FOTO'S: PATRICK EN MARIE GURNEY

" Ná 5 000 km deur Ethiopië voel ons vodde en sien uit na ses salige nagte op die Lamu-eiland aan die kus van Kenia. Dinge loop seepglad by die Moyale-grenspos tussen Ethiopië en Kenia.

Trouens, toe ons teen 6 nm. daar aankom, sê die immigrasiebeampte ons is maar die eerste voertuig die week!

Aan die Keniaanse kant word ons egter meegedeel dat die immigrasiekantoor gesluit is. Met “Hakuna matata!” dui ’n sekerheidswag ’n kol aan waar ons kan tent opslaan vir die nag. Die volgende dag is ons ná tien minute se papierwerk vort.

Is dit ’n dassie of ’n vampier?

Hutte van nomades, padlangs in die Samburu-streek.
Roofarend.
Mense in die Samburu-streek.

Die 250 km – op ’n goeie teerpad, nogal – tussen Moyale en die dorpie Marsabit loop deur ’n enorme stuk halfwoestyn. Geen mens of dier is in sig nie: Dis net ons en die uitgestrekte landskap oortrek met vulkaniese rotse. ’n Boom versteur plek-plek die eentonige toneel.

Drie uur later hou ons op Marsabit by ’n winkel stil. Soos twee uitbundige kinders bestorm ons die yskaste met jogurt, kaas, wyn en ander lekkertes waarvan ons die afgelope twee maande vergeet het. Dis tyd om die Hilux-spens weer behoorlik aan te vul.

Ons is gretig om wild te kamp in Kenia en kies net buite Marsabit ’n beskutte plekkie ’n paar honderd meter van die hoofpad af. Die volgende oggend word ons verras met ons eerste grootvoet!

Verkeer in Nairobi.

Ons kamp twee nagte langs ’n droë rivierbedding. Die mooi Samburu-streek waardeur ons reis, huisves van Kenia se grootste parke en bewareas, maar ons het ongelukkig nie tyd om die plekke te verken nie. Ons het afsprake met vriende in Nairobi.

Ons kuier ’n week lank in dié bedrywige stad met verskeie groot winkels en nuwe hipster-eetplekke. Die verkeer is ’n malspul. Die bouwerk aan die verouderde padnetwerk veroorsaak chaos – ’n mens kan maklik 3 uur aan 20 km ry in Nairobi!

Ons kamp in vriende se agterplaas en bring ook ’n paar aande deur by die bekende oorlandkampterrein, JJ’s (Jungle Junction). Hier is ’n werkswinkel op die perseel; dus kan jy jou toervoertuig laat versien. Ons vervang ons skokbrekers wat in Ethiopië al op 80 000 km gestaan het.

Een van Nairobi se inwoners moet spesiaal vermeld word: ’n boomdassie! Hierdie wollerige diertjie skreeu soos ’n vampier! Hulle vreesaanjaende geroep in die nag sal veral kinders die skrik op die lyf jaag.

Net voordat die dassie ons tot raserny dryf, vlieg ons na die kus vir sand, see en ’n private sjef.

Luilekker Lamu

Lamu-kanaal.
Lamu
Donkies gedy op Lamu.

Baie min het sedert die 18de eeu op Lamu verander. Hier is net een pad en glo net een motor op die eiland. Die klein eiland en sy bevolking van 4 000 donkies is vasgevang in ’n tydkapsule. Selfs die donkies lyk uitgerus – dalk het dit iets te make met die vars lug van die Indiese Oseaan.

Die Lamu-kanaal vloei tussen die Lamu- en Manda-eiland. Ons wil graag albei kante van die kanaal ervaar en verdeel dus die ses nagte tussen twee Airbnb-blyplekke. Die eerste drie nagte bly ons op Manda-eiland en voel Robinson Crusoe-alleen. Vanuit die bungalow met sy palmdak kyk jy uit op die Shela-strand op die Lamu-eiland, aan die oorkant van die kanaal, wat sowat 700 m breed is.

Die private sjef tower allerhande lekker maaltye op: van pizza tot interessante kokosneutslaaie en selfs naanbrood vir garnaalkerrie – alles binne jou begroting.

Ons volgende slaapplek is op die Shela-strand. Ons eet middagete by die Peponi Hotel en stap in die stegies verby kunsgalerye en koffiewinkels tot by ons vakansiehuis met vier verdiepings. En weer ’n sjef!

