Wanneer ’n mens ’n Baobab by Bush Lapa se vertoonlokaal aanhaak en die wiele knars op die gruis, kom sit die vakansiegevoel tussen jou blaaie; al is dit ’n warm herfsdag die middel van die week en nog maande voor die volgende skoolvakansie aanbreek.

Jy kan dit nie help nie, die blote ligging laat ’n mens jeuk om die pad te vat. 

Met die Baobab kan jy in enige rigting koers kies.

Kies koers

Waar die vertoonlokaal se grondpad by die ou Paarl-pad aansluit, kan jy regs draai Klaputs toe, Wynland toe, of verder, Weskus toe, of verder nog, Namibië toe. Jy en jou mense sal julle oral kan tuismaak met dié waentjie.

Links lê die pad binneland toe, verby die Klein Drakensteinberg en die Du Toitskloofpas, wat vir menigte Kapenaar die skeiding aandui tussen die alledaagse en vakansietyd.

Die ou pas, wat grotendeels die vrug is van arbeid deur Italiaanse krygsgevangenes tydens die Tweede Wêreldoorlog, is mateloos meer skouspelagtig as die nuwer pad deur die Hugenote-tonnel.

’n Toyota Fortuner se 2.4-dieselenjin trek die Baobab maklik teen die steiltes uit, al is die waentjie se leë gewig ’n aks oor die een ton met plek om nog 710 kg se bagasie te laai.

Dis deksels baie toksakke, “vanity cases”, kampstoele, slaapsakke, boeliebief en braaihout! 

Daar is heelwat aftrekplek in die pas.

Daar is heelwat aftrekplek op die Du Toitskloofpas waar jy met ’n waentjie op sleeptou kan stilhou om oor die Drakenstein-vallei te tuur.

By sommige van die aftrekplekke is daar ook ’n tafel en bankies van beton waar jy kan aansit vir ’n piekniek as die honger begin knaag.

Dit hoef ook nie louwarmkoffie en verlepte toebroodjies uit die koelsak te wees nie. ’n Mens het nie nodig om enigiets op te slaan om die Baobab se kombuis te gebruik nie.

Jy sluit net die wadeurtjie voor links oop en trek die kombuislaai uit. Die gasstoof, yskas, kook- en eetgerei is alles byderhand en die groot luikdeur net regs van die kombuislaai slaan na onder oop om ’n werkblad te skep waar twee mense maklik langs mekaar kan staan en brood smeer en groente kerf, sonder dat dit te beknop raak.

’n Mens het nie nodig om enigiets op te slaan om die Baobab se kombuis te gebruik nie.

Jy kan dus sommer daar langs die pad stilhou en sonder moeite ’n skaflike middagete aanmekaarslaan. Hou maar net ’n oog oop vir die sekelsterte. Hier is volop bobbejane in die pas en hulle daag sommer ongenooid op vir ete soos jou ouma se aangetroude familie.

Skrop nes

Wanneer ’n mens eers aan die anderkant van die pas deur die ou tonnel is, dan lê die Breëriviervallei voor jou, besaai met kampplekke al langs die rivier af, van Rawsonville tot by Robertson en Bonnievale.

Een van hierdie kampplekke is Klipkrans, ’n private natuurreservaat en kampterrein tussen Worcester en Villiersdorp.

Die ingangshek lê op die Scherpenheuwelpas, sowat 4 km vanwaar dit afdraai van die R43 af.Esther Griessel sal vir jou die hekkode stuur sodra jou bespreking bevestig is. 

Tuis op die grondpad.

Die Baobab lyk tuis op die grondpad wat kampplek toe loop. Van agter die bosse loer ’n koedoe skalks en ’n trop springbokkies kerjakker in die oopte en draf padlangs saam soos kinders wat kom lekkers bedel.

Daar’s altesaam 36 staanplekke en drie luukse tente wat in twee kampe verdeel is. Die ouer, meer gevestigde kampplek het net ses staanplekke en lê regs van die vurk in die grondpad. 

Staan op die oewer.

Die staanplekke op die oewer is ruim genoeg sodat jy die Baobab in sy volle lengte, van net minder as 4,6 m,  kan staanmaak nes jy wil.

