‘Ek hou van die hitte,” sê Olivia le Cordeur, die bestuurder van die Wellington-museum. Ek kyk haar ongelowig aan terwyl ek die sweet van my bolip af vee op ’n warm Novemberdag. “Gee my 38, 39 ºC, enige dag!” Dis net iemand wat hier gebore en getoë is wat so praat. Die dorp se nieamptelike bynaam is nie verniet Hellington nie!

Sou die Franse Hugenote wat hulle in die 17de eeu hier in die Limietvallei kom vestig het, ook soos Olivia gevoel het? Wel, iets het hulle laat vashaak, hier in wat later die Wamakersvallei (Val du Charron in Frans) geword het en vandag die Bolandse dorp aan die voet van die Bainskloofpas is.

Ek skat dit was die uitsig: Die dorp lê in ’n halwe kom wat gevorm word deur Groenberg links, die Limietbergreeks en dan Klein- en Groot-Wellington-Sneeukop wat die Slanghoekbergreeks oorheers. Regs is die Sewe Susters van die Hawekwabergreeks wat die laaste strale van die dag so mooi weerkaats. Maar ’n mens hoef nie net heeldag daarna te sit en staar as jy hier is nie: Wellington het héélwat meer om jou te bied. Kom kyk!

Ontdek die geskiedenis

Daar lê ’n stukkie geskiedenis om elke hoek en draai van Wellington. Die beste manier om dit te verken is te voet. Kry ’n gratis erfenisroetekaart by die Wellington-inligtingsentrum of laai dit af op hulle webblad. Hierop word ’n oorsig van die historiese geboue gegee sodat jy jou eie staptoer (oukei, of rytoer) kan doen.

Maak seker jy groet die standbeeld van dr. Andrew Murray wat voor die imposante NG Moederkerk aan die bopunt van Kerkstraat sit. Dié kerkman se koms na die dorp in 1871 het gelei tot onder meer die stigting van die Hugenote-kweekskool en ’n Christelike opleidingsentrum vir meisies en vroue.

Beplan jou roete só dat jy die Wellington-museum (hoek van College- en Kerkstraat) ook aandoen. Hier kry jy ’n goeie oorsig oor die dorp se ontwikkeling, bedrywe en mense. Hier is ook ’n Andrew Murray-versameling en een met Egiptiese artefakte.

Dis nie ’n groot, interaktiewe museum nie, maar moeite is gedoen met interessante brokkies en foto’s om ’n geheelbeeld van die dorp se geskiedenis te gee.

Koste: R10 p.p. vir volwassenes; R5 p.p. vir kinders

Oop: Maandag-Vrydag: 8 vm.-4 nm.; maak vooraf ’n afspraak vir besoeke op naweke of openbare vakansiedae.

Kontak: 021 873 4710

HELP! EK’S NUUT OP DIE DORP!

Besoek die Wellington-inligtingsentrum (Hoofstraat 104; 021 864 1378; www.wellington.co.za) vir raad oor die dorp se doendinge en blyplekke. Hulle het ook ’n Winelands Meander-gids waarin vyf verskillende roetes in en om die dorp gegee word waarlangs jy kan ry om verskillende dele van die omgewing te verken.

Kry die boekie by die sentrum of laai dit af by winelandsmeander.org.za

Wellington
LA FOLIE GREEN COTTAGE. Foto: Shelley Christians
In die Breytenbach-sentrum se skaduryke digterstuin kan jy asem skep terwyl jy bekende Afrikaanse gedigte lees.

Kry ’n skoot kultuur

Moeg gestap? Rus op ’n bankie in die skaduryke digterstuin by die Breytenbach-sentrum (Burgerstraat 14). Bekende reëls uit Afrikaanse gedigte word oral vertoon – op mosaiëkteels, teen mure of op bordjies.

Dié kultuursentrum is in 2007 geopen in die huis waar die skrywer Breyten Breytenbach saam met sy ouers gebly het. Die sentrum bied ’n verskeidenheid gemeenskapsprojekte aan en hier word gereeld boekbekendstellings gehou.