Ons besoek die plaaslike museum, wat verbasend interessant is. Vir die res van die drie dae sit ons op die dakterras en kom via die internet weer op hoogte van wat in die wêreld aangaan.

Flaminke en ’n vergete skoen

Camp Carnelley, Naivashameer.
Kakamegawoud.

Weer terug in Nairobi mik ons noordwes vir 450 km (12 uur) na die Kakamegawoud- nasionale park. Op pad doen ons die mere Naivasha, Elmenteita en Victoria aan.

Op pad na Naivasha sien ons troppies sebras, koop vir elkeen ’n eienaardige Russiese hoed (ons volgende avontuur is die Syroete in Asië), tuur oor die Groot-Skeurvallei en sien báie blommeplase – die blomme word na Europa uitgevoer.

Die Naivashameer is net 6 m diep en die tuiste van verskeie voëls. Ons bly by Camp Carnelley. Dié goed georganiseerde oord het kampplek, chalets en ’n restaurant wat heerlike pizzas maak. En seekoeie, wat sorg dat die kampplek se gras kort bly. Ons bly twee aande (en moet tien dae later terugkeer omdat ek my stapstewels onder die Hilux vergeet het!)

Die Elmenteitameer staan vol flaminke. Ons skat daar is sowat 50 000, asook groot swerms pelikane.

Airbnb op Manda-eiland.

Op die dorp Kisumu by die Victoriameer kuier ons weer saam met vriende. Terwyl ons tussendeur huise vleg wat báie na aan mekaar staan, hoor ons ’n harde slag! Dis ’n elektriese kabel wat baie laag hang wat ons nie gesien het nie. Dit het die groot krat op die agterste dakrak beskadig.

Gou drom ’n skare rondom ons saam. Die ongeluk het ook ’n elektriese houtpaal laat breek wat die helfte van die buurt se krag laat uitsny het. Ons wys die kabel was minstens 3 m laer as die ander, maar dok later USD 100 (sowat R1 500) op om ’n krisis af te weer.

Kisumu se seiljagklub.
Etenstyd by die Naivashameer.

Ons geniet middagete by die Kisumu-seiljagklub, waarna ons kamp opslaan in ’n vriend se agterplaas. Tot ounag toe sit ons en gesels oor die avonture van die afgelope maande.

Daar is twee redes waarom ons die dorp Kakamega wil besoek. My ma, Shirley Gurney, wil graag ’n foto hê van die sendinghospitaal waar sy in 1935 gebore is. Ons wil ook die ou Kakamegawoud besoek.

Kakamega was eens ’n klein dorp, maar het heelwat uitgebrei en ons kry nie die spesifieke hospitaal nie, maar kamp darem twee nagte in die Kakamegawoud.

Die Kakamegawoud is ’n oorblyfsel van die eens enorme Guineo-Kongolese reënwoude wat reg oor Sentraal-Afrika gestrek het. Dit word gelys as een van die top-10 ou woude ter wêreld. Blykbaar hou hier 350 spesies skoenlappers in die woud. Van die kampplek af stap ons in die oggende verby watervalle en sien swart-en-wit colobusape en rooistertape. Saans luister ons na die woudgeluide, maar in jou agterkop weet jy: Die wildebeeste is aan ’t beweeg...

Blouwildebeeste soos miere

Blouwildebeeste in die Mararivier.

Die 300 km en 6 uur lange suidwaartse reis na die Masai Mara- nasionale reservaat loop deur die platteland. Ons is dankbaar oor die Hilux se nuwe skokbrekers, want die paaie is óf swak geteer óf sinkplaat.

In die park sukkel ons om gewoond te raak aan Kenia se plat savannevlaktes. Dis vreemd om kamp op te pak, jou verkyker uit te haal en vooraf te kyk by watter diere jy verby wil ry – jy kan letterlik kilometers ver sien. In Suid-Afrika speel die diere mos wegkruipertjie in die ruigtes.

Terwyl ons in die park rondry, ontmoet ons ’n televisiespan. Hulle sê ons tydsberekening is perfek. Hulle is reeds ’n maand in die park en die blouwildebeeste het net ’n paar dae tevore die Mararivier begin oorsteek.

Die groot migrasie, Masai Mara.

Ons sien hoe ’n paar kleiner groepe van ongeveer 200 wildebeeste dié rivier kruis. By twee kolle sien ons hoe ’n paar blouwildebeesbulle ander “roep” en by uitgesoekte punte oor die rivier lei. Ons het nog nooit van dié gedrag gehoor nie.

