Foto’s De Jongh Borchardt, Lindsy Terry en Julia Ward
Naweekkamp
Naweekkamp

In hierdie tyd van YouTube, tabletrekenaars en slimfone bied die natuur steeds die beste vermaak, verál vir die jongspan. En wat is beter as ’n kampnaweek ’n hanetree buite die grootstad? ’n Kampnaweek met hordes maats, ’n reusegrasperk én swemplek vir almal.

Vir Kapenaars is Altydwater só ’n plek. As jy dus ooit lus word vir een van daai mega-kampnaweke waar álmal wat jy ken, saamgaan – hulle kinders en honde inkluis – kies koers Rawsonville se kant toe vir ’n naweek vol saligheid, samesyn en swem. Reël net vooraf as jy vir Doppies en Wagter wil saambring.

Soos die naam verklap, is hier altyd water. Die kampplek is geleë op Groot Eiland, die Smith-familie se wingerdplaas op die walle van die Smalblaarrivier. Dié lappie grond is sowat 3 km agter die Du Toitskloof-wynkelder – dit is ’n grondpad, maar jy sal hom met jou Volkswagen Polo kan ry.

As jy van die Hugenotetonnel se kant af kom, draai regs op die R101 na Rawsonville, en dan weer regs net voor die Ou Meul-bakkery. Hou hier stil en kry koffie vir die naweek. Ná sowat 900 m draai die pad skerp na links, en 800 m verder swenk jy weer, dié slag na regs en dadelik weer links (amper soos die destydse Topsport-esse op Kayalami).

Eintlik bly jy maar net op die grondpad, maar kyk mooi vir die bordjie wat sê “CL Smith / Groot Eiland”.

Draai hier regs, ry verby ’n bouval van ’n ou plaashuis, kap dan regs en dan weer links verby die hoenderhokke – nou ry jy die laaste 600 m teen die draad af tot by die kampplek.

 Foto’s: De Jongh Borchardt, Lindsy Terry en Julia
Foto’s: De Jongh Borchardt, Lindsy Terry en Julia Ward
 Foto’s: De Jongh Borchardt, Lindsy Terry en Julia
Foto’s: De Jongh Borchardt, Lindsy Terry en Julia Ward

Maak jou tuis vir die naweek. Altydwater se kampterrein is op Groot Eiland, die Smith-familie se wingerdplaas op die walle van die Smalblaarrivier in die Rawsonville-omgewing. Jy kan hierheen opruk saam met ’n groot groep vriende en vir die naweek saam kom kuier.

Hoewel staanplekke individueel bespreek kan word, is Altydwater eintlik ’n heerlike plek om in die geheel te huur en behoorlik vol te pak met tente, waens en natuurlik kinders. Jy kan gemaklik met ’n groep van tot 50 mense hier kom kamp. (Die maksimum wat toegelaat word, is 70.)

Buiten die uitgestrekte grasperk van ongeveer 150 x 30 m met oorgenoeg koeltebome (merendeels aan die suidekant van die terrein), is hier ’n gemeenskaplike kuierplek met ’n hele paar yskaste, reusebraaidromme en ’n blad met ’n opwasplek en wasbakke wat jy as jou basis vir die naweek se aktiwiteite kan gebruik.

Dit is digby die swemgat en daar is oorgenoeg plek vir speletjies en aktiwiteite – jy sal selfs ’n potjiekoskompetisie kan hou (sorg net dat die beoordelaars behoorlik objektief en verkieslik onverbonde is). Mense kan om tafels sit en eet, kuier en musiek maak – dis altyd goed as een of twee van jou pêlle ’n kitaar saambring, want wie hou nié van kampvuurliedjies nie?

Van die swemplek gepraat: Dit is sonder twyfel een van Altydwater se grootste attraksies in die Kaap se warm somermaande. Die diep kuil naby die wal sorg vir ure se bommieplesier. Die kinders bou forte op die oorkantste rivierwal en kan ure lank op opblaasgoed op die helder en skoon water ronddryf.

As Bakkies Botha, Eben Etzebeth en Duane Vermeulen nie saam kamp nie, moet jy mooi dink hoe julle wil braai.

Die braaidromme is baie swaar (hulle is diep, rond en vol sand) en kan nie maklik rondgeskuif word nie. Jy moet ook jou eie rooster en driepoot bring om sake oor die kole so effens te vergemaklik.

Die eienaars sorg vir genoeg vullisdromme mét swartsakke (wat verwyder word). Die badkamers word minstens een keer per dag skoongemaak, maar jy moet self jou kampplek netjies hou – vir die meeste kampeerders, verál die naweekgarde, is dít darem nie te veel gevra nie.