Bestel iets by die sentrum se koffiewinkel en gaan kyk dan na die kunsuitstalling op die eerste verdieping. Of koop vooraf ’n kaartjie vir ’n vertoning in die sentrum se Bôrdienghuisteater – kunstenaars soos Anna Davel tree hier op.

Boekwurms sal lánk in die Book Traders-boekwinkel in die gebou kan talm: Hier is ’n wye verskeidenheid nuwe en tweedehandse boeke uit al wat ’n genre is – van ’n kinderpartytjieboek uit die jare tagtig tot die nuutste Ian Rankin-spanningsverhaal.

Koste: Toegang is gratis

Oop: Ma.-Vr.: 9 vm.-5 nm.; Sat.: 9 vm.-1 nm.

Kontak: 021 873 2786; breytenbachsentrum.co.za

Vind jou weg proe-proe 

Wyn

wyn
Suikertande sal hou van Wellington Wines se Duke & Donut-proekombinasie, hier bedien deur Elré Potgieter.

Wellingtonners spog gereeld dat ál die land se wyn eintlik van hier af kom, en dis nie ver van die waarheid nie: Sowat 85% van die land se wingerd kom van wingerdstokke of “stokkies” wat hier gekweek word.

Maar Wellington se plase produseer nie net stokkies nie: Hier word lekker wyn ook gemaak. Die wynroete bestaan uit 15 wynplase – kry hulle op die toerismekantoor se “Wine & Dine”-roetekaart (sien kassie hier bo).

Kyk by Bosman Family Vineyards ( 021 873 3170; bosmanwines.com) hoe lyk die 260 jaar oue kelder en doen ’n wynproe onder die bome (R50 p.p.)… Jy gaan dalk nie sommer wil opstaan en hierdie rustige plek agterlaat nie. Bespreek vooraf, veral oor naweke.

Lus vir iets interessants? Hou stil by Wellington Wines ( 021 864 1582; wellingtonwines.com) en proe die Duke & Donut-kombinasie – R60 p.p. vir vier wyne uit hulle Duke-reeks saam met vier verskillende mini-oliebolle.

By die Imbuko-wynplaas ( 021 873 7350; imbuko.co.za) kan jy ’n wyn-en-pastei-proekombinasie (R70 p.p.) probeer, of die plaas se Pomüla Pop-proe (R30 p.p.) doen. Pomüla is ’n kombinasie van witwyn en granaat- of bessiesap, met ’n effense vonkel – dis net reg vir ’n somersdag. Hier is ’n grasperk en klimraam waarop die kinders kan baljaar. Koop van die tuisgemaakte konfyt (vanaf R43) voor jy loop. 

Whisky

JAMES SEDGWICK-DISTILLEERDERY

As ’n mens in ag neem dat die James Sedgwick-distilleerdery al sedert 1886 bestaan, is dit eers relatief onlangs (in 2016) vir die publiek oopgestel met ’n proe-en-toer-ervaring.

Voordat jy van die goue voggies proe, kry jy agtergrond oor whisky wêreldwyd, en doen dan ’n uitgebreide begeleide toer van die hele distilleerdery, die enigste kommersiële een in die land, waar onder meer Three Ships- en Bain’s-whisky gemaak word.

Terug in die proelokaal proe julle minstens vier verskillende whiskys saam met eetgoed: van snoekpatee tot ’n pampoenpastei. Maak seker jy gebruik woorde soos “rokerig” en “gladde nasmaak” om te wys jy het geluister.

Wanneer? Vrydag en Saterdag: 10 vm. & 2 nm.

Waar? James Sedgwick-distillery, Stokeryweg 54

Koste: R350 p.p. Dit sluit ’n mengeldrankie voor die toer in. Jy moet ouer as 18 wees en elke toer het net plek vir 10 mense. Bespreek jou plek by webtickets.co.za

Kontak: 072 415 3440; threeshipswhisky.co.za

Koffie

VILLAMAR

Koffieliefhebbers hoef nie agterweë te bly nie: Maak ’n draai by Villamar en proe koffie by dié restaurant en roostery.

