Die Krugerwildtuin pryk heel boaan baie kampeerders se bestemminglys – en dis nie net onder Suid-Afrikaners gewild nie.

Internasionale toeriste stroom ook in hulle duisende hierheen op soek na die Groot Vyf. Hier is nie minder nie as 13 kampplekke om van te kies, en dit is ordentlike bestemmings om jou wa af te haak, selfs al was dit nie in een van die bekendste wildtuine ter wêreld nie.

Die kampplekke verskil heelwat van mekaar, maar jy weet wat jy by elkeen van hulle gaan kry. Jy kan almal van hulle met jou gewone padwoonwa bereik en jou ekstra-toegeruste 4x4 met twee daktente bo-op sal ewe tuis wees hier. Buiten die kleiner kampe soos Balule en Tsendze kan jy by al die groter kampplekke brandstof kry.

Hier is nie minder nie as 13 kampplekke om van te kies, en dit is ordentlike bestemmings om jou wa af te haak.

Selfs 50 ppm-diesel, wat op ’n tyd nie beskikbaar was nie, is nou standaard. Dieselfde geld deur die bank vir swembaddens, braaiplekke met roosters asook goeie diens wanneer jy by die kantoor aanmeld. ’n Mens kan aan van die kampplekke se badkamers sien hulle is nie gister gebou nie, maar dit word deurentyd mooi skoongehou.

Verder kan min kampplekke in die land met die Kruger se winkels meeding. Of jy nou heel noord in Punda Maria of heel suid by Berg-en-Dal kamp, die winkels kan nie beter nie. Hulle is nie almal ewe groot nie, maar ’n mens kan nie oor die verskeidenheid kla nie: van tydskrifte en vars groente tot speelleeus, hardehout en selfs Kruger-vuuraanstekers kan jy hier kry.

Die oggendklok

Hoe vroeër jy by die kampplek opdaag, hoe beter is jou kans om jou kleim op ’n goeie staanplek af te steek. Dit hang natuurlik af wat jou definisie van ’n goeie staanplek is. Waar een mens ’n groot koelteboom verkies, wil die volgende dalk eerder nader aan die heining, die badkamers of ’n kragpunt kamp. Of dalk is ’n gelyk staanplek jou enigste vereiste. Hoe ook al, probeer om vroeër eerder as later op te daag, want jy kan nie vooraf ’n spesifieke staanplek bespreek nie.

Sanparke doen dit al jare lank so, hoewel dié reël die laaste ruk effens meer buigsaam toegepas word. Dit blyk nou van die gewilde staanplekke langs die heining is Jan Alleman nie meer beskore nie. Jy kom soek ook nie vir ’n staanplek met gras nie. In die Kruger kamp jy op ’n oop stukkie aarde. Kyk mooi waar die krane staan, want in sommige gevalle gaan jy kombuis toe moet stap vir water.

Jy kom soek ook nie vir ’n staanplek met gras nie. In die Kruger kamp jy op ’n oop stukkie aarde.

Onthou ook om jou blou woonwaprop en verlengkoord te pak. Die Kruger is so na aan Utopia as kan kom, maar hoe staan sake wanneer die plek uit sy nate bars met kampeerders wat van heinde en ver hierheen stroom? Moet jy goeie diens en ’n skoon kampplek inboet?

Staan ’n mens soos sardyne ingeryg? Ons het ’n maand of drie voor ons besoek in die Desembervakansie van die laaste staanplekke in die suide opgeraap. En ons besoek het sommer afgeskop met ’n verkeersknoop voor die hek... 

SKUKUZA

O wee, kyk die ry!

As jy wil weet presies hoe gewild ’n kampplek is, gaan kyk hoe besig dit is wanneer die omstandighede nie die beste is vir ’n besoek nie. In die middel van die somer draai die kwik in die Kruger by 40 ºC, die somerreën sorg vir geil en groen bosse, en die omgewing se malariagevalle is hoër.

Met ons besoek was daar hoeka ’n waarskuwing van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes oor mense met malariasimptome wat die omgewing besoek het. Maar dis vakansietyd en min dinge breek ’n mens se spoed Kruger toe. Die Krugerhek, die naaste een aan Skukuza, is skaars 35 km van Hazyview af. ’n Verkeersknoop in die Kruger is niks ongewoons nie, veral as een van die Groot Vyf langs die pad lyf wys.

