Foto's: Mia Louw

"Die eerste ding wat besoekers oplet wanneer hulle hier aankom, is hoe warm en bedompig dit is,” vertel Troos van der Merwe, eienaar van die Fever Tree-kwekery. Troos bly al die afgelope 14 jaar in Mbombela, voorheen Nelspruit. Hy sit onder die boom wat die kwekery sy naam gee en bo ons uittroon. “Ek sê dan vir hulle: Onthou, ons bly in die Laeveld. Die taai lug is wat dié plek uniek maak.”

Dit voel asof die Indiese Oseaan net hier anderkant die granietkoppie lê, en op ’n manier is dit waar – die see lê slegs 200 km anderkant die grens in Mosambiek.

“As ons lus is vir garnale, kan ons gou Maputo toe ry,” sê Troos met ’n glimlag.

Die kwekery is soos ’n subtropiese oerwoud. Dis ook ’n gewilde voëlkykbestemming. “As besoekers van die lughawe af op voëlsafari’s vertrek, is hierdie hulle eerste stilhouplek,” sê Troos. “Ons sien gereeld witkeeljanfrederike en ek het vanoggend ’n bosveldvisvanger hoor roep. In die winter kom kuier drie of vier verskillende suikerbekspesies by ons aalwyne.”

Die kwekery is by Hall’s Gateway to the Lowveld, ook die tuiste van die bekende Hall’s-padstal. Hall’s is ’n instelling in dié geweste en een van die gewildste stilhouplekke as jy met die N4 langs van Gauteng af reis.

Hugh Lanion Hall het in 1890 in die Laeveld aangekom en een van die grootste sitrus- en vrugteplase in die land hier gevestig, wat vandag bekend staan as HL Halls & Sons.

In dieselfde tydperk het drie Nel-broers hulle vee van die Hoëveld af gebring om in die winter hier rond te kom wei. Dis waar die ou naam, Nelspruit, vandaan kom. Nelspruit het ’n paar jaar gelede amptelik Mbombela geword, wat in seSwati “baie mense in ’n klein plek” beteken.

Terug by Troos en sy mooi tuin en kwekery: “Ek hou daarvan om met mense te gesels wat uit kouer klimate hierheen verhuis het,” sê hy. “As hulle in hulle nuwe tuin begin woeker, kan hulle nie glo dat die plante sommer net groei nie. Hulle is mal daaroor!”

Nelspruit het ’n paar jaar gelede amptelik Mbombela geword, wat in seSwati “baie mense in ’n klein plek” beteken.

Nog ’n lowergroen kuierplek is die Laeveld- nasionale botaniese tuin, wat vanjaar 50 word.

“Die gebied was voorheen eintlik grasveld, met klipperige koppies oral,” sê die kurator, Taki Mamatsharaga. “As ’n mens dit in gedagte hou, waardeer jy die werk wat die afgelope halfeeu hier gedoen is.”

Die tuin is inderdaad oud genoeg om die vordering te waardeer en terselfdertyd jonk genoeg om die mense wat aan die begin hier was, erkenning te gee – iemand soos die plaaslike botanis en kunstenaar Elise Buitendag. Sy het ’n memoires oor die eerste 12 jaar van die tuin geskryf en dié boek, Genesis of a Garden, is in Maart, die jubileumjaar, uitgegee.

Taki en sy span beplan ook ander feesvieringe. Hy is al meer as ’n dekade lank die kurator en al sedert 2004 betrokke by uitreikprogramme wat meer groen kolle in Mbombela wil skep. “Ons het begin met voorbeeldtuine as ’n manier om skole en ander plekke te wys: Julle kan dit doen; julle kan na julle omgewing omsien.”

Dié boodskap was aansteeklik, en die stad het nou heelwat openbare plekke vol groenigheid. Die Riverside-nywerheidspark langs die botaniese tuin het byvoorbeeld doringbome en pienk impalalelies om vaal parkeerterreine op te kikker.

“Aan die begin was my doelwit as kurator om almal te laat verstaan hulle is welkom hier,” gaan Taki voort. “Ons gee mense redes om te kom.”

As ’n mens op ’n Sondag ’n draai maak terwyl die grasperke vol piekniekgangers is, is dit duidelik dat dié plan gewerk het.

Ek gesels met hom in sy kantoor en vang hom waar hy by die venster uitloer, nes ’n opgewonde kind wat nie kan wag om buite te gaan speel nie. “Kyk net na die plek,” sê hy. “Ons het wátervalle!”

