Bassfeather Country-lodge

Rek die naweek neffens die Langspruit

Die Bassfeather Country-lodge lê teenaan die Langspruit net buite Reitz in die Noordoos-Vrystaat. As jy van die Reitz-pad afdraai, loop die spruitjie so ’n halwe kilometer regs van die netjiese grondpad tot waar ’n damwal gebou is.

Die eienaar, Manie Fichardt, het die wal 37 jaar gelede hier in die spruit gebou juis met die gedagte om ’n plek op die been te bring waar mense rustig kan ontspan. Van hier af dam die water uiteraard op, met Bassfeather aan die ander kant teen die oewer. Anders as op die Vrystaatse vlaktes hier rondom jou, is koeltebome hier volop, en die netjiese grasperk strek tot teen die water. Hier is 23 staanplekke, en hoewel hulle genommer is, word geen plekke vooraf toegeken nie.

Elk van die gemesselde braaiplekke (elk met sy eie rooster) gee jou ’n aanduiding van waar jy kan kamp opslaan; hoe vroeër jy dus opdaag, hoe beter is jou kans om die beste kampkol te kry – veral as jy op een van die 14 staanplekke teenaan die waters wil kamp. Hier staan ook ’n paar vullisdromme elk met ’n swartsak wat elke dag vervang word.

Die badkamers is ewe netjies. Die storte en baddens is skoon en hier is genoeg badproppe en toiletpapier – daar is selfs handewasseep en handeroom. Die kinders kan reguit vir die parkie en die kouwaterswembad skiet, terwyl die hele gesin ’n entjie gaan stap om die natuur te geniet. Jy kan agter die oord teen die rantjie uitstap van waar ’n mens ’n mooi uitsig kry oor die omgewing.

As jy gelukkig is, gaan jy blesbokke, swartwildebeeste, sebras of volstruise in die veld sien. Natuurlik is hier ’n hele klompie voëlspesies naby die water, maar hou jou oë oop, want dalk is jy gelukkig om ’n verkleurmannetjie raak te loop.

Kortliks | Bassfeather Country-lodge

Vis: Swartbaars, baber en karp.

Kampplek: Onafgebakende staanplekke vir 23 woonwaens op ’n lieflike grasperk met heelwat koeltebome.

Ablusiegeriewe: 1 badkamergebou. Aan die manskant is 2 storte en 3 toilette, en aan die vrouekant dieselfde, maar met 2 ekstra baddens.

Prys: Afhangend van die seisoen R200-R220 p.n. per staanplek plus R80 p.p.p.n. (R40 vir kinders o.12; gratis vir o.6’e).

Aankoms- en vertrektyd: 14:00 en 11:00.

Kontak: 082 378 6991; bassfeather.com; info@bassfeather.com

Naaste dorp: Reitz 9,6 km.

Hoe lyk die pad? Die laaste kilometer is ’n puik stukkie grondpad.

GPS: S27.812397 E28.504346

Ry & SleepOm te hengel is gratis, maar laat gaan die groter visse.

Dubbelbaadjie

Afhangend van hoe en waar jy hengel, kom ’n hengelbaadjie handig te pas. Danksy al sy sakke kan jy enigiets van kunsaas tot jou selfoon en waterbottel saamdra terwyl jy byvoorbeeld op die rotse staan en hengel.

Adrenalin se hengelbaadjie is een van die baadjies wat dit selfs ’n stappie verder vat: Dié een het nie net nuttige sakke nie, maar ook drie dobbers wat jou laat dryf as jy in die water beland: een aan die rugkant en twee voor (een aan elke kant). Die baadjie se vlotvermoë is tot ’n gewig van 75 kg.

Die dobbers het ook hulle eie sakke, en as jy dit dalk wil uithaal, kan jy. Verder beperk die baadjie se ontwerp nie jou bewegings terwyl jy hengel nie. Of jy nou van jou kajak af hengel, ’n kranige vlieghengelaar is of ’n galjoen in die naaste sloep soek, kan die baadjie jou lewe makliker maak.

Prys: R685

Kontak: Adrenalin Importers & Distributors (invoerders) 021 982 1510; catches@4adrenalin.co.za; adrenalinfishing.co.za

KABELJOU MET RISSIEKONFYT

Vis met byt

Baie mense is lief vir snoek wat jy met mayonnaise, knoffel en appelkooskonfyt verf. Dié gereg het ekstra oemf.

Jy benodig

(genoeg vir 4)

  • 1 kabeljou, snoek of ander braaivis
  • 4 eetlepels rissiekonfyt
  • 8 eetlepels sagte botter
  • 4 eetlepels suurlemoensap
  • 1 eetlepel roosmaryn, fyngekap
  • ’n ekstra takkie roosmaryn

Só maak jy

1. Spoel die skoongemaakte vis af en druk dit met kombuispapier droog.

2. Meng die konfyt, botter, suurlemoensap en roosmaryn saam. Verf nou 3 eetlepels daarvan aan die binnekant van die vis en druk ook die roosmaryntakkie in die maagholte. Verf die buitekant van die vis met omtrent 3 eetlepels van die mengsel.

3. Braai die vis vir 6 minute oor matige kole met die velkant na onder totdat die vel bros raak. Draai dit dan om en braai die ander kant tot bros. Sodra die vleis gevlok kan word, is die vis gaar.

4. Skep die res van die bottermengsel op die warm vis en sit dit dadelik voor.

Ry & Sleep sê Indien jy nie rissiekonfyt het nie, gebruik soet rissiesous of tamatiekonfyt waarby jy ’n bietjie gekapte brandrissie na smaak byvoeg