Maar dis vakansietyd en min dinge breek ’n mens se spoed Kruger toe.

Maar ’n halwe kilometer voor die hek staan ’n ellelange ry voertuie doodstil asof ’n padblokkade die oorsaak kan wees. Ons planne om vroeg op te daag vir een van Skukuza se beter staanplekke blyk daarmee heen te wees.

’n Beampte in haar donkergroen uniform kom aangestap en sê die rekenaars in die kantoor by die hek is aflyn en besoekers se besonderhede word nou met die hand neergeskryf.

Genadiglik het ons vooraf ons verblyf bespreek en ons en die kampeerders voor ons met hulle Exclusive – met ’n lewensgroot kunswerk van die Groot Vyf agterop hulle wa – kry toestemming om aan die regterkant van die pad verby die wagtende karre te ry.

AAN DIE GANG. Skukuza is woelig gedurende die vakansietye. Die beter staanplekke is vroegvroeg opgeraap, maar ten minste val ’n mens nie oor mekaar se voete in die badkamers nie.

Waar R5 koning kraai

’n Mens kan maar sê Skukuza is die Kruger se hoofstad.

Hier kry jy alles – van ’n poskantoor (met poshokkies) tot ’n volwaardige FNB-tak (met kassiere). Regs van die ontvangskantoor is ’n werk van die beeldhouer Phil Minnaar teen die muur: drie gesigte wat ’n mens herinner dat Paul Kruger nie al die eer vir die park kan kry nie.

Weerskante van die staatsman pronk die strak gesigte van Piet Grobler, destydse minister van lande van die Unie van Suid-Afrika, en lt.kol. James Stevenson-Hamilton, die Kruger se eerste bestuurder. Ook hier is gewoonlik ’n ry, en dis onwaarskynlik dat jy sonder om te wag tot by die toonbank gaan stap. Gelukkig kan jy by ’n watermasjien langs die ry ’n koel lafenis tap.

Teen die een muur hang groot geraamde foto’s van onder meer ’n leeu wat sy kloue in ’n buffel slaan, en op die toonbank staan ’n arend wat uit hout gekerf is. Die kampplek is in twee gedeel en lê weerskante van die pad soos jy inry.

Elke kant het sy eie badkamers, opwasplek en waskamer. (Terwyl jy jou oordkaart by die ontvangsmense kry, vra ook vir ’n paar R5-munte as jy later die waskamer wil gebruik, want soms sukkel jy om reg te kom – volgende keer bring ons die spaarvarkie saam van die huis af.)

Pasop vir die ape

Die mense met die Groot Vyf-toneel agterop hulle Exclusive het sowaar ’n gaatjie oorkant ons gekry – die vrou is reeds besig om die geruite gaasmat onder die stoeptent skoon te vee.

“Hiert!” skree die buurman terwyl ’n blouaap buit in die hand die hasepad kies. Onthou maar: Jy moet álles dig toehou wanneer jy hier kamp. Die swembad is langs die kampterrein, en dit is dus nie vreemd as iemand kaalbolyf met ’n handdoek oor die skouer verby jou staanplek stap nie.

Moenie sonder ’n waaier opdaag nie – veral in die somer – want dit raak bloedig warm hier. Party kampeerders het al opgegradeer en hulle woonwaens met lugreëling toegerus. Die neuskaste staan oop en die lugreëlingpype hang soos lang slurpe oor die A-raam.

Die kampeerders skuins agter ons het selfs lugreëling in hulle koepeltente! Vroegaand word die braaivure aangesteek. Oorkant staan Buurman se vuur ook sterk, met sy glasie wyn agter hom op die Ranger se tonneaudeksel.

KLIPGERUS. Die Mathekenyane Granokop is net ’n paar kilometer van Skukuza af. Dis veilig om hier bene te rek voor jy weer in die pad val om die wilde grotes te gaan soek.

Maar dié vuur is net vir atmosfeer, want Buurman staan so wraggies en braai op ’n gasskottel langs die vuur. Ons gaan kruip in, maar skuins ná vieruur die volgende oggend word ons wakker van die bure wat hulle dieselbussie aanskakel.

Buite is dit nog stikdonker (behalwe die lig by die kragpunte wat sorg dat jy jou pad tot by die badkamers kry). Verbasend genoeg is daar dié tyd van die oggend heelwat lewe in die kampplek: Een man sit netjies aangetrek onder sy stoeptent en werk op sy skootrekenaar. Langs hom op die tafel lê ’n blokraai en ’n ekstragroot vergrootglas.