Die Mbombela-stadion is een van tien wat gebou is vir die Wêreldbekersokkertoernooi in 2010. Kyk ’n bietjie na die 18 oranje kameelperde wat die dak regop hou. Binne spog die sitplekke met sebravel. Dis ook die tuiste van die Pumas-rygbyspan en huisves feeste soos die Mpumalangaskou.

Die entoesiasme is ook te sien by die Innibos- nasionale kunstefees, wat gegroei het van 25 000 besoekers in 2004 tot meer as 100 000 in 2018.

“Toe ons Innibos 16 jaar gelede begin het, wou ons ’n platform vir die kunste hier in die stad skep,” sê Sandra Jacobs, een van die stigters. “Maar omdat ons lief is vir die Laeveld, wou ons die gebied ook as ’n winterbestemming bemark. Mense kom nie net hierheen vir Innibos nie, maar ook vir “ommibos”. Feesgangers verken nabygeleë trekpleisters soos die Panoramaroete of die Krugerwildtuin. Laasjaar het ons die York Secret Waterfall-toer as deel van die fees aangebied, en dit was besonder gewild. Ons sal dit beslis weer doen.”

Sandra bly al 32 jaar in die Laeveld. “Daar is nog wilde diere in die buurte,” sê sy. “Ek het duikers en ystervarke in my tuin.”

En tog, erken sy, kan ’n mens ’n bietjie blasé raak oor hoe mooi Mbombela is. Gelukkig is dit maklik om jou daaraan te herinner: “Jy moet net vir ’n kort rukkie weggaan,” sê sy. “Sodra jy by die huis kom, sien jy weer hoe wonderlik hierdie plek is.”

Doen dít

LAEVELD-BOTANIESE TUIN

Stap in die tuin

Voëlskyk, piekniek hou, fotografie, joga... Daar’s baie om mee besig te bly in die Laeveld- nasionale botaniese tuin.

Die Riverside-paadjie langs die Krokodilrivier is gewild, maar hou jou oë oop vir seekoeie en krokodille.

Die uitkykpunte by die Cascades-waterval en die samevloeiing van die Nels- en Krokodilrivier is ook ’n besoek werd.

As jy jou honger gestap het, kry iets te ete by die Red Leaf Fig-teetuin, of by die nuwe restaurant, Tindlovu, wat in Januarie oopgemaak het.

Koste R35 per volwassene; R15 per kind; R20 per student. Toegang is gratis vir pensioentrekkers op Dinsdae.

Oop: Maandag tot Sondag: 8 vm.-6 nm. in die somer; 8 vm.-5 nm. in die winter (April tot Augustus).

Kontak: 013 752 5531; sanbi.org

Hou piekniek

Oor naweke kom vriende en familie bymekaar in die Steiltes-natuurreservaat se piekniekplek om ’n stukkie ongerepte natuur in die middel van die stad te waardeer”.

Op weeksdae stap mense met hulle honde op die paadjie wat opkronkel tot by ’n uitkykpunt op ’n granietkoppie met ’n panoramiese uitsig. Die paadjie se aanwysingsbord het verbleik in die son, maar jy sal jou weg vind.

Dis veiliger om nie alleen te stap nie – gaan liefs twee-twee of in ’n groep.

Waar? Die ingang is in Melkwegpad. Jy kan ook aan die agterkant van die granietkoepel stilhou, in Dr. Enos Mabuza-rylaan, om by die uitkykpunt uit te kom sonder om al die pad tot bo hoef te stap.

Koste: Hier’s nie ’n toegangstarief nie; mense woord bloot gevra om die plek te respekteer. “Laat net voetspore agter en neem net foto’s saam,” maan een aanwysingsbord.

Wees ’n kultuurdier

Innibos-Nasionale kunsfees

Die Innibos- nasionale kunsfees word vanjaar van 26 tot 29 Junie gehou. Die feesterrein by die Hoërskool Bergvlam sal verskeie musiekverhoë, ’n teaterverhoog, kosstalletjies, kunsvlyt en ’n pretpark hê. Daar word ook ander optredes, uitstallings, boekbesprekings en ’n filmfees by ander plekke in en naby die stad gehou.

Koste ’n Weekkaartjie vir toegang tot die feesterrein kos R500; Woensdag en Donderdag: R120; Vrydag: R175; Saterdag: R200;

innibos.co.za

Grotte en skoenlappers

SUDWALA-GROTTE
BUTTERFLY EFFECT

Die Sudwala-grotte is na raming 240 miljoen jaar gelede gevorm en word gereken as een van die oudste grotstelsels ter wêreld.

