Foto's Leon Botha

Die Noord-Kaap met sy uitgestrekte dorre vlaktes is vir die meeste van ons meer as ’n dagreis ver, en dis waarskynlik nie die eerste plek wat by jou opkom wanneer jy oor moontlike vakansiebestemmings dink nie. Maar dis net hier waar ons ’n fout begaan. Dié deel van die wêreld is allermins ’n plek waar jy sit en tone tel.

In ons land se grootste provinsie – groter as Duitsland – is ’n ryke geskiedenis en emmers vol natuurskoon waarin jy jou kan verlustig.

Springbok het op sy dag met die wêreld se rykste kopermyn gespog, en een van Suid-Afrika se indrukwekkendste watervalle lê ’n ent binneland toe in die Augrabies- nasionale park. Ons het hier by twee gawe kampplekke afgesaal en verstaan nou hoekom ’n mens minstens een keer in jou lewe hier ’n draai moet maak.

Die kampplek Namastat lê amper soos ’n voorstad teenaan Springbok. Dis die afgelope jaar of wat opgeknap en hier is selfs ’n hotel langsaan gebou waarvan kampeerders die geriewe mag gebruik.

Op sy beurt is Augrabies se kampplek die Noord-Kaap se antwoord op die Kruger. Hier loop ’n mens om elke hoek ’n oorsese toeris raak wat nét so verstom staan oor dié besonderse natuurwonder as jy.

NAMASTAT

Vyfsterkantoor

Om by ’n kampplek in te boek oor ’n hotel se toonbank is niks nuuts nie, maar by Namastat voel ’n mens die swier wanneer jy deur die groot deure van die Springbok Inn stap.

Die hotel staan skaars ’n jaar of wat, en ’n mens kan jou hoed lig vir die ontwikkelaars van die drieverdiepinggebou. Dit lyk soos een blok beton wat uit die kliprandjie agter dit gebeitel is, en die argitektuur pas dus netjies by die omgewing in.

’n Mens is selfs beïndruk met die uitgestrekte trappies tot by die deur – dit voel kompleet of jy ’n paleis binnestap. 

En ’n paleis dié is dit. Vir ’n oomblik sien jy nie die ontvangsmense wat gereed staan agter die toonbank nie, want jou oë verdwaal tussen die leerbanke, ligkandelare en die ryklik versierde raam van die spieël.

Te oordeel na van die voertuie voor die hotel het sommige kampeerders besluit om hulle staanplek prys te gee in ruil vir ’n nag in ’n hotelkamer. Hier staan onder meer ’n Toyota Prado met ’n Jurgens Safari XT65-waentjie voor die gebou geparkeer én ’n Jeep Cherokee met ’n Safari Xplorer op die haak.

Langsaan wag ’n passasierlose Toyota Hilux met ’n boswaentjie. Die kampplek is langs die hotel – jy ry by die parkeerterrein uit en hou dan skerp links. Hou ook R50 gereed vir die hekskyfie. Dit maak die elektriese hek voor die kampplek oop en jy kry jou R50 terug wanneer jy die skyfie met jou vertrek teruggee.

Ons pomp die water uit ’n boorgat, en dis ook die water wat die kampeerders gebruik. Proe dit – dis soos ons eie melk!

Die draai links deur die hek is te skerp vir ’n lang sleepkombinasie, en jy kan aan die spore in die stuk grond anderkant die hek sien hoe vorige besoekers eers ’n haarnaalddraai gemaak en toe terug gemik het hek toe. Ongelukkig is die boksie waar ’n mens die skyfie moet hou, te laag wanneer jy deur die venster leun om dit by te kom. Dit staan ook só naby aan die hek dit voel of jou kar se buffer enige tyd aan die hek gaan raak wanneer jy langs dit stilhou.

Tyd vir nesskop

Patrick Louw staan van die plante langs die badkamer met ’n tuinslang en natlei. Hy is die opsigter en sê hy kan nie onthou wanneer laas dit op Springbok gereën het nie.

“Ons was nou, gedurende die blommeseisoen, volbespreek, maar toe is hier nie ’n enkele blommetjie nie – dis werklik droog vanjaar. Ons pomp die water uit ’n boorgat, en dis ook die water wat die kampeerders gebruik. Proe dit – dis soos ons eie melk!”