Ook by die badkamers is dit besig – dit voel amper soos ’n familiesaamtrek. Wildvreemdes groet jou soos jy die badkamer instap. Maar al is dit besig, wag jy nie vir ’n storthokkie nie. Teen negeuur is die kampplek doodstil, en selfs die twee mooi groot staanplekke langs die badkamers is oop. Ons moet vroeër by die volgende kampplek opdaag.

Kortliks | Skukuza

Kampplek: 85 staanplekke weerskante van die inrypad (min of meer in die helfte gedeel). Die heining is aan die regterkant en die swembad links.

Ablusiegeriewe: Jy sal moet saamleef met die klein storthokkies en hulle stortgordyne. Hier is geriewe vir gestremdes.

Prys: Afhangend van die seisoen R285- R330 vir die eerste 2 mense. Daarna kos dit R88 p.p. (R44 vir kinders). ’n Bykomende bewaringstarief van R82 p.p.p.d. (R42 vir kinders) geld as jy nie ’n Wild Card het nie.

Aankoms- en vertrektyd: 7 vm. en 10 vm.

Kontak: 013 735 4196  sanparks.org

Hoe lyk die pad? Teer tot in die kamp.

GPS: S24.995909 E31.592021

Weg Ry & Sleep sê: Pak eerste jou R5-munte en waaier, en dán die res

LANGTERMYN. Van die staanplekke teenaan die heining het deesdae permanente tente op. Dit gee kampeerders minder van ’n keuse. Die waskamer is in die middel van die kampplek en die masjiene werk met R5-munte.

PRETORIUSKOP

Onderskeiding is goed genoeg

Pretoriuskop is die oudste van al die Krugerkampe en ook die verste suid as jy die satellietkamp Malelane uitsluit.

Die ontvangskantoor by die hek voel beskeie as jy dit met Skukuza s’n vergelyk, en dis ook heelwat rustiger. As ’n mens na die kennisgewingbord agter die toonbank kyk, is Pretoriuskop se bestuur nie skaam oor hulle mikpunte óf prestasies nie.

Die terugvoer van besoekers tussen April en Oktober laasjaar is met kokipen daarop neergeskryf, vir onder meer diens by die hek, die kampplek self en die aktiwiteite wat aangebied word – en dis meestal meer as 80%.

Oorkant Pretoriuskop se winkel is ’n Wimpy, maar dit het ’n heeltemal ander atmosfeer as enige tak in die stad. Op die stoep staan selfs klein rondawelafdakkies wat by die kampplek inpas. In Pretoriuskop is vier groepe staanplekke langs mekaar, almal min of meer teen die heining af.

Jy is nie eerste nie

Omtrent die helfte van die 20 of wat staanplekke teenaan die heining het deesdae voltydse tente op. Hierdie staanplekke is as ’t ware gehersoneer, met ’n buite-instansie wat dit onderverhuur aan besoekers wat spesifiek hier wil oornag.

Al dié tente het parkeerplek vir ’n kar langsaan – op een van die tente se stoep staan selfs ’n gimnasiumstel. Die heiningstaanplekke moet dus nie te hoog op jou lysie wees in dié kampterrein nie, want die helfte is uiteraard reeds beset.

Heelwat van die kampeerders in Pretoriuskop is knorrig oor dié nuwe ding wat in die Kruger kop uitgesteek het. Dis nietemin ’n agtermekaar kamp met twee badkamers: een by die eerste staanplekke en die ander by die verste klomp. Eersgenoemde het minder goggas binne want daar’s ’n gaasdeur.

Die ander een het nie eens ’n deur nie. Die waskamer is so te sê in die middel en werk ook met daardie waardevolle R5-munte. Vir die skottelgoed stap jy net verby die eerste badkamers.

Die kombuisgeboue in die meeste van die Kruger se kampplekke is ’n vierkantige gebou sonder kantmure – hier is onder meer opwasplek, ’n paar elektriese tweeplaatstowe en dan, ’n wenner: ’n kitskookwatertoestel waar jy vinnig water kan tap vir jou boeretroos.