 Foto’s: De Jongh Borchardt, Lindsy Terry en Julia
Foto’s: De Jongh Borchardt, Lindsy Terry en Julia Ward
 Foto’s: De Jongh Borchardt, Lindsy Terry en Julia
Foto’s: De Jongh Borchardt, Lindsy Terry en Julia Ward

Soos ons reeds gesê het, is ruimte by Altydwater nie ’n probleem nie. Hier is báie kampplek – alles op gras en gedeeltelik onder bome met oorgenoeg kragpunte wat oral oor die terrein versprei is. Jy gaan dus nie jou buurman hoor snork óf uit die slaap gehou word deur die omgesukkelde kind met middernagtelike maagkrampe nie.

Die grasperk is gelyk, en hoewel dit nie so glad en perfek is soos Nuweland se buiteveld nie, slaap jy lekker sonder die moontlikheid dat al jou bloed in jou kop of tone gaan afloop.

Die swemplek is sonder twyfel een van Altydwater se grootste attraksies in die Kaap se warm somermaande.

As die natuur in die middel van die nag roep, is die ablusieblok teen die wingerde ’n entjie skuins agter die kuierplek, bo teen ’n effense wal. Hier is twee storte, twee toilette met wasbakke, en twee volledige badkamers met storte – én ’n tweede opwasplek met twee wasbakke. Gasgeisers sorg vir warm water.

En as jy dalk dringend hout, bier, brood of melk nodig kry, is Rawsonville met sy verskeidenheid winkeltjies net 5 km teerpad langs van die Du Toitskloof-wynkelder af. Maar onthou, dis nie Tygervallei nie; jy gaan nie noodwendig ál jou kinders se wintersklere of die heel nuutste kamptoerusting hier kry nie.

Om kinders op ’n kampnaweek besig te hou is natuurlik redelik maklik, selfs sonder selfoonskerms. Maar hier by Altydwater kan die jongspan hulle behoorlik uitleef in die lieflike swemplek, én daar is meer as genoeg gras om aan-aan, raakrugby of dryfings te speel.

As die jong klomp (of pa’s) besluit om ’n ernstige vyfdag-krieketwedstryd aan te pak werk dryfhoue beter as haak oor die regby-grens... hierdie is ’n laaaaang grasperk.

Vir die ouer garde is hier darem ook genoeg te doen. As jy die soort kampeerder is wat hou van diepsit en vuurmaak, is die geriewe net reg, maar hier is ook genoeg doendinge vir die avontuurlustiges – jy kan op die pragtige bergpaadjies aan die oorkant van die rivier of op die plaaspaaie tussen die wingerde gaan stap of draf, en daar is ook fantastiese bergfietspaadjies op plase in die omgewing en in die omliggende koppe.

Foto: Verskaf
Foto’s: De Jongh Borchardt, Lindsy Terry en Julia Ward

Die Du Toitskloof-MTB-roetes is in September 2018 bekend gestel, en selfs deelnemers aan die Cape Epic en Gravel & Grape is al hier verby.

’n Dagpermit kos R30 en jy betaal sommer met Snapscan by die inligtingsbord aan die begin van die roetes (langs die restaurant). Bergfietsroetes wissel van 14-22 km, en vir die veldlopers is daar opsies van 13-19 km. Daar is selfs diegene wat beweer ’n mens kan ’n blinklyf uit die Smalblaarrivier trek.

As dit alles vir jou net ’n bietjie té aktief klink, is ’n dagreis om wyn te proe op enige van die pragtige omliggende wynplase ook ’n opsie.

Ons moet egter ook gesels oor die veiligheid by Altydwater: Kort vóór ons tweede besoek vroeër vanjaar het ’n groep mense op sosiale media geskryf oor ’n diefstal die naweek toe hulle hier gekamp het.

So iets is uit die aard van die saak uiters onsmaaklik, maar dit het gelyk of die eienaars daadwerklik ingegryp het om te keer dat dit weer gebeur – hulle het onder meer sekerheidswagte aangestel wat die kampplek deur die nag patrolleer.

Ons was bewus van wat gebeur het – en dit raak glo al hoe meer ’n probleem by kampplekke in die omgewing. Ons was dus hiperversigtig deur ons fietse saans vas te sluit en niks is onnodig laat rondlê nie. Met dié voorsorgmaatreëls het ons groep nooit ongemaklik of in gevaar gevoel nie.

Die wagte was ook glad nie in die pad nie en het hulle taak uiters bekwaam en professioneel verrig.

Jaco, Natasha en Sophia Fourie van Kaapstad kamp met ’n Jurgens XT 120 wat hulle met ’n Toyota Hilux sleep.

Die feit dat Altydwater so naby Kaapstad is, maak dit ’n goeie naweekwegbreekplek. Ons hou ook van die gesellige lapa, veilige swemplek in die rivier vir kinders, en die netjiese ablusiegeriewe. Boonop is dit naby ’n paar goeie wynplase en ’n restaurant ingeval jy moeg raak om die heeltyd te braai.

Word deel van die Weg-wêreld

Teken in op ons nuusbrief en ontvang elke week lekker leesstories, resepte en inligting oor ons nuutste toere en slypskole in jou inboks. Volg ons op die YouTube-kanaal WegTV (kyk ons nuutste video's eerste!), asook Instagram en Facebook