Dis dus nie vreemd dat hier geen teken van ’n kolletjie gras op jou staanplek is nie, maar die harde grond pla nie. ’n Mens sou verwag dat dié aarde besaai sou wees met duwweltjies, maar dis glad nie die geval nie. Die grond is sanderig, wat beteken die kinders kan na hartelus speel sonder om té vuil te word.

Die staanplekke is om die badkamers uitgelê en van hulle word met enkelhoë klipmuurtjies van mekaar geskei. Jy kan self jou staanplek kies. Hulle is almal genommer, maar van die staanplekke is beknop en eerder nommerpas vir ’n tweemantent.

Die grootste staanplekke is aan die kantoor se kant van die badkamers. Hier pas ’n klompie woonwaens langs mekaar – net reg as jy en ’n paar vriende in ’n groep wil kom kamp. In teenstelling met die dorre aarde staan hier heelwat bome, en op die meeste van die staanplekke is ’n mate van ’n skans teen die son.

Jou kragpunt gebruik die gewone huissok, en as dit nie op jou staanplek staan nie, is dit naby genoeg dat jy met ’n verlengkoord van 10 m kan regkom.

Dis dieselfde storie met jou kraan: Dis óf op jou staanplek óf op jou buurman s’n.

Die braaiplekke lyk nuut oorgedoen en dit lyk of van die roosters – wat met ’n ketting aan die braaier vasgebout is – nog nie ’n vuur gesien het nie.

Was met ‘melk’

Die eienaars het nie teruggehou met die storthokkies nie – hulle is heerlik ruim. Daar is wel net ’n nat gedeelte, en in die hoek van die hokkie staan ’n klein bankie waarop ’n mens ’n hopie met jou droë goed kan stapel.

Die twee keramiekwasbakke langs mekaar in die groter vertrek is nog uit die vorige era. Hier is ook geen noemenswaardige pakplek nie, en die spieël is te laag vir ’n grootmens wat regop staan.

Teen die muur waar ’n mens die vertrek binnestap, is ’n hoër spieël as jy jou kuif vir die dag in die regte rigting wil kam.

Die kombuis is in die gebou langs die badkamers, maar dis amper meer van ’n kuierplek. Daar’s ’n stoep met ’n klompie braaiplekke van waar ’n mens oor die onderste deel van die kampplek uitkyk.

Tussen die stoep en kombuis is ’n luik soos dié van ’n restaurant, en die wasbakke vir die skottelgoed is aan die binnekant. 

Terug hotel toe

As jy in die swembad wil afkoel, moet jy terugstap hotel toe.

Van die kampplek tot by die swemplek loop ’n plaveipaadjie verby ’n dam wat opgedroog het.

In die middel van die dam is ewe ’n eilandjie met ’n waarskuwingsbordjie daarop geplant: Pasop vir die haaie! Oor die bordjie hang die gebit van ’n haai, maar dis uiteraard net ’n versiering.

BLOU TOT GROEN: Van die swembad af sien ’n mens die kampplek wat tussen die kolletjie bome uitgelê is.

Die swembad is so groot soos die een in die meeste voorstedelike agterplase, maar kom rek gerus jou bene op een van die bankies langs dit. Bestel iets kouds by die restaurant se kroeg sodat jy darem nie droëkeel rondsit terwyl die kinders in die water rondplas nie. En as die kinders genoeg van die water gehad het, is daar ’n paar klimrame en swaaie in die kampplek.

Maak ’n Noord-Kaapse draai

Of ’n mens nou Springbok net as ’n oornagstop gebruik of dalk langer wil oorstaan, is dit ’n goeie plan om die omgewing te verken. ’n Mens hoef ook nie die kinders terug in die kar te dwing ná die lang rit tot hier nie, want van die besienswaardighede is skaars 20 minute weg. Okiep is net so klein as wat sy naam lank is.