Diereryk op jou voorstoep

Selfs al staan jy nie teen die heining nie, kan jy steeds die wild waardeer. Ons kry ’n mooi kol onder ’n groot ou trosvy, en beter kan dit skaars.

Die bure se Off-Trax-boswa som sake netjies op: Op die wa staan groot geskryf “Kani Wagi”. Die tarentale is hoendermak en trek soos ’n trae warrelwind van die een staanplek na die volgende – jy kan hulle sommer van naby afneem. (Moenie skrik as jy inzoem nie, want dan lyk daai verrimpelde kop soos dié van ’n oervoël: dis die spreekwoordelike mooi van ver en ver van mooi.) Nie al die ape in die kamp is vol streke nie.

Party van hulle hang net rond in die boom langs jou staanplek, so al asof hulle ook maar net ’n blaaskans soek. ’n Jong meerkat speel soos ’n wafferse huiskat met die bal van ’n swingball wat langs ’n tent geplant staan.

Oorkant die pad het ’n paar van sy maters ’n tent se kombuisgedeelte binnegevaar. Die jong vrou in haar kamoefleerkniebroek trek maar net haar skouers op: “Die diertjies het ons seker aangeneem...” Buite kry die piet-my-vrou se geroep nie einde nie, en elders weerklink die “krrrrrr” van ’n visvanger.

NOMMER 1. As jy wik en weeg of jy Pretorius­kop moet besoek, laat dit oor aan die swembad. Bespreek solank.

Afkoel maak dit beter

As Pretoriuskop ’n eerste plek verdien, is dit vir sy swembad.

Goed, dis seker een van die swembaddens in die Kruger wat die verste van die staanplekke af is, maar die 5 minute se stap tot hier is deur en deur die moeite werd. Dis gebou op die kant van ’n rots wat etlike meter bo die grond uitsteek, en die water is kristalhelder.

As Pretoriuskop ’n eerste plek verdien, is dit vir sy swembad.

Bo-op die klip is selfs ’n plaspoel vir die kinders waaruit ’n stroompie tot in die groter poel afloop. Selfs al is die kampplek tjokkenblok en die kraaie gaap, is die swembad nooit te besig nie. ’n Mens voel sommer vars as jy terugstap staanplek toe, en ’n roomys by die winkel halfpad op pad terug kry nie kans om in jou hande te smelt nie.

Dis skemer en tyd vir vroeg inkruip en opstaan. Net 7 minute later as gisteroggend, om 4.25 vm., skakel iemand hulle kar aan. Vroegoggend-wildkyk bly ’n fantastiese ervaring, en gelukkig is sake minder druk by die badkamers as wat dit in Skukuza die geval was.

Berg-en-Dal is volgende, maar dan slaan iets jou tussen die oë – iets wat jy nie graag wil (en verwag) om in die Kruger te sien nie: Kampeerders nader aan die onderste badkamer sit sowaar die tarentale en kaaskrulle voer...

Kortliks | Pretoriuskop

Kampplek: 43 staanplekke waarvan rofweg die helfte teen die heining is, maar die helfte hiervan is beset met voltydse tente.

Ablusiegeriewe: ’n Badkamer op albei punte van die kampplek, ’n waskamer in die middel en die kombuis by die boonste punt. Hier is ook geriewe vir gestremdes, én klein storthokkies met ’n gordyn elk.

Prys: Afhangend van die seisoen R285-R330 vir die eerste 2 mense. Daarna kos dit R88 p.p. (R44 vir kinders). ’n Bykomende bewaringstarief van R82 p.p.p.d (R42 vir kinders) geld as jy nie ’n Wild Card het nie.

Aankoms- en vertrektyd: 7 vm. en 10 vm.

Kontak: 013 735 5128/32; sanparks.org

Hoe lyk die pad? Teerpad tot in die kampplek.

GPS S25.169613 E31.268690

Weg Ry & Sleep sê: Bring ’n verlengkoord van minstens 10 m as jy nie wil sukkel met krag nie. 

VOOR (EN LINKS) in die koor. Die swembad is voor die staanplekke links van die pad, en die waskamer is langsaan as die mandjie vol is.

BERG-EN-DAL

Jy’s wéér nie eerste nie!

Die heining loop regs van die kampplekke, en teen dié tyd maak ’n mens vrede daarmee dat jy nie van die uitsoekplekke kan kry nie.

Die vrou in die ontvangskantoor is egter nie veel gepla oor die staanplekke langs die heining nie. Vir haar is dit belangriker om jou te waarsku teen die ape en bobbejane in die kampplek. ’n Mens sou dink ’n vol kampplek skrik eerder die diere af, maar hier by Berg-en-Dal gee die ape die bestuur grys hare.

Terwyl die ontvangsdame ’n pamflet aangee met wenke om die pestilensies van jou staanplek af weg te hou, beklemtoon sy die probleemplekke: “Wees asseblief versigtig vir die diere, want hulle is ’n groot probleem. Dit geld vir kampeerders met tente asook woonwaens. Moet geen kos in die tent los nie.

Hulle ruik dit en sal die tent skeur om daarby uit te kom. “Laat sak ook jou woonwa se opwipdak as jy gaan rondloop, want hulle kan deur die seilgedeelte tussen die opwipdak en die romp van die wa klouter. Die ouens dink glad die kampplek behoort aan hulle...”

Die pamflet maan jou verder om kos in jou sleepwa of bagasiebak toe te sluit en die diere onder geen omstandighede te konfronteer nie. Los hulle eerder uit, selfs al buit hulle van jou kos, want hulle kan taamlik aggressief word.

Die pamflet maan jou verder om kos in jou sleepwa of bagasiebak toe te sluit en die diere onder geen omstandighede te konfronteer nie.

Ons ry nog ’n draai deur die vol kampplek om uit een van die laaste staanplekke te kies sodat almal in die kar tevrede is. Dis skuins voor 12 en die laaste oop kolle is almal in die son. Hulle is ruim en gelyk, maar ons hou duim vas dat die geluksgodin aan ons kant is. En wil jy nou meer... onder een van die grootste koeltebome in Berg-en-Dal is nog ’n laaste staanplek oop teen die heining.

Dis heel regs sodra jy die kampplek binnery. Anderkant die heining, skaars 40 m verder, stap ’n troppie olifante verby. As jy só naby hulle kom, besef jy eers hoe groot die ou reuse in werklikheid is.

OP ’N LIGTE NOOT. Snags is lig skraps in Berg-en-Dal. Bring jou eie kamp- en flitslig voor jy sukkel.

Plek vir almal

Al is die kampplek heeltemal vol, is die staanplekke van só ’n aard dat jy genoeg van jou eie ruimte rondom jou het.

Bring weer eens ’n lang verlengkoord (minstens 10 m) saam, want die kragpunte en koeltebome staan nie altyd bymekaar nie. Hier is ook ligte by die kragpunte, maar dit sit laag en effens weggesteek. Pleks daarvan om die kol direk by die kragpunt te verlig skyn dit af grond toe en dien werklik geen doel nie.

Bring dus jou flits as jy ná sononder badkamers toe wil loop. Hier is drie ablusieblokke en elkeen van hulle het geriewe vir gestremdes met opwasplekke aan die agterkant. Van die kantoor af tot by die kampplek is net minder as ’n halwe kilometer – ’n mens ry eers verby die waskamer en swembad en direk daarna begin die staanplekke.

Die wasmasjiene werk ook met R5-munte en die swembad het heelwat koeltebome rondom as jy langsaan wil sit om te sien hoe die mense die water geniet. Weer eens is daar geen vertrapping nie en almal – oud en jonk – geniet dit gate uit.

Kortliks | Berg-en-Dal

Kampplek: 82 staanplekke, met die heining wat regs van die kampterrein gespan is. Die eerste staanplekke is weg van die heining, maar nader aan die swembad en ontvangskantoor.

Ablusiegeriewe: 3 badkamers wat deur die kamp versprei is, met meer as ruim opwasgedeeltes. Die storthokkies is klein, ook met ’n gordyn.

Prys: Afhangend van die seisoen R285-R330 vir die eerste 2 mense. Daarna kos dit R88 p.p. (R44 vir kinders). ’n Bykomende bewaringstarief van R82 p.p.p.d. (R42 vir kinders) geld as jy nie ’n Wild Card het nie.

Aankoms- en vertrektyd: 7 vm. en 10 vm. Kontak  013 735 6106/7  sanparks.org Hoe lyk die pad? Heelpad teer – tot in die kampplek. GPS S25.426679 E31.449743

Weg Ry & Sleep sê: Die staproete langs die heining kan geld nie koop nie – nader aan wilde diere kan jy beswaarlik.