Vyf aande kamp ons in die park. Die daaglikse koste beloop USD 206 (sowat R3 050) vir ons albei en die Hilux. Die kampplek het geen geriewe nie, behalwe dat dit sentraal geleë is en die daaglikse toegangstarief effe goedkoper as gewoonlik is. Ons ontmoet ook ’n ander Suid-Afrikaanse paartjie wat tuisgemaakte boerewors aanbied.

Suid-Afrikaners kibbel dikwels oor of dit die moeite werd is om die duur parktariewe in Kenia te betaal omdat ons soortgelyke diere by die huis kan sien. Maar die Sardientjieloop sal nêrens elders ter wêreld tog dieselfde wees as aan die Suid-Afrikaanse kus nie, of hoe? Nêrens anders is ’n migrasie soos in die Masai nie. Dis uniek. Ons was skaars twee uur in die reservaat toe sien ons ’n blouwildebeeskruising, Rothschild se kameelperde én ’n leeutrop!

Amboseli
Amboseli- nasionale park, met Kilimandjaro agter.
Masai Mara- nasionale reservaat.

Ons ry 230 km terug na Naivasha om my vergete stapstewels op te tel en dan terug na Nairobi toe vir ’n vriend se 40ste verjaardag. In die stad eet ons ’n tradisionele “karoga” by die bekende Mint Shack-restaurant. Karoga is die Keniaanse word vir “roer,” en ook die naam vir ’n kookstyl wat jare gelede in Kenia deur Indiese immigrante gebruik is. Jy bestel allerlei bestanddele uit die kombuis en maak jou eie Indiese kos. Jy kan ook chapatti’s, roti’s en naan bestel.

Van Nairobi af ry ons op 260 km se grondpaaie suidwaarts na die Iremito-hek van die Amboseli- nasionale park. Dis glo ’n puik park, maar van die vier lodges wat ons sien is twee vervalle. Die paaie is só swak dat ons net een aand bly.

Van hier af ry ons na die Namanga-grenspos met Tanzanië. Weer is die pad treurig en ons is dankbaar vir die laaste kilometer teerpad net voor die grenspos. Ons was ’n maand lank in Kenia en het 2 500 km afgelê – 1 500 km op teer en die res op grond.

Tanzanië, hier kom ons!

Lede van die Masai Mara-stam, Kenia.

WAT ONS OOR ONSSELF LEER

Daar is gesondsheidrisiko’s: Om vir meer as 400 nagte op ’n matras van 5 mm dik te slaap en om vir 37 000 km jou arm op ’n venster te rus het risiko’s. Ons het albei ’n toestand ontwikkel wat ons “overlander arm” gedoop het. Dis ’n skouerbesering wat blykbaar ’n skeur in die spiere en sening veroorsaak. In Nairobi het ons ’n fisioterapeut besoek, maar 15 000 km tot in Suid-Afrika het nog voorgelê.

Daar is ook geestesoorwegings. Op so ’n lang reis raak ’n mens se verdraagsaamheid min. Selfs iets soos “hoekom is die lepels by die messe en vurke” kan iemand laat ontplof. Maar Marie maak dinge maklik; min ander geliefdes kan die daaglike roetine hanteer en steeds in die oggend met ’n glimlag en sarkastiese (hoewel liefdevolle) opmerking wakker word. ’n Mens moet geestelik sterk wees om vir so lank op die pad te wees.

Ontmoet Patrick en Marie Gurney

Hulle het op 3 Junie 2018 uit Marie se geboortedorp, Valence, Frankryk, weggetrek met die doel om binne 18 maande tot by hulle huis in Johannesburg te ry. Teen die tyd dat hulle Kenia bereik het, was hulle reeds 13 maande op pad. Hulle het deur Frankryk, Switserland, Italië, Kroasië, Slovenië, Hongarye, Roemenië, Bulgarye, Turkye, Israel, Palestina, Jordanië, Egipte, Soedan en Ethiopië gereis.

Hulle het dié reis onderneem om hulle denke oor kultuur te vernuwe en inspirasie te put uit die mensdom.

*Marie is ’n volhoubaarheids-konsultant en Patrick is ’n bemarker.

NOG INLIGTING: Stuur ’n e-pos na info@skultcha.com as jy vrae het oor die Gurneys se reis, of gaan na skultcha.com Soek “skultcha” op Facebook en @skulcha op Instagram.