Dis skaars 10 km weg en hier kan ’n mens na die enigste oorblywende pomphuis van sy soort in die Suidelike Halfrond kom kyk. ’n Ronde skoorsteen wat ’n paar verdiepings hoog staan, is links van die pad soos ’n mens die dorpie inry. Dis ’n nasionale monument wat met ’n tralieheining afgeskort is. (Die skoorsteen was deel van die ou myn se ventilasiestelsel.) Ry verby die skoorsteen en parkeer direk ná dit links by die Okiep Country-hotel.

Die pomphuis se sleutels word hier gebêre en dis skaars ’n minuut of twee se stap verder. Die pomphuis lyk nogal soos ’n blokhuis, maar het aan die voorkant ’n balk wat dwars bo uitsteek wat ’n mens laat dink aan die hefboom van ’n olieboor in Amerika.

Dit voel of jy die horlosie met ’n eeu of twee terugdraai wanneer jy die deur oopstoot. Voor jou in die middel van die vertrek staan ’n kolossale silinder waarom ’n mens moet loop. Die houttrappies na die volgende vlak is agter dit. Hou net ’n ogie oor die jong klomp, want in die een hoek is ’n gat in die houtvloer waarin jy kan trap as jy nie mooi kyk nie. ’n Ronde staalarm strek van die tweede vlak af verder uit die silinder tot by die boonste en derde vlak.

Hier is dit vas aan die arm wat ’n mens van buite af sien. As ou masjinerie en mynbedrywighede jou interesseer, maak ’n draai by Nababeep. Dis ’n ewe klein dorpie aan die ander kant van die hoofpad. Hier is ’n myn- museum en teen skaars R15 p.p. (half- prys vir kinders) is dit beslis die moeite werd om hier in in te loer. 

MELK EN HEUNING: Springbok is allesbehalwe vaal. Hier is te veel te doen vir 'n vinnige inloer en die kampplek kan beswaarlik beter.

’n Skaalmodel wys hoe die koper ontgin en herwin word, én hier is voorbeelde van gesteentes in glaskaste met groot name: van “twee-pirokseen-granuliet” en “noenoemaasberg-graniet-gneis” tot “hoornfels” en “lura skis”.

Die museum is digby die hek van die kopermyn, en as jy toegang betaal, mag jy na die uitgrawings op die myn gaan kyk. Dis skaars ’n kilometer verder en die grondpaadjie klim stadig die koppie uit tot by ’n betonplatform.

’n Mens kan sien die dorp se mense wil jou as toeris laat tuis voel – teen die kant van die platform is ’n verwelkomingsboodskap met spuitverf geskryf. Die koppie voor jou is uitgehol en die onderkant van die uitgrawings is ’n dam met heldergroen water wat glo 600 m diep is.

Kortliks | Namastat

Kampplek 25 staanplekke – almal op grond, en die meeste van hulle het ’n koelteboom en kragpunt.

Ablusiegeriewe Eenvoudig en netjies. Prys R200 p.n. vir die staanplek (en die eerste 2 mense) plus R50 p.p. vir bykomende gaste (gratis vir kinders o.12).

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 10 vm.

Kontak 027 718 1832 book@namastatlodge.co.za; namastatlodge.co.za

Naaste dorp Springbok 3,6 km. Hoe lyk die pad? Die laaste 650 m is ’n skaflike grondpad.

GPS S29.690304 E17.884779

Weg Ry & Sleep sê “Namastat” verwys na die eerste inwoners van die omgewing. Langs die eerste staanplek is ’n Namahut – dit herinner aan ’n igloe, maar dis met rietmatjies oorgetrek.

AUGRABIES- NASIONALE PARK

Altyd voorbeeldig

ALLES STANDAARD. Augrabies het alles wat ’n kampeerder gelukkig maak: Groot, plat staanplekke met heelwat koelte; kragpunte naby; en dan herwin hulle ook die vullis.

Deesdae haak ’n mens nie sommer by enige munisipale oord af nie, want die meeste van hulle is net nie meer op peil nie. Dis net hier waar Sanparke as ’n semi-staatsinstelling ’n beter voorbeeld stel – en dit sluit plekke soos die Krugerwildtuin, Addo-olifant- en Tuinroete- nasionale park in.