Dit hang eintlik maar net af watter uitsig jy wil hê wanneer jy môre-oggend die seilvensters by jou bed ooprits. As jy die wa nie gesleep kan kry tot presies waar jy hom wil hê nie, sal jy maar moet afhaak en vra dat die familie help om hom te stoot tot op sy plek.

Gelukkig sak die dubbele neuswiel nie sommer weg in sand of klam grond nie en gaan jy dus nie ’n breuk opdoen met die skuiwery nie.

So maklik soos 1-2-3

As Gouelokkies en die drie beertjies ’n kampwa moes koop, sou dit waarskynlik ’n Baobab wees. Daar’s plek vir Mamma Beer, Pappa Beer, Boetie Beer én Gouelokkies en boonop is hy nét reg!

Die Baobab is groter as die Miskruier of die ander “goggas” in die Bush Lapa-reeks, maar kleiner as die bielie Ratel wat die grootste wa is wat Jannie-hulle bou.

As Gouelokkies en die drie beertjies ’n kampwa moes koop, sou dit waarskynlik ’n Baobab wees.

Hoewel die grootte verskil, slaan ’n mens die waentjie met dieselfde drie stappe op as die ander.

1) Maak die knippe van die opwipdak los en druk dit van binne af boontoe.

2) Maak die flappe vir die beddens oop, vou die seiltjies oor, druk die rame op hul plek en span die afdakkies styf.

3) Vou die Bushwing-afdak uit en sit sy stutpale op hulle plek. 

“Bushwing” is die geregistreerde handelsnaam vir die afdak wat deur 270° halfpad om die wa strek. Die werking daarvan herinner ’n mens aan hoe ’n voël sy vlerk oopsprei – vandaar sy naam.

Die afdak verg nie ’n geryg (en gehyg) soos met oudmodiese woonwaafdakke nie.

Jy rits net die sak bo aan die linkerkant van die Boabab oop en swaai die vyf staal arms uit. Die stutpale en ekstra dwarspale help om die dak styf te span sodat reën nie daarin opdam nie. 

Klipkrans
Klipkrans
Lekker om die vuur.

Raak rustig

Die Breërivier is gewild onder roeiers en die 2,4 km stuk wat voor die kampplek verbyvloei, is bedrywig. Skuins anderkant die ou kamp is die basiskamp van Bundi River Adventures en ’n klein entjie stroomaf kan jy mense hoor lag by die kampplek van High Africa Adventures, ook aan die oorkant van die rivier. 

’n Vrou, wat saam met haar kinders in ryhuis op staanplek 3 staan, kom verbygevaar op daai nuwerwetse goeters waarop mense regop staan en met sulke lang spane roei.

Laatmiddag verf die son die randjie bokant die kampplek goudgeel en die dassies bak hulleself vir oulaas warm op die rotse. Dis tyd om jou braaivuur aan te steek en agteroor te sit om die saligheid en gemak van jou kampplek te geniet.

Laatmiddag verf die son die randjie bokant die kampplek goudgeel en die dassies bak hulleself vir oulaas warm op die rotse...

Jy kan ook sommer ’n foto van jou kampvuur op Facebook sit om al jou vriende jaloers te maak. Selfoonopvangs is maar wispelturig hier, maar daar is wifi-dekking in die kampplek. Jy sal die wifi-wagwoord in die kiosk langs die badkamers kry.

Die kombuis.
Die kombuis.
Die kombuis se opwasplek.

Terloops, die badkamers by die ou kamp bestaan uit drie vertrekke op ’n ry: elkeen met ’n stort, wasbak en toilet. 

Jy kan netnou die kinders daarheen aanjaag om te gaan stort. Om die waarheid te sê, jy hoef nie eens dit te doen nie, want die Baobab het sy eie 6 liter/min-gasgeiser en Bush Lapa maak ook hulle eie storthokkies wat net so maklik soos die afdak opslaan.

Saam met die 150 liter-watertenk, die twee jerrykanne voor by die neuskis en ’n opsionele 140 w-sonkragpaneel, het jy nie eens ’n formele kampplek met krag en lopende water nodig nie.

Jy kan jouself gemaklik gaan inrig op ’n afgeleë plek soos Namibië se Hartmansvlakte of die Makgadikgadipan in Botswana.