Die proses van plant tot boon tot roostery tot in jou koppie word eers aan jou verduidelik voordat jy drie soorte koffie saam met sjokolade proe. Kyk of jy die verskil kan proe tussen Suid-Amerikaanse en Afrika-koffie! Die proe sluit ook ’n koppie koffie ná die tyd in.

Koop van die bone om saam te vat huis toe (vanaf R183 vir 1 kg bone) of van die tuisgemaakte roomys (R86 per liter) – die soutkaramelgeur is ’n treffer.

Koste: Koffieproe: R45 p.p.; koffieproe met sjokolade: R80 p.p.; roomys: R17 per skep of R12 per kleiner skeppie as jy net wil proe.

Waar? Oudebrugplaas, Elbastraat, Wellingtonbedryfspark

Oop: Maandag-Vrydag: 8 vm.-5 nm. (kombuis maak om 3 nm. toe); Saterdag: 8 vm.-3 nm.

Kontak: 072 617 6501; villamargroup.com

Het jy geweet?
  • Wellington het in 1840 amptelik ’n dorp geword en is genoem na die hertog van Wellington wat die Britse weermag by die Slag van Waterloo gelei het.
  • Die woord “stokkiesdraai” het sy oorsprong op Wellington. Kinders het uit die skool gebly om te help om die wingerdstokkies op die stamme vas te draai nadat dit vasgeënt is.

Koop iets

Vellies by Redemption

As jy op kantoor noem dat jy Wellington toe gaan, is die kans goed iemand vra: “Oe, kan jy nie vir my Redemption-skoene saambring nie?” Dié leerfabriek en -winkel is ’n instelling op die dorp – dit bestaan immers al meer as 40 jaar.

“Ek ken nie die statistiek nie, maar het al genoeg gehoor om te weet ons is een van die dorp se grootste toerismetrekpleisters,” sê Nicolaas Slabber, wie se ouers, Arnold en Nicolette, Redemption in 1982 oorgekoop het.

Redemption se produkte word als met die hand gemaak, hier by die fabriek, deur plaaslike mense wat meestal deur Arnold opgelei is.

“Ons probeer ons rou materiaal só aankoop dat dit nie lyk soos iets wat uit China kom of iets wat deur ’n robot gemaak is nie. Daar’s genoeg sulke skoene en ons wil nie in daai mark meeding nie,” sê Nicolaas. “Ons maak die skoene sodat dit lank hou. Party mense sal dalk sê dis nie goeie besigheid nie, maar ons glo dit is wat ons klante so lojaal maak.”

Moenie ’n gróót skoenwinkel soos dié in die mall verwag nie: Redemption is in die eerste plek ’n fabriek met ’n winkel, nie andersom nie.

Jy gaan dalk op besige dae ’n rukkie buite in ’n ry moet staan voor jy kan ingaan. Maar dan kan jy kies en keur tussen vellies en sandale van elke kleur en geur, asook gordels en handsakke.

Vra gerus raad wanneer jy aanpas – die winkelassistente soos Leonore Cloete (11 jaar by Redemption) en Jacky Jennike (18 jaar by Redemption) kén hulle storie en help graag.

Waar? Altebly-plaas, hoek van Hillweg en Kerkstraat

Oop: Maandag-Vrydag: 8 vm.-5.30 nm.; Saterdag: 8 vm.-1 nm.

Kontak: 021 873 3197; redemptionleather.com

Pruimedante by die Safari-droëvrugtewinkel

Johan Viljoen het 32 jaar lank vir die ou Suid-Afrikaanse Droëvrugtemaatskappy (SAD) gewerk wat eers op Wellington gebaseer was en later deel van Pioneer Foods geword het.