’n Mens weet wat om te verwag: die kampplek is aan die kant en daar’s nie klagtes oor geriewe soos die badkamers en winkel nie.

Dieselfde geld vir Augrabies: Jy weet ook jy kan jou eie staanplek kom kies en die kragpunt werk met die Fredlin-prop, die blou woonwasoort.

Dié wêreld is net so dor en droog soos by Springbok. En die N14 hierheen kan nie méér reguit voor jou oor die horison in strek nie.

Die afdraai is by Kakamas en dan is dit net 25 km tot by die park. Hier verander die omgewing handomkeer. Die vaal wêreld wat die laaste paar uur verby jou geflits het, is alles nou groen, en dit wil amper vir jou voel of jy deur die Kaapse wynland ry.

Die wingerde staan hoog en gesond en ’n mens ry selfs verby ’n rosyntjiefabriek. Die teerpad loop tot by die ontvangskantoor, waar ’n paar kennisgewingborde met foto’s opgerig is.

Dis foto’s van destydse oorstromings en wys die massas water waarmee die Oranjerivier al hier verby is. Hoewel die valle op hulle beste is wanneer dit die reënseisoen is in die noorde van die land, kan jy ook in die droë laatwintermaande kom kyk, want die Oranjerivier is heeljaar sterk op pad see toe.

Die winkel is by die ontvangskantoor en ’n mens moet deur die vertrek loop tot daar. Buiten die swetterjoel aandenkings is die winkel net so goed toegerus as ’n klein voorstedelike inkopiesentrum.

Die vaal wêreld wat die laaste paar uur verby jou geflits het, is alles nou groen, en dit wil amper vir jou voel of jy deur die Kaapse wynland ry.

Kleinboet Kruger

Die vrou in die kantoor benadruk dat ’n mens nié op die gras mag kamp opslaan nie, maar langs dit.

Om seker te maak jou korttermyngeheue laat jou nie in die steek nie, herinner ’n kennisgewingbord voor die kampplek jou wéér. Jy kan dus enige gaatjie uitsoek solank dit lángs die grasperk is.

Kyk waar die kragpunte is as jy nie jou verlengkoord wil gebruik nie, want hulle staan nie op elke staanplek nie. Die krane staan lukraak rond en is gemerk met ’n bordjie wat wys dis veilig om te drink.

Hier is heelwat koeltebome.

Dié kampplek voel omtrent soos die broerskind van die Krugerwildtuin. Dit het dieselfde bosveldgevoel, die kampplek is skoon, en selfs die migrasiepatroon van kampeerders is soortgelyk. Wanneer ’n mens hier teen middagete die kampplek inry, kan jy nog uit ’n hele paar staanplekke kies, maar as die aand se braaivleisvure brand, moet jy tevrede wees met van die laaste staanplekke.

En dan vroegoggend, as jy die slag dink jy staan ’n bietjie vroeër op, het jou buurman lankal opgepak en in die pad geval.

Omdat die kampeerders so kom en gaan, kry ’n mens te doen met verskillende soorte bure. Die kampeerders oorkant ons het ’n beskeie kampopset: Iemand het slaapplek in die daktent op ’n dubbelkajuitbakkie, en nog ’n mens of twee slaap in ’n daktent op ’n sleepwaentjie. Maar dis die afdakkie tussen die twee slaapplekke wat ’n mens se aandag trek. Dis ’n gazebo, maar van die middelpunt af hang ’n muskietnet tot op die grond, amper soos die rok van ’n bruid.

Onder die net is stoele rondom ’n tafel uitgepak. Sodra ’n mens uit die kar klim, weet jy skielik hoekom die muskietnet ’n slim plan is. Hier is ’n plaag muggies, en een van die veldgidse, Thys Burger, sê dis hoe dit gaan dié tyd van die jaar. Van Augustus tot Februarie is dit nogal ’n steurnis. Dis darem nie genoeg om ’n mens te pootjie nie; wees net versigtig met die inasemslag.

Begin ’n slag herwin

Hier staan ’n paar vierkantige geboutjies in die kampplek wat met houtlatte afgewerk is. Binne is verskeie vullisdromme wat deel vorm van Augrabies se herwinningsinisiatief. ’n Mens móét dus jou vullis hier kom weggooi, want daar is nie ’n vullisdrom op jou staanplek nie. (Jy kan wel jou eie een saambring.)