“Al die formasies in die grotte – stalaktiete, stalagmiete en vloeistene – is nog aktief en aan die groei, afhangend van hoeveel dit reën,” sê die gids Karabo Mohlala. “Maar hulle groei stadig! Die gemiddelde groeitempo is maar 2,5 cm elke 100 jaar.”

Nie net ken Karabo sy storie nie; hy is ook vermaaklik, en kan met sy flits skadusilhoeëtte van leeus en arende teen die muur maak. Hy wys ons een muur van “olifantvelrots” – liggrys dolomiet met dieselfde tekstuur as ’n olifant se vel – en roetmerke van vure wat mense in die 19de eeu gemaak het toe hulle hier skuiling gesoek het.

Waar? 36 km buite Mbombela, langs die R539.

Koste R95 per volwassene; R50 per kind (gratis vir kinders jonger as vier); R80 vir pensioentrekkers.

Kontak 083 446 0228, sudwalacaves.com

Wat nog? Maak ’n draai by die Butterfly Effect-natuurtuin, wat ook op die Sudwala-terrein is. Dit het in September 2017 oopgemaak en is ontwikkel as deel van ’n bewaringsprojek om gasheerplante en -blomme te voorsien sodat die skoenlapper- en bybevolking kan groei. Dié bevolkings word kleiner weens habitatverlies en landbou-plaagdoders.

Trap jou fiets – en nog!

Die Mankele-bergfietspark is Mbombela se avontuur-hoofkwartier. Hier is verskeie bergfietspaadjies, van ’n 2,4 km-roete met hobbels en walle vir kinders en beginners, tot ’n 55 km-sirkelroete vir ervare ryers.

Ander aktiwiteite sluit in vlotvaart op die Houtbos-looprivier, verfbal en ’n hindernisbaan.

Hier is ook verblyf: Jy kan kamp, in ’n safaritent slaap of oorbly in ’n houthut.

Waar? 32 km van Mbombela af, langs die R539 op pad na die Sudwala-grotte.

Koste Dagpermit: R50 per volwassene; R30 per kind tussen 2 en 16 jaar oud – dié tarief gee jou toegang tot die paadjies. ’n Vlotvaart kos R150 p.p.; verfbal R200 p.p.; hindernisbaan: R100 p.p. Jy kan ook ’n fiets huur teen R175 per halfdag.

Kamp: R120; safaritent: R295; houthut: R430 – al die verblyftariewe is p.p.p.n.

Kontak 078 801 0453; mankele.co.za

Kuier by die sjimpansees

CHIMPANZEE EDEN

Die Jane Goodall Institute Chimpanzee Eden, algemeen bekend as Chimp Eden, is die eerste en enigste veilige plek vir sjimpansees in Suid-Afrika. Op ’n begeleide toer kan jy die sjimpansees en hulle maniere leer ken. Die meeste van hulle is gered uit die bosvleisbedryf, sirkusse, dieretuine en onwettige troeteldierhandel.

Jy kan ook die oudste sjimpansee ter wêreld sien – die waardige 75-jarige Joao.

Waar? 16 km buite Mbombela, in die Umhloti-natuurreservaat, op die R40 na Barberton.

Koste ’n Begeleide toer kos R210 per volwassene, R165 per kind (gratis vir kinders jonger as ses) en R165 per pensioentrekker.

Wat nog? As die weer dit toelaat, is hier drie toere per dag: 10 vm., 12 nm. en 2 nm. Elke toer duur sowat 75 minute. Die sentrum het ook ’n restaurant.

Kontak 079 777 1514, chimpeden.com

EET HIER

Orange

ORANGE

Mik na Orange vir ’n romantiese maar ontspanne gourmetervaring.

Dis een van Mbombela se mees bekroonde restaurante en die moderne spyskaart het iets vir elke smaak. Die geregte wat gewild genoeg is om al sewe jaar op die spyskaart te wees (dis hoe lank Orange al bestaan), is die beesstert (R185), lamskenkel (R195) en die sjokolade-en-brandrissiefilet (R215). Probeer die avokado-en-seekosstapel (R95) as voorgereg en die witsjokolademousse met bessies vir nagereg (R95).

Waar? Du Preezstraat 4 Oop Maandag tot Sondag: 12 nm.-3 nm. (middagete); Maandag tot Saterdag: 6 nm.-10 nm. (aandete); Sondagaandete van 6 nm.-9 nm.