“Ná my aftrede in 2014 het ek die winkel, wat ook al meer as 30 jaar bestaan, by Pioneer oorgekoop en sedertdien nuwe lewe daarin geblaas – dis my en my vrou, Danielda, se aftreejoppie,” vertel hy.

Koop van die reeds verpakte neute of droëvrugte of koop dit per gewig. (“Jy kan twee peanuts vat of jy kan 20 kg s’n vat,” sê Johan.) Die groot pruimedante (R12,50/100 g ) en die dadels met ’n jogurtlagie (R10/100 g) is veral lekker.

Waar? Hoofweg 23

Oop: Maandag-Donderdag: 8 vm.-5 nm,; Vrydag tot 4 nm. en Saterdag tot 12.30 nm.

Kontak: 021 100 3003 

As jy klaar by Redemption en die Safari-droëvrugtewinkel was, gaan maak ook ’n draai by die Ou Kaya-padstal-en-kwekery in Stokeryweg. Hier is ’n groot versameling algemene plante soos vygies en crassula-spesies tot groter spesies soos die basterkokerboom en skaars spesies soos aalwyne uit Madagaskar.

Ry bergfiets

Bergfietsryers kan maar hulle fietse saambring Wellington toe – Wild Boar Trails het verskillende paadjies waarop jy kan trap én (wanneer dit veilig is) na die mooi omgewing kan kyk.

Pieter van Wyk van Wild Boar Trails het sowat 10 jaar gelede begin met die ontwikkeling van bergfietsroetes aan die voet van die Bainskloofpas buite die dorp – dié dat die plaaskinders hom die “paadjieman” noem. Die roetes het op die Welvanpas-plaas begin en geleidelik uitgebrei na ander plase ook – daar is op die oomblik meer as 70 km se gemerkte roetes wat jy kan ry.

“Die diversiteit van die omgewing maak die roetes hier rond uniek: Daar is dele met bergfynbos, renosterveld, plantasies, riviere en berge. Soms voel dit asof jy in die Swartland ry en tien minute later voel dit soos Knysna!” sê hy.

Wees wakker in die saal – ryers het glo al onder meer luiperds, rooikatte, wildevarke en verskillende soorte bokkies gesien!

Hoe werk dit? Wild Boar Trails is op die Val du Charron-plaas gebaseer. Hier is ’n kantoortjie (naby die Pizza e Vino-restaurant; volg die bordjies) waar jy ’n roetekaart kan kry en betaal vir jou permit.

Die afstande, moeilikheidsgraad en roeteprofiel word op die kaart aangedui. Die meeste ryers behoort die 26 km lange Porcupine-roete te kan baasraak. Hardebaarde kan die 45 km lange Wild Boar-roete ry.

Koste: ’n Permit kos R70 p.d. – betaal by die kantoortjie op Val du Charron langs Bovleiweg. Die kantoor is in die somer van 7 vm. af oop vir kaart- en kontantbetalings. As jy voor dit al in die pad wil val, kan jy met die Snapscan-app ook betaal.

Wat nog? As jy nie jou eie bergfiets wil saampiekel nie, kan jy een huur by Adventure Cycles (Marchandplein 7; 021 873 7434): R250 vir halfdag en R350 vir voldag. ’n Valhelm kos R50 p.d. en ’n fietsrak met plek vir drie fietse R200 p.d. Dié fietswinkel het ook van die Wild Boar-pamflette met die roetes op.

Nog inligting: wildboartrails.co.za

Stap in die berg

Jou beloning as jy al met die Witterivier langs loop van Eerste tot Tweede Tol, is lieflike swempoele langs die pad.

Toe mooi liggings uitgedeel is, het Wellington voor in die ry gestaan. As jy tyd het, ry op Andrew Geddes Bain se geskiedkundige Bainskloofpas wat al sedert 1853 hier deur die berge kronkel. Die uitsig van die pas af gee ’n goeie geheelbeeld, maar dis eers wanneer jy op een van die staproetes in die Limietberg-natuurreservaat is dat jy fyner kan kyk en die heide en sewejaartjies in dié fynbosgebied waardeer. Wees op die uitkyk vir die Kaapse bosbontrokkie en die Kaapse suikervoël, groet die bloukopkoggelmanders en duik by ’n bergpoel in – nóú’s jy in die Boland!