As ’n mens kyk hoe maklik die ape die deur van die houtgeboutjie oopkry, besef jy hulle is sommer goed uitgeslape. Die eerste reël is dus om alles toe te maak en weg te sit wanneer jy nie op jou staanplek is nie. In die kampplek staan hoeka ’n paar staalvanghokke met aas daarin. Dis om die kwaaddoeners – wat bobbejane insluit – te vang.

Op jou staanplek is ’n geplante staal- ploegskaarbraaiplek waarvan die rooster oor die bak swaai. Wanneer jy opdaag, is dit reeds skoongevee.

Die twee badkamergeboue is aan weerskante van die kampplek met ’n kombuisgedeelte (met ’n oop en onderdakwas-kamer) aan die verste kant. Diékantse badkamer lyk so oud soos die kampplek self en is aan die buitekant met ronde klippe afgewerk.

Ongelukkig laat die toestand van die badkamers Sanparke in die steek – dit kort beslis aandag. Met ons besoek was een van die ruite gebreek en die hele plafon se wit verf was besig om af te skilfer. Maar ’n mens het darem meer as genoeg pakplek langs die wasbakke, asook ’n droë deel in die storthokkie.

Die badkamers aan die ander kant is soortgelyk, maar die storthokkies is beter, want die stortgedeelte het ’n glasswaaideur voor die storthokkie. Die geriewe vir gestremde mense is ook diékant.

Die kombuis het elektriese tweeplaatstofies as jy dalk vinnig spek en eiers vir ontbyt wil regkry voor jy in die pad val.

’n Outomatiese wasmasjien en tuimeldroër staan langsaan en werk met R5-muntstukke – jy het drie vir was nodig en twee vir droog.

In die vertrek langsaan staan ’n paar spreekwoordelike wit olifante: betonstrykplanke. (Wie het al iemand teëgekom wat dit gebruik?)

Links waar jy die kampplek binnery, is nog ’n kampgedeelte, maar ’n ketting is voor dit oor die pad gespan. Dis vir groepe bedoel. Hulle het ’n eie badkamergebou wat nuwer is as die res, maar dié deel het nie kragpunte nie.

WYER AS WYD. Die waterval maak ’n mens skoon stil, en dis moeilik om die ware ervaring oor te vertel sonder dat mense dink jy dik ’n bietjie aan. Dit bly eenvoudig verstommend.

Waar die stilte raas

Die rivier met sy canyonafloop is 200 m van die kampplek af en die waterval nog 300 m verder stroomop. ’n Mens hoor die gebulder van die water tot in die kampplek, en as jy na die waterval wil gaan kyk, moet jy maar vir lief neem dat jy tot daar gaan stap.

’n Hele paar verhewe dekpaadjies neem jou na verskillende uitkykpunte wat ewe ver van die kantoor of die kampplek af is. Die begin van die dekpaadjie – dis nou van die kampplek se kant af – is halfpad terug kantoor toe, en die twee swembaddens is ook hier.

’n Mens hoor die gebulder van die water tot in die kampplek, en as jy na die waterval wil gaan kyk, moet jy maar vir lief neem dat jy tot daar gaan stap.

Die swemplekke is afgeskort met ’n heining en het ook een kleiner swembad vir die kinders met die groter bad langsaan. Hier is ’n afdakkie om die son van jou vel af te hou, en die “groen verbod” by die swembaddens is opgehef; ’n mens het vrypas om op die gras te stap en uit te span.

Die dekpaadjie begin skaars of ’n mens moet kies tussen links en regs. Albei kante neem jou na verskillende uitkykgedeeltes, maar hier is nie bordjies wat wys waarheen loop wat nie. Die paadjie regs vat jou na die boonste deel van die waterval – van waar dit 90 m in die canyon aftuimel. 

Hou links as jy meer van die canyon en die afloop wil sien. Die uitkykpunte is veilig toegespan terwyl dit nie jou sig belemmer nie; dis ook veilig vir die kinders. Hier is hordes akkedisse, waaronder die helderblou-en-oranje Augrabies-platakkedis.