Kontak: 013 744 9507; eatatorange.co.za

Zest

ZEST

Zest is nóg ’n gourmetrestaurant, en dit kyk uit oor ’n plaas sowat 14 km buite die stad. Die eienaars se Franse flair is duidelik in die kos, die dekor en die keuse van musiek. Die kinders kan buite speel terwyl hulle ouers weglê aan voorgeregte soos tunacarpaccio (R95) of varklies (R75). Die primarib met tjips en ’n Malgassiese peperkorrelsous (R195) is ’n goeie hoofgereg-opsie.

Kontak: 013 007 0066, “Zest Restaurant | Fine Wines” op Facebook

Waar? 14 km buite Mbombela, op die R37 in die rigting van Sabie.

Oop: Dinsdag tot Saterdag: 9 vm.-9.30 nm.; Sondag: 9 vm.-3 nm.

Bistro Bistro

Dié restaurant het in Maart 2018 oopgemaak. Die art deco-tema laat jou voel jy is in Parys in die 1920’s.

Die eienaars se reiservarings was die inspirasie vir die spyskaart en daar is heelwat om van te kies.

Probeer die dunbasispizza met peer en gorgonzola (R110), of gekruide lamsvleis met gekaramelliseerde uie, mozzarella en tzatziki (R150). Lus vir ’n bederfete? Bestel die gebakte koningklip met garnale, en sluit die ete af met ’n mengeldrankie soos The Tropical Butterfly (R65), gemaak met jenewer, grenadella-sap, peer, aarbei en roomys.

Kontak: 013 744 3199

Waar? Steiltes-winkelsentrum, Skylabsingel 36 Oop Maandag: 4 nm.-laat. Dinsdag tot Saterdag: 12 nm.-laat. Die kombuis is oop tot 9 nm. Gesluit op Sondae. 

Ander opsies

Maak ’n draai by die Sonpark-sentrum as jy iets minder ghrênd soek, of stap met Fauriestraat langs – hier is heelwat restaurantdakkies wat met liggies versier is. Jy sal Italiaanse kos by Stefano’s Trattoria kry, iets Grieks by The Greek Kouzina en Portugese kos by O Espeto of Costa do Sol.

Loer in by Cicada Restaurant and Craft Bar vir sushi en boetiekbier.

BLY HIER

Alkmaar Farmstay

ALKMAAR FARMSTAY

Die afdraai na Alkmaar is sowat 16 km voor die stad as jy met die N4 van Johannesburg af kom. Dis op ’n sitrus-en-makadamiaplaas en hier is twee selfsorghuisies langs mekaar, asook ’n luukse “boskamp” met safaritente, wat dikwels vol-bespreek is vir troues.

Jy kan die hoofplaashuis van die huisies af sien, maar elkeen het ’n private stoep en ’n gesellige buitekuierplek waar julle kan braai en eet.

Koste: R1 000 p.n. vir die Garden Cottage (slaapplek vir vier); R2 000 p.n. vir die Valencia Cottage (slaapplek vir ses).

Kontak: 083 305 2472; alkmaarfarmstay.co.za

Weeden’s Bush Cottage

Hierdie huisie bied uitstekende waarde vir geld. Dit het ’n private stoep wat omring word deur tuin en digte bosse. Die eiendom lê dalk in die Sunset View-kompleks aan die stad se buitewyke, maar dis ’n halwe hektaar groot!

Die hoofhuis is op ’n heuwel. Julle deel die braaiplek met die eienaars, en die uitsig van hier af in die rigting van Kaapsehoop is lieflik. Koste Vanaf R400 p.n. vir twee mense wat deel (tariewe wissel afhangend van die seisoen).

Kontak: 082 672 4970

Casambo-lodge

Casambo se selfsorghuisies is ’n gerieflike opsie as jy van die Kruger-Mpumalanga- internasionale lughawe af kom, wat net 9 km van hier af is.

Hier is 11 houtchales tussen klipkoppies; party het slaapplek vir twee mense en ander vir tot ses mense. Casambo het ook twee konferensieplekke, ’n restaurant en ’n spa. Op sommige Sondae tree hier plaaslike musikante, kunstenaars en digters op. Koste Vanaf R1 100 p.n. vir ’n chalet met slaapplek vir vier mense (twee slaapkamers, een badkamer).

Kontak: 013 007 0163; casambo.co.za

Die omgewing rondom Mbombela is meestal plase en kleinhoewes. Hier op die plaas The Rest is die dorp sigbaar in die verte.