Die Bobbejaanrivierroete (9 km heen en weer, sowat 6 uur) volg dié sytak van die Witterivier. Parkeer by Eerste Tol bo-op die pas, en volg die paadjie van langs die VCSV-kampterrein af.

Draai ná sowat 3,5 km na links af van die paadjie om in lieflike bergpoele af te koel, en stap dan die laaste steil stuk tot by ’n mooi waterval. Kyk mooi in die somer: Dalk sien jy ’n rooidisa teen die rotskranse langs die rivier.

Die Rockhopperroete (8 km in een rigting, sowat 6 uur) is vir dié wat heeldag langs die rivier wil loop en ’n bietjie avontuur soek.

Soos die naam verklap, spring jy van klip tot klip en swem as jy wil hier en daar deur poele, terwyl jy rivierlangs van Eerste Tol tot Tweede Tol (of andersom) stap. Weerskante van jou troon die kranse uit en jy sal ver weg voel van die dorp se dinge. Reël dat iemand julle by die Tweede Tol-piekniekplek kry met iets kouds en iets te ete en dan terugvat na julle motor by Eerste Tol.

Kry ’n kaart Die Limietberg-natuurreservaat se stapkaart wys dié twee roetes en nog ses ander. Laai die kaart af by die reservaat se blad op capenature.co.za of kry een by die Tweede Tol-kantoor.

Koste: Permitte kos R40 p.d. per volwassene en R20 p.d. per kind. Koop dit by die Tweede Tol-kantoor ( 021 808 5121) of by Kaapse Natuurbewaring se besprekingskantoor ( 021 483 0190; reservation.alert@capenature.co.za)

EET HIER

Pizza e Vino, Val du Charron-landgoed

PIZZA E VINO

Vra iemand op die dorp waar jy moet gaan eet, en hulle sál Pizza e Vino voorstel – nie noodwendig vir die kos nie (hoewel die pizzas ook baie lekker is), maar vir die uitsig. En dit ís besonders: Van jou tafeltjie op dié restaurant se terrasstoep af kyk jy uit op die Hawekwa- en Limietbergreeks en die wingerde waarvoor die vallei bekend is.

Bring die kinders se swembroeke saam: Hulle sal heerlik onder die fonteine speel, terwyl jy weglê aan ’n Pavement Special-pizza met ham, artisjokke, olywe en sampioene (R130 vir ’n grote) en aan ’n jenewer-mengeldrankie (vanaf R55) teug.

Waar? Val du Charron-landgoed, Bovleiweg, sowat 4 km buite die dorp

Oop: Dinsdag-Saterdag: 12 nm.-9 nm.; Sondag: 10 vm.-4 nm.

Kontak: 021 873 1256; wellington@pizzaevino.co.za

The Stone Kitchen, Dunstone-landgoed

THE STONE KITCHEN

Dié bistro op die Dunstone-wynplaas is goed ingerig vir gesinne: Hier is ’n kinderspyskaart en binne- én buitespeelplek met onder meer ’n Lego-tafel, klimmuur en klimraam.

Bestel ’n Dunstone-burger (lamsvleis, bokmelkkaas, uie-marmelade, R110) of ’n kaasbord vir wanneer jy wynproe.

Goedgemanierde honde is welkom.

Waar? Bovleiweg, sowat 5 km buite die dorp.

Oop: Oktober-April: Elke dag: 8.30 vm.-4 nm.; Mei-September: Woensdag-Sondag 8.30 vm.-4 nm. Bespreek vir aandete vir Vrydag of Saterdag 4.30 nm.-10 nm., anders maak die kombuis vroeër toe.

