Die roete begin 850 m oos van die Glen Reenen-kampterrein aan die R712-streekpad. Die afdraai is met ’n bruin padteken met die standaardembleem vir ’n bergpas gemerk. Draai hier regs en ry bergop met die Blesbok-sirkelroete, wat 9 km lank is. Dit is ’n teerpad wat deur die park onderhou word en enige sedanmotor sal dit kan baasraak. Ons sou jou egter aanraai om nie jou woonwa op die roete te sleep nie, want die pad is besonder knap en Blits Visagie in sy BMW gaan toeter druk as jou wa ’n hindernis veroorsaak. Haak eerder af by die Glen Reenen-kamp en ry die roete nadat jy op jou staanplek ingeburger is.

By die eerste vurk, sowat 1 km nadat jy die R712 verlaat het, draai jy regs na die Langtoondam-uitkykpunt. Hier kan jy die wandelpad sien wat by die Glen Reenen-kampterrein begin en vir 30 km deur die klowe kronkel, verby die Katedraalgrot en Woodhead-spits, en weer terug tot by Glen Reenen.

Die oostelike Vrystaat is bekend vir sy treffende sandsteenformasies, veral rondom Clarens. Dis ’n lekker naweekbestemming, want dit duur slegs drie uur om van Johannesburg af hierheen te reis.

Keer in jou ryding terug na die Blesbok-sirkelroete en volg dit verder bergop tot by ’n tweede uitkykpunt, die Zoeloehoek, met nóg mooier uitsigte oor die nasionale park. Skaars 2 km ná die afdraai na Zoeloehoek kry jy Generaalskop, teen 2 153 m bo seespieël die hoogste uitkykpunt op die roete. Nou mik jy weer bergaf tot terug by die R712- streekpad. Draai regs – ná slegs 100 m draai jy af op die Oribi-sirkelroete – ook geteer, net soos die Blesbokroete.

Die Oribiroete loop oor platter grond, en hoewel jy nie juis uitkykpunte gaan teëkom nie, is hier meer wild. Wees op die uitkyk vir elande, sebras, springbokke, blouwildebeeste en oorbietjies, waarna die Oribi-sirkelroete genoem is.

Wat voëls betref, kan jy gerus die kranse dophou vir witkruisarende en lammergeiers, terwyl die grasveld deur bloukraan- en sekretarisvoëls gepatrolleer word.

Die Oribi-sirkelroete is 4 km lank, en jou eerste aftrekplek is by die parkeerterrein vir die aasvoëlrestaurant. ’n Wandelpad neem jou te voet 300 m teen ’n kliprantjie uit tot by ’n skuiling met ’n uitsig op karkasse wat deur veldwagters hier gestort word. Jy’s ver genoeg van die karkasse dat die stank deur ’n bries weggevoer word, maar naby genoeg dat jy kan sien hoe die aasvoëls skouerdiep deur ’n sebra se ribbes beur agter ’n vleisie aan.

’n Kort entjie onder die aasvoëlrestaurant se parkeerterrein is die Drakensberg- uitkykpunt waar jy ’n goeie uitsig het oor die Blesbok-sirkelroete, aan die voet van die Drakensberg, wat jy ’n halfuur gelede gery het.

As jy lus voel om nog ’n bietjie rond te ry kan jy ooswaarts en afwaarts ry met die Lichenspas tot by die Basotho- kulturele dorpie. Hier is argeologiese tentoonstellings en kulturele besienswaardighede. Mik hierna weer terug na jou staanplek by Glen Reenen en steek ’n vuurtjie aan terwyl jy Anton de Waal se volkslied neurie: “... wyd lê die velde omheen. Wolke seil hoog in die blou hemelboog en ’n arend vlieg na die son.”

Wat jy moet weet

Maksimum aantal voertuie: Onbeperk.

Kry ek ’n kaart? Nee.

Sal my voertuig krap? Nee.

Moet ek ’n kompressor neem? Nee.

Kan ek halfpad omdraai? Nee, die roete is eenrigting.

Is daar selfoonsein? Ja.

Beste tyd om te gaan? Kort ná die reënseisoen.

Kan ek my gesin saamneem? Ja, beslis.

Net vir die dag of vir die naweek? Kom vir die naweek, want daar is baie ander doendinge in die omgewing.

Hoe lank neem dit? Sowat ’n uur.

Is daar ablusiegeriewe? Nee, maar die kampplek is naby.

Brandstof? Ja, by Glen Reenen.

Prys: Bewaringstarief van R56 (R28 vir kinders). Gratis met ’n Wild Card.

Kontak: 058 255 1000 (parkkantoor); sanparks.org

GPS: S28.50948 E28.62460 (Blesbok-sirkelroete)

S28.50963 E28.63883 (Oribi-sirkelroete)