Augrabies het glo een van die digste akkedisbevolkings ter wêreld. Hier is ook ’n paar mites rondom die waterval. Party reken ’n skatkis van diamante lê doer onder en ander glo weer Suid-Afrika se eie Lochness-monster swem hier rond.

Hier is ook ’n paar mites rondom die waterval. Party reken ’n skatkis van diamante lê doer onder...

Jy kan die waterval ook saans besoek wanneer die ligte vir ’n uur of twee aangeskakel word, maar dis asof die waterval dan minder ontsagwekkend is.

Bring jou flits, want van die paadjies is nie almal verlig nie. ’n Mens wil nie hier langs die afgrond oor ’n ding struikel nie...

Ry ’n draai

Die waterval is uiteraard hoekom ’n mens hierheen kom, maar rondom die waterval is ’n groot bewaringsgebied. Jy mag van die roetes self ry, maar let op na die rigting waarin jy moet ry – van hulle is net in een rigting en van die uitstappies gaan jou ’n volle dag besig hou.

Augrabies het nie die Groot Vyf nie, en die renosters wat ’n paar jaar gelede hier vrygelaat is, is ook nie meer in die ronde nie.

Maar hier is ander spesiale diere, al is hulle skugter. Ons was gelukkig om onder meer ’n swartkeelspoegkobra oor die pad te sien seil.

Dis grondpaaie is goed genoeg vir die meeste voertuie. Jy kan ook op ’n nagrit gaan waar ’n gids ry vir jou die nagdiere wys. Dit kos R192 p.p. (R106 vir kinders), wat dit ’n duur uitstappie maak as ’n gesin saans wil gaan diere kyk. Die nagrit vertrek teen skemer van die kantoor af en is op dieselfde roetes wat ’n mens self kan ry. Maar die kennis van die toergids, in ons geval Thys Burger, maak ’n mens by die minuut slimmer.

Thys se verwelkomingswoorde is nie bemoedigend nie: “Verwag om vanaand geen diere te sien nie; en beskou dié wat ons wel sien, as ’n bonus.”

ALLES IN EEN DAG. Die braaiplek is skoon wanneer ’n mens opdaag, die badkamers is om die hoek, en die swembaddens is tussen die kampplek en die waterval. ’n Nagrit is die heel beste manier om die dag af te sluit.

Thys se eerlike woorde maak die ratse bewegings van die haas teen die rotslys langs ons ’n groot oomblik – dis Smith se rooiklipkonyn. Thys trek die handrem op, loop tot by ’n bos langs die pad en pluk ’n takkie. “Ruik hier, mense, dis mirre, soos in die Bybel.”

By die omdraaiplek klim ons af en Thys gee ’n ultravioletflitslig vir die kinders. “Kyk of julle van die skerpioene kan sien; hulle skyn groen onder die lig.” Op pad terug sien ons elande en springbokke, en teen 9 nm. is van die kinders al aan die slaap. Die kampbed terug in die kampplek roep.

Kortliks | Augrabies

Kampplek 40 plat staanplekke op grond waarvan die meeste ’n koelteboom naby het.

Ablusiegeriewe Oud en netjies, maar dit kort aandag.

Prys R250 p.n. per staanplek vir die eerste 2 mense; daarna R88 p.p. (R44 vir kinders) tot hoogstens 6 mense per staanplek. Onthou ook van die bewaringstarief van R48 p.d. (R24 vir kinders) as jy nie ’n Wild Card het nie.

Aankoms- en vertrektyd 2 nm. en 11 vm.

Kontak 054 452 9200; sanparks.org

Naaste groter dorp Keimoes 76 km.

Hoe lyk die pad? Teer tot by die kantoor en mooi grondpaadjies in die kampplek en op die wildroetes.

GPS S28.593177 E20.337481

Weg Ry & Sleep sê Koop die inligtingsboekie wanneer jy inboek. Dis 50 blaaie propvol kleurfoto’s met interessante inligting oor al die diere, klimaat en verblyf regdeur tot ’n kaart van die kampplek. Dit kos R60.