Kontak: 021 873 6770; dunstone.co.za

Perfect Place

PERFECT PLACE

Sit op die stoep wat uitkyk op Kerkstraat, binne-in een van die koel kamers of in die vierkant agter onder ’n sambreel. Dié koffiewinkel bied van ontbyt (R69 vir Benedicteiers) tot pizza uit die houtoond (vanaf R77 vir ’n Hawaiise pizza). Die pannekoek met gevlokte varkvleis en kaassous (R75) is ’n goeie middagete-opsie.

Moenie verbaas wees as die meeste mense wat jy hier sien instap, eers by ’n ander tafel gesels nie – Perfect Place is ’n bymekaarkomplek vir baie Wellingtonners.

Waar? Kerkstraat 66 Oop Maandag-Saterdag: 8 vm.- 5 nm.

Kontak: 021 873 620; eat@perfectplace.co.za

Bly hier

9B on Bain

Dié selfsorgwoonstel is óp die dorp en ideaal vir ’n gesin van vier. Die woonstel is vas aan die eienaars, Johan en Elra Rademeyer se hoofhuis, maar hulle sal jou nie pla nie. Hier is twee gemaklike kamers (een met ’n dubbelbed en een met twee enkelbeddens), elk met ’n en suite-badkamer, leefvertrek (met DStv) en toegeruste kombuisie.

Stap laatmiddag met die boomryke Bainstraat af en groet die locals wat verby jou draf.

Waar? Bainstraat 9b

Koste: R350 p.p. wat deel p.n.; R450 p.p.p.n. vir enkelreisigers. As jy drie of meer nagte bly, is dit R300 p.p.p.n.

Kontak: 021 864 1977; ninebonbain@mweb.co.za. Hulle het nie ’n webblad nie, maar kyk op Wellington-toerisme s’n (Kies “Stay” en “In town”) vir nog inligting: www.wellington.co.za

Rooiheuwel-kothuis

rooiheuwel
ROOIHEUWEL-KOTHUIS. Foto: Shelley Christians

Dié oopplankothuis op ’n rustige plaas buite die dorp is smaakvol ingerig en bied gerieflike verblyf vir ’n gesin van vier. Die leefvertrek het ’n dubbel- en stapelbed en die kombuisdeel is toegerus met ’n stofie, kroegyskas en mikrogolfoond, asook ’n etenstafel. Hier is lugreëling, Wi-Fi en DStv.

Braai saans buite op die stoep – hout word verskaf.

Waar? Sowat 7 km buite die dorp langs die Ou Hermonpad. Vra vir aanwysings wanneer jy bespreek.

Koste: R900 p.n. vir twee mense; R100 p.p. wat bykom. R550 per enkelreisiger.

Kontak: 082 707 6038; rooiheuwel@mweb.co.za. Soek vir “Rooiheuwel Cottage” op safarinow.com vir nog inligting.

La Folie Green Cottage

foto
LA FOLIE GREEN COTTAGE. Foto: Shelley Christians

Die huisie op die La Folie-plaas is vir die gesin wat regtig wil wegkom van alles: Hier is nie elektrisiteit nie, maar kerse, sonkragliggies, en ’n gasstoof, -yskas en -geiser. Pak kaarte of ’n bordspeletjie in – onthou, hier is geen TV nie!

Die huisie het slaapplek vir vier mense in twee gerieflike kamers. Jou oggendkoffie gaan ekstralekker smaak op die stoep van waar jy die Spruitrivier kan hoor vloei, en julle het julle eie piekniekplek langs die rivier.

La Folie het ook twee luukser huisies, Sunset Cottage en River Cottage. Kyk op die webblad vir nog inligting.

Waar? Sowat 5 km buite die dorp, langs Olyvenboschweg. Volledige aanwysings op die webblad. Maak seker jou motor het ’n goeie grondvryhoogte – die middelmannetjie op die grondpad na die huisie toe is nogal hoog!

Koste: R450 p.p.p.n. Minimumverblyf: twee mense vir twee nagte. Vra oor afslag vir kinders.

Kontak: 072 507 7255 (Anita); lafolie.co.za