Die geisertjie.
Die storthoek.

Wanneer die laaste lig by Klipkrans verdwyn, begin die sterre helder in die stikdonkerte flonker. Die Melkweg strek duidelik deur die hemelruim en dit lyk amper asof dit die rivier is wat op ’n manier in die uitspansel weerkaats.

In die donkerte hoor ’n mens nou en dan ’n “plons” in die water wanneer ’n karp of baars uitbundig raak, en ’n vlermuis of twee swiep stil tussen die boomtakke opsoek na goggas vir aandete.

Hulle sal nie honger ly nie, want soos met enige kampplek langs die water is hier heelwat muskiete. 

Die eerlikheidswinkel.

As jy jou muskietgoed by die huis vergeet het, kan jy ’n buisie in die kiosk gaan koop. Dié is 24 uur van die dag oop en word nie beman nie.

Daar’s ’n pryslys teen die muur en jy neem wat jy nodig het, skryf dit op ’n koevertjie neer en sit die geld daarin. Dan gooi jy die koevertjie in ’n kluis wat amper soos ’n posbus werk.

Esther-hulle maak staat op jou eerlikheid. Moet dus nie swig voor die versoeking om ’n pakkie vuuraanstekers te gaps nie.

Die binnekant.
Jou kamer het 'n uitsig.

Lekker slaap

Binne in die Baobab hoef jy jou nie oor goggas te bekommer nie. Daar is gaas voor al die vensters om die klein pestilensies buite te hou en jy kan die hooflig in die wa verstel sodat die LED’s wit of geel skyn om sodoende nie nog goggas te lok nie.

Die leesliggie bokant elke bed is ook geel LED’s, maar dis steeds helder genoeg om te kan volg wat die hoofkarakter in jou boek aanvang. Die bed wat aan die voorkant van die wa uitvou, is effens breër as die een regs, maar het minder kopruimte. Laat die kinders dus maar daar inseil.

Die leesliggie bokant elke bed is ook geel LED’s, maar dis steeds helder genoeg om te kan volg wat die hoofkarakter in jou boek aanvang.

Hulle gaan waarskynlik in elk geval eerder op die iPad lê en speel as om regop te sit met ’n boek. Albei beddens is 1,9 m lank. Dit beteken Bakkies Botha se voete gaan uitsteek, maar die res van ons sal met gemak daarop inpas.Met slaaptyd hoef jy ook nie uit te slof ablusieblok toe om te gaan tande borsel nie.

'n Wasbakkie.
Pakplek vir almal.

Aan die agterkant van die wa is ’n vlekvryestaal wasbakkie met ’n mengkraan waar jy jou gesig en hande kan was en tande borsel. Bokant die wasbak is twee rakke vir jou badkamersakkie en Old Spice en onder is daar nog rakke waar jy jou handdoeke kan bêre.

Trouens, die Baobab het meer pakplek binne as wat ’n mens verwag of eintlik weet wat om mee te doen.

In die “muur” oorkant die regterkantse bed is agt klein rakkies sodat Gouelokkies en die drie bere elkeen bêreplek het vir sy of haar eie klere.

Links van die bed, oorkant die wa se deur, is daar nog twee rakke, wat groot genoeg is vir ’n middelslag sportsak. Al die rakke rits met seil flappe toe om stof uit te hou. Onder die bed is daar ook nog bêreplek vir ekstra tentseile om die afdak buite toe te span as jy meer privaatheid of beskutting soek.

Al die rakke rits met seil flappe toe om stof uit te hou.

Net voor jy jou kop neerlê vir ’n diep, soete slaap, kan jy jou leesbril neersit op een van die rakkies aan die voetenent van die voorste bed en sommer ook jou selfoon by die USB-kragsok daar inprop om te laai.

Wanneer die son in die môre weer sy kop uitsteek en die visarende oor die Breërivier roep, sal jy en jou foon albei vol krag wees om die dag aan te durf. Hopelik het Gouelokkies of Boetie Beer dan al die koffiewater op die uitglykombuis se gasstoof aangesit.


Vir al jou vrae oor die spesifikasies van die Baobab en ’n pryslys, of vir die kontakbesonderhede van die handelaar, besoek www.bushlapa.com.