi uitsig oor die hoofstraat en vallei as jy op die stoep sit.

Oop Weeksdae van 8 nm.-4 nm. Naweke van 8 vm.-2 nm. Gesluit op Dinsdae.

Waar? Hoofstraat 17

Kontak 082 490 0059

Botrivier Hotel

Botrivier Hotel

Behalwe vir kuier in die kroeg en ’n nag of wat se herberg kan jy ook heel lekker eet hier.

Niks fênsie nie, maar die porsies is ruim en die pryse billik.

Staatmakers soos burgers, ribbetjies en biefstuk is voor in die koor. Die restaurant se ure is buigsaam – as die kroeg oop is (daagliks van om en by 10 vm. tot last rounds), behoort jy iets te ete kan kry.

Wynplase

Kry ’n paar van jou smulpaapvriende bymekaar en meld aan by Racione by Wildekrans se proelokaal.

Hier bedien hulle verskillende klein porsies van onder meer carpaccio, murgbobotie, hoenderlewermousse en kerriekrap wat saam geëet kan word (die naam beteken “om porsies te deel” in Spaans). Net reg vir daai ouens wat nie kan besluit wát om te bestel nie!

Die restaurant is oop van 9 vm.-5 nm. op weeksdae, van 10 vm. af op Saterdae, en van 11 vm.-4 nm. op Sondae.

Kom geniet ontbyt of middagete op Gabriëlskloof se stoep en hier’s ook ’n deli-spyskaart. Hulle is elke dag oop van 9 vm.-5 nm. Gesluit op Dinsdae.


BLY HIER

Botrivier Hotel

Die 11 en suite-kamers is sonder tierlantyntjies, maar billik met hope karakter.

Koste Vanaf R350 p.p. tot R450 p.p., ontbyt ingesluit.

Kontak 028 284 9640; bothot.co.za

Wildekrans

Hier is nege selfsorgkothuise op netjiese gronde so te sê tussen die wingerde. Die eenhede sit nie te na aan mekaar nie en is ’n entjie weg van die restaurante en proelokaal – dus is dit stil en redelik privaat.

Hier is ook bomas as jy groot wil braai.

Koste Vanaf R450 p.p wat deel, ontbyt ingesluit (slaapplek vir 4 en 6 mense). Kinders kry afslag.

Kontak 028 284 9488; wildekrans.com

Beaumont Family Wines

Dié geskiedkundige plaas het twee gerestoureerde selfsorgkothuise.

Die Mill House-kothuis is deel van die oorspronklike watermeul. Dit sit ’n entjie weg van die kelder en proelokaal, en is die rustigheid self. Die Pepper Tree-kothuis is na aan die kelder en parkeerterrein, en nie heeltemal so privaat nie.

Koste Millhouse: Vanaf R625 p.p. (slaapplek vir 4 mense). Pepper Tree: Vanaf R750 p.p. (slaapplek vir 2).

Kontak 028 284 9194; beaumont.co.za

Kol-Kol Mountain Lodge

Kol-Kol Mountain Lodge

Hierdie spoggerige gasteplaas sit hoog in die berge net buite die dorp. Al nege houthutte sit vér van mekaar af, is keurig toegerus, met mooi uitsigte en ’n verhitte plonspoel op die stoep.

Die plek is besonder gewild; maak dus seker jy bespreek lánk voor die tyd.

Koste Vanaf R1 980 p.n. vir twee mense tot R5 050 p.n. vir 10 mense. Jy moet vir twee nagte bespreek.

Waar? Die afdraai lê sowat 6 km uit op die Van der Stelpas.

Kontak 082 645 5090; kolkol.co.za

Ander opsies

Thea Swanepoel bestuur ’n paar sakpas-selfsorgopsies op die dorp, van tuinkamers en anneks-eenhede tot kothuise.

Pryse wissel vanaf R180 tot R300 p.p.

Kontak 083 531 6108; swangables@gmail.com

Wat nog?

Hoe kom ek daar? Botrivier sit langs die N2 tussen Grabouw en Caledon, sowat ’n 1½ uur se ry uit die Kaap uit. Dis ’n puik basis waarvandaan jy die omgewing kan verken.

Toerismeburo? Hier’s nie ’n amptelike toerismeburo nie. Die hotel (bothot.co.za) bly die beste plek om dinge uit te vind of gaan na botriverwines.com.

Wanneer moet ek kom? Tussen einde Augustus en September, wanneer die canolalanderye goudgeel in blom staan.

Wanneer vier die dorp fees? Hier vind drie groot gedoentes elke jaar plaas. Die Lentefees word oor die eerste naweek in September gehou, met die wynplase wat die beste voetjie voorsit in ’n groot makietie vir die hele gesin.

Barrels and Beards word oor ’n naweek laat in Maart of April gehou; botriverwines.com.

Die Bot River Van der Stel Challenge is ’n bergfietswedren wat roetes tot 60 km in die ongerepte omgewing insluit, en word gewoonlik vroeg in Oktober gehou. Daar is ook stap- en drafroetes